Die laaste grap van Kleiburg

  • 2

Die jong wiskundige (Uit die Brümmer-argief)

(Na skatting geskryf in Januarie 1975, of hoogstens ’n jaar of twee later. Om meer van die verhaal en die skrywer te wete te kom, klik hier. Die oorspronklike, handgeskrewe manuskrip kan hier gelees word.)

 

Die laaste grap van Kleiburg

Lank gelede was daar ’n stadjie met die naam Kleiburg. Soos die naam aandui, was dit ’n ommuurde stadjie, en die mure was van klei.

Die inwoners het hul bestaan gemaak uit boerdery op klein, kleierige akkertjies rondom die stad. Hulle is geregeer deur ’n streng maar goeie ou hertog wat in ’n kleipaleis in die middel van Kleiburg gewoon het.

Mettertyd het hulle deur hul vlyt redelik welvarend geword. Ryk genoeg dat af-en-toe verbytrekkende bendes en leërs begin het om belang te stel in die stadjie: Hier was miskien iets om te buit.

Bendes en leërtjies kon nog taamlik maklik verwilder word met die Kleiburgers se verroeste ou wapentuig. Goeie vegters was hulle egter nie, en soms het so ’n vreemde leër dan ’n paar draaie deur die stad kom loop, ’n klompie van die armsalige ou besittinkies en “skatte” opgeraap en daarmee weggeloop, dik van die lag vir die Kleiburgers se wapens en vir hul komieklike manier van veg.

Tog was dit gewoonlik van die mees nuttelose dinge wat weggedra is, en kon die Kleiburgers ná so ’n inval nog vlytiger as tevore voortgaan.

Die volgende leërs wat gekom het, was groter, en die Kleiburgers se maniere van verdediging nog komiekliker.

So het dit gewerk dat die invallende soldate nooit werklik geniepsig of gulsig geword het nie, en die aand ná so ’n inval kon die inwoners al weer in hul kroegie sit en grappe maak oor die skermutseling van die dag.

Ná verloop van jare het Kleiburg al ryker geword, en nou was dit belangrik om die buitende leërs heeltemal buite te hou. Die kleimure was daarvoor nie genoeg nie, en die ou verdedigings moes opgeknap word.

Op hul gemak voor die haardvure saans het die Kleiburgers met groot gelag en jolyt nuwe planne gemaak.

Toe daar weer ’n leër optrek, met groot masjinerie om die kleimure kaf te stamp, het die Kleiburgers hul torings en borswerings dapper beman met hul geroeste swaarde, met emmers (oor die inhoud waarvan ons hier nie verder sal uitwei nie), met basuine en met eienaardige monderings.

Die koddige vertoning het die vyand so vermaak dat die vreemde generaal verstik het van die lag en nie die bevel kon gee om tot die aanval oor te gaan nie.

Terwyl soldate hulpeloos lê en krul het van die lag, het die Kleiburgers plegtig op die mure rondgemarsjeer, onsinnige bevele vir mekaar uitgeskreeu en hul basuine op die vyand gerig.

Toe die vreemde hordes ’n bietjie tot verhaal kom, word ’n nuwe aanval deur die basuine geblaker: Grappe! Nuwe, vreemde grappe, die een skreeusnaakser as die ander.

Deur die nag, by die lig van rokende en stinkende fakkels, het die jolyt voortgeduur. Teen dagbreek het die vreemde leër, totaal uitgeput, onverrigter sake die aftog geblaas.

Hierna was Kleiburg onoorwinlik. Geen vreemde leër had meer ’n hoop om hier iets te buit nie. Maar meer en meer het generaals wat in elk geval deur hierdie vreemde streek moes trek, die ompad gekies wat hul leër by Kleiburg langs bring, opsetlik om ’n slag heerlik en voluit te lag.

Die plek het beroemd geraak en niemand het omgegee om vandáár met die kous oor die kop huis toe te kom nie; inteendeel, ’n neerlaag by Kleiburg was so gesog soos ’n oorwinning elders.

Maar met die nuwe roem het Kleiburg se rykdom agteruit gegaan, want die akkers wat hulle altyd so vlytig bewerk het, is tot stof vertrap deur die vreemde vermaaksoekers.

Ook hiérdie keer het die Kleiburgers hul verstand gebruik om uit die moeilikheid te kom. Hulle het mos ’n gesogte uitvoerartikel: Kleiburgse humor.

