’n Perspektief by die lees en interpretasie van die Oudgriekse mites (deel 1)

  • 1

Lees ook: 

Die Oudgriekse mites tel onder die mees komplekse, fassinerende en interessantste vertellinge wat ooit mondelings geskep, oorvertel en later op skrif gestel is. Hierdie mites is herhaal in ’n haas onuitputbare reekse van variasies en interpretasies. Dit was uiteindelik nie net vir blote vermaak geskep nie, want so dikwels vind ons dat daarin verborge historiese kerne opgesluit lê. ’n Groot deel van die Oudgriekse mites is etiologies van oorsprong, met ander woorde, dit wil die ontstaan van ’n feitelike saak verduidelik. In Grieks verwys aitía na die “oorsaak” van dinge en gebeurtenisse.

Die Griekse mites was die bron waaruit die stofgegewe van die vroegste Griekse literêre skeppinge kom by die epiek, liriek en tragiese digting. Dit was avontuurverhale waarop die Oudgriekse letterkunde geteer het. In die Homeriese epos word dit onbevange weergegee, terwyl die tragici, soos (en veral) Euripides, dit wou interpreteer in terme van die tydlose boodskap wat dit dra.

Die Oudgriekse mites vertel die storie van die wêreld, sy oorsprong en verloop van sake toe daardie wêreld nog jonk was. Dit vertel van die primordiale stryd tussen die later erkende gode van die Oudgriekse panteon en die prehistoriese Titaniese reuse. En dit volg die verhaal totdat die Grieke hulle stadstate (póleis) gestig het waar mense vir hulle gemeenskaplike en kollektiewe veiligheid en vryheid byeengekom het. Vergelyk hier Aristoteles se definisie (Politica 1253 a 3) van die “mens” as ’n ánthrôpos phúsei politikòs zô[i]on, van nature ’n polís­- oftewel stadstaatgeoriënteerde wese, eerder as ’n “politieke dier”.

Vir die Oudgriekse religieuse rituele was die gegewe van die mites uiters belangrik. Die Oudgriekse godsdiens kan alleen in terme daarvan vertolk word. Dit word baie duidelik as ons werke oor die Oudgriekse godsdiens bestudeer, soos dié van MP Nilsson (Geschichte der griechischen Religion (1967); LR Farnell, The cults of the Greek states (1909); Ulrich von Wilamowitz-Moellendorff, Der Glaube der Hellenen (1931–32); Gilbert Murray, The five stages of Greek religion (1935); WKC Guthrie, The Greeks and their gods; en HJ Rose, Ancient Greek religion (1946).

Mite kan losweg gedefinieer word as ’n prewetenskaplike verbeeldingryke poging om verskynsels te verklaar waarvoor daar nie ’n voor die hand liggende verklaring bestaan nie. Soos HJ Rose dit by geleentheid gestel het: “It often appeals to the emotions rather than the reaon, indeed, in its most typical form seems to date from an age when rational explanations were not generally called for.” Dan gee Rose die voorbeeld van die groot ravyn van Peneus in Noord-Thessalië (vgl Herodotus se “Geskiedenis” 7.129, vervolgens) wat die seegod Poseidon deur ’n aardbewing of met sy drietand (tríaina) sou geskep het en die bergreeks daar in twee verdeel het. Vir die primitiewe mens was so ’n verklaring deur die arbitrêre optrede van die god heel aanvaarbaar. Vir Herodotus (wat meer krities probeer wees het) was dit eintlik ’n poëtiese manier om die oorsprong van dié pittoreske verskynsel in Thessalië mee te beskryf. Maar mites kan ook intellektueel opgewasse wees, soos die pikante verhaal waar Zeus deur Prometheus gekul is by Hesiodos, Theogonia 535, vervolgens. Die Oppergod moes hom die vraag afgevra het waarom daardie dele van die offerdier wat op die altaar verbrand is, vir die hemelse gode die minste waarde gehad het.

Apollo and Daphne deur Nicolas Poussin, met Peneus wat doelbewus wegkyk

In latere mites vind ons soms uitvoerige spekulasies, soos die identifisering van Virbius met Hippolutos by Vergilius in sy Aeneïs 7.761, vervolgens. Die Romeinse Diana, by die Grieke die godin van die jag, maar by die Romeine eerder die godin van die maan en die beskermster van die vrou, of selfs ’n “Woudgees”, se kultus by Aricia (die moderne Nemi, aan die oewer van ’n vulkaniese meer) was geassosieer met Virbius, ’n obskure manlike godheid (vgl Ovidius, Metamorphoses 15.544) wat niemand anders nie as die aseksuele Hippolutos (by Euripides) was.

