Aan Gerrit
Dankie vir die jare lange vriendskap en die rol wat jy veral tydens my termyn as uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans in my lewe gespeel het. Jy was ‘n mens-mens. Dít, en jou vermoë om te kon skryf, te kon redeneer en nuut te kon dink oor taalsake sal my altyd bybly. Deur jou toedoen het ek ook gereeld Vlaandere besoek, waar ek by talle konferensies moes praat oor die bemagtigingsrol van Afrikaans.
Dankie ook vir jou geloof in my en die versoeke wat daaruit voortgespruit het om vir LitNet, Die Burger en Rapport boeke te resenseer, artikels te skryf, of kommentaar te lewer oor sake van die dag. Ek het die geleentheid aangegryp en wat ‘n verrassing was dit nie toe wyle Jakes Gerwel in ‘n artikel (11 Junie 2006) in Rapport die volgende kommentaar lewer:
En as een uit die meerderheidsgroep van Afrikaanssprekendes wens ’n mens dat die gesprek oor Afrikaans losgeruk kan word van al die ou Afrikaner-kwessies en -gevoelens. Baie van die meer "progressiewes" lyk of hulle hulself sover moontlik wil distansieer van hul verlede, ook as dit moet beteken ’n afstandname van Afrikaans. Ander onthou weer die gloriedae van Afrikaner-heerskappy met die status van Afrikaans as kenteken van daardie tyd.
Dis om daardie rede, onder meer, dat ’n mens so verheug is daaroor dat iemand soos Christo van de Rheede by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans ’n toenemende aanwesigheid in dié openbare gesprek toon.
Hopelik word van die wanindrukke wat uit Stellenbosch gevoed word, deur mense soos hy reggestel.
En dit alles deur jou toedoen. Let wel, dis net die oortjies van die seekoei. Oor al die ander sakke en sakke sout wat jy as lid van IMAG, die Afrikaanse Taalraad en die XhosAfrika-netwerk saam met soveel ander opgeëet het om Afrikaans vir eens en vir altyd van al die bagasie te help bevry, gaan daar sekerlik nog ‘n boeke of twee oor geskryf word. Vir nou, rus sag, goeie vriend.
Terloops, dra ook my groete oor aan wyle Neville Alexander en Jakes Gerwel as jy hulle iewers in die wandelgange van die hiernamaals raakloop. En moenie te veel tob oor die TAAL nie ... Ons mis julle.
Lees ook hierdie huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Vincent Brummer se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees George Claassen se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Robert Vosloo se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Michael le Cordeur en Jacques van der Elst se gesamentlike huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Pieter Duvenhage se huldeblyk aan Gerrit Brand.
'n Begrafnisdiens vir Gerrit Brand vind plaas op Saterdagoggend 9 Maart 2013 om 10:00 in die NG Moederkerk Stellenbosch.