Die grapfabrieke en die narreskole het volstoom begin werk. Die jolyt van hierdie plekke en die gekletter van die drukperse (dit was nog die ou handwerksoort) het die lug gevul van vroemôre tot laataand. Sondae het selfs die eens so sombere priesters ’n blymoedige boodskap gehad om die grapmakers mee aan te moedig.

Selfs die kinders in die skole (en in die Sondagskole) het sommer baie kans gekry om grappe te maak, en is goed beloon vir goeie grappe.

Wavragte vol grapboeke, getrek deur esels, gedruk deur grapjasse, is uitgevoer na die buiteland en het soos soetkoek verkoop.

Die waens het teruggekeer, volgelaai met goud, kos, bier, klere, gereedskap en ander voorrade.

Maar nou het ’n nuwe bekommernis ontstaan. Kleiburg se eie groot generaal het gewaarsku dat hulle grappe te goed bekend kan word in die buiteland. As die vyand reeds die grappe ken waarmee hulle die stadsmure probeer verdedig, dan sal die verdediging mos nie meer werk nie!

Hierdie bedreiging was so ’n ernstige een dat almal in Kleiburg dit besef het. Van nou af het hulle twee soorte grappe gemaak: hoogs geheime grappe vir militêre gebruik en ander gewone handelsgrappe vir die uitvoer.

Die generaal het kontroleurs aangestel om te waak oor die geheimhouding en die hertog het graptoetsers aangestel om te waak oor die gehalte van die uitvoergrappe.

Só kon sake vir ’n lang ruk goed gegaan het. Maar die groot wiskundige van die hertogelike hof het een oggend, ná nagtelange arbeid, aangekondig dat hy uitgewerk het hoeveel grappe daar altesaam kan wees.

Die getal, het hy gesê, is eenmiljoen en drie-en-twintig. Wanneer daar soveel grappe gemaak is, kan geen nuwe grap meer gemaak word nie en dan is hulle handelsware niks meer werd in die buiteland nie, en, nog erger, dan sal hul vyande deur hul verdediging breek!

Sommige burgers was niks bekommerd hieroor nie, want, het hulle gesê, eenmiljoen is al reeds so ’n groot getal dat jy nooit tot daar kan tel nie, wat nog van soveel grappe vertel. En dan is daar nog die drie-en-twintig vir ’n ekstra skeppie veiligheid bo-op die groot getal.

Maar ander ernstige burgers het weer begin reken dat eenmiljoen en drie-en-twintig darem nie so ’n groot getal is nie. Gaan daar dan nie elke jaar meer as duisend wavragte vol grapboeke uit die stad nie, en is daar dan nie meer as ’n duisend boeke op so ’n wa nie, en is daar dan nie omtrent honderd grappe in so ’n boek nie?

Natuurlik het hierdie mense weer nie daarmee rekening gehou dat heelwat van die boeke presies dieselfde of baie eenders was nie. Ander het dit weer besef. So het daar dan in die stad ’n groot rusie ontstaan oor die vraag of hulle al naby die eenmiljoen grappe gemaak het.

En dan was daar nog altyd die grapjasse wat in die middel van so ’n rusie die ander herinner het aan die ekstra drie-en-twintig!

’n Slim jong wiskundige het een oggend na die kleipaleis gegaan en gevra om met die hertog te praat. “U Hoogheid!” het hy gesê, “daardie getal van eenmiljoen en drie-en-twintig is heeltemal onsin, en ek kan dit bewys. Sê nou maar dis waar dat daar net eenmiljoen en drie-en-twintig grappe is, dan is hierdie waarheid op sigself só snaaks dat dit ’n splinternuwe grap is en dan is daar al ten minste eenmiljoen en vier-en-twintig grappe.

“Dit bewys dat daardie getal verkeerd is. Nog meer, op dieselfde manier kan u insien dat enige so ’n getal wat iemand wil voorstel, verkeerd is. U Hoogheid, daar is geen perk aan die aantal grappe wat gemaak kan word nie. Ons fabrieke kan maar vrolik voortgaan!”

Die hertog se kop het hiervan behoorlik gedraai, maar omdat hy ’n regverdige man was, het hy dadelik heroute uitgestuur om die jong wiskundige se bewys uit te roep op die markpleine en straathoeke.

Die heroute het dit self nie verstaan nie, en wat die meeste burgers toe daarvan verstaan het, was dat daar eenmiljoen en vier-en-twintig grappe is.

Dit, het hulle gesê, is nie so ’n wafferse groot troos nie, en hulle het toe nie so baie van die jong wiskundige gedink nie. Dis mos ook nie ernstig nie, het hulle gereken, dat die ou hofwiskundige ’n fout van net één grap gemaak het op so ’n groot getal!

