’n Perspektief by die lees en interpretasie van die Oudgriekse mites (deel 2)

  • 0

Lees ook:

Bibliografie by die oorvertellings van die Oudgriekse mites

Daar bestaan al ’n omvangryke korpus van weergawes, veral in Engels, van die verhale uit die Oudgriekse mitologie. En die meeste daarvan is ook ryklik in kleur geïllustreer deur óf afdrukke uit bewaar geblewe antieke vaasskilderinge of ander realia, óf wat die skeppinge is van moderne kunstenaars, vir wie die veld so verleidelik wyd is soos die oorgelewerde materiaal self.

Voordat ek ’n seleksie van die (na my mening) beste werke oor die Oudgriekse mitologie maak uit hedendaagse Engelse literatuur (vertalings en verwerkings), wil ek graag hier, ter wille van die rekord, ook verslag lewer van verskeie (soms heel beskeie) pogings op eie Afrikaanse bodem wat, na my wete, die volgende in toto insluit: CD Keet, Uit die Griekse heldewêreld (JL van Schaik, Pretoria, 1924); P van Braam, Mietes [sic] en sages uit die Klassieke Oudheid (Pro Ecclesia, Stellenbosch, 1925); Adèle Naudé, Verhale uit die Griekse legendes (Oxford University Press, Oxford, 1949); FJ Eybers, Heldesages uit die Griekse mitologie (Nasionale Pers Beperk, Bloemfontein, Kaapstad, Stellenbosch, 1931); Donald A MacKenzie (vertaling van AE Carinus, JL van Schaik, Pretoria, 1932), Die gode van die Klassieke (JL van Schaik, 1932), Feaciese nagte (SJ du Toit, Nasionale Pers Beperk, 1950); PV Pistorius, Droomhelde uit Hellas (Afrikaanse Pers Boekhandel, Johannesburg, 1950); PJ Conradie, Avonture van die Griekse helde en gode (Human & Rousseau, Kaapstad, Pretoria, eerste druk, 1964 – verreweg die heel beste); LC de Jager, Griekse legendes (Voortrekkerpers Beperk, Johannesburg, 1967).

HJ Rose, Handbook of Greek Mythology (1928, tot met ’n 6de uitgawe in 1958; daarna hersien deur Robin Hard, Routledge, 2004). Vir baie jare was Rose se handboek oor die Oudgriekse mites die standaard akademiese uitgawe. Rose het ’n verantwoorde verslag van die Oudgriekse mites geskryf waarin hy ’n ontleding aanbied van die evolusie én literêr-orale tradisie van die Griekse mitologie.

Edith Hamilton, Timeless Tales of Gods and Heroes (1942, Little, Brown & Company). Miljoene eksemplare hiervan het sedertdien al oor die wêreld heen verkoop. Dit is vandag selfs as ’n e-boek beskikbaar. Hierdie werk is vir volwassenes bedoel (waar soveel weergawes eerder op kinders gerig word). Sedert die publikasie daarvan het dit ’n fundamenteel onmisbare standaardinleiding tot die Oudgriekse mitologie geword. Dit het in meer as een opsig die toets van die tyd deurstaan. Hamilton vertel die ou Griekse mites op ’n meesterlike wyse oor, met die gevolg dat haar vertellinge eintlik sélf letterkunde geword het. Haar prosa is dikwels selfs poëties. Sy skryf hierdie verhale uit die verre Oudheid in ’n hoogs stemmingsvolle en evokatiewe styl oor; uit ’n hart met gevoel én met ’n redelike interpretasie van die stofgegewe. Tog vereis hierdie werk geen voorkennis oor die onderwerp nie.

Robert Graves, The Greek Myths (1955, in 2 volumes). Elke mitiese verhaal word weergegee in die stem van ’n verteller (soos Ploutarchos en Pausanias) uit die era van die Antonines, ’n Romeinse keiserdinastie in die 2de eeu nC. Dit wemel van aanhalings uit die klassieke bronne daarvan. Elke mite word dan ook gevolg deur Graves se eie interpretasie van die oorsprong en belang daarvan vis-à-vis sy eie teorieë oor ’n prehistoriese matriargale godsdiens – iets waarmee die meeste klassici nie saamgestem het nie. Die literêre standaard van sy vertellinge is van ’n hoë gehalte, want Graves was self ’n uitnemende digter.

