’n Perspektief by die lees en interpretasie van die Oudgriekse mites (deel 3)

  • 0

Lees ook: 

Bibliografie by die oorvertellings van die Oudgriekse mites (vervolg)

Robin Hard (vertaler), The Library of Greek Mythology by Apollodorus (Oxford World of Classics, 1998)

’n Antieke handleiding oor die Oudgriekse mites wat vir ons bewaar gebly het en ons wys hoe die Grieke sélf hulle mitologiese tradisies beoordeel het. Hierdie werk poog om die opsigtelike teenstrydighede in die oorgelewerde mite met mekaar te versoen. Daarby gee dit dan ook ’n wye opsomming van die tradisionele Oudgriekse mitologie en heldesages. In sy inleiding tot hierdie vertaling uit Grieks gee Hard ons ook ’n verslag van die bronne wat Apollodorus sou kon gebruik het in sy kompilasie van die Oudgriekse mites. Robert Graves het byvoorbeeld ruim gebruik gemaak van die stof wat Apollodorus aanbied. Dit vertel ons van die Griekse mites wat handel oor die oorsprong (ontstaan) van die wêreld tot by die Trojaanse Oorlog (wat, tradisioneel volgens Thoukudides, van 1193 tot 1184 vC strek). Dit vertel ons ook van die latere avonture van Jason die Argonout en Perseus wat uiteindelik die vreesaanjaende Medoesa doodgemaak het tot by Herakles, die grootste van die Oudgriekse helde, en Helena, die ewige femme fatale wat eintlik verantwoordelik was vir die Trojaanse Oorlog. Dit bevat ook volledige genealogiese tabelle. Eintlik het Pseudo-Apollodorus hierdie Bibliothêkê opgestel aan die begin van die 2de eeu, dws eers in die tyd van die Romeinse Keiserryk. Hierdie “Apollodorus” het sekerlik gebruik gemaak van die werk van Apollodorus van Athene uit die 2de eeu vC (’n student van Aristarchos van Alexandrië), want hy verwys na gegewens wat eers van ná laasgenoemde se dood teen 125 vC dateer. Die ware Apollodorus het ook ’n werk geskryf, “Oor die gode”, waarin hy ’n verslag lewer van die Oudgriekse godsdiens.

Die bronne vir die Oudgriekse mitologie is divers, waarvan Apollodorus hier een is. Die vroegste literêre Griekse bronne vir die Oudgriekse mitologie, naas die informasie wat die geografie en epigrafie vir ons lewer, vind ons by Homerus in sy twee groot eposse, die Ilias en die Odusseia (wat eintlik dié Bybel van die ou Grieke was), asook in die sogenaamde “Homeriese Himnes”, en by Hesiodos in sy Theogonía.

Ander Griekse bronne sluit die geskiedskrywers Herodotus en Diodorus Siculus in, en die geograwe Pausanias en Strabo.

Uit die Bisantynse tydvak (ná 330 nC) vind ons mitologiese materiaal by die Suda (’n Griekse leksikon uit die 10de eeu nC), asook by Hesuchios (die vroegste Oudgriekse woordeboekmaker), Johannes Tzetzes, Eustathius (’n Bisantynse geestelike na Photius) en Nonnos (’n Griekse digter van Panopolis in Egipte uit die 5de eeu nC met sy Dionúsika van 48 boekdele wat, ondanks al die gebreke daarvan, die laaste oorspronklike en belangrike Oudgriekse digter was).

Hierby kom dan ook die Alexandrynse skrywers van die 3de tot die 1ste eeu vC, soos Apollonius Rhodius (met sy Argonautica), Kallimachos (sekerlik een van die geleerdste Alexandrynse skrywers) en Parthenios. Ook uit Latynse bronne vind ons die optekening van Oudgriekse mitologiese materiaal (hoewel die Romeine as praktici nie veel in die Griekse fantasieë belanggestel het nie), byvoorbeeld by Ovidius (veral in sy Metamorphoses), Vergilius in sy Aeneïs (met Servius se kommentaar daarby, soos by Homerus se Skulla en Charubdis), Statius, Valerius Flaccus en Seneca. Hiernaas vind ons ook mitologiese materiaal by Latynse prosaskrywers soos Apuleius, Petronius en Lollianus.