Die groot hofwiskundige het op die middaguur wakker geword van die bohaai op straat. Hy was in ’n slegte bui en het ’n hoofpyn gehad van die nag se laat werk.

Hy het gelui vir sy ontbyt en sy middagkoerant, en toe die bediende dit inbring, sien hy daar, in groot swart letters, die jong wiskundige se bewys.

“My eer is op die spel,” het hy gedink, en hom tierend van woede na die hertog gehaas om die jong wiskundige se kop te eis. Maar die goeie ou hertog wou dit nie doen nie. Hy het net die jongman afgedank en verban.

Binne ’n uur het die jong geleerde met sy knapsak oor die skouer al ver geloop.

Nou was daar groot bedruktheid en verslaentheid in die stad, want die hofwiskundige het laat afkondig dat hy in die nag uiteindelik met die hulp van die kontroleurs en die graptoetsers bymekaargereken het hoeveel grappe daar al altesaam in Kleiburg gemaak is. Die getal was op die kop eenmiljoen! Daar bly nog presies drie-en-twintig grappe oor, want op hierdie droewige dag het niemand nog kans gehad om ’n enkele nuwe grap te maak nie.

Net nog drie-en-twintig grappe! Hulle sal nog vir ’n rukkie kan voortgaan om ou, vergete grappe weer te druk, maar dan sal die hele trotse nuwerheid in duie stort en Kleiburg deur sy vyande vertrap word!

“Absolute twak!” het ’n span van die beste grapjasse uitgeroep en na hul werkswinkels gehuppel. Binne ’n kwartier was hulle terug by die graptoetsers met ’n honderd splinternuwe, skreeusnaakse grappe.

“Dit bewys tog dat daar met groot gemak nog miljoene grappe gemaak kan word!” het hulle uitgeroep.

Maar die graptoetsers wou nie lag vir die nuwe grappe nie en ook nie glo dat dit nuut was nie. Hulle het gemeen dis tog uiters oneerbiedig van die grapjasse om in so ’n tyd van nood ’n honderd simpel grappe te maak en het gesorg dat hulle dadelik afgedank en verban word.

Binne ’n uur het Kleiburg dus dertig van sy beste grapjasse verloor.

Nou het die groot generaal en die oppergraptoetser saam ’n plan gemaak om die stad te red. Kyk, het hulle gesê, jy kry snaakse grappe en snaakser grappe.

Hoe snaakser ’n grap, hoe meer kere kan jy hom oorvertel voordat mense vir hom moeg word. Daar moet ’n grap wees wat só snaaks is dat mense elke keer daarvoor sal lag, al hoor hulle dit ook ’n miljoen keer – en niemand kan tog so lank leef nie.

Nou ja, so ’n supersnaakse grap is nog nooit gemaak nie. Die supergrap moet dus te vinde wees onder die drie-en-twintig oorblywendes wat nog gemaak kan word.

Met die hertog se goedkeuring het die oppergraptoetser dus laat afkondig dat die laaste drie-en-twintig grappe dadelik gemaak moes word. Hyself sou vasstel watter daarvan die supergrap is.

Met nuwe moed het die grapjasse in al die werkswinkels weer aan die gang gespring. Elke werkswinkel het drie-en-twintig nuwe grappe gemaak, dit ingelewer by hul graptoetser en ongeduldig staan en wag dat hy hulle huis toe stuur – hulle werk is mos nou klaar, of hoe?

Maar die graptoetsers was nie in ’n bui vir grappies nie. Hulle soek mos nou eintlik die supergrap! Buitendien het die meeste van die grappe gehandel oor hertoë, generaals, kontroleurs, graptoetsers en grapjasse.

Sulke grappe was heeltemal nie snaaks vir die graptoetsers nie en is terstond afgekeur. Die arme grapjasse moes maar hul hoede weer ophang en deur die nag werk.

Net af en toe het die graptoetsers ’n grap gevind wat vir hulle snaaks was (byvoorbeeld grappe oor jong wiskundiges) en dan het hulle dit deurgestuur na die oppergraptoetser.

Ná sewe dae en sewe nagte sonder rus was die meeste werkers al sterwensmoeg, maar die groot lys van die Drie-en-Twintig Laaste Grappe is gedruk en is dadelik afgelewer by die oppergraptoetser.

Hy was vas aan die slaap, maar op bevel van die hertog is hy gewek met ’n koue stortbad en ’n kan swart koffie. Dadelik moes hy begin om die lys deur te werk.

