’n Onderhoud oor “Die laaste grap van Kleiburg”

  • 0

Die Brümmer-sibbe, van links: Stefaans, Kerneels en Niko wat Willemien vashou.

Die Brümmer-sibbe het “Die laaste grap van Kleiburg” deur Guillaume (Gieljam) Brümmer, hulle pa, aan LitNet toevertrou vir publikasie. In hierdie gesprek met Izak de Vries verskaf al vier die sibbe – Niko, Stefaans, Kerneels en Willemien – asook Guillaume se swaer, Jurie Conradie, agtergrond tot die verhaal.

Ek weet nie of julle Koning van Katoren ken nie? Jan Terlouw het dit as ’n tydlose sprokie oor die politiek geskryf. Koning van Katoren (1971, Lemniscaat) is reeds twee keer in Afrikaans vertaal, en klaarblyklik ook in 16 ander tale. Hoewel “Die laaste grap van Kleiburg” ’n algeheel ander verhaal vertel, sou ek dink dat ook dit ’n politieke sprokie is. Stem julle saam?

Willemien (die laatlammetjie): My pa het lank in Nederland gewoon en was goed op die hoogte van die Nederlandse letterkunde. Ek verbeel my ek het hom en my ma al oor Koning van Katoren hoor praat, maar helaas het nie een van ons kinders dit al gelees nie. Ek het wel tydens die pandemie vir my seuntjie The Ickabog van JK Rowling gelees en daar is beslis eggo’s van hierdie soort allegorie in “Die laaste grap van Kleiburg”. (Kleiburg is egter, soos jy weet, reeds baie lank voor Ickabog geskryf.)

My pa het jare voor die meeste van sy (wit, Afrikaanse) tydgenote besef apartheid is onherroeplik boos, maar ek het ongelukkig nooit spesifiek met hom oor “Die laaste grap van Kleiburg” gepraat nie, want dit was ’n storie wat hy vir my broers vertel het voordat ek my verstand gekry het.

Stefaans (tweede oudste van die sibbe): Ek dink nie die storie was spesifiek kommentaar op apartheid of die politiek nie, onder andere omdat my pa nie BJ Vorster (toe eerste minister) sou vergelyk het met ’n goedbedoelende, maar misleide, hertog nie.

Dit was eerder ’n algemene kommentaar oor hoe maatskaplike hiërargie common sense en die wetenskap kan ondermyn – die hele ding van fluitjieblasers, hofnarre, “onrusstokers” en andere wat die waarheid vertel. (En wat dalk die laaste sal lag.)

Guillaume Brümmer saam met ’n groep oorsese wiskundiges.

Jan Terlouw was ’n goeie wiskundige. Julle pa was ’n wêreldklas wiskundige. (Diegene wat meer wil weet, kan gerus Guillaume Cornelis Langenhoven Brümmer op ResearchGate intik.) Vertel asseblief iets oor sy loopbaan?

Jurie Conradie (Guillaume Brümmer se swaer en, volgens die sibbe, ook sy beskermengel; ook ’n oudkollega van hom by die Wiskunde-departement van die Universiteit van Kaapstad): Guillaume Brümmer het studeer aan die universiteite van Stellenbosch, Amsterdam en Kaapstad. Hy was van 1965 tot 1999 verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1971 sy doktorsgraad in wiskunde verwerf het en in 1985 tot hoogleraar in wiskunde bevorder is. In 1988 ontvang hy ’n A-gradering van die Nasionale Navorsingsstigting van Suid-Afrika (’n erkenning dat hy op internasionale vlak gereken word as ‘n leier op sy navorsingsgebied), en ’n jaar later word hy tot genoot van die Universiteit van Kaapstad verkies. Hy is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met die Havenga-prys vir wiskundige wetenskappe, en ontvang ook die Suid-Afrikaanse Wiskundevereniging se toekenning vir onderskeiding op navorsingsgebied.

Guillaume het saam met Keith Hardy ’n navorsingsgroep in topologie aan die Universiteit van Kaapstad tot stand gebring wat al gou internasionale erkenning gekry het en daartoe gelei het dat internasionale navorsers, veral in die veld van kategoriale topologie (Guillaume se navorsingsgebied), Kaapstad gereeld besoek het. ’n Verdere uitvloeisel hiervan was die groot groep jong Suid-Afrikaners wat nagraads studeer het op die gebied in Kaapstad en daarna leidende posisies in ander universiteite in Suid-Afrika en oorsee beklee het, ’n duidelike bewys van sy blywende invloed wat daartoe gelei het dat wiskunde in Suid-Afrika gedy het.

Guillaume Brümmer, vermoedelik in Amsterdam waar hy sy Doctorandus Matheseos aan die Universiteit van Amsterdam voltooi het. Hy is ook daar, ver weg van alle familie, met Laetitia Conradie getroud.

Ek het julle pa slegs baie skrams geken, maar na my wete was hy ’n uitmuntende storieverteller. Wil julle asseblief uitbrei?

