Die NG Kerk het twee van sy skerpste intellekte in een week verloor, merk my kollega en religiekenner en -student Johannes de Villiers op na aanleiding van die dood van teologiedosent Gerrit Brand en die tegniese “afdanking” van die nuusredakteur van Kerkbode, Jean Oosthuizen.
Geslagte lank is die dominee in die samelewing gereken as iemand wat voor stap en op intellektuele vlak die samelewing moet lei. Ongelukkig wás die meeste predikante nie noodwendig intellektuele reuse nie. Hulle het die volk met rasgedrewe blindheid geslaan en diep die woestyn ingelei onder die waan dat apartheid skriftuurlik gefundeer was. Week ná week is van die kansel en in hul wandelgang met gemeentelede hierdie skrikwekkend verskeurende ideologie verkondig, ondersteun en onderskryf.
Dat die Nederduitse en ander Gereformeerde Kerke ná 1994 nog enige geloofwaardigheid oorgehou het, dui net op verstommende vergewensgesindheid van die benadeeldes, maar dat die kerk en ander geloofsinstansies vandag steeds ’n ernstige geloofwaardigheidskrisis beleef, het vandeesweek weer hard en duidelik geblyk. Te midde van molesteringskandale wat swak hanteer word en nog ’n kardinaal wat moes bedank omdat hy in die geheim anders geleef het as wat hy in die openbaar verkondig het, dank die NG Kerk een van sy min geloofwaardige stemme af en probeer, soos die Rooms-Katolieke hantering van die kinderskandaal, deur ’n privaatheidsklousule die Oosthuizen-inkwisisie toesmeer en bedek hou van die oë van die publiek.
Herinner dit nie ’n bietjie aan die wyse waarop Galileo onder huisarres geplaas en die swye opgelê is in die 17de eeu nie – en dit byna vier eeue later?
William Wordsworth het die stagnasie en beklemmende versmoring van intellektuele denke aan die begin van die 19de eeu in Engeland goed opgesom in sy gedig “London, 1802”. In ’n groot mate kan Wordsworth se woorde op die kerk van vandag se intellektuele armoede en onkritiese denke te midde van verstommende wetenskaplike bevindings toegepas word.
MILTON! thou shouldst be living at this hour:
England hath need of thee: she is a fen
Of stagnant waters …
Terwyl ’n ernstige nood vir intellektuele leierskap en denke binne geloofsinstansies bestaan, het Brand se dood en die oplegging van stilswye deur die NG Kerk en clichéagtige en eufemistiese terminologie soos “paaie wat skei” teenoor Oosthuizen op ironiese wyse die verdoemendste oordeel oor die irrelevansie van hierdie instellings uitgespreek.
Brand was ’n intellektueel wat hom nie die stilswye laat oplê het nie; ’n kritiese denker wat in al sy studies net met die hoogste lof geslaag het, ook aan die Universiteit van Utrecht in Nederland, waar hy sy doktorsgraad in teologie behaal het. Hierdie intellektualiteit het hy na Die Burger gebring, waar hy as boekeredakteur sy merk deeglik gelaat het voordat hy aangestel is as dosent in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy vertrek uit die joernalistiek was ook ’n groot verlies vir daardie beroep, wat sy eie geloofwaardigheidskrisis beleef met intellektuele denke wat al hoe skaarser word en opsy geskuif word te midde van grootskeepse verjuniorisering en oppervlakkigheid. Gelukkig het Brand steeds sy joernalistiek bly beoefen, maar op ’n ander wyse en in ’n ander styl as bydraer tot LitNet se intellektuele debatte.
Hy het in beide die teologiese en joernalistieke denkomgewings skerp kritiese vrae gebring wat die moeite werd was en is om van kennis te neem. Hy was ’n debatteerder par excellence. Ek onthou die eerste keer toe ek van hom bewus geword het na aanleiding van een van my wetenskaprubrieke ’n dekade of wat gelede in Die Burger. Hy het vanuit Utrecht ’n brief aan die koerant geskryf waarin hy van my verskil het. In ’n gesprek met sy suster, Marthali, wat in 1997 die topstudent in haar honneursjoernalistiekklas op Stellenbosch was, het sy opgemerk Gerrit kan nie ’n debat weerstaan nie. Maar dié kenmerk het ongelukkig nie in sy kerk neerslag gevind as die Oosthuizen-geval as voorbeeld van sensuur in die 21ste eeu moet dien à la 1633 nie.