Robin Hard, The Routledge Handbook of Greek Mythology: Based on HJ Rose’s Handbook of Greek Mythology (Taylor & Francis Ltd, 2003, a Routledge Imprint)

Soos die titel aandui, is hierdie werk gebaseer op die eertydse standaarduitgawe van die Oudgriekse mites deur HJ Rose. Die teks het seminaal dieselfde gebly, maar die resultate van die nuutste navorsing is bygewerk. Die narratiewe raamwerk van hierdie boek van 776 bladsye is só opgestel met bladverwysings dat dit makliker vir kruisverwysings en kontrole hanteer kan word. Dit bevat tallose lyntekeninge en selfs foto’s van realia. Dit gee ook die bronne van die stofgegewens volledig aan. Dit is stellig die beste teks by die Oudgriekse mites en sagas wat vandag in Engels bestaan. Die Spanjaard Jesús Hering se kommentaar in een woord was: “Grandioso!”.

Richard Buxton, The Complete World of Greek Mythology (Thames & Hudon, Londen, 2004)

Hierdie werk is opgestel deur ’n ware spesialis op sy vakgebied. Die opset en interpretasie van die Oudgriekse mites toon dit onmiddellik. Dit mag deur ’n geleerde navorser oor die Griekse mites geskryf gewees het, maar hy het dit heel toeganklik gemaak vir die man op straat met sy verduidelikende opmerkings wat gesofistikeerde betrokkenheid by die leser wil wek. Hy plaas dit op ’n uiters verfynde vlak met sy tersaaklike kommentaar. En dit maak hiervan waarskynlik dié handboek oor die Oudgriekse mitologie vandag. Hy vertel nie slegs die mites oor nie, maar wil dit plaas en vertolk. Buxton se definisie van die mite is kort en kragtig: “a society’s powerful traditional story”. As Buxton praat van die “wêreld van die mite”, bedoel hy daarmee (bl 11): “Imaginative contours and horizons, the motive and recurrent concerns, which lent meaning to stories”, en voeg later by (129): “Greek myths are only ostensibly alone the past; they are much more revealing about the changing present.” Buxton vertel die mites binne hulle historiese konteks. Reg aan die begin wil hy telkens, waar moontlik, die leser terugvoer na die oorsprong van die Oudgriekse mites, hetsy Mukeens of Minoïes. Hy stel selfs belang in Max Müller se Indo-Europese argetipes via Sanskrit. Soos Walter Burkert en Martin West gaan soek hy soms ook die oorsprong van Griekse mites in die Nabye Ooste, eietyds en geografies, en wat dit vir die interpretasie van die mite impliseer. Hy wys nie alleen op die godsdienstige gebruike van die mites nie, maar ook op die politieke implikasies daarvan by die Doriese Herakles en die Atheense Theseus. In sy voorlaaste hoofstuk (van sewe), “A landscape of myths”, toon hy duidelik die verhouding aan tussen die stofgegewe van die mite en die topografiese konteks, die landskap waarin dit afspeel, hetsy by berge, grotte, riviere en die seë. Kreta (oerstaat van die Westerse beskawing) en Troje (waar Homerus se eposse afspeel) kom aan die beurt. So ook die Onderwêreld of Hiernamaals (Hades) waar ons die ou Grieke se siening van die dode vind. Wolfgang Pietersen se rolprent oor Troje (Troy) sou hier nog meer baat gevind het by Buxton se werk.