Edgar Parin d’Aulaire, D’Aulaire’s Book of Greek Mythology (1962, Doubleday). Hierdie boek van 46 hoofstukke is ryklik vir kinders geïllustreer deur Edgar en sy vrou Ingri. Edgar is gebore in München, Switserland, en Ingri in Kongsberg, Noorweë. Hulle emigreer in 1929 na die VSA en bevind hulle aanvanklik in ’n “cold-water, walk-up flat” in Brooklyn. Beide was kunstige illustreerders van kinderboeke. Hulle het reeds in 1931 The magic rug vir kinders uitgegee. Hulle het ook Noorweegse volksverhale vir die Amerikaners opgeteken in Ola, children of the Northlights, East of the sun and West of the moon, en daarna ook uit die Noorse mitologie.

ML West, Hesiod, Theogony and Works and Days (1978; in 1999 as ’n Oxford World Classic). West was ’n kenner van Hesiodos, wat in die laaste derde van die 8ste eeu vC gebore is. Hy word reeds in die antieke tyd, en veral deur die naklassieke Alexandrynse geleerdes, in dieselfde asem genoem as die groot Homerus, ons ander groot bron van die Oudgriekse (Mukeense) godsdiens. Hesiodos gee in hierdie werk van hom ’n stelselmatige genealogie van die Oudgriekse gode, asook ’n besonderheidsbeskrywing van die primordiale stryd tussen die oergode van Griekeland. Dit is duidelik, op argeologiese en literêre gronde, dat hy Babiloniese bronne uit die Nabye Ooste tot sy beskikking moes gehad het. Hesiodos het daarin geslag om eie abstrakte beoordeling met argaïese gegewens te kombineer. So dra dit dan ook ’n sterk profetiese inslag. Hesiodos was geboortig uit Beosië, noord van Attika in Griekse Balkan, waar hy ook ’n boerdery bedryf het (van daar dan ook die verdere titel van Dae en werke wat hierdie werk besit). Ploutarchos en ander laat-Griekse skrywers vertel dat hy vermoor is uit wraak omdat hy die suster van sy moordenaars sou verlei het. Sy graf word vandag nog aangewys op Orchomenos in die eertydse Beosië. Soos Homerus het hy in die Ioniese dialek geskryf, maar ook van sy plaaslike Beosiese dialek gebruik gemaak.

Walter Burkert, Structure and history in Greek mythology and ritual (1979, University of California Press). Hierdie is nie as sodanig vertellings van Griekse mites nie, maar ’n indringende poging om die skepping en betekenis van die ou Griekse mites te verstaan. Burkert (1931–2015) was professor in die Griekse klassieke aan die Universiteit van Zürich in Switserland. Hy het ’n uiters belangrike “moderne” interpretasie gelewer van die verhouding tussen die alledaagse ritueel soos ons dit in die ou Griekse mites opgeteken vind, en die argaïese godsdiensbeoefening van die antieke Griek. Immers, Homerus was vir die antieke Griek sy Bybel, naas ander literatuur soos dié van Hesiodos. Dit is met groot erudisie dat hy sy tema uitgewerk het, ryklik voorsien van verklarende voetnote uit die klassieke letterkunde, argeologie, epigrafie en vergelykende folklore uit ander beskawings. Hierdie komplekse getuienisse verwerk hy op ’n rasioneel-vaardige wyse. Hy stel belang in die historiese evolusie op grond van diverse kulturele invloede. Dit is veral die studie van die offerritueel waarin hy belangstel, dit is Homo necans (wat offer) se oordeel tussen ritueel en godsdiens. Hy meen dat die ritueel ouer was as die godsdiens waarin dit daarna beoefen is. Hy soek ook veral die simboliek in die mite en ritueel, soos die itufalliese beskermingswaarde soos die Hermae wat by feitlik elke huis in ou Athene gevind kon word asook langs paaie en op straathoeke. Burkert het vier eienskappe van die mite uitgesonder: (1) dit is multivalent, dws nie beperk tot ’n enkele interpretasie nie; (2) die werklike belang en identiteit van ’n tradisionele vertelling lê in die strukturele betekenis daarvan; (3) vertellingstrukture weerspieël die basiese “biologiese”, oftewel kulturele patrone van aksie daarin; en (4) mites onderskei hulleself van ander tradisionele vertellinge deurdat hulle ’n kollektiewe belang vir die gemeenskap inhou. Die ritueel weerspieël die betrokke behavioristiese patroon as demonstrasie van die gemeenskaplike belang daarvan. In die eerste twee hoofstukke van sy boek behandel Burkert die mite en sy ritueel, gevolg deur vier hoofstukke waarin hy hierdie stof interpreteer. By die held Herakles (vgl hier PJ Conradie se doktorale skripsie aan Rijksuniversiteit van Utrecht in 1958, “Herakles en die Griekse tragedie”), hoofstuk IV by Burkert, probeer hy nagaan wat die oorsprong van hierdie uiters populêre Oudgriekse karakter was. Hy verwerp die tradisionele romantiese interpretasie van die Doriese Grieke van hom as hul meer as lewensgroot groot held. Hy sien Herakles eerder as die kern van verhale in die guns van allerlei helde van bepaalde patrone van optrede wat dan pseudonimies aan die “historiese” Herakles gekoppel word. Burkert soek die enkele “verhoog” in die tekste van verskeie soortgelyke verhale wat dan aanmekaar gebind word deur die persoon van Herakles as argetipe, verhale met dieselfde patroon van dapper handeling en oorwinning (vgl bl 85). Burkert maak hom nêrens skuldig aan strukturele obskuurheid (of selfs arrogante aannames) soos GS Kirk van Cambridge in sy Myth: its meaning and functions in ancient and other cultures van 1970, en in sy The nature of the Greek myth van 1974 nie. By Pythagoras stel hy die mitiese oorlewering integrerend naas die wetenskaplike tradisie van sy wysgerige skool. Burkert het hard probeer om die moeilikste van take uit die Oudgriekse erfenis uit te voer, naamlik die verhouding tussen mite, offerritueel en die godsdiens van die tyd. En hy het uiters pragmaties te werk gegaan. Hy het selfs die oorsprong van meer as een Oudgriekse mite in die Nabye Ooste (Babilon) en selfs Persië gesoek.