As mederedaksielid van Die Burger het hy my dikwels gevra om boeke vir die boekeblad te resenseer. Hier het sy intellektuele krag sterk na vore gekom en het hy in dié boekewêreld gefloreer omdat hy so wyd kon lees.
Toe ons ’n nuwe ombudsman vir Die Burger moes vind nadat ek in 2007 besluit het om die pos te ontruim, was Gerrit as regverdige mens wat na ander kon luister, die logiese keuse. Ek het hom namens die redakteur van Die Burger in sy huis in Paradyskloof in Stellenbosch gaan pols om te hoor of hy kans sien om dié klaagmuurrol te vervul. Dit was geen maklike keuse nie. Hy het daarteen besluit, maar ek dink steeds hy sou ’n uitmuntende ombudsman gewees het.
In ons gesprekke het hy vroeër reeds laat blyk dat sy eerste liefde die teologie was en dat hy daar ’n verskil sou kon maak. Hy het opgemerk dat dit nie vir hom lyk asof die koerantjoernalistiek ’n toekoms het nie en dat hy moontlik die beroep sou verlaat – wat ook toe gebeur het, tot voordeel van ’n groep teologiese studente aan die US wat blootgestel is aan sy wye en indringend stimulerende begrip van menswees.
“’n Vreemde land het hy nou ingegaan/ Van stilte waar geen stem of klank meer is in die wind,” om NP Van Wyk Louw uit “Fragmente van die tweede lewe” (Die halwe kring) aan te haal. Tog sal Gerrit se stem nie stil wees nie – daarvoor het hy te veel van waarde nagelaat, woordeliks en deur die medemenslikheid wat hy weerspieël het.
Lees ook hierdie huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Vincent Brummer se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Christo van der Rheede se brief aan Gerrit Brand.
Lees Robert Vosloo se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Michael le Cordeur en Jacques van der Elst se gesamentlike huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Pieter Duvenhage se huldeblyk aan Gerrit Brand.
'n Begrafnisdiens vir Gerrit Brand vind plaas op Saterdagoggend 9 Maart 2013 om 10:00 in die NG Moederkerk Stellenbosch.
Daar is nie baie mense met wie ’n mens oor Thomas van Aquino, Leonard Cohen, kompleksiteit en die simplicitas Dei, Afrika-filosofie en -teologie, Woody Allen, CL Leipoldt, Steve Biko, Kurt Vonnegut en spookstories kan praat nie. Maar Gerrit Brand was só ’n mens.
Gerrit is Maandagnag 5 Maart 2013 in Stellenbosch oorlede. Hy het ’n breingewas gehad. Sedertdien word sy dood, soos opskrifte in die media dit al tereg gestel het, “wyd betreur”. Van oraloor stroom boodskappe van meegevoel en innige meelewing met sy vrou Lucia en hulle twee seuns Simon (14) en Arend (11) in, asook roerende woorde van waardering vir Gerrit se menswees en werk.
In die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, waar Gerrit sedert Augustus 2009 senior dosent in sistematiese teologie was, het die studente die inisiatief geneem en reeds voor sy dood ’n boek beskikbaar gestel waarin studente en kollegas hulle indrukke van Gerrit kon neerpen. Hieruit blyk duidelik dat hy ’n onuitwisbare en betekenisvolle merk gelaat het, as akademikus én mens.
Gerrit was ’n skerp, oorspronklike en diepsinnige denker; hy kon inderdaad dink. Sy wydgelese blog op LitNet was nie verniet DinkNet genoem nie. ’n Filosoof van Stellenbosch het dit onlangs raak verwoord: “Gerrit was in vele opsigte ’n onkonvensionele mens en denker. Daardeur het hy daarin geslaag om gevestigde idees en geroetineerde kodes uit te daag en te onderwerp aan die insigtelike uitsuiwering van behoorlike wysgerige en teologiese refleksie.” En by die teologiese fakulteit kon ons sien hoe hy studente se denkgewoontes gevorm het deur hulle te leer – ook deur die voorbeeld van sy eie denkpraktyk – om logies en teologies te dink. In hierdie opsig is Gerrit waarskynlik self gevorm deur sy blootstelling aan sowel teologie as filosofie, en kan sy benadering tereg as ’n vorm van filosofiese teologie beskryf word. Voordat Gerrit in 2005 boekeredakteur by Die Burger geword het, was hy dan ook vir ’n aantal jare ’n nadoktorale navorsingsgenoot by die Departement Filosofie op Stellenbosch.