In sy laaste hoofstuk (“Greek myths after the Greeks”) gee Buxton ons ’n kykie in hoe die Oudgriekse mites oorgelewer is op hul eie, of via die Romeine tot in die Middeleeue en Renaissance, en selfs tot in die Christendom. Dit het ’n durende invloed op die Westerse beskawing gehad. Die mite was op sy dag populêr in die gemeenskap wat dit van geslag tot geslag mondeling oorgelewer het, maar dit het ook sy weg sowel deeglik gevind in die Oudgriekse letterkunde self (soos by die epos, liriek en treurspeldigting) as in die latere Westerse letterkunde (soos by die hervertolking daarvan deur die Franse dramaturge van ons tyd (Anouilh, Cocteau, Giraudoux en Sartre).

Buxton gaan ook die seksuele eskapades van die Griekse gode (manlik én vroulik) met aardse sterflinge na. Die gode se tuiste op die Berg Olumpos in Noord-Thessalië vind hy geen “unimaginative construction” nie. Interessant is ook sy behandeling van die “same-sex eroticism” in die mite en afbeelding daarvan (selfs op vaastekeninge gesuggereer). Dit was nou maar eenmaal deel van die gebruike van die tyd dat ouer mans vir dié doel jonger seuns aangehou het, soos ons dit literêr vind in die geskrewe paidiká (“Pederastieë”) van selfs ’n laat-klassieke skrywer soos Theokritos, Idilles 12, 28, 29 en 3). Hierdie werk is ryklik geïllustreer met 250 tekeninge, waarvan 120 in kleur, baie daarvan as spesiale opdragte. Die bevat ook genealogiese tabelle, kaarte en ’n uitgebreide bibliografie.

Moderne verwerkings van die Oudgriekse mites in die Franse letterkunde

Die Oudgriekse mites figureer vryelik in die moderne Engelse en Duitse letterkunde. Dit is egter die Franse eksperiment wat by verre uitstaan in die Eurydice, Antigone en Médée van Jean Anouilh; in die Orphée en La Machinee Infernale van Jean Cocteau; in die La Guerre de Troie n’aura pas lieu en Electre van Jean Giraudoux; en in die Les Mouches van Jean-Paul Sartre. My Stellenbosse kollega PJ Conradie het ’n noukeurige ontleding hiervan gemaak, waarvan ek hier grootliks gebruik sal maak: sien sy The treatment of Greek myths in modern French drama in die Annale van die Universiteit Stellenbosch, Vol 29, Serie B Nr 2 van 1963. Natuurlik bring ek my eie insigte ook by.

Die grootste deel van die Oudgriekse mites is, soos Esopus se fabels, geskep om ’n boodskap oor te dra. ’n Boodskap wat óf die onverstaanbare etiologies wil verduidelik, óf waar dit daarom gaan om akute emosies in die lewe van die mens na vore te bring. Dit is uit laasgenoemde kategorie dat die groot Atheense treurspeldigters hul stof geput het sodat die toeskouers, deur vereenselwiging, die Aristoteliaanse kátharsis, reiniging van emosies kon ondergaan.

Jean Anouilh, Eurydice (1941)

