Ek het Gerrit Brand so 15 jaar gelede ontmoet toe hy ’n gemeenskaplike vriend van ons in die huwelik bevestig het. Daarna het hy na Nederland vertrek en vir ’n tyd in Utrecht in die filosofie en teologie gestudeer – twee ingewikkelde dissiplines wat hy met grasie onder die knie gekry het. In hierdie tyd (2001-2002) het ek hom ook op ’n poslys van die Groep van 63 raakgeloop en was mateloos beïndruk deur sy helder en rustige denke, sy politieke insig en sy sonderlinge vermoë om in hete debatte te bemiddel. Gerrit Brand het gedy in debattering, en hoe warmer dit geraak het, hoe waardevoller was sy bydraes.
Ons was almal bly toe hy in 2002 na Suid-Afrika terugkeer – eers as navorser in die Departement Filosofie op Stellenbosch, later as joernalis en boekeredakteur by Die Burger, en nog later as briljante jong teoloog by die US.
Vanaf 2002 het ek die voorreg gehad om Gerrit by verskeie geleenthede raak te loop en hom van naby te leer ken. In die proses het hy ook vir my deure oopgemaak om bydraes met ’n filosofiese strekking in Die Burger en LitNet te maak. Hiervoor sal ek hom altyd dankbaar wees.
Die lekkerste ervaring wat ek saam met Gerrit gehad het, was toe ons saam ’n konferensie van die Nederlands-Afrikaanse Wysgerige Genootskap (NAWG) in Januarie 2007 bygewoon het. Vir twee dae het ons by Mont Fleur, in die hoek van ’n berg naby Stellenbosch, gedink, gedrink en geskerts. Daar was baie erns, maar ook baie humor tussen Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse filosowe. En tussendeur het Gerrit ’n volbladartikel oor ons verrigtinge in Die Burger geplaas. Ek is tot vandag toe nog verstom dat hy binne ’n dag of twee die moeilike kwessies wat by die konferensie ter sprake was, so helder aan ’n breër gehoor kon deurgee.
Ek het Gerrit die laaste keer in Oktober 2010 by ’n konferensie in Amsterdam gesien wat deur ’n ander gemeenskaplike vriend van ons, Willie van der Merwe, gereël is. Min sou ek toe kon raai dat dit die laaste keer was dat ek hom sou sien.
Gerrit Brand was ’n groot gees en ’n besonderse mens wat te kort onder ons was – soos die briljante jong ds Stefan Louw, wat in 2006 so bitterlik hartverskeurend in ’n huisroof in Johannesburg vermoor is. Gerrit was so partikulier en so universeel. Hy het nooit lafhartig weggehardloop van die kultuur en wêreld wat hom gemaak het nie, maar het ook nie daarin gestagneer nie. Hy het dit wat hom gevorm het, met ’n ruimer wêreld in gesprek gebring. Gerrit Brand het Afrikaners se wêreld, die Afrikaanse taal en die Christelike tradisie nie bloot as tradisies vertroetel nie, maar dit krities uitgedaag en daarvan lewende tradisies gemaak. Ek salueer ’n groot gees!
Ek haal graag vir WEG Louw aan wat êrens dig:
Ons is almal sterwelinge
wat vreemd staan onder die sterre;
ons is almal sterwelinge
wat luister na die verre
stemme oor die heuwels en die water,
wat nog nie weet van die verlore gaan
van alle dinge later.
Lees ook hierdie huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Vincent Brummer se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Christo van der Rheede se brief aan Gerrit Brand.
Lees George Claassen se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Robert Vosloo se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Michael le Cordeur en Jacques van der Elst se gesamentlike huldeblyk aan Gerrit Brand.
'n Begrafnisdiens vir Gerrit Brand vind plaas op Saterdagoggend 9 Maart 2013 om 10:00 in die NG Moederkerk Stellenbosch.

