’n Huldeblyk aan Ben Kruger

  • 2

Foto van Ben Kruger uit die TV-reeks Skooldae: YouTube

Ek het nie dikwels saam met Ben Kruger gewerk nie, al het ek ’n onderhoud met hom gedoen vir my boek en TV-reeks Daar doer in die fliek, maar het hom uit die aard van die saak geken en ons het soms gesels.

My laaste herinnering aan ’n man wat ek eintlik uit rolprente en TV-reekse geken het, was toe ek op die laaste Vrydag voor sy dood in ’n ateljeekompleks by hom verbygeloop het. “Jis ou Ben, hoeganit?” het ek gevra. Hy het so ’n halfhartige duim-op-teken vir my gegee (onkarakteristiek, want hy het andersins met my gesels, my verwyt dat ek hom nooit in een van my radioverhale gebruik het nie en met ’n laggie oor sy maag gevryf). Hy het vreemd moeg gelyk. Amper afgerem, het dit my opgeval.

Dit was my laaste sien van een van die bekendste rolprent- en televisieakteurs in ons bedryf. Hy het ook op die verhoog opgetree.

Ben Kruger, wat op 25 Maart 1957 gebore is, het sy debuut in 1973 op 16-jarige ouderdom as Dirkie Uys in die rolprent Die Voortrekkers gemaak. Knip jou oog en jy sou hom mis. Daarna het hy ’n draai in Jan Scholtz-rolprente gemaak, soos ’n Sondag in September (1976), maar sy rolle hierna was nie juis noemenswaardig of groot nie, tot hy die motorfietsryende, en natuurlik aantreklike onderwyser Christo de Wet in Franz Marx se Skooldae (1981–1984) gespeel het. ’n Onkarakteristieke rol vir daardie dae, want onderwysers was selde gewilde karakters in TV-reekse en beslis nie in films nie. (Dink aan Jan Scholtz se rolprente met onderwysers iewers in die rolverdeling.) Kruger was ’n vars, nuwe, loslit soort held, ’n byderwetse onnie wat skool toe gaan lekker gemaak het met sy humor, sy ondeundheid, sy gevatheid, sy gesag en professionaliteit.

.........

Kruger was ’n vars, nuwe, loslit soort held, ’n byderwetse onnie wat skool toe gaan lekker gemaak het met sy humor, sy ondeundheid, sy gevatheid, sy gesag en professionaliteit.

..........

 

Hy het in nog Franz Marx-films opgetree, soos Geel trui vir ’n wenner (1983), en Dr Marius Hugo (1978), wat op die bekende Willie van Rensburg-radiotreffer gebaseer was, en het sy slag gewys op TV in Cor Nortjé se hoogaangeskrewe reeks Brood vir my broer (1982).

Rolprente en reekse waarin hy wel sy merk gemaak het, was Manie van Rensburg se The Fourth Reich (1990), die TV-reeks Mattewis en Meraai (1983) as Flip Rens, en TV se Die uwe Pottie Potgieter (2010). Hierna was hy in lighartige rolprentkomedies wat dalk nie altyd van dieselfde gehalte as ander films was nie en nie hoë eise aan sy talent gestel het nie.

Toe het TV hom weer nader gelok vir een van sy grootste rolle in Binnelanders, waarin hy die afgelope ses jaar gespeel het teenoor Hannelie Warren, wat inspirerende huldeblyke oor hom gedoen het. Sy het sy vrou in die reeks gespeel.

Interessante reaksie het uit die vermaaklikheidsbedryf oor hom gekom, naamlik dat hy sy vrou en drie seuns uit die vermaaklikheidsbedryf gehou het (en een kleinseun). Of dit doelbewus was, sal ’n mens nie weet nie. ’n Ander akteur het egter genoem dat Ben soms sy bors lekker en trots kon uitstoot (en baie ver!) wanneer sy bewonderaars op hom toegesak het.

........

Bettie [Kemp] sê, en ek parafraseer: “Hy was ’n uitmuntende Willie Loman, een van die moeilkste (verhoog)rolle wat daar is, en hy het besielende spel gelewer. Een ding wat ek van hom kan sê, is: Hy het sy huiswerk altyd gedoen wanneer hy na ’n repetisie of opvoering huis toe gegaan het. Hy was te alle tye deeglik voorberei en ek was verstom oor die diepte van sy vertolking. Ek self het aanvanklik gewonder hoe Ben in dié komplekse rol sou vaar, maar hy het ons verstom, en aand na aand trane na mense se oë gebring.”

.........

Bettie Kemp, wat in die Aardklop-produksie Dood van ’n verkoopsman (Death of a salesman) van Arthur Miller teenoor hom (as die berugte Willie Loman) gespeel het, had net lof vir sy spel. En ’n mens kan in haar stem hoor dat dit nie sommer net “regte geluide” is nie. Bettie sê, en ek parafraseer: “Hy was ’n uitmuntende Willie Loman, een van die moeilkste (verhoog)rolle wat daar is, en hy het besielende spel gelewer. Een ding wat ek van hom kan sê, is: Hy het sy huiswerk altyd gedoen wanneer hy na ’n repetisie of opvoering huis toe gegaan het. Hy was te alle tye deeglik voorberei en ek was verstom oor die diepte van sy vertolking. Ek self het aanvanklik gewonder hoe Ben in dié komplekse rol sou vaar, maar hy het ons verstom, en aand na aand trane na mense se oë gebring.”

Aktrises soos Henriëtta Gryffenberg het ook net lof vir Ben, want hulle kom ’n hele entjie saam. Ek het, heel terloops, teenoor ander akteurs opgemerk dat, na die beste van my wete, Ben nooit bekroon is vir enige vertolking nie, veral nie (en onbegryplik) vir sy uitstekende spel in Dood van ’n verkoopsman nie. Nie eers ’n benoeming nie. Vreemd.

Volgens die fliek-Bybel imdb.com was sy volgende en laaste film I am all girls waarin hy die rol van oupa Carel Duvenhage speel. Maar ons sal hom altyd onthou as die onnutsige, koel, aantreklike onderwyser op wie elke skooldogter verlief was in Skooldae.

My meegevoel aan sy vrou Cheryl, sy drie seuns en sy kleinseun. En almal met wie ek praat wat saam met hom in Binnelanders gewerk het, kry openlik knoppe in die keel wanneer hulle na die sagmoedige, soms snaakse maar altyd uiters professionele Ben Kruger verwys.

Die nuus van sy dood het nou nog nie behoorlik by ons ingesink nie.

Lees ook:

Boekresensie: Daar doer in die fliek deur Leon van Nierop

  • 2

Kommentaar

  • Ben, jy sal vreeslik gemis word. Jy was en is een van die beste akteurs. Daar is 'n groot leemte in almal se harte, want jy is nie meer daar maar ons sal jou nooit vergeet nie. Rus sag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top