'n Onderhoud oor Oedipus by die kykNET Silwerskermfees 2019

  • 1

Oedipus: Die musical – ’n dokumentêr  is by hierdie jaar se kykNET-Silwerskermfees met sewe toekenninngs bekroon. Remona Voges het met Stefan Benade (skrywer en regiseur) en Canya Cruywagen (redigeerder) gesels om meer oor dié indrukwekkende kortfilm uit te vind. 

Hallo Stefan en Canya. Eerstens, baie geluk met julle ongelooflike prestasie by die afgelope kykNET- Silwerskermfees!

Stefan, vertel ons lesers wat nie die fees kon bywoon nie ’n bietjie meer oor die kortfilm? Hoe het die idee ontstaan en hoe het julle dit aangepak?

Hierdie kortfilm gaan oor die 1979-produksie Oedipus: Die musical, soos aangebied deur Kruik (die destydse Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste), met regie en ontwerp deur Hermanus de Jong, en dit is ook die 1999-dokumentêr deur Carl Niewoudt. Dit wil sê ’n dokumentêr oor ’n teaterproduksie in die styl van ’n 1999-dokumentêr.

Stefan Benade

Dit is my eerste kortfilm waarby ek betrokke is of wat ek gemaak het, maar ek was al betrokke by langspeelfilms (Johnny is nie dood nie, Kanarie, Die seemeeu) en televisiereekse (Waterfront, Dwaalster, Die spreeus) die afgelope paar jaar – stelinkleding en -versiering, rekwisietemeester asook produksiekoördinasie vir ’n werklikheidsreeks. Teater is waar alles begin het vir my, daarom ook die bronmateriaal van die film. 

Hier is ’n opsomming van die kortfilm: In 1979 besluit Kruik om die internasionaal bekroonde Nederlandse regisseur Hermanus de Jong na Kaapstad te nooi om ’n musiekblyspel gegrond op die Oedipus-mite op die Nico Malan se planke te bring, met gevolge van mitologiese proporsies. In Januarie van 1999 ontdek ’n jong dokumentêrmaker die bewysstukke van Oedipus: Die musical en voer onderhoude met die oorspronklike geselskap. Hierdie dokumentêr word uit argiefmateriaal en onderhoude aanmekaargesit. Dit is vandag bykans 40 jaar later, maar vir die kunstenaars wat in dié dokumentêr vasgevang is, is Oedipus: Die musical steeds vars in hul geheue as die aand wat Suid-Afrika se teaterlandskap vir altyd verander het.

Wat was vir jou die grootste uitdagings wat betref die verfilming en die regie van Oedipus, Stefan?

Die verskillende hoede wat ek gelyktydig moes dra as skrywer, regisseur en scenograaf. Die produksiemaatskappy Hey April! het die produksie-aspekte hanteer, terwyl ek op die skryf asook die stel en kostuum ontwerp kon fokus. Die werklike regie en skiet was amper die maklikste, ook omdat Johannes Pieter Nel, wat die kinematograaf was, die styl verstaan het en saamgespeel het, en self ’n regisseur is. Ek is al “stellewe” gewoond en het deur waarneming by baie bekwame regisseurs gesien hoe om op stel te werk te gaan. Die rolverdeling het ook natuurlik hierdie proses vergemaklik, omdat al die akteurs sonder huiwering na die tafel toe gekom het om die verfilming te geniet. As regisseur moet jy jou akteurs en spanlede vertrou in hul kuns en kennis, nes hulle in joune moet vertrou.

Canya Cruywagen

Canya, Jy was verantwoordelik vir die redigering van die kortfilm – wat was vir jou die grootste uitdaging(s) van die hele proses?

Ons het omtrent drie ure see beeldmateriaal gehad en die film moes 22 minute wees. Dit was baie moeilik om te besluit wat is belangriker om te behou en wat om te laat gaan. Die eerste weergawe was ee uur lank. Daarna het ek gesit met Stefan om te besluit wat kan uit en wat moet bly. Dit was so 'n uitdaging! Mens raak nostalgies oor goed en dis wat dit moeilik maak om goed te sny.

Wat dink julle is die geheim vir ’n goeie kortfilm?

Stefan: Dit moet interessant wees en bly en mag nie vervelig of voorspelbaar wees of raak nie.

Canya: Sjoe, ek sal drie woorde kan kies: die teks, die span en kommunikasie. Dit is baie belangrik dat die skrywer in net 22 minute 'n storie kan vertel wat die gehoor se aandag gaan hou en sin maak in so 'n kort tyd. Daarom dink ek die geheim is 'n goeie span. As jou teks goed is maar jou kameraman/akteurs/redigering is sleg, gaan jou storie nie vertel kan word soos wat jy dit wou vertel nie. Ons span was baie goed. Elke persoon het met selfvertroue hul taak aangepak. En die kommunikasie tussen almal was baie goed.

Canya, wat was vir jou ’n persoonlike hoogtepunt by hierdie jaar se Silwerskermfees en hoekom?

Net om daar te kon wees! Dit was my eerste keer daar, my eerste nominasie en my eerste wen! Dit was 'n ongelooflike ervaring

En Stefan, watter ander films het vir jou by hierdie jaar se fees uitgestaan en hoekom?

Poppie Nongena, maar ek wil nie graag uitbrei oor die redes hoekom nie weens die press embargo tot die film uitkom 30 Januarie 2020, maar dit is ’n werklik besonderse film.

Kyk hier na Oedipus: Die musical – ’n dokumentêr se amptelike lokprent:

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Lorinda Theart

    Ek het GROOT respek en waardering vir wat op Litnet gebeur, MAAR die gehalte van die proefleeswerk van die ondehoud met die betrokkenes by die OEDIPUS kortfilm laat veel te wense oor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top