By die Franse dramaturg Jean Anouilh (1910–87) se Eurydice gee hy ’n moderne variasie op en verwerking van die bekende mite waarin Orpheus sy gestorwe geliefde, Euridike, uit Hades wou gaan terughaal. Die omstandighede word volkome getemporaliseer. Orpheus is ’n straatmusikus wat beswaarlik ’n bestaan met sy viool kan maak. Hy ontmoet Eurydice op die plaaslike perron van ’n treinstasie. Sy was ’n lid van ’n derderangse teatergroep. Hulle raak onmiddellik verlief op mekaar en besluit om totaal weg te breek. Oor hul perfekte nuutgevonde liefde word egter gou ’n donker skadu gewerp. Eurydice het haar maagdelikheid verloor toe sy moes toegee aan die toenadering van die regisseur van die teatergroep. Sy raak in ’n groot innerlike vertwyfeling of sy aan Orpheus die waarheid moet vertel en so sy ideale beeld van haar moet skend. Dit is juis toe dat sy ’n brief van die regisseur ontvang wat dreig om haar vir hom te kom haal. Soos Euridike van ouds vir die attensies van Aristaios weggevlug het, doen Eurydice nou dieselfde en beland in die proses onder ’n bus wat haar doodry. ’n Slang het die Griekse Euridike doodgepik toe sy weggevlug het. Orpheus word nou rasend van verdriet. ’n Geheimsinnige monsieur Henri (die Noodlot?), wat die twee reeds by die stasie ontmoet het, verskyn op die toneel en beloof aan Orpheus dat hy Eurydice weer vir hom sal terugbesorg, maar dat hy Eurydice nie in die oë mag kyk voordat die dag gebreek het nie. Dit was ook die voorwaarde waarop Persephone in die mite weer vir Euridike aan Orpheus oorhandig het om uit Hades terug te neem na die wêreld van die lewendes. Monsieur Henri besorg Eurydice toe ook weer terug, en die twee val vol geluk in mekaar se arms. In sy groot vreugde vergeet Orpheus monsieur Henri se voorwaarde, en voor dagbreek kyk hy soekend in haar oë om die waarheid van haar verlede met die regisseur te kan bekom. En net daar glip Eurydice weer terug in die boesem van die dode. In die slotbedryf besoek monsieur Henri weer vir Orpheus, en oortuig hom dat alles in hierdie lewe miserabel en onvolkome is, en dat alleen die dood liefde puur en rein kan hou. Orpheus pleeg hierop selfmoord, en word só weer met Eurydice verenig. Alleen in die dood bly liefde volmaak.

Hierdie mite van Orpheus en Euridike is deur minstens tien outeurs in die Oudheid self aangehaal, onder wie Vergilius, Ovidius, Statius, Lucianus, Seneca, Plato, Ploutarchos en Isokrates (vgl CM Bowra, “Orpheus and Eurydice”, Classical Quarterly, 1952, 113–26). Hiervan is die narratiewe van Vergilius (Georgica 4, 453–527) en Ovidius (Metamorphoses 10, 1–77) seker die treffendste. Vir laasgenoemde, vgl Eduard Norden, “Orpheus und Eurydice”, Sitzungsberichte der Preussichen Akademie, 1943, 656–70. Plato (Symposium 179 d) gee ’n eienaardige interpretasie aan dié mite, as sou Orpheus as ’n lewende ’n te groot lafaard gewees het om na Hades te gaan om weer met sy geliefde verenig te wees en die gode toe maar vir hom ’n spookbeeld van Euridike sou laat kry het. Maat dit was doelbewus van sy agitasie teen Orphisme.

Jean Anouilh: Antigone (1942)

Met sy Antigone het Anouilh nie alleen ’n hoogtepunt in die moderne verwerking van ’n Oudgriekse mite bereik nie, maar ook ’n hoogtepunt in sy eie oeuvre as toneelskrywer. Roem vir vertolking van hierdie mite kom hom sekerlik toe, maar die eintlike roem lê sekerlik in die oorspronklike skepping van die mite en Sophokles se opneem daarvan as tragiese materiaal. Daar word soms beweer dat Sophokles self hierdie plot kon gekonsipieer het. Dit is vir my geheel onwaarskynlik. Afgesien van die latere Agathon as Atheense dramaturg, is nie ’n enkele Oudgriekse treurspel gekonstrueer buite die oorgelewerde mites nie. Die Sewe teen Thebe van Aischulos vertel al die verhaal van die stryd tussen Eteokles en sy broer Poluneikes. Die materiaal word hier net so gegroepeer soos die Oidipus-sage by Thebe en dié van Agamemnon by Mukene. Nietemin, vgl Max Pohlenz, Die griechische Tragödie (Vandenhoeck & Ruprecht, 2e Aufl, Göttingen, 1954), bl 79.