Sy akademiese vorming is verder onmiskenbaar gestempel deur sy tyd as doktorale student aan die Ryksuniversiteit in Utrecht, Nederland (1998-2002). Die Suid-Afrikaans-gebore filosoof Vincent Brümmer was sy studieleier en akademiese mentor. In 2012 het Gerrit nog, tesame met Nederlandse kollegas, ’n spesiale feesuitgawe van die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (’n teologiese tydskrif waarvan Gerrit die laaste aantal jare die redakteur was) geïnisieer wat ter herdenking van Brümmer se 80ste verjaarsdag verskyn het. Gerrit se eie artikel in hierdie huldigingsbundel het gehandel oor “Om God in goed en kwaad raak te sien: Oor twee vorme van teodisee”. Dit is moeilik om dié artikel te lees sonder om aangegryp te word deur die wete dat dit nie as blote intellektuele spekulasie oor die vraag na God en lyding geskryf is nie, maar te midde van ’n eksistensiële worsteling met die diepste lewensvrae beslag gekry het.
Gerrit se eerlike omgang met die lewe, tesame met sy formidabele intellek en verfrissende humorsin, het hom ’n wonderlike gespreksgenoot gemaak. As kollega van Gerrit was ek bevoorreg om iets hiervan die laaste aantal jare te beleef, ook as gevolg van ons gewoonte om sommige middae hier rondom 14h00 vinnig van die kantoor na Mill Coffee House in Dorpstraat weg te glip. Die gesprekke daar sal my bybly, net soos talle van Gerrit se vriende oor baie jare heen van verrykende en vormende interaksies met hom kan getuig.
Gerrit was nie net ’n helder denker en onderhoudende gespreksgenoot nie; hy was ook ’n knap teoloog wat sowel kritiese afstand en partikuliere verbintenisse ernstig opgeneem het. Sy teologie het hy nie in ’n ahistoriese en kontekslose vakuum bedryf nie. Nee, hy het geglo dat ’n mens vanuit ’n bepaalde konkrete gelokaliseerdheid aan diskoerse wat in die brandpunt staan, deelneem (sy gereelde rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika heet dan ook, met slim woordspeling, Brandpunte).
Oor sy eie partikuliere gesitueerdheid skryf hy in sy proefskrif, gepubliseer as Speaking of a Fabulous Ghost: In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology (Frankfurt: Peter Lang, 2002), soos volg: “In this case the author is an Afrikaans speaking South African, living in a post-apartheid South Africa, whose forebearers include German missionaries and Malagasy slaves. I was born and bred in the Afrikaner tradition and am heir to both the emancipatory and oppressive elements of that particular history.” (Oor die tema van die kontekstualiteit van teologie, en ander verbandhoudende temas, is dit die moeite werd om die “sendbriewe” tussen Gerrit en sy vriend Murray Hofmeyr wat in 2003 op LitNet verskyn het, te (her)lees.)
Dit is in die gees van sy verstaan van partikulariteit (en pluraliteit) dat sy welbekende pleidooi vir Afrikaans én meertaligheid verstaan moet word. Gerrit was ’n groot voorstander van moedertaalonderrig en sy duidelik standpunte in die verband het heelwat gesprek uitgelok. Gerrit, wat ook vir ’n aantal jare medewerker van die Taalsekretariaat was, se “taalstryd” het nie los gestaan van sy verstaan van diversiteit en geregtigheid nie. Dit was geen bedompige, wettiese en ongasvrye taalpurisme nie. Hy het sy Afrika-identiteit (of eerder “gemengde identiteit”) omhels. Daarom sy liefde vir Breyten Breytenbach se woorde: “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so.” In dié (baster)taal het Gerrit dan graag geskryf, in ’n wye verskeidenheid genres en publikasies – van sy kindergedig “Die Krokodil” in Nuwe Kinderverseboek (geredigeer deur Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburg) tot by sy akademiese artikels in portuurgeëvalueerde akademiese tydskrifte, met heelwat blogs, briewe, gedigte en rubrieke tussenin). Hy borg selfs onder meer die woord reikhals in ’n projek van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).