Willemien: Ek betaal dalk vir die kruideniersware danksy my geheul met die geskrewe woord, maar my pa het stories gedroom, gepraat en die taal daagliks verryk met sy nuutskeppings. Ons het met sy gedenkdiens ’n lys probeer saamstel, en hier is maar net ’n paar wat deel was van ons grootwordjare in Bak-en-Brou, ons huis (deur die familie die Mad Hatter’s Castle gedoop): glansboef, verdrekkendomde, Stuters (die Universiteit Kaapstad), tyters (om onnodig ophef van iets te maak), blotsem (sy woord vir depressie) … Die res ontgaan my nou, maar ’n mens sou ’n boek daaroor kon skryf.

Al was my pa ’n wiskundige, het die wêreld vir hom nie bestaan uit atome nie, maar uit stories – en ons wat oorbly, sal altyd storieswendelaars bly.

Nog voor ek gebore is, was daar die Henk en Lina-stories, oor ’n renosterfamilie met drie seuns wat in ’n bunker onder die sand gewoon het, natuurlik met ’n skuifdeur wat kon oopmaak, want dié renosters was uiters tegnologies vooruitstrewend.

Later was daar “Die laaste grap van Kleiburg”, wat julle hier kan lees.

Dan was daar natuurlik Smergel Perfrangitaurus, die rektor, opsigter, faktotum en skoonmaker by die Universiteit van Letjiesbos, ’n eensame kluisenaar wat, net soos die slim jong wiskundige in “Die laaste grap van Kleiburg”, ’n alias vir my pa was. Smergel is afgelei van Smeagol of Gollum in The hobbit, wat my pa vir ons in Afrikaans vertaal het. Die Perfrangitaurus is sy eie Latynse vertaling vir sy ander bynaam, Smashbull, omdat hy een keer die toe deur van ’n eksamenlokaal gestormram het toe sy studente nie kon eksamen skryf nie. (Frangere is breek en taurus is bul.)

Maar die stories wat ek die beste onthou, is die stories van die aap wat deur die bos geswaai het – ’n kopstorie wat ek vir my seuntjie Matthias vertel het, en wat hy en sy neefs hopelik ook eendag aan hul kinders gaan oordra.

Die aap en sy vier kinders was ons en my ouers, en soos in enige goeie storie, was die aap die soms sukkelende protagonis. Vir mindere probleme is die kabouters Woeroe of Roekoe ingeroep, maar vir sake van werklik eksistensiële belang is die ou-ou man met die lang wit baard ontbied wat in sy eensame huisie aan die einders van die aardbol gewoon het. Hy was stadig, net soos my pa, en al moes hy voetjie-vir-voetjie deur die donker, gevaarlike nag loop, was hy altyd die volgende oggend daar.

My pa het baie aliasse gehad. In elk van hierdie alter ego’s sal hy bly bestaan as ’n outydse alchemis wat geweet het die eliksir vir onsterflikheid lê opgesluit in taal. Elk van hierdie dubbelgangers het die mooiste blou oë gehad, helder soos ’n Karoo-somerdag wat net so gou weer oortrokke kon raak wanneer die donderweer broei.

Al hierdie karakters was wandelende profete uit eie reg, kluisenaars wat met die helm gebore is en soos Hamlet geweet het: “There are more things in Heaven and Earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy.”

Die Brümmers by Willemien se 21ste-verjaardag-viering by hul huis, Bak-en-brou (ook genoem die Mad Hatter’s Castle), in Claremont. Van links is Kerneels met wyle Vullis op sy skoot, Niko (voor), Willemien, Guillaume met Laetitia direk agter hom, Stefaans, en dan ’n hegte familievriendin, Marita Neethling.

Het “Die laaste grap van Kleiburg” oor die “jong wiskundige” maar altyd iewers in ’n laai gelê?

Stefaans: My pa het altyd kopstories vertel. Henk en Lina het sand in die beste spanningsverhaal se gesig geskop soos net Valsbaaise renosters dit kon doen. Die Aap en sy trawante het praktiese lewensraad boeiend gemaak. Maar die Kleiburgers was snááks. Ek, my ma en dalk my boeties – al drie van ons 10 of jonger – soebat my pa om dit met die wêreld te deel. Uiteindelik is daar ’n manuskrip. Maar snuiter ek dink dis anders – minder spontaan, minder snaaks. Ek sê hom so. Natuurlik mis ek die dieper humor en maatskaplike kommentaar, en dat ’n grap altyd goedkoper klink op herverkoop. Ek weet nie of dit ek, en ek alleen, is wat Pa die ding laat los het nie. Hy het hom nooit twee keer laat nooi om te glo hy’t misluk nie, briljant soos hy was. Dit was sy undertow. Toe ek my pa se goed uitpak die jaar voor laas, vind ek die manuskrip in een van die staalkabinette waar hy alles van waarde liasseer het. Want die grap, dié het hy geweet, was nog lank nie koud nie.