Lawrence J Hatab, Mythology and philosophy: a contest of truths (1990, Open Court). Die titel van hierdie boek mag vir die niespesialis na ’n onsinnige teenstelling in terme klink, selfs misterieus en geheimsinnig. Maar volgens Hatab kan die mite regtig verstaan word alleen as ons die wysgerige insig en gees (“genius”) van die ou Grieke daarágter begryp. Gaan soek na die wysgerige storie (waarheid) ágter die mitiese storie. Daar is ’n duidelike historiese verband tussen mite en filosofie. Hatab ontleed die verskynsel van die mite in die algemeen soos ons dit ook by ander beskawings aantref, maar uiteindelik spesifiek by die antieke Griekse lewensuitkyk en wêreldbeskouing. Vir Hatab het die Oudgriekse etiologiese (verklarende) mite die filosofie eintlik voorafgegaan. Hy pleit vir ’n oop, pluralistiese interpretasie van die mite. Dit vorm ’n verdediging van die onverstaanbaarheid van die mite as dit nie wysgerig vertolk word nie. Hoewel Hatab Plato (en Aristoteles) se veroordeling van die mite uitdaag en teenstaan, kan Plato se gebruik daarvan in sy Dialoë tog verstaan word slegs as ons sien dat hy die mite inspan juis waar enige verdere rasionele verklaring ophou. Die Griekse mûthos verteenwoordig inherent die meer verhewe, goddelike spreuke. Dit lê die Oudgriekse gees op sonderlinge wyse vas. In die proses het Hatab moderne filosowe soos Martin Heidegger en Friedrich Nietzsche bygehaal. Sien veral laasgenoemde se Die Geburt der Tragedie aus dem Geiste der Musik van 1871, waar die volksherkoms en wese van die tragiese drama bespreek word as ’n sekondêre uitvloeisel binne die psige van die Oudgriekse samelewing. Die oorsprong van die “wysgerige” mite is vergelykbaar. Kathleen Hull het Hatab se werk kortliks geresenseer in die Journal of Speculative Philosophy, 8(3):228, 1994, vervolgens), so ook Peter Vernezze in Ancient Philosophy, 13(1):142–5, 1993 en Stephen A Daniel, Philosophy in Review, 11(5):324–6, 1991. Sien in laasgenoemde vaktydskrif ook Drew Hayland, 16:167–71, 1996 en 26:419–21, 2006. Dit toon die uitsonderlike verdienste van Hatab se werk om die oorsprong en wese van die mite én die filosofie te verstaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top