Titel: Spienekelientjies, taalmusiek vir kinders
Samesteller: Antjie Krog
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637007573
Spienekelientjies. Taalmusiek vir kleintjies (LAPA) is volgens Antjie Krog die verwesenliking van haar langgekoesterde drome “om deur middel van taalritme en fantasie die binne-en intellektuele wêrelde van kinders te ontsluit” en “om die ou rympies van die vroeëre kleuterverseboeke te ondervang”. Daarvoor wou sy onder meer inheemse ryme uit tesisse en ou bronne asook van haar eie kinderrympies insluit.
In haar insiggewende voorwoord belig sy die belang van kinderrympies met sewe kernredes waarom kinders daagliks met kinderryme in aanraking moet kom. Daarmee beaam sy die bekende kinderrympiemaker en internetblogger Tanu Bhardwaj se 10 powerful benefits of nursery rhymes for child development (30 Maart 2026) dat rympies fonologiese bewusmaking skep, dat klanke patrone vorm en dat taal dus interne strukture het wat jy kan hoor en voel.
Spienekelientjies bevat rympies wat by uitstek hiervoor geskik is. Kyk byvoorbeeld na die herhaling van die r-klank in “Trippe trappe trone” (17) en “Paddas” (49) en die k-klank in “Ure, maande, jare lank” (18), nuwe samestellings soos “brulgeel” ogies in “Doringboomfeetjie” (35), trappe van vergelyking in “Snelsêer” (56), en vars metafore soos “die haelkorrels klits teen die ruite” in “Pannekoek-dag” (76), en teenoorgesteldes in die gelyknamige rympie op bl 25.
Rympies ontwikkel ook geheue. Kleuters se geheue werk anders as volwassenes s’n – hulle onthou eerder dinge wat patrone, ritme en emosie bevat. Wanneer ’n kind ’n rympie aanleer, versterk dit die neurologiese “paadjies” wat verband hou met sekwensie of opeenvolging, wat nodig is vir memorisering van die alfabet, vermenigvuldigingstafels, ens. Telrympies laat nommers lewendig voel en die ritme en patrone van rympies skep ’n prettige grondslag vir toekomstige wiskundige begrippe. Kyk byvoorbeeld na die prettige inkorporasie van reekse en volgorde in ryme soos “Lego-ABC” (24), Slaan op die trommel van “Dirredomdyne” (27), “Die boom” (30), “Biblebomse berg” (51), “Ouma Filijouma” (59) en “Die huis van Duane Delport” (62), en hoe die begrip van “optel en aftrek” oftewel “plus en minus” gevestig word in rympies soos “Tien klein hasies” (29) en “Tien klein kindertjies” (28).
’n Baie belangrike element van kleuterrympies, wat egter nog te min aandag geniet, is die humor. Humor stimuleer die brein en bevorder abstrakte denke, probleemoplossing en kreatiewe denke. Terwyl die kind leer om verskynsels soos grappe en woordspeling te snap, leer hy om onverwagte verbande raak te sien, wat nodig is vir kritiese denke en kognitiewe virtuositeit. Humor verlig spanning, help die kind om teleurstelling te verwerk, en bevorder emosionele intelligensie. Daarbenewens versterk gedeelde humor emosionele en sosiale bande en help dit die kind om in groepe aan te pas. Kinders wat in ’n humorryke omgewing grootword, leer om hulself (en die lewe) nie té ernstig op te neem nie en om in donker tye lig te vind. Rympies soos “Ou Jan Balie” (15), “Baardrosie” (33), “Feetjietaxi” (34), “Die Noorsdorings” (40) en “Hoe smaak die see?” (41) kan lei tot sinvolle gesprekke oor wát ons laat lag en of ons oor dieselfde dinge lag.
Terselfdertyd bied Spienekelientjies ook geleentheid vir gesels oor ander emosies, byvoorbeeld eensaamheid soos in “Oupa” (16), hartseer soos in “Doringboomfeetjie” (35), vrees soos in “Resep vir ’n toorkierie teen die donker en monsters” (84) en lekker gril soos in “Wurms met tamatiesous” (96).
Die belangrikste voordeel van rympies is egter die skep van ’n intieme band tusen ’n ouer of grootouer en die kind. In ’n wêreld waar grootmense dikwels besig is, skep die saamlees van rympies ’n gemeensaamheid wat kinders lewenslank bybly. Dit bou ’n fondament van vertroue en geborgenheid wat leerprosesse onderskraag. Hiervoor bied Spienekelientjies ’n wye verskeidenheid aktiwiteite wat hierdie band kan versterk terwyl die bogenoemde vaardighede verwerf word. Die voorleser kan byvoorbeeld woorde uitlaat sodat die kind moet raai wat gaan volg, om sodoende die belangrike vaardigheid van uitkomstevoorspelling te bevorder. Daar is ook rympies met “lessies”, soos “Tandeborsel” (22) en “Fiemies” (26) en ou staatmakers vir “opsê” soos die heerlike onomatopee van die treingeluide in “Twee treine” (50) en “Ek dink ek kan” (52).
Daar is ook ikoniese rympies in ander inheemse tale, soos “Mmutla” in Sesotho (67), “Nohyana tse pedi” in Pedi (69) en die Khoisan se “Die lied van die korhaan” (71). En dan is daar die prettige tongknopers, snelsêers en sinnelose pretpraatjies op die patroon van Boerneef se “Die bloedrooi kapokhaan van vandaan” (48) in die afdeling genaamd “Spienekelientjies”.
Laastens, maar beslis nie die minste nie, is daar die rykdom van illustrasies deur Roelien Immelman, Willem Samuel en Diek Grobler. Deesdae is visuele begrip en visuele geletterheid net so belangrik soos leesbegrip in taalleerplanne. Deur die kleintjies na prente te leer kyk, gee mens hulle ’n voorsprong op dié gebied. ’n Mens kan byvoorbeeld klein Griet van der Poel (12) se liggaamstaal bespreek en hoe “skrik [sy] haar ampertjies dood” visueel uitgebeeld word. Hoekom is Wippie en Snippie (18) se neuse so lank en hoekom het een ’n bril op die kop? Wat laat die “vreemde oom” (26) gevaarlik lyk? Wat beteken die “z” in die praatborrel op bl 74? En hoe stel die prentjies op ble 62 en 63 die progressie van klein na groot en omgekeerd voor? Die prente kan ook prikkels wees vir woordspeletjies, soos: “Die Hoep-hoep sit op die draad” (skutblad). Wat sou hy sê as hy kon praat? Dieselfde Hoep-hoep sit later op ’n doringtak (32). Wat sal hy nou sê? Vervang “Bobbejaan Bobbejaan” (19) byvoorbeeld met “Krokodil, Krokodil, waar kom jy vandaan? Krokodil, Krokodil, wat maak julle daar?” en nog vele meer.
Ten slotte dan: Met Spienekelientjies het Antjie Krog nie net háár drome verwesenlik nie, maar inderdaad ’n nuwe Skatkis saamgestel wat tradisionele gunstelinge herroep en herdig, nuwe skatte ontgin en Afrikaans laat sing.
Lees ook:
In gesprek met Antjie Krog oor Spienekelientjies (vir Wêreldboekdag)