Die louter plot van hierdie drama leen hom tot die grootste tragiese ironie. Dit gaan oor twee broers, Eteokles en Poluneikes, wat by die poorte van Thebe teen mekaar geveg het, waarop Poluneikes gesneuwel het, die regent van Thebe, Kreon, sy begrafnis as ’n verraaier van Thebe verbied het, maar sy suster Antigone dit haar goddelike plig geag het om hom wel te begrawe. Die ongeskrewe goddelike wet verwag dat ’n gesneuwelde begrawe moet word, maar die aardse staat, hier verteenwoordig deur hul leier en staatsman Kreon, verbied dat ’n verraaier hierdie eer toekom. En dít konstitueer die groot konflik.

Dit is die karaktertekening van Antigone. Die stryd in haar binneste, haar koppigheid én trots, haar intuïtiewe emosionele reaksies, haar verdwaasde, selfbewerkte hamartía en ten slotte onnodige selfmoord het soveel moontlikhede vir Anouilh gebied. En sy kon haar ook self bejammer as sy vir die Oppaster sê: “As jy huil soos ek gehuil het, word jy weer ’n klein dogtertjie, maar ek moet nie vandag ’n klein dogtertjie wees nie!” Vir haar verloofde Haimon het sy gesê dat sy hom innig lief het, maar sy weet dat sy nooit met hom kan trou nie. Antigone wou ook eerder uit hierdie bose wêreld ontsnap – ’n lewenspessimisme wat sy met Anouilh gedeel het. In Anouilh se dramaskrywing sterf ’n held gewoonlik om sy eie eer ongeskonde te laat, maar hier sterf Antigone vir iemand anders, haar eie broer. Die tragiek lê hier daarin dat sy, gevange in ’n kerker, verkies om eerder haar eie lewe te neem, terwyl dit net te laat is nadat Kreon haar verskoon het. En saam met haar het sy haar verloofde Haimon ook geneem (wat op sy swaard val as hy van Antigone se dood verneem) en Euridike, Kreon se vrou, as sy weer van haar seun Haimon se dood hoor.

Ons sou graag die uiteinde wou weet wat die dramaturg vir Kreon (hier ’n soort Oidipus) in gedagte gehad het, maar die drama (van Antigone) was reeds afgesluit. Kreon was die onkompromitteerbare staatsman wat weer sý godgegewe plig as leier moes uitvoer: “’n Vyand kan nooit ’n vriend wees nie, al is hy dood.”

GWF Hegel het gemeen dat Antigone sowel as Kreon die regte ding gedoen het (vgl hier Gilbert Norwood, Greek Tragedy, 4de uitg, Methuen, Londen, bl 48). Die ironie is dat Antigone eintlik vir Poluneikes twee maal wou begrawe. Met die eerste geleentheid is sy deur ’n soldaat wat die lyk buite die stadspoorte moes oppas, gevang toe sy daar, skelmpies, tydens ’n storm ’n fyn lagie grond simbolies oor haar broer se lyk gegooi het. Anouilh teken die tragiek van Antigone miskien sterker af as Sophokles self wat hy hier navolg. In haar strewe na idealisme is sy ook hardkoppig. By geleentheid het sy gesê: “Comprendre ... moi je ne veux pas comprendre” (“Ek verstaan, ja! Maar ek wil nie verstaan nie!”). Sy het ook gesê dat sy nie tevrede is om maar net die klein stukkie vreugde wat die lewe haar miskien nou bied, aanvaar nie: “As ek nie absoluut vry kan wees nie, verkies ek eerder die dood.” Sy kan nie, en sal nie, ’n kompromie met haar ideale aangaan nie. As Kreon haar vra waarom sy haar lewe so in gevaar wil stel, antwoord sy: “Pour personne ... Pour moi” (“Vir niemand nie, vir myself”).