Maar Gerrit was ook in ’n teologiese sin ’n taal- en woordmens. Vir hom is teologiese refleksie ten diepste taalmatig, en dra dit ’n gesprekskarakter. Hy het teologie beskou as die studie en kritiese ontleding van hoe daar oor God gepraat ís, gepraat wórd, en gepraat sou kón word. Die sistematiese teoloog moet besig wees met die vraag hoe die Christelike geloof op ’n verstaanbare, samehangende, geloofwaardige, tersaaklike en toereikende manier (her)verwoord word sodat dit vandag tot die kerk, die akademiese gemeenskap en die breër samelewing kan spreek.
Gerrit het woorde en die vreemde teenwoordigheid van die Transendente as ten nouste verbonde gesien. Oor die Woordfees op Stellenbosch, met die tema vanjaar van hemels, sou hy dus baie te sê gehad het, weliswaar op ’n soekende manier, diep bewus van die beperkinge van ons (teologiese) taal oor God, metafisika en die hiernamaals. In een van die bydraes tot sy gereelde rubriek in Die Kerkbode eindig hy ’n meditasie oor die frase “ter helle neergedaal” in die Apostoliese Geloofsbelydenis soos volg: “Omdat Christus van God verlate was, is God ook ’deur donker dieptes’ (Psalm 23) by ons, is ons nóóit alleen nie ... As ons selfs in ons Godverlatenheid nie van God verlate is nie, maar in Christus (Rom 6:13), dan het selfs Christus ons ook nie agtergelaat toe Hy ’op die derde dag weer opgevaar het na die hemel nie’ ... Christus red ons nie ván die liggaamlike lewe nie, maar vír die lewe, ’en dit in oorvloed’ (Joh 10:10).”
Gerrit het begrip vir die noodsaaklikheid, maar ook die ontoereikendheid, van ons spreke oor God gehad, vir die aarselende soeke na verwoording en beliggaming in die lig van die Woord wat vlees geword het. In dié verband kom ’n aantal versreëls by my op uit die lied “The Window” van die Kanadese digter, liedskrywer en sanger Leonard Cohen (na wie se musiek Gerrit graag geluister het):
Then lay your rose on the fire
The fire give up to the sun
The sun give over to splendour
In the arms of the Holy One
For the Holy One dreams of a letter
Dreams of a letter’s death
Oh bless the continuous stutter
Of the word being made into flesh.
Gerrit is op 27 Junie 1970 gebore en het in Pretoria grootgeword. Hier het hy vir Lucia ontmoet, en aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar hy die grade BA, BD, Hons en MDiv behaal het. Hierna het hulle ’n aantal jare in Utrecht deurgebring, waar Gerrit dan ook sy doktorsgraad cum laude verwerf het. Die laaste aantal jare het hulle as gesin op Stellenbosch gebly, en Gerrit het dikwels gepraat oor hoeveel vreugde hy uit sy werk by die teologiese fakulteit put.
Na Gerrit se dood het heelwat vriende hulle ervaring verwoord dat Gerrit te vroeg en te jonk dood is – hulle sou graag saam met hom wou oud geword het. Hoewel dit nie vir ons beskore is nie, sal sy ryk nalatenskap op talle maniere voortleef.
Dit is nie baie dat ’n mens iemand kry wat ’n vlymskerp intellek het nie, en daarmee saam ’n onverskrokke waarheidsoeke, ’n goedontwikkelde sin vir geregtigheid, en ’n innemende, nederige en sagmoedige geaardheid. Maar Gerrit Brand was so ’n méns.
Lees ook hierdie huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Vincent Brummer se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Christo van der Rheede se brief aan Gerrit Brand.
Lees George Claassen se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Michael le Cordeur en Jacques van der Elst se gesamentlike huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Pieter Duvenhage se huldeblyk aan Gerrit Brand.
'n Begrafnisdiens vir Gerrit Brand vind plaas op Saterdagoggend 9 Maart 2013 om 10:00 in die NG Moederkerk Stellenbosch.