Die manuskrip kan hier gelees word.

Hoeveel van sy stories is op skrif nagelaat?

Willemien: So ver ons weet, net “Die laaste grap van Kleiburg”, wat hy sommer met die hand neergeskryf het, en dan die heel laaste storie in Kannemeyer se biografie oor sy oupa, “Langenhoven, ’n lewe”.

Vir die viering van my pa se lewe het my niggie, Carina Conradie (Jurie se dogter), ’n spesiale klein “storieboekie” van die katstorie gemaak.

In’t kort: My pa is met die helm gebore, en al was hy pynlik presies oor die wetenskap, het hy soos sy beroemde oupa in spoke geglo.

Hy en sy ma, Engela, was albei versot op katte – en die idee dat ’n dier ’n soort “boodskapper van ver” kan wees, sou vir hulle volmaakte sin maak.

Op 19 Julie 1975 was my pa in Bremen vir ’n konferensie. Hy loop na die huis van ’n kollega om my ma te gaan bel op Ladismith in die Klein Karoo: Sy eie ma is in ’n koma in die hospitaal op Ladismith, met my ma pal aan haar sy en hulle weet dit staan einde se kant toe.

Die telefoniste deel hom mee ’n kabel het ter see gebreek en die verbinding kan eers oor ’n paar uur herstel word. In vertwyfeling loop my pa terug na sy herberg. Hy voel asof hy sy ma in die steek gelaat het en asof sy referaat ’n mislukking is.

Wyl miswolke uit die suide teen die dyk aanstu, is dit asof hy met die aanstap iets soekends uit daardie rigting aanvoel.

My pa skryf:

Daar is die ligste suising in my ore, iets van ’n polsing aan my slape. Toe hoor ek ’n kat miaau onder ’n struik aan die suidekant.

Ek roep, en ’n grou kat kom na my. Ek streel hom en toe volg hy my. Ek het geweet katte loop nie graag ver weg van hul plek nie, maar dié een volg my meer as ’n halwe kilometer, tot by die herberg.

My pa is al hoog teen die herberg se trap op toe die kat buite só hartseer huil dat hy hom gaan haal en stewig in sy arms na sy kamer dra.

Hy spring aan die werk, die kat spinnend op sy skoot. Rondom middernag maal die kat om en om, trap-trap en maak geluidjies. Hierna raak die dier aan die slaap en my pa voel “diep getroos”.

Dié nag slaap hy met die kat aan die voetenent. Eers die volgende oggend spring die dier doodluiters op die vensterbank en loop oor die platdak weg.

Net daarna kom hy deur na my ma op Ladismith: “Mamma (sy ma, Engela) is kort ná middernag oorlede.”

Die sibbe met hulle grootjie se boeke word vir die koerant afgeneem.

Vertel asseblief meer oor daardie “Cornelis Langenhoven” vir diegene wat nie weet nie?

Willemien: Die familieverwantskap is in’t kort: CJ Langenhoven het (behalwe as jy graag vir Dominique Malherbe glo) net een kind gehad, sy dogter Engela. Sy het net een seun gehad: my pa. Die rede hoekom hy so ’n omslagtige naam gehad het, was dus vanweë sy ma se poging om eer te betoon aan haar pa.

Laastens: Hy het homself Gieljam genoem. Baie van sy vriende ook. Hoe so?

Kerneels (die jongste van die seuns en hoofgrapjas van Kleiburg): Hy het homself Gieljam genoem omdat hy nie kon spel nie en definitief nie Guillaume kon uitspreek nie. Hy was immers 'n outjie van Beaufort-Wes.

Dis ook ’n verdere verwysing na sy oupa se wêreldbekende geel konfyt. Die familie se rykdom kom van die Geel Jam wat CJ Langenhoven wyd bemark het in Oos-Europa en later ook groot dele van Noord-Afrika.

Die hoofbestanddeel van die konfyt was vrot perskes wat Langenhoven as ’n jong seun reeds van die bure begin steel het. Weens die hoë alkoholinhoud van die konfyt het dit groot byval gevind in Rusland, waar Langenhoven gereeld gaan kuier het saam met sy groot pel Lenin. Daar word selfs gespekuleer dat …

Niko (die oudste kind): Gieljam was maar een voorbeeld van my pa se eiesoortige volksetimologie. Nog ’n voorbeeld was kraats vir garage.

My pa het ook altyd lorries op die pad “pwaloere” genoem. Eers jare later, toe ek genoeg Frans verstaan, het ek besef dis wat die Franse lorries noem: poids lourd (swaargewig).

  • Alle foto’s uit die Brümmer-argief. (Met dank aan Jaco Marais vir die raad en bystand.)
Lees ook:

Die laaste grap van Kleiburg

Searching for Sarah, Joanne Hichens interviews Dominique Malherbe

Op soek na Saartjie: In gesprek met Langenhoven se agterkleinkind

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top