’n Lesing, ’n voorreg, ’n viering van Afrikaans

  • 0

Foto: verskaf

Daar is ’n paar oomblikke wat jou laat stilstaan en vra: Is dít rêrig my lewe? Hierdie naweek het ek die Neville Alexander-gedenklesing gelewer – die eerste vrou wat dit doen. ’n Voorreg en ’n eer waarvoor ek LitNet baie dank verskuldig is, want die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se kommunikasiehoof, Sybrandus Adema, het op my rubriek afgekom.

Die Taalmonument in aksie

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument ken ek al lank van lees en hoor – hul missie, hul visie – maar dit is iets heel anders om dit in praktyk te sien: die liefde, die prestasies, die vasberadenheid om te groei, te leer en sterker te word. Ek sien uit om persoonlik die monument en Paarl te besoek.

Die Paarl

Daar is min plekke wat die beskrywing prentjie-mooi regverdig, maar die Paarl is een daarvan. Toe ek Vrydagmiddag inry, kon ek kwalik glo dis dieselfde dorp waarvan ek op sosiale media hoor. Hier was dit, reg voor my: ’n lewende Eden, met skoon strate, pragtige geboue en asemrowende natuur.

Foto: verskaf

’n Warm verwelkoming

By die geleentheid self het Michael Jonas, direkteur van die ATM, my verwelkom met soveel warmte, humor en grasie dat ek verstom was. Dit was een van daardie oomblikke wanneer jy mense ontmoet wat Afrikaans liefhet – die passie, die liefde vir die taal, die volgehoue strewe om dit te koester en vorentoe te neem. In die Taalmuseum se ruimtes het ek mense ontmoet wat mekaar ken, ondersteun en saamwerk. Om dit te sien in die jaar waarin Afrikaans sy 100ste amptelike bestaansjaar vier, was besonders.

Michael Jonas verwelkom almal. (Foto: verskaf)

’n Held van vlees en bloed

Ek het ook die voorreg gehad om Willa Boezak te ontmoet. Ek het lank van hom gehoor – van sy invloed en sy kennis – maar om hom in lewende lywe te ervaar, was iets heel anders. Saggeaard, eerlik, nederig. Tydens my toespraak het ek verskeie kere na hom opgekyk; hy het soos ’n anker gevoel. Ek weet mense sê jy moenie jou helde ontmoet nie, maar as meer helde soos hy was, sou dit ’n vreugde wees om hulle te ontmoet.

Die ritme van Churchil Naudé

Vir diegene wat my ken: Ek het ’n sagte plek vir rapmusiek. Ek het grootgeword met Tupac en Eminem – kunstenaars wat die wêreld van ’n misverstaande genre oopgemaak het.

Toe Saterdagoggend begin met ’n bekendstelling en gedig van Churchil Naudé, het ek saggies onder my asem “battle rap” gemompel en teruggesit om sy kuns en talent te geniet. ’n Digter, ’n rapper, ’n performer wat met sy mondfluit en sy ritme almal se voete laat jeuk het. Sy optrede was vir my een woord: Wow.

Michael stel vir Churchil Naudé bekend. (Foto: verskaf)

Die wenners

Die prestige-eerbewyse was self ’n hoogtepunt. Só wonderlik om mense te sien wat nie net talentvol is nie, maar ook nederig en feesvierend oor hul prestasies:

  • Churchil Naudé;
  • Anzé Bezuidenhout – vir haar werk om Afrikaans toeganklik te maak, veral deur die aanlyn digtuiste, INK;
  • Darryl David – vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans.

Digter Danie Marais luister na Darryl David se videoboodskap. (Foto: verskaf)

Dit was een van die hoogtepunte in my jaar. Ek het huis toe gegaan met dankbaarheid – vir die geleentheid, vir die mense en vir die besef dat Afrikaans, met al sy teenstrydighede en sy geskiedenis, steeds ’n lewende taal is wat die vermoë het om te groei en te verras.

Lees ook:

Neville Alexander-gedenklesing: Afrikaans se erfenis – verlede, hede en die volgende 100 jaar

Persverklaring: Neville Alexander-pryse: Húlle wen R90 000 | Neville Alexander awards: They win R90 000

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top