Musiekindaba het lang bene

  • 0

https://musiekindaba.co.za/

...........
Ek en Afrikaanse musiek kom al ’n lang pad saam. Ek onthou “Die lappop” van Doris Brasch. Kinderstories en liedjies op die radio. Die tenoor Gert Potgieter, wat saam met my pa op Helpmekaar was, wat in 1953 by my ouers se troue gesing het. Ek was natuurlik nie daar nie, maar ek was daar in 1989 toe Voëlvry-konsert op die kampus by RAU, deesdae UJ, gehou het.
................

Ek en Afrikaanse musiek kom al ’n lang pad saam. Ek onthou “Die lappop” van Doris Brasch. Kinderstories en liedjies op die radio. Die tenoor Gert Potgieter, wat saam met my pa op Helpmekaar was, wat in 1953 by my ouers se troue gesing het. Ek was natuurlik nie daar nie, maar ek was daar in 1989 toe Voëlvry-konsert op die kampus by RAU, deesdae UJ, gehou het.

Ook toe Huisgenoot vir die eerste keer in 2000 met ’n klein verhogie KKNK toe gegaan het en later die jaar ook Aardklop, en op die koop toe die eerste Skouspel by Sun City gehou het. Ek het ’n jong Karen Zoid sien optree, vars van die strate van Melville waar sy ge-busk het. ’n Skaam Theuns Jordaan wat voor die einde van sy eerste KKNK in 2000 nie meer ’n enkele CD gehad het om te verkoop nie en ’n ellelange Dozi wat Zoeloe-gospel vir ’n leliewit Afrikaanse gehoor gesing het. Juanita du Plessis wat so op haar senuwees was voor haar eerste Skouspel dat sy amper ’n hele botteltjie Rescue Remedy afgesluk het.

Daar was die bloeityd in die middel-2000’s. ’n Ontploffing van kleure en klank. Groot name wat meer as 200 000 CD’s van ’n enkele album verkoop het. Afrikaanse kunstenaars soos Theuns, Bok en Lianie wat die SAMA-toekenning as topverkoper in die land gewen het.

Maar iewers, en ek is nie seker wanneer of hoekom nie, het die wiele begin afval. Was dit ’n oorvol mark met stemme wat te veel dieselfde geklink het? Finansiële redes wat bygedra het tot minder ondersteuning soos die groot verhoë by kunstefeeste, die einste kunstefeeste wat vir ’n hele paar jaar gesorg het dat nuwe talent raakgesien word? Politiek tussen platemaatskappye; onderduimse bakleiery en rolspelers wat nie die son oor ’n ander wil sien skyn nie?

Op die koop toe word die wêreld met ’n pandemie getref en skielik is niks meer dieselfde nie. Die kunste word hard geslaan. Konserte en feeste word afgestel. Sangers probeer hulle bes om ’n inkomste te maak uit aanlyn konserte. Sommige werk, ander baar ’n muis. Daar word gesif en net die sterkstes bly oor.

.............
Op die koop toe word die wêreld met ’n pandemie getref en skielik is niks meer dieselfde nie. Die kunste word hard geslaan. Konserte en feeste word afgestel. Sangers probeer hulle bes om ’n inkomste te maak uit aanlyn konserte. Sommige werk, ander baar ’n muis. Daar word gesif en net die sterkstes bly oor.
...............

Stadig maar seker het die wêreld weer begin opstaan en mense oraloor het probeer om normaal voort te gaan. Maar sekere dinge sal seker nooit weer dieselfde wees nie. Die dae van derduisende CD’s verkoop is verby. So ook reusekonserte by feeste. Platekontrakte en busse met die kunstenaars se gesigte op is deesdae net hier en daar te sien. CD-winkels is so skaars soos wors in ’n hondehok. Digitaal het oorgeneem; ’n nuwe metode van musiek versprei wat heelwat mense nog nie verstaan nie. Kortom: Die Afrikaanse musiekbedryf het harde houe gevat.

Toe Karen Meiring, voorheen hoof van die kykNET-kanale, aankondig dat sy ’n samekoms gaan reël om te kyk wat gedoen kan word om die Afrikaanse musiekbedryf van sy knieë te laat opstaan, moes ’n mens al geweet het dat sy dit nie halfhartig sal doen nie. Die Musiekindaba is gebore en van 30 November tot 3 Desember is daar in Stellenbosch intens met álles wat met Afrikaanse musiek te doen het, omgegaan.