By reëls 905–12 in die oorspronklike teks van Sophokles se Antigone verklaar Antigone dat as dit haar kind of haar man was wat nie begrawe mog word nie, sy nie haar lewe sou gewaag het nie, want sy kon weer ’n ander man en kind gekry het. Sommige kritici beweer dit is ’n latere interpolasie, maar ook Aristoteles het dit so. RF Goheen, The Imagery of Sophokles’ Antigone (Princeton, 1958), ble 76–82, bied volgens Conradie ’n aanvaarbare verklaring, omdat sy dit gesê het in ’n staat van emotiewe en irrasionele denke. Natuurlikerwys kan dit egter nooit gebeur het nie – jy kan nooit die moeder van jou broer wees nie!

Hierdie uitsonderlike drama van Sophokles is deur JPJ van Rensburg ook in Afrikaans vertaal, Sophokles: Antigone (Human & Rousseau, Kaapstad, 1961).

Jean Anouilh: Médée (1946)

Die oorspronklike Medeia van Euripides is ’n ware meesterstuk. Dit slaag volkome as ’n roerende tragedie waarin Jason (leier van die Argonoute) aan die einde alleen agterbly nadat sy twee klein seuntjies deur sy vervreemde vrou Medeia, wat hy in Korinthe vir die dogter van koning Kreon verruil het, uit wraak vermoor is omdat hy haar verlaat het, asook verantwoordelik was vir die dood van sy “nuwe” vrou, Glauke, wat vergiftig is deur presente wat Medeia by hul huweliksplegtigheid ingesmokkel het. En dan is daar ook die roerende monoloog van Medeia, waarin sy worstel tussen die drange van moederliefde vir haar onmondige kindertjies en die drange van haatlike wraak op haar man Jason wat haar liefde vir ’n ander vrou versmaai het.

Anouilh het die sentrale tema van Euripides se Medeia radikaal verander. Hy is meer geïnteresseerd in die vervreemding van Jason en Medeia, die redes daarvoor en hul voortdurende wedersydse beskuldiginge, veral die tweestryd hieroor in haar hart. Medeia is hier ’n soort Boheemse (Russiese) gypsey-meisie. Die een oomblik voel sy verlig dat Jason sy verhouding met haar gebreek het, en die volgende oomblik hou sy vol dat sy net vir hom bedoel is. Sy het hom “soos ’n hond” tot hier gevolg, en dit is nou tyd dat sy haarself herontdek. Tog verklaar sy dat Jason nooit van haar ontslae sal raak nie (want hy kan nie). Hier is ook ’n merkwaardige monoloog van Medeia waarin sy sê dat sy voel asof ’n bose gedierte haar bekruip het en nou in sy wrede kloue het. Sy daag Jason uit om haar te probeer vergeet (want hy kan nie). Sy verlang terug na hulle gelukkige dae saam, en selfs die kinderoppaster droom daarvan. Uiteindelik besef sy dat hierdie lewe nie meer vir haar die moeite werd is nie (Jason bly “non” sê vir al haar toenaderinge) en dat sy nie so min van die lewe wil hê nie, en pleeg sy selfmoord deur haarself met ’n swaard om die lewe te bring nadat haar twee seuntjies in hul woonwa doodgebrand het (wat sy die kinderoppasster aangesê het om aan die brand te steek). By Euripides het Medeia, na die moord op haar kinders en Jason se “nuwe” vrou, met ’n koets van die Songod na Athene ontsnap waar koning Aigeus haar voortydig reeds asiel aangebied het. Weer eens: met sy pessimistiese en nihilistiese uitkyk op die lewe laat Anouilh sy heldin haar eie lewe neem. Anouilh het egter nie hier goedkoop melodrama gepleeg nie. Reg vanaf die begin van die drama het hy die gehoor dit, in afwagting, laat verwag.

Vir Anouilh gaan die lewe vir Jason onverbiddelik voort. Wat gebeur het, het gebeur, en hy sit en huil nie soos Euripides se Jason nie. Tog bly die geheel ’n onbevredigende herskrywing van Euripides se briljante drama, en slaag Anouilh nie, soos by sy Antigone, daarin om dit aangrypend te “moderniseer” nie.