By die mondelingse oordrag van mites het daar noodwendig mettertyd poëtiese plusse (byskeppinge) bygekom. Soos HJ Rose dit ook gestel het: “It (the myth) continues to be told (orally) from generation to generation, often getting into the hands of a professional maker (= poiêtês, “digter”, ’n professionele skrywer) of such narratives, and so acquiring all manner of additions, modifications, and and re-handlings intended to make it a better story” (my kursivering).

Gedurende die mondelingse oordrag van mites het dit dikwels gebeur dat twee of meer verhale verstrengel geraak het. Die verhaal van Jason en sy mede-argonout wat die Goue Vlies (Vag) by Kolchis aan die Oostelike Swart See moes gaan haal het, is duidelik ’n bewys hiervan, waar die held Herakles ook ingewerk móés word. Die ouderdom en oorsprong van mites is van groot belang in die “rekonstruksie” van die oorspronklike daarvan. Die Duitse klassikus en filoloog Karl Otfried Müller (1797–1840) het reeds ingesien dat beskouinge oor die politiek, kultuur, godsdiens en mitologie altyd ten nouste verbonde was by die ou Grieke. In sy Geschichte der griechischen Literatur (in twee dele, 1841) het hy altyd klem gelê op die historiese oorsprong van die Griekse mites, tradisies en gebruike.

By die studie van die Oudgriekse mite is dit belangrik om dit ook te vergelyk met die mites en sagas van ander kulture, van die Duitse Märchen tot die ryke Skandinawiese mitologie. Max Müller (1823–1900), die Duitse taalkundige en Sanskritis wat hom later in Engeland gaan vestig het, het as kenner van die nuutontdekte Sanskrit in Indië (in die laat 18de eeu), die studie van die Griekse mites ’n groot guns bewys deur sy vergelykende taalkunde ook op hierdie terrein toe te pas.

Die Oudgriekse mite word vandag benader uit die verskillende hoeke van die antropologie, die psigologie, die filosofie en die godsdiens. Die Switserse psigoanalis Carl Gustav Jung (1875–1961) het ’n interessante teorie ontwikkel oor die eie aard van die Oudgriekse mite. Volgens hom vorm mites ’n weerspieëling van die psigiese prosesse in die mens se onbewuste onderbewuste. En daarby nie soseer van die individu nie, maar van ’n ganse volk. Hy noem dit die argetipes van die kollektiewe onderbewuste. Oor die betekenis en simbolisme van die mite was hy buite raad. Die mite, het hy gesê, verwys na niks bewustelik nie, omdat dit uit en uit onbewustelik is van oorsprong (vgl Carl Jung en Karoly Kerenyi, Essays on a science of mythology (vertaling deur RFC Hull, Bollingen Series XXII, Pantheon Books, New York, 1949). GM Kirkwood, A study of Sophoclean drama (Cornell University Press, 1958:238–9) het oor die mite soos volg geoordeel: “The distinctive quality of myth, the aspect of it that gives it its peculiar value for literature, is its capacity to express in story form the primary emotional and imaginative workings of the human mind.” F Brommer, Herakles, die zwölf Taten des Helden in antiker Kunst und Literatur (Böhlau-Verlag, Köln, 1953:2) het daarop gewys dat dit vir die moderne mens, wat sake redelik en abstrak benader, onmoontlik is om die primitiewe mentaliteit te peil wat feitlik net in konkrete beelde gedink het (wat tóg gevorm was deur intuïsie, deur die élan vital, soos by Henri-Louis Bergson en die fenomenologie by Edmund Hussrl). Soos hy dit gestel het, dit is soos om die verskil in kleure met ’n liniaal te wil meet.

Vir die wysgerige beslag van die ou Griekse mites, vergelyk Lawrence J Hatab, Mythology and philosophy: a contest of truths (Open Court, 1990). Volgens Hatab kan die Oudgriekse mite eers werklik verstaan word as ons die wysgerige insig en gees (“genius”) agter ’n betrokke mite begryp en verstaan, dws die storie ágter die storie. Daarin sien ons die antieke-Griekse lewensuitkyk en wêreldbeskouing. Soms kan die mite net verstaan word as ons die basiese filosofie daaragter kan insien. Plato het die ou Griekse mites afgeskiet vir sy ideale staat, tog was hy self die skepper van menige mite in sy Dialoë waar ’n saak nie meer rasioneel verklaar kan word nie. Die Oudgriekse múthos is inderdaad beskou as ’n verhewe, goddelik wyse van spreke waar die rede te kort skiet, en nie as ’n bloot fiktiewe segging of narratief nie.