Hoewel ek gehelp het met die skryf van persverklarings en die inwin van kopie vir die webblad en ander media, is dié my eie persoonlike vyf punte wat ek saam met my ná die Musiekindaba geneem het.

1. Musiekindaba het lang bene wat nog ver kan loop. Te oordeel aan die kwaliteit van die aanbiedings, die unieke konserte wat spesiaal vervaardig is, die onderhoude met legendes, die werkswinkels, die paneelgesprekke en net gewoon die skouers skuur, is dit ’n projek wat nie net moet groei nie, maar een wat al die ondersteuning moet kry wat dit verdien. Mag dit volgende keer uit sy nate bars en mag elke liewe persoon in die bedryf besef watter waarde dit tot hulle loopbane en besighede kan voeg.

2. Ons lewe in ’n geweldige talentvolle land. Behalwe die sangers, musikante, liedjieskrywers en vervaardigers het ons ’n magdom ander mense wat gereed staan om hulle kennis te deel. Of dit nou is oor nuwe neigings in digitaal of die bestuur van onafhanklike loopbane of musiekteater of die inwin van tantième, daar was iemand op die Musiekindaba-program wat al te gewillig was om ander in te lig.

3. Dit het soms gevoel soos wanneer jy in ’n restaurant is en iets bestel, maar wanneer die kos kom, lyk iemand anders s’n lekkerder. Nie dat joune sleg is nie, jy wens net jy kon alles bestel. Ek sou byvoorbeeld uit ’n praatjie kom, vol ywer en nuwe kennis, en iemand raakloop wat by ’n ander praatjie was en dan net so opgewonde is oor wat hulle gehoor het. ’n Mens kon onmoontlik nie altyd oral wees nie, maar met Musiekindaba het ek soms gewens ek is twee, selfs drie mense. Welgedaan aan elkeen wat betrokke was by die saamstel van die program.

4. Nie net lewe ons in ’n talentvolle land nie, ons woon in ’n unieke land met verskillende stemme, invloede, selfs ander maniere om met Afrikaans om te gaan. As daar een ding is wat weer soos ’n paal bo water uitgestaan het, is dit dat ons méér moet uitreik. As Jack Parow, Kurt Darren en Early B saam op ’n verhoog kan wees, is enigiets moontlik! Daar is soveel ongelooflike elemente in Suid-Afrika wat ons musiek maak wat dit is. Ons moet minder na binne kyk en meer na buite ons grense kyk. Inisiatiewe soos Musiekindaba het die potensiaal om samewerking op alle vlakke aan te wakker en moontlik te maak.

5. En so gepraat van samewerking: As daar ooit ’n tyd was vir sekere rolspelers om van hulle ego’s ontslae te raak, is dit nou. Ons kan nie meer bekostig dat daar kampe gebou word nie. Ons kan nie meer bekostig om nié jong talent te bevorder en te gaan soek nie. Ons kan nie meer bekostig om te bly by dieselfde ou geykte idees nie, hetsy dit konserte, musiekproduksies op feeste en kusdorpe of die ewige soeke na die volgende trefferliedjie is. Alles kan net eenvoudig nie meer dieselfde klink nie. Ons het vernuwing nodig. Die talent is daar. Die gewilligheid is daar. Die saadjies moet net geplant word en water gegee word.

...........
Musiekindaba het sy eerste treë gegee. Belangrike treë in die regte rigting. In ’n gesprek het Coenie de Villiers gesê jy kan nie sonder ’n eier opdaag en dan verwag om ’n omelet te maak nie. Vir elkeen, glo ek, wat die eerste Musiekindaba bygewoon het, is daar ’n eier gegee. Mag daar met ’n volgende Musiekindaba heelwat omelette gemaak word. Watwou. Sommer ’n soufflé gegeur met biltong en masala ook.
..............

Musiekindaba het sy eerste treë gegee. Belangrike treë in die regte rigting. In ’n gesprek het Coenie de Villiers gesê jy kan nie sonder ’n eier opdaag en dan verwag om ’n omelet te maak nie. Vir elkeen, glo ek, wat die eerste Musiekindaba bygewoon het, is daar ’n eier gegee. Mag daar met ’n volgende Musiekindaba heelwat omelette gemaak word. Watwou. Sommer ’n soufflé gegeur met biltong en masala ook.

En mag Afrikaanse musiek opstaan, die stof afvee en sterker as ooit voortgaan.

Lees ook:

Musiekindaba: ’n fees vir musiekliefhebbers, ’n móét vir rolspelers in die bedryf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top