Die kwessie van Medeia se onbevredigde seksuele drange soos by sy Antigone (die halfbarbaarse meisie by Euripides) kom hier glad nie sterk op die voorgrond by Anouilh nie. Gilbert Highet het, in sy The Classical Tradition (Clarendon Press, Oxford, 1949), bl 527, veel gewag gemaak van hierdie “seksuele uithongering” wat ’n groot rol by Medeia sou gespeel het.

Die eintlike stofgegewe van die mite by Euripides se drama ontbreek grootliks, in so ’n mate dat Max Pohlenz (Die griechische Tragödie, 1954) opgemerk het dat ons hier eintlik ’n nuwe skepping van Euripides self het: “Die Medea ist für uns die erste Tragödie, in der ein Tragiker nicht Überlieferung ergänzt, sondern von sich aus frei gestaltet.” Tog bestaan daar diverse mitiese brokstukke waaruit Euripides sy drama, met eie interpretasie en strukturele poëtiese toevoeginge, kon opgebou het tot die meesterstuk wat dit is. Sien hier Denis L Page (toe “student and tutor” van Christ College, Oxford) se inleiding tot sy Medea van Euripides (Clarendon Press, 1ste uitgawe, 1938). Met sy 80ste verjaarsdag in 2011 het PJ Conradie ’n skitterende vertaling van Euripides se Medeia in private sirkulasie gepubliseer.

Jean Cocteau: Orphée (1926)

Net soos Anouilh in sy Eurydice, het Cocteau in sy Orphée ook die bekende Oudgriekse mite van Orpheus se afdaal in die Onderwêreld om sy geliefde Euridike weer te gaan terughaal na die wêreld van die lewendes. Soos die titel reeds aandui, speel Orpheus hierdie keer die hoofrol. Orpheus was tradisioneel die vroegste Griekse digter, uit Thracië, van faam. Sy naam kom selfs voor in ’n Delphiese inskripsie waar ons van Orphâs hoor. Aischulos en Euripides vertel ons dat sy liedere selfs die bome en wilde diere in die veld, en selfs die klippe, bekoor het. Ook in tekeninge op die mure van die latere Christelike katakombes tref ons hom aan as ’n sanger, die Prins van Verde waarvan Jesaja ons sou vertel. Cocteau maak Orpheus ook ’n priester van die Son. Immers, Orpheïsme het later ’n mistieke godsdienskultus by die ou Grieke geword wat die bestaan van die bose naas die goeie in hierdie wêreld wil verklaar in die mite van Dionusos Zagreus (’n “barbaarse” naam wat “in stukke verskeur” kan beteken), hoewel ’n seun van Zeus en Persephone, gedood deur die vroegste Titane, maar sy hart deur Athena weer vir Zeus gegee het om in te sluk. Cocteau laat in sy drama Orpheus as priester van die Son afspeel teen Eurydice, aanbidster van die Maan.

