"Ek dink ek het liefdesverhale saam met melk ingekry!” – Elsa Winckler

  • 0

Ek het verlief geraak op Elsa Winckler se skryfstyl in Tussen jazz en rock (jip, dis hoe lank ek haar al lees). Ek is mal oor Blameer die skoenlapper en omtrent elke ander boek van haar. Haar jongste Afrikaanse romanse is Om Leah veilig te hou. Toe ek met haar praat, was sy tipies, uitsonderlik Elsa: opreg, vinnig en vrygewig met haar antwoorde. Lees lekker saam!

Jy skryf al 18 jaar. Wat beteken “romanse” vir jou as skrywer, verby die uitgewers en genre-verwagtinge?

Ek dink ek het reeds as kind liefdesverhale/romanses saam met melk ingekry! My ma was ’n groot leser van veral liefdesverhale, so daar was altyd stapels boeke in ons huis. Dit was vir my die wonderlikste dag toe ek uiteindelik die stories van al die stemme in my kop kon neerskryf. Ek is nog elke dag daarvoor dankbaar.

Ek glo in die liefde. Ek glo elke vrou verdien haar gelukkig-vir-altyd, so dis vir my maklik om daaroor te skryf. 

Het Suid-Afrikaanse romanse ’n duidelike identiteit vir jou? 

Die romanse is in ’n groot mate ’n voortsetting van die feëverhale wat ons as kinders gelees het en soos ’n ware feëverhaal met mooi heldinne en dapper helde, is daar ook tog ’n skeut werklikheid in die storie. In Suid-Afrikaanse stories word deure en motors gesluit, en die held is bekommerd oor die heldin se veiligheid, maak nie saak teen watter agtergrond die storie afspeel nie.

Dis eers wanneer jy ander lande se stories lees, dat jy besef deure wat gesluit word en alarms wat gestel word is nie die norm nie. Hoe onveilig ons is, is iets wat insluip in die stories sonder dat ek dit so beplan.

Hoe vorm plek – dorp, stad, kultuur, taal – die liefdesverhale wat jy vertel?

Ek hou daarvan stories te skryf wat op plekke afspeel wat ek ken, maar ek is nou besig met die derde reeks van Engelse stories wat in Montana, Amerika afspeel en handel oor cowboys en weiding en die teling van bees – dinge waarvan ek niks geweet het nie. In die proses leer ek ook hoe die Amerikaanse gebruik van Engels verskil van Britse Engels.

Ek skryf graag in my taal, Afrikaans, maar ek het honderde duisende liefdesverhale in Engels gelees sedert ek ’n tiener was, daarom geniet ek dit om ook in Engels te skryf. Op Upington, waar ek grootgeword het, was die biblioteek en twee flieks op die dorp my ontvlugting.

Wat is die moeilikste emosionele waarhede om eerlik in romanse te skryf?

Ek hou daarvan om voor ek begin skryf, die karakters wat ek gaan gebruik goed te “ken”. Een van die instrumente wat ek hiervoor gebruik is die EanneaApp (‘n toepassing oor die Enneagram). Dit kyk onder andere kyk na wat hulle noem “childhood wounds” – iets waarmee ons almal heelwaarskynlik daagliks worstel. Die pad wat elke karakter stap om die verlede agter te laat, om te groei, om “gesond” te word, is soms vir my moeilik, miskien omdat dit dikwels kenmerke is wat ek in myself herken.

Hoe balanseer jy ontvlugting met realisme in jou werk?

’n Romanse is ontvlugting, en die karakters is mooi en maer en slim en die helde is gewoonlik ryk, sterk en kan alle probleme oplos, maar uiteindelik stoei hulle ook soos ons almal met doodgewone, alledaagse probleme – dis juis dít wat aanklank vind by lesers.

Jou karakters het ’n doelwit wat hulle wil bereik. Daar is probleme op die pad wat hulle moet oorkom om uiteindelik hulle doel te bereik of om agter te kom hulle wou eintlik iets heeltemal anders hê – soos dit daagliks in almal se lewens werk.

Is daar temas wat jy onder druk voel om in te sluit of te vermy?