’n Verdere aantreklike aspek van die Oudgriekse mite is die landskapskildering (natuur) wat ons as ’n bonus daarin kry. Dit gaan dikwels hier om berge, grotte, seë en riviere in die Griekse moederland, maar ook op Kreta, in die Troas van Troje, en in Hades, die Onderwêreld. Hierdie fantasieskilderinge het ’n bekoring van hul eie.

Bronne by die Oudgriekse mitologie

Die vroegste literêre Griekse bronne vir die Oudgriekse mitologie, naas die informasie wat die argeologie en epigrafie ons lewer, vind ons by Homerus in sy twee groot eposse, die Ilias en die Odusseia (wat eintlik tesame dié Bybel van die ou Grieke was), asook in die sogenaamde Homeriese himnes, en by Hesiodos in sy Theogonía. Uniek uit die Oudheid self is daar Apollodorus se Bibliothêkê. Ander Griekse bronne vir die Oudgriekse mites sluit die geskiedskrywers Herodotus en Diodorus Siculus in, en die geograwe Pausanias en Strabo. Onder die ou Griekse lirici tel hier Pindaros, Bakchulides, Simonides en die bukoliese digters Theokritos en Bion, wat vryelik van die mites gebruik gemaak het. Die drie groot Atheense treurspeldigters Aischulos, Sophokles en Euripides het ook die mite, sonder uitsondering, as stofgegewe geneem. Uit die Bisantynse tydvak (ná 330 nC) vind ons mitologiese materiaal by die Suda (’n Griekse leksikon uit die 10de eeu nC), asook by Hesuchios (die vroegste Oudgriekse woordeboekmaker), Johannes Tzetzes, Eustathius (’n Bisantynse geestelike ná Photius), Nonnos (’n Griekse digter van Panopolis in Egipte uit die 5de eeu nC met sy Dionúsika van 48 boekdele wat, ondanks al die gebreke daarvan, die laaste oorspronklike en belangrike Oudgriekse digter was), asook Antonius Liberalis en Quintus Smyrnaeus. Hierby kom verder ook die Alexandrynse skrywers van die 3de tot die 1ste eeu vC, soos Apollonius Rhodius (met sy Argonautica), Kallimachos (sekerlik een van die geleerdste Alexandrynse skrywers) en Parthenios. Ook uit Latynse bronne vind ons die optekening van Oudgriekse mitologiese materiaal (hoewel die Romeine as praktici nie veel in die Griekse fantasieë belanggestel het nie), byvoorbeeld by Ovidius (veral in sy Metamorphoses), Vergilius in sy Aeneïs (met Servius se kommentaar daarby soos by Homerus se Skulla en Charubdis), Statius, Valerius Flaccus en Seneca. Hiernaas vind ons ook mitologiese materiaal by Latynse prosaskrywers soos Apuleius, Petronius en Lollianus. Hierby kom nog die getuienis van die Philostrati (die Ouere en die Jongere) in hulle Imagines, asook die beskrywings van Kallistratos, ’n student van Aristophanes van Bisantium, wat uitgawes van Homerus se eposse en ander klassieke skrywers voorberei het, en ook ’n Súmmikta (“Potpourri”) volgens Athenaios van Naukratis geskryf het.

Argeologies is die korpus van die Oudgriekse mites aangevul deur die opgrawings van Heinrich Schliemann by Mukene en sir Arthur Evans op Kreta vir die Mukeense en Minoïese eras onderskeidelik. Baie mites het op oa vaastekeninge neerslag gevind voordat dit in die Griekse literatuur verskyn het, soos tonele uit die Trojaanse Siklus en die avonture (oa “Twaalf Take”) van Herakles. Slegs die tekste van die Helhond Kerberos kom eers in eietydse tekste voor. Soms is daar mitologiese tekste wat nie in die (bewaar geblewe) Oudgriekse literatuur voorkom nie. Ons vind egter aanvullende visuele tekste by die geskrewe vaslegginge daarvan van die Oudgriekse mites in al drie die hooftydperke: Argaïes by Homerus (750–500 vC), Klassiek (480 [laaste Persiese Oorlog] tot 323 vC [die dood van Alexander die Grote]) en Hellenisties (323–146 vC [die val van Korinthe aan die hand van die Romeine]).

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top