Cocteau laat sy stuk begin met Orpheus wat begin twyfel in sy kuns as nasionale digter. Op ’n dag loop Orpheus ’n perd raak wat in ’n geheime kode vir hom dikteer: “Madame Eurydice reviendra des enfers” (“Madame Eurydice sal weer uit die Onderwêreld terugkeer”). Dan volg die storie van hoe sy, as die geliefde vrou van Orpheus, in Hades beland het. Orpheus was so behep met die skryf van sy poësie dat hy Eurydice begin afskeep het. Sy vind egter ’n vertroueling in Heurtebise, ’n geheimsinnige glasblaser, wat haar help om met Aglaonice, leidster van Bakchos se bacchante, oor haar probleem te gesels. Dié stuur toe ’n koevert waarvan die toemaaklym vergiftig is (gif is ’n ou Griekse mitiese motief) om ’n brief wat aan Orpheus geskryf moes word. Eurydice lek egter self die gif af en sterf. Nou skrik Orpheus ontsteld oor die dood van sy vrou, en Heurtebise (eintlik die beskermengel van die paartjie) help Orpheus op sy pad na die Onderwêreld deur vir hom ’n paar handskoene en spieël te gee om op sy reis na benede te gebruik. Die spieël laat ons onmiddellik dink aan die spieël waarmee Perseus na die Onderwêreld is om die Medoesa te gaan doodmaak. Weer eens word Orpheus as hy Eurydice vind, verbied om haar in die oë te kyk, hierdie keer vir lewenslank, as hy nie wil hê dat sy weer verdwyn nie. Orpheus slaag in sy reis na die Onderwêreld en bring Eurydice weer terug na die land van die lewendes. As Orpheus en Eurydice daarna stry oor die aanbidding van die Maan, kyk hy haar per ongeluk in die oë en sy verdwyn weer na benede. Orpheus is aanvanklik nie baie ontsteld hieroor nie. Maar dan kom die maanaanbidsters, onder aanvoering van Aglaonice, en kla hom daarvan aan dat hy die woorde wat die perd destyds aan hom gedikteer het, nou (onder inspirasie) in sy poësie gebruik het, en daarmee die Regter (van die Onderwêreld) beledig het. Orpheus word deur hulle doodgemaak – en is weer verenig met Eurydice.

In die drama word Orpheus se kop deur ’n venster ingegooi, iets wat ons kan vergelyk met die kop van Pentheus waarmee sy moeder Agave op die toneel verskyn in die Bacchae van Euripides. Nou geskied ’n heel moderne toneel: die Superintendent van die Polisie daag op om die moord te kom ondersoek. Heurtebise word verdink, maar verdwyn geheimsinniglik met die ondervraging. Net die kop van Orpheus het nou agtergebly, en dié as “Monsieur Orpheus” moet nou al die vrae beantwoord.

Ek stem nie saam met PJ Conradie se vertolking van dié drama nie, maar eerder met Pierre Dubourg se siening (Dramaturgie de Jean Cocteau, Parys, 1954). Veelsydige surreële simboliek speel in Cocteau se drama ’n baie groot rol. Alles is met misterie gevul, en die drama sluit met ’n oop einde sonder dat daar enige oplossing was. Dit mag prima facie grotesk en bisar klink, maar Cocteau had ’n boodskap daaragter. Hy is waarskynlik self Orpheus, en span diverse ander bonatuurlike elemente in die Oudgriekse mitologie daarby in. Nadat die Thraciese Mainades Orpheus (ook) doodgemaak het, dryf sy kop al singende met die rivier af. En Achilles se perd by Troje kon ook praat – en sy dood voorspel. Eintlik het Cocteau hier sy eie onafhanklike storie vertel in die naam van Orpheus en Euridike. Dit is geen herinterpretasie van die mite per se soos merendeels by Anouilh nie. Orpheus verklaar, reg aan die begin, dat “sy lewe begin stink na die sukses van die dood”. Dramaturge kan ook later in hulself begin twyfel, al was daar suksesse. Orpheus se poëtiese aktiwiteite het hom van sy vrou vervreem. En hy sterf ook op grond van sy poësie. Dit is heel ironies dat Heutebise in die negende bedryf sê dat iemand tog sekerlik nooit doodgemaak kan word vir een woord wat hy (onder inspirasie van ’n pratende perd in sy poësie) gebruik het nie. Daarom móés Cocteau ’n filmweergawe daarvan in 1950 vrystel om sy “oop” boodskap ook in beeld te probeer oordra, al het dit soveel “on-dramatiese” elemente volgens Conradie. Cocteau “fantaseer” die heelpad oor sy (en ander digters en dramaturge se) lot. Dit kom alles uit sy (skeppende) onderbewuste waarmee hy vrede moet maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top