In die romanse vermy jy gewoonlik “donker” temas soos die dood, selfdood, dwelmgebruik, ensovoorts. Ek dink dit hang ook af hoe jy die tema hanteer. In die romanse is die fokus op die held en heldin se ontwikkelende verhouding, alles anders is bysaak. Jy kan natuurlik verwys na byvoorbeeld iets so verskrikliks soos ’n plaasaanval of iemand wat op straat beroof is of ’n skietery in ’n woonbuurt, maar dit word nie in detail beskryf nie.

Ek dink as jy kies om ’n romanse te skryf, is daar onderwerpe wat jy vermy. As jy juis oor donker onderwerpe wil skryf, kies ’n ander genre. 

Voel jy dat romanse ernstig opgeneem word binne die Suid-Afrikaanse literêre ruimte?

Romanses, soos krimi’s, is ontspanningsliteratuur. Soos ’n goeie speur- of spanningsverhaal, het lesers sekere verwagtinge van ’n romanse, maar om een of ander rede word daar na hierdie aspek in spesifiek romanses as “resepmatig” verwys en word daar nog steeds teen literêre neuse afgekyk na liefdesverhale.

Romanses is van die topverkopers maar – in die woorde van ’n uitgewer – dit word gesien as ’n tydskrif met ’n kort raklewe. Dis ook die rede hoekom romanses nie herdruk word nie, tot groot ontsteltenis van lesers! Daar is deesdae al hoe meer lesers wat bereid is om resensies oor romanses te skryf, iets wat ons so waardeer, maar daar is nog te min en selfs dit word nie ernstig opgeneem nie.

As ’n skrywer wat vir ’n nasionale én internasionale gehoor skryf, watter wanopvattings oor romanse-skryfwerk frustreer jou die meeste?

Die term “hygroman” is baie neerhalend, maar ek is baie eerlik as ek sê dat ek my nie regtig daaraan steur nie. In Suid-Afrika is ons baie bewus van die kritiek omdat ons baie minder lesers het. In die Engelse mark is daar duisende opgewonde lesers van romanses wat trots vertel van die boeke wat hulle lees – kyk gerus wat op TikTok gebeur.

Baie Afrikaanse lesers is nog skaam om hardop te sê hulle lees graag romanses! Ek skryf nie vir kritici nie, ek skryf die soort stories wat ek graag lees en waarvan ek weet lesers hou.

Hoe beïnvloed markverwagtinge jou kreatiewe keuses – indien enigsins?

Ek was verlede jaar lus om ’n bietjie spanning by die romanse in te bring en dit val toe ook saam met ’n voorstel van die uitgewers. So as dit iets is wat ek graag wil en kan skryf, sal ek probeer. Romantiese fantasie is byvoorbeeld baie gewild in die Engelse mark en alhoewel ek daarvan hou om soms magiese elemente in ’n storie te bring, sal ek nie so iets lees wat uit en uit fantasie is nie, so ek skryf dit nie.

Hoe bewus is jy van jou lesers wanneer jy intieme of sensitiewe tonele skryf?

Ek skryf vir die grootste kritici leser – ek self. Eerstens sou ek sê jy as skrywer moet gemaklik voel om intieme tonele te skryf, anders gaan dit nie werk nie. Ek skryf wat ek graag lees – nie grafiese beskrywings van liggaamsdele nie, maar die emosie en gevoel van die karakters wanneer hulle liefde maak. Jy wil jou leser deur jou held of heldin se perspektief saamneem op die heerlike sensuele en sensoriese ervaring, nie ’n biologie-les gee nie!

Voel jy ’n verantwoordelikheid teenoor diverse voorstelling, genesing of hoop in jou stories?

Ek glo lesers lees romanses vir ontvlugting maar ook omdat dit hoop bied dat dinge tog anders kan wees. En die pad wat karakters stap is uiteindelik altyd dié van genesing van een of ander aard. Ek voel nogal sterk daaroor dat juis dít soos ’n goue draad deur romanses behoort te loop. Janice Radway noem in haar boek, Reading the romance oor haar studie van die lesers van liefdesverhale, dat lesers vir haar sê, “we read books so we don’t cry” (University of North Carolina Press) 1991.