Vir sommige grappe het hy met moeite geglimlag. Ná nommer twintig was hy al erg bekommerd, want die supergrap was daar duidelik nog nie. Toe hy met nommer drie-en-twintig begin, het hy gesê: “Hier is ons allerlaaste kans!” en kort daarna onbedaarlik aan die lag gegaan.

Sy arme ou hart, reeds geskok deur die uitputting, die stortbad en die koffie, kon nie dít ook nog vat nie, en al laggende het hy daar en dan gesterf.

Hy is met groot eer begrawe deur die dankbare burgers. Die hertog en die generaal het toesprake gehou dat Kleiburg se Goue Eeu nou aangebreek het, want die Supergrap is nou gevind!

Niemand hoef meer grappe te maak nie, want hulle sal hierdie grap vir altyd kan uitvoer, en vir altyd daarmee hul vyande afweer!

Die groot generaal is bo-op al sy ander werk toe aangestel as die nuwe oppergraptoetser (hoewel daar geen toetswerk meer was nie!) en in beheer geplaas van al die drukkerye.

Om sy werk te vereenvoudig en alles mooi ordelik te kry, het hy die hertog gevra om twee nuwe wette te laat afkondig, en dit is toe gedoen:

Nuwe Wet Nommer Een:
In Kleiburg sal voortaan geen grap meer gemaak word nie, behalwe die Supergrap, dit is, die Eenmiljoen en Drie-en-Twintigste, ook bekend as die Laaste Grap. Straf vir oortreding: die dood of verbanning.
Op las.
Die Hertog van Kleiburg

Nuwe Wet Nommer Twee:
Elke Kleiburger sal elke keer hartlik maar eerbiedig lag as hy die Supergrap, dit is die Eenmiljoen en Drie-en-Twintigste en Laaste Grap, hoor of lees.
Straf vir nalatigheid: die dood of verbanning.
Op las.
Die Hertog van Kleiburg

Albei wette is streng afgedwing. Spioene is onder die burgers rondgestuur om te luister of hulle onnodig lag. Om hul getrouheid te toets, het die spioene dikwels die Laaste Grap vertel, en bewaar die burger wat dan nie op die regte manier lag nie!

Dit was nogal moeilik, want hierdie grap was suf, langdradig, ingewikkeld en goor, en almal was hartlik sat daarvan.

By elke oortreding het die generaal die doodstraf geëis, maar die hertog was genadig en het net verbanning opgelê. Geleidelik het die stad leeggeloop.

Al die drukkerye het oorgegaan tot massaproduksie van een en dieselfde boek van honderd bladsye. Op elke bladsy was dieselfde grap, en ons lesers kan seker al raai watter grap dit was?

Die drukkers was natuurlik doodbang dat hulle betrap sal word terwyl hulle hierdie grap lees, en hulle was werklik al te sat daarvan om nog te lag. Dus het hulle die grap onderstebo gedruk op elk van die honderd bladsye.

Die boekhandelaars en die kopers in die buiteland was gewoond aan die streke en grapjassery van die Kleiburgers, maar die nuwe skouspel het hulle verstom laat steier van die lag: lang rye eselwaens, getrek deur mismoedige, maer esels, gedryf deur bang, bedeesde, moeë Kleiburgers; al die waens kreunend onder eenderse boeke, elk volgedruk, onderstebo, met ’n ongelooflike simpel grap!

Die buitelanders het verwag dat hierdie streek spoedig sou ophou, maar dit het nie. Eers ná ’n paar weke het die stroom boeke begin opdroog, omdat die waens vol onverkoopte boeke na Kleiburg teruggekeer het en die transportryers dan dadelik verban is.

Die vyand kon Kleiburg sonder slag of stoot inneem, want daar was geen bevolking meer nie, net nog die hertog, die generaal, kontroleurs, graptoetsers en enkele drukkersbase wat op hul leë geldkoffers bly sit het.

Daar was weinig te buit. Die hertog en die generaal is verban na ’n eiland waar hulle hul oudag rustig en gemaklik kon slyt. Die res het gevlug.

Sonder inwoners het die mure van Kleiburg ná ’n paar winters se reën inmekaargesak. Die jong wiskundige in ’n verre land het die hele droewe verhaal bymekaar gekry en daarvan ’n boek gemaak waarvoor hy ’n geldjie gekry het. Dit was genoeg om saam met ’n paar van sy grapjasmaters terug te keer na die voorvaderlike klei en daar van voor af te ploeg en te bou.

Lees ook:

’n Onderhoud oor “Die laaste grap van Kleiburg”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top