’n Gesprek met al die Marte in Dinge van ’n kind

  • 0

In 1994 het Marita van der Vyver ’n meisie met die naam van Mart aan die leserspubliek bekendgestel in die roman Die dinge van ’n kind. In 2019 het ons Mart weer ontmoet in die roman Grensgeval, hierdie keer as ’n veel ouer vrou.

Die twee romans is intussen verwerk in ’n TV-reeks en die eerste episode van Dinge van ’n kind is Dinsdag 10 Mei op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Die reeks speel in drie tydvakke af: 1975/’76, 1992 en die hede. Mart word deur drie aktrises vertolk: Melissa Myburgh speel die jong Mart, Cintaine Schutte is Mart in 1992, en Susanne Beyers is Mart in die hede.

kykNET het onlangs ’n boekgesprek met Marita van der Vyver en die drie aktrises opgeneem. Elmarie Rautenbach was die fasiliteerder.

Dit sal op kykNET se YT-kanaal te sien wees. Of, kyk dit hier:

Naomi Meyer het toe vir al die Marte gevra hoe dit is om ’n stukkie van jou menswees aan ’n karakter te skenk.

Hier is haar vraag: Susanne, Cintaine en Melissa, julle het al drie ’n hoofkarakter in ’n storie geskep. En Marita, jy was die oorspronklike skepper van die karakter – of dalk wás jy ook die karakter, op ’n andersoortige-selfde manier as die ander drie vroue vir wie ek hierdie vraag stuur. Julle het al vier, soos gereeld uit To kill a mockingbird aangehaal word, in die karakter se vel geklim en daarin rondgeloop. In die tyd toe julle in daardie karakter se vel was, hoe het die wêreld uit julle oë gelyk? Dalk kan julle elkeen oor julle ervaring as die karakter praat. Die karakter in die boek, op die verhoog in die teater, en op ’n TV-skerm.

Marita

In elke storiekarakter wat ek skep, skink ek ’n bietjie van my eie belewenisse. Soms net ’n paar druppels, soms ’n stewige dop. Maar dan skink daardie karakter weer iets terug in my, iets wat meng met al die ander karakters wat ek al geskep het en nog wil skep, en so word dit ’n heen-en-weer-skinkery en -skeppery.

Mart was een van my vroegste storiekarakters en 30 jaar later sien ek steeds soms die wêreld deur haar oë.

Susanne

Mart, in haar 60's in die huidige Suid-Afrika, leer weer nuwe lesse. Sy ervaar goeie dinge, soos dat sy ’n bruin skoonfamilie in haar lewe kan verwelkom en liefkry, dat sy relevant kan bly deur te skryf en skryfklasse te kan aanbied by ’n minder-bevoorregte skool, dat sy ’n intieme en medeafhanklike verhouding kan koester met ’n jare lange huishulp.

Minder goeie lesse: dat sy die vrugte pluk van ’n verhouding met haar seun wat haar verkwalik oor sy afgeskeepte kinderjare, en dat haar behoeftes, opinies en entoesiasmes al minder tel. Noodsaaklike lesse, wat haar baie verwarring en pyn besorg.

Cintaine

Ek stap al ’n lang pad met Mart Vermaak.

Ek het Mart gespeel in die eenvrouvertoning Dinge van ’n kind wat in 2019 by Aardklop Kunstefees gedebuteer het (en doen dit steeds).

As jy so lank met ’n karakter stap, en elke keer ter voorbereiding van ’n optrede (veral as dit ’n rukkie was vandat ek laas opgetree het), dan tel ek weer die boek op en ek lees nuwe dinge raak.

Jy raak nie net elke keer weer op Mart verlief nie, maar ook liewer vir die ander karakters.

As ’n karakter so lank by jou sit, dan begin jy soms deur haar oë na die wêreld te kyk. Dit was so spesiaal vir my om die voorreg te hê om Mart in haar 30’s as ’n ekspat in Londen te speel.

Mart het my geleer om nuuskierig te bly, om aan te hou vrae vra, en om nie skaam te voel oor my gevoelens van reg of verkeerd nie.

Sy het my geleer dis oukei om jou volumeknoppie meer op te draai en dat jy geregtig is om te sê wat jy wil sê.

Sy het my geleer dat dit oukei is om bang te wees, om vrese te hê, om te twyfel oor jou land, oor jou roots en waar jy vandaan kom, maar ook om die verantwoordelikheid te neem om ondersoek in te stel oor hoekom jy so voel.

Dit was vir my so spesiaal om te sien hoe Mart in haar 30’s in die boek en die TV-reeks ander se behoeftes bo haar eie gestel het, en ek kan nogals relate daarmee, want ek doen dit. Maar dis ook amazing vir my om by haar te leer dat jy vir jouself moet opstaan en dat jy jou eie geluk bepaal.

Ek dink dis waar ek ook nou in my 30’s is – dat jy nog steeds vir jouself daardie nuuskierigheid moet kweek.

Melissa

Altyd wanneer ek met mense oor Dinge van ’n kind praat, kom die vraag op: Wie is Mart? Is sy gebaseer op Marita?

Maar wat min mense verstaan, is: Mart is nie Marita nie. Mart is nie ek of Cintaine of Susanne nie. Mart is almal. Sy verteenwoordig, vir my, ’n soort van Elkeman.

En ja, ek het die geleentheid gehad om “in haar vel” te leef, haar skoolskoene vol te staan, maar elke kyker is veronderstel om na Mart te kyk en iets van hulself in haar te sien. Of dit ’n onskuld is wat dalk lank gelede verlore gegaan het, ’n nuuskierigheid en opgewondenheid oor die wêreld, of dalk net ’n meisie wat die lewe probeer oorleef.

Die wêreld deur Mart se oë is absoluut beeldskoon, en in skreeuende, lewendige kleur.

Sy kyk na die wêreld met soveel verwondering en nuuskierigheid dat mens as leser of kyker soms jou hand wil uitsteek, deur die bladsye van die boek druk en haar wil gaan haal, haar net vashou en beskerm teen alles wat sleg is.

Ek voel so geseënd om te kan deel wees van Mart op so ’n persoonlike vlak.

Ek sien baie van myself in haar: Sy is ’n romantiese skrywer wat in ’n storieboek woon. Sy lewe so in haar eie fantasiewêreld dat sy soms vergeet dat die werklikheid om haar aangaan.

Ek dink Mart as karakter is ’n simbool van hoop. Sy was dit definitief vir my. Om op 22 weer 16 te moet wees, is ’n vreemde ervaring.

Mart raak groot deur die reeks, sy gaan deur die ontnugtering van kindwees agterlaat; en hierdeur moes ek ook groot word, maar dié keer nie alleen nie. Dié keer het ek vir Mart Vermaak langs my gehad om my deur die proses te lei. So, deur lief te raak vir hierdie karakter, kon ek ook lief raak vir my 16-jarige self.

Mart in die boek, Mart op die verhoog en Mart op TV lyk almal baie verskillend. En ek dink nie ek of Cintaine of Susanne het mekaar probeer “namaak” of probeer wees soos die Mart in die boek nie. Ons het die woorde wat Marita gegee het, in ons harte gebêre, en Mart het vanself gebeur. Want soos ek voorheen gesê het: Mart is in ons almal.

  • Alle foto's verskaf
Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Grensgeval as interteks tussen môre en gister

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top