Wanneer ek diverse karakters gebruik voel ek dis belangrik om nie te stereotipeer nie.

Watter verandering hoop jy om in die Suid-Afrikaanse romanse-uitgewerswese te sien?

Dat boeke wat goed verkoop herdruk word en dat meer uitgewers liefdesverhale/romanses uitgee.

Dink jy Suid-Afrika se hoë vlakke van geweld, veral geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord, beïnvloed hoe romanse geskryf, gelees en ervaar word?

Sedert die #metoo-beweging ’n paar jaar gelede is die Engelse romanse-mark baie sensitief oor hoe ’n held uitgebeeld word, iets wat ek beslis ook in die Afrikaanse stories wat ek skryf, inbring. Die held kan nie sommer meer die heldin aan die arm “gryp” of op haar oordonder nie. En soos ek hieronder verduidelik – lesers kan deur sekere stories ge-“trigger” word, jy as skrywer moet bewus wees daarvan.

Na jou mening: voel mense in Suid-Afrika emosioneel en sosiaal veilig genoeg om verlief te raak, en hoe beïnvloed dit romantiese vertellings?

Oor die geskiedenis heen, raak mense verlief, ongeag die omstandighede – oorloë, peste, ensovoorts. Een van die redes hoekom mense juis romanses lees, is om van die werklikheid te ontsnap. Ek dink dis belangrik om stories van hoop en vreugde te skryf, veral in die tyd waarin ons nou is.

Hoe benader jy die skryf van romanse in ’n land waar die werklikheid van vrouemoord en geweld teen vroue so teenwoordig is?

Ek is terug by Janice Radway se navorsing. Lesers het sekere verwagtinge van ’n romanse en dis jou as romanse-skrywer se werk om aan daardie vereistes te voldoen. Lesers wil nie lees van geweld en moord wanneer hulle ’n liefdesverhaal optel nie.

Ek dink die hartseer van ons land slaan deur in stories in ander maniere soos ek reeds genoem het, maar grafiese detail hoort nie in ’n romanse nie.

Bewustelik joune, ’n Super Romanza wat ek ’n hele paar jaar gelede geskryf het, begin met ’n toneel waar die hoofkarakter aangeval word. Die storie handel egter nie oor wat met haar gebeur nie, maar oor die pad wat sy loop om gesond te word en in op ’n plek te kom waar sy weer iemand kan vertrou. Die uitgewer het vir my gesê sy was ’n bietjie bekommerd, maar omdat ek dit kort gehou het, kon dit werk.

Een van die eerste boeke wat ek geskryf het, was oor ’n heldin wat land-uit gevlug het, weg uit ’n huwelik waar sy aangerand is – Tydlose liefde. (Ek het dit ook vertaal as Where the river bends). Dis iets wat met iemand baie na aan my gebeur het en ek moes dit uit my lyf skryf.

Ek het ook ’n leser gehad wat vir my laat weet het sy het die boek begin lees, dit neergesit en eers later weer opgetel want sy was in ’n soortgelyke huwelik. Die lees van die boek het haar die eerste keer laat besef wat met haar gebeur het, was nie haar skuld nie, sy het niks verkeerd gedoen nie. Dit het my laat besef dat jy as skrywer bewus moet wees van insidente wat “triggers” vir sommige lesers kan wees.

Watter raad sou jy gee aan nuwe skrywers wat vandag die genre betree?

Maak seker jy wil regtig graag liefdesverhale skryf. Ken jou genre, ken jou lesers. En natuurlik moet jy as skrywer in die liefde glo, en in gelukkige eindes, om te kan skryf daaroor. Die heel beste raad is om te lees, lees, lees!  En laastens, as jy ’n skrywer wil wees, moet jy skryf! Ons praat van BOS – boude op stoel.

Lees ook:

Do we still feel safe enough to invest in romance?

"’n Tikkie fantasie" – Marilé (Alta) Cloete

"Real romance is more complex" – an interview with Nadia Cassim

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top