'n Gesprek oor kinderteater, Vryfees 2015 en Vlooi in Egipte

  • 0
vlooi1

Margit Meyer-Rödenbeck (foto: Naomi Bruwer)

The show must go on. Of gaan dit inderdaad voort? Margit Meyer-Rödenbeck gesels met Naomi Meyer.

Hallo Margit, vertel asseblief van jou ervaring toe die vertoning Liewe Heksie: Flower Power by Vryfees 2015 deur stakers onderbreek is.

Soos almal in die media gesien het, is een van ons vertonings van Liewe Heksie: Flower Power onderbreek deur ‘n stakende vakbond. In ‘n neutedop: die staking het niks met ons produksie as sulks te doen gehad nie. Dié het te doen met 'n stryd met PACOFS. Die Sotho-produksie in die André Huguenetteater is ook onderbreek.

Ons was besig met toneel drie toe die sestig singende, toi-toi-ende lede op die verhoog verskyn. Party van die teatergangers het gedink dis alles deel van die vertoning ... omdat die Geelheks pas van haar GifappelNklanda gepraat het! Helaas nie. Die polisie was gou op die toneel, maar kon die stakers nie verwyder nie. Aangesien meeste van ons tegnici ook gestaak het, het dit ‘n tydjie geduur om die gordyn te laat sak. Die gehoor was aanvanklik meer geamuseerd as kwaad, maar toe die werkers weier om te gaan het heelparty hulle misnoeë duidelik laat hoor. Sommige van die teatergangers (daar was ongeveer 800 - waarvan 200 kinders was) het besluit om liefs die teater te verlaat, want die atmosfeer was nie meer gemoedelik nie.

Hoe verklaar ‘n mens dit en wat doen jy? Van my kant af as vervaardiger was my hoofprioriteit om die geselskap en gehoor so veilig is moontlik te kry en toe te sien dat "the show must go on". Na so 30 minute het die stakers die verhoog verlaat, maar toe ons wil hervat, was hulle terug in volle swang en dis toe ek en Ricardo Peach van die Vrystaatse Fees besluit het om die produksie te stop. Ons het egter met die gehoor gaan praat en binne ‘n uur is die vertoning hergeskeduleer na die Sondagoggend. Van die 800 gaste was 700 terug. Viva Bloemfontein se gehore en viva ‘n geselskap wat nie gaan lê nie!

Ons kan nie toelaat dat politiek in die land teater kelder nie. Daar is nou ‘n hofsaak teen die vakbond (wat die saak betwis). Dit is uitgestel na begin September.

Groot kostes moes aangegaan word om die situasie te beredder en iemand (op dié stadium ek en die fees) gaan daarvoor verantwoordelik gehou word.

Die ervaring was dramaties. Nooit het ek verwag die "magic" van teater kan so uitgebuit word en dit nogal deur teatermakers nie. Die verhoog is die een plek waar akteurs hulle stroop en hulle blootstel om as geleiers die storie aan die gehoor te vertel. Die gehoor sit daar en verwag om weggevoer te word van die werklikheid, veral deur ‘n pantomime.

Dat kinders hieraan blootgestel moes word, is onvergeeflik - veral diegene wat vir die eerste keer die teater moet besoek. Almal wou weet of my dogter, Luca Human, wat die rol van Matewis vertolk, okay is. Sy is: ons as ouers en volwassenes in die land met al sy onderstrominge het die verantwoordelikheid om dit in konteks te plaas. Dikwels as ‘n kind bloei, begin hy huil oor ons reaksie. Hierdie is effens dieselfde: ons moet reageer, maar nie ons vrese projekteer nie. 

Ek het aan haar verduidelik dat die stakers ‘n tantrum gegooi het, soos kinders ook maak as hulle nie hulle sin kan kry nie en hulle het ons produksie gekies omdat daar ‘n gehoor was om te luister en die media sou verslag doen. Kinders is baie sterker en skerper as wat ons dink. Ek dink sy was minder getraumatiseer as die meeste van ons. 

Haar vraag die volgende oggend was. "Mamma, begin ons vandag weer by die begin van die show of waar ons gister opgehou het?"

Mag ons die onskuld en die magic van kinderteater vir altyd behou en nie toelaat dat politiek ons broodnodige reg op teater ontneem nie.

vlooi2

Elanza Swart is Vlooi, Liande Valentyn is Cleo en Crystal Donna Roberts is Wilma.

Vlooi in Egipte

Vertel asseblief vir almal wie se kinders nie in die Grondslagfase is nie, wie is Vlooi en hoekom gaan hy Egipte toe?

