’n Nuwe volkslied vir Versoeningsdag?

  • 4

Jason Lloyd (foto: verskaf)

Die jare ’90 is gekenmerk deur FW de Klerk se 2 Februarie 1990-toespraak, Nelson Mandela se vrylating, die ontbanning van die ANC en ander bevrydingsorganisasies, die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa), die grondwetlike onderhandelings by Kempton Park en die aanvaarding van die tussentydse grondwet (Wet 200 van 1993) deur die Driekamerparlement wat die eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 moontlik gemaak het.

Dié verkiesing en die ANC se oorwinning daarvan wat gelei het tot Mandela se verkiesing as die eerste president van die “nuwe” Suid-Afrika is voorafgegaan deur intense grondwetlike onderhandelings deur hoofsaaklik die ANC en die destydse Nasionale Party-regering.

........

Onderhandelings is ’n proses van gee en neem in ’n poging deur al die betrokke partye om gemeenskaplike raakpunte tot almal se voordeel te vind. Om dié doelwit te bereik is sekere kompromieë aangegaan.

So is daar byvoorbeeld ooreengekom om die gedeeltes van “Die Stem van Suid-Afrika” en “Nkosi sikelel’ iAfrika” saam te flans om ’n volkslied vir die nuwe Suid-Afrika te skep.

.........

Onderhandelings is ’n proses van gee en neem in ’n poging deur al die betrokke partye om gemeenskaplike raakpunte tot almal se voordeel te vind. Om dié doelwit te bereik is sekere kompromieë aangegaan.

So is daar byvoorbeeld ooreengekom om die gedeeltes van “Die Stem van Suid-Afrika” en “Nkosi sikelel’ iAfrika” saam te flans om ’n volkslied vir die nuwe Suid-Afrika te skep.

Daar is egter sekere mense of politieke partye wat nie gelukkig is met die sameflansing nie. Omdat dit eersdaags Versoeningsdag is, is dit miskien heel gepas om weer na die debat oor die volkslied te kyk.

Die ongelukkigheid oor die insluiting van “Die Stem” in die volkslied het weer – soos in die verlede – in November sy kop uitgesteek.

Die EFF wil hê dat “Die Stem” uit die huidige volkslied verwyder moet word en met ander woorde vervang moet word. Die party se president, Julius Malema, sê dit gaan nie oor die taal, of ’n poging om Afrikaans uit te sluit nie, maar eerder oor die historiese konteks.

Hy sê ’n mooi, nuwe Afrikaanse melodie moet gekomponeer word om “Die Stem” te vervang.

Die hel het veral in die Afrikaanse media losgebars en Malema is veral deur Afrikaners aangeval omdat hy wit mense hul plek in die land sou wou ontneem.

In die hoogs emosionele debat het daar veral twee verskillende denkstrominge na vore gekom.

Die eerste denkstroom het in die verlede vasgeskop en daar is gesê die saamgeflanste volkslied moet in sy huidige formaat net so gelaat word, anders gaan dit die versoeningsbeleid van Mandela befoeter. Dat “Die Stem” ’n kultuursimbool is van veral die Afrikaner en dat dit verskillende emosies dra. Met ander woorde: “Die Stem” is die Afrikaner se kulturele simbool.

Die tweede denkskool, onder wie se stemme Max du Preez, mederedakteur van VryeWeekblad.com tel, het “Die Stem” as ’n onverganklike simbool van apartheid verkla wat met tak en wortel uit die volkslied verwyder moet word. Dié persone stel voor dat ’n gedeelte van “Nkosi sikelel’ iAfrika” in Afrikaans vertaal moet word.

Ek sou gesê het die oorhoofse bedoeling van die sameflansing van “Die Stem van Suid-Afrika” en “Nkosi sikelel’ iAfrika” was goed om veral diversiteit en inklusiwiteit te bewerkstellig. Dit kan gerus as ’n nalatenskap van Mandela gesien word.

Die proses was egter glad nie so inklusief en divers soos dit bedoel was nie, want nie al die gemeenskappe was in die nuwe volkslied volledig verteenwoordig nie.

Sommige gemeenskappe soos die bruin en die Khoi-gemeenskap, kla nou al vir ’n klompie jare dat hul belange nie by Kodesa of by die Kempton Parkse onderhandelingsproses verteenwoordig was nie. Dis reeds om dié rede dat hulle uitgesluit voel in die nuwe grondwetlike bedeling.

Wat “Die Stem” betref, verteenwoordig dit as apartheidsimbool nie die bruin en Khoi-gemeenskap nie. Bruin mense het as deel van die anti-apartheidstryd (onder meer deur die United Democratic Front, of UDF) apartheid in al sy vorme met alle minagting verwerp en beveg. Dit sluit “Die Stem” as simbool van apartheid in.

Netso ook word die bruin en Khoi-gemeenskap, die Indiër-gemeenskap en wit gemeenskappe nie volledig deur “Nkosi sikelel’ iAfrika” verteenwoordig nie.