Vlooi (oftewel Kipper, soos in die oorspronklike Oxford University-uitgewers se Storieboomreeks) is ‘n klein rakker wat by sy ouers en tweelingboetie en -sussie Kalla en Biebie bly. Daar is ook ander karakters in die stories - van Ouma, tot die hond Flappie. Vlooi het ‘n towersleutel en as die sleutel begin gloei neem dié hulle op ‘n avontuur. Vanjaar is die avontuur na Egipte. Ons verhoogstuk is geskoei op die karakters en nie die werklike Vlooi-boekies nie (wat wissel in moeilikheidsgraad). Elke jaar is daar ‘n ander avontuur. So was ons al in die sirkus, op 'n eiland, saam met seerowers, op die maan, op Mars, in 'n oerwoud, en in Ysland. Gewoonlik as die sleutel begin gloei is daar iemand in die avontuur wat Vlooi en sy maters se hulp nodig het.

Enigiemand kan die vertoning bywoon. Al ken jy glad nie vir Vlooi en sy familie en maats nie, bly die avontuur vermaaklik vir oud en jonk.

Julle omskep elke jaar vir Vlooi in 'n teaterkarakter. Die akteurs verander. Bly die karakter vir jou dieselfde?

Vlooi is vir my universeel. ‘n Klein kindjie wat baie energie het, avontuurlustig en onverskrokke is, nog glo in die wêreld is enigiets moontlik. Daardie kinderlike onskuld wat ons as grootmense verloor. Hoewel vyf mense al die afgelope vyftien jaar die rol van Vlooi vertolk het (ek, Christine Wessels, Nelmari Kemp, De Klerk Oelofse en nou Elanza Swart) probeer ons Vlooi se karakter dieselfde hou. Hy laat my dink aan ‘n rubberballetjie wat as hy eers begin hop, nie maklik gevang en in ‘n boksie gesit kan word nie.

Vlooi in Egipte speel in die Kunstekaapteater vanaf 11 tot 28 Aug om 9:30 en 11:00  (11–14 Aug; 24–28 Aug – Afrikaans; 17-21 Aug – Eng). Bespreek by 082 828 8505. Kaartjies kos R70 en is ook by Computicket op by die Kunstekaap beskikbaar.

vlooi3

Vlooi uit die Storieboomreeks van Oxford University-uitgewers

Teaterindrukke: Naomi Meyer

Vlooi in Egipte by die Kunstekaapteater

Vlooi is die hoofkarakter in die Storieboom-reeks van Oxford University Press. Dié leesboeke word die afgelope paar jaar vir die grondslagfase voorgeskryf. Jaarliks word een van die stories uit hierdie reeks tot teaterproduksie omskep. Dis vanjaar die vyftiende keer dat dit gebeur (onder leiding van Marinda Engelbrecht). Hierdie slag gaan Vlooi Egipte toe. Die towersleutel – wat telkens in die reeks opduik en die karakters na interessante bestemmings voer om lesers nuwe feite te leer – ontsluit hierdie reis vir Vlooi (Elanza Swart) en Wilma (Crystal-Donna Roberts).

Die storie

Vlooi en Wilma kom in Egipte aan en daar tref hulle die agter-agter-agterkleindogter van Cleopatra aan – Cleo (Liande Valentyn). Sy is bekommerd omdat daar skatte uit antieke grafkelders weg is. Vlooi en Wilma moet help om die raaiselagtige verdwynings oplos. Die gehoor ontmoet ook die ster van die vertoning, Cowboy Tom (Carel Nel). Cowboy Tom is die dief en die skelm van die verhaal, maar verskaf die humor van die vertoning met die manier waarop hy Afrikaanse woorde op 'n Engelse manier uitspreek. Dis juis ook as gevolg van als wat Cowboy Tom sê dat die jong gehoor allerhande feite omtrent Egipte en die Nyl leer.

Die akteurs

Carel Nel  lewer 'n stervertoning en laat die volwasse gehoorlid besef: Hierdie is nie stereotiepe hoërskooldramaleerlinge wat hul gesigte verf en by kinderpartytjies gaan optree nie. Die akteurs in hierdie produksie is hul sout werd. Carel Nel is besonder veelsydig: hy vertolk dikwels ernstige rolle, soos in Die verdwyning van Lafras Verwey,  en is ook betrokke by die skryf van tekste, soos die meer onlangse Slaaf.

Die musiek en die teks

Die musiek van die produksie verdien spesiale vermelding (Emile Minnie is die musikale regisseur). Soms was die kinders in die gehoor spontaan op hul voete, besig om saam te dans. Die teks (deur Margit Meyer-Rödenbeck) is goed geskryf: leersaam, snaaks en op die kinders se vlak – sonder om enigiemand te onderskat.

Teaterindrukke: Johannes Meyer (8)

Ons lees die Vlooi-boeke in die skool en die teaterstuk was vir my net soos die boek wat ons gelees het. Cowboy Tom het vir mens baie feite geleer en hy het belaglik-snaaks gepraat. Die skip wat op die verhoog gedryf het, was cool. Ek gaan nog altyd wonder hoe julle dit gedoen het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top