Dit beteken dat daar al sedert die vroeë 1990’s ’n tipiese uitsluiting was van die bruin en die Khoi-gemeenskap, die Indiër-gemeenskap en die wit Engelse gemeenskap wat die nuwe volkslied betref. Ironies genoeg het dié gemeenskappe al die jare niks gekla nie. Die bruin en Khoi-gemeenskap het maar onlangs hul stem oor sekere kwessies begin kry.

Du Preez wys tereg op die feit dat daar baie mense is wat nie met oortuiging die melodie van “Die Stem” in die volkslied sing nie. Baie van die mense bly eenvoudig net stil.

Net so ook moet onthou word dat die behoud van die Springbok-embleem as een van die redes voorgehou word waarom transformasie in rugby sedert die vroeë 1990’s sukkel. Mandela het destyds sy eie besluit op die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) afgedwing om die Springbok as embleem te behou. Dit is nadat die NUK teen die behoud van die embleem gestem het.

........

Soos met “Die Stem” was Mandela se bedoeling om inklusiwiteit en diversiteit te bevorder, maar op die duur is die teendeel bewys. Dié onafgehandelde kwessies – byvoorbeeld ook die koloniale en apartheidstruktuur van die ekonomie – is vandag pynlik en verwerplik omdat dit van dag een af kunsmatig, uitsluitend en onnadenkend was.

.........

Soos met “Die Stem” was Mandela se bedoeling om inklusiwiteit en diversiteit te bevorder, maar op die duur is die teendeel bewys. Dié onafgehandelde kwessies – byvoorbeeld ook die koloniale en apartheidstruktuur van die ekonomie – is vandag pynlik en verwerplik omdat dit van dag een af kunsmatig, uitsluitend en onnadenkend was.

Dié simbole – wat nog aanbid word deur diegene wat apartheid vergoeilik – is gestigmatiseer deur apartheid en werk heeltemal teen die idee van ’n ware inklusiewe gemeenskap.

Ten spyte van die historiese lojaliteit vir veral “Die Stem” uit sekere konserwatiewe kringe moet daar, om ware versoening en ’n inklusiewe gemeenskap te vestig, spoedig ‘n nuwe volkslied in hoofsaaklik Engels geskep word. Ons moet as land aanbeweeg en gedeeltes daarvan kan in die drie grootste tale, naamlik Zoeloe, Xhosa en Afrikaans, vertaal word.

Lees ook:

LitNet: KlankKas (oulitnet.co.za)

LitNet: Expat-eksursies (oulitnet.co.za)

LitNet: Young Voices Online Writers' Conference (oulitnet.co.za)

Bêre eerder die volksliedere

"Die Stem van Suid-Afrika"

  • 4

Kommentaar

  • Moster na die maal

    Maw "ware versoening en ’n inklusiewe gemeenskap" is sinoniem vir jou met die taal van die grootste kolonialiseerder in die geskiedenis van die mensdom, Engeland? Ag nee man, mens kan darem seker met beter argumente vorendag kom, mnr Lloyd. Die saamgeflanste Afrikaanse en Afrika volkslied het nog nooit enige iets bevorder nie. Dit was ’n simpel idee van die begin af. Dink jy nou regtig enige deelname van enige bevolkingsgroep aan die politieke prosesse van destyds sou die ANC gekeer het om minderhede te vertrap? Nee, wees realisties. Bruines, wittes, almal word vertrap deur die ANC. Wat FW de Klerk en sy kamerade blykbaar nie geweet het nie en/of geïgnoreer het, was dat daar maniere en metodes is om met brute getalle-oormagte onder die vaandel van demokrasie minderhede te vertrap en met gevoude hande staan en toekyk hoe kaap hulle eie leier oor jare der jare heen ’n hele staatstelsel.

  • Minnie Mc Bain

    Speel net die musiek(Melody)van die huidige volkslied. Skakel die woorde uit. Musiek is tog n taal wat almal verstaan.

  • Annora Eksteen

    Ek stem saam met Jason Lloyd en Max du Preez.

    Dan kan nog verse geskep word in al die ander tale... dink net hoe lekker dít sal wees vir taalliefhebbers soos ek.

    Ek sal maar stop hierby, al glo ek nie in 'n god nie en dat dit nie vir my lekker is om oor 'n geseën deur dit te sing nie, want ek besef ons min klompie nuwe ateïste is hul tyd so ver vooruit en die ou - ja mooi - Akrika-melodie is nou gevestig in mense net soos die voosgebruikte Happy Birthday en tog bly ook die ou Prayer for Africa vir my nog mooi.

    Oor die hele wêreld heen in my verbeelding sou ek eerder wou landsliedere gehoor het wat nie emosioneel opswepend is nie. Wat my net rustig en bly kan laat voel om vir 'n ruk op die aarde te kon wees saam met mede aardbewoners.

    In harmonie.

    En vrede.

  • Gustaf Claassens

    In die Suid-Afrikaanse opset beteken versoening in praktiese terme (vir nou in elkgeval) dat een groep alles moet prysgee waaraan hulle waarde heg of dit wat historiese betekenis het. Dit geld op feitlik elke lewensterrein. Die dag wanneer dit nie gebeur nie, sal versoening meer moontlik en opreg wees. Die idee van "leef en laat leef."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top