
Prent: Tumisu op Pixabay
Later vanjaar – waarskynlik iewers in November – of vroeg volgende jaar gaan kiesers weer stembus toe om hul munisipale rade te verkies.
Munisipale toestande is in menigte opsigte belangriker as wat op provinsiale en nasionale vlak aangaan. Munisipale verkiesings en hul kwessies verskil ook grootliks van die ander vlakke van regering, die onvermydelike raakpunte en ineenstrengeling ten spyt.
Dit is daarom belangrik om te weet waarvoor jy stem (en waarvoor nie) en om te besin oor die opsies, posisie en kanse van politieke partye in die komende verkiesing. Hier volg voorlopige indrukke van wat op die spel is en wat verwag kan word.
Die stand van plaaslike regering
Die eerste feit wat in gedagte gehou moet word, is dat die toestand van jou munisipaliteit en plaaslike regering in die algemeen (en ondanks ’n nuwe nasionale begroting wat sterk daarop fokus) nie gou en wesenlik voor of ná die verkiesing gaan verander nie. In sekere gevalle is dit uiteraard bevredigend en bied dit gemoedsrus. In die meeste gevalle is dit egter ’n onrusbarende situasie. Daar kan straks hier en daar kosmeties verander word, maar die strukturele situasie gaan nie eensklaps verander nie. Dit gaan ook waarskynlik nie verander indien dieselfde stadsvaders behou word nie. Hierdie situasie bied ten minste voorspelbaarheid en ’n skans teen leë beloftes wanneer kiesers wel besluit om te stem. Hulle kan nie sê hulle het nie geweet nie.
Ewenwel, die plaaslike-regering-prentjie in die land is grootliks erbarmlik. Die ouditeur-generaal (OG), Tsakani Maluleke, bevestig in die voorwoord van haar jongste verslag oor munisipaliteite se oudituitkomste dat munisipaliteite doof is vir haar herhaaldelike aandrang om kernprobleme aan te spreek, en dus geen verskil aan burgers se lewens maak nie. Sy lys hierdie uitdagings as: onvoldoende aanspreeklikheid, mislukte dienslewering, swak finansiële bestuur en regering, swak institusionele bestuur, en wydverspreide onstabiliteit. Hoewel oudituitkomste nie noodwendig die ware toestand van dienslewering weerspieël nie, is dit waarskynliker dat ’n swak oudit wel op swak werklike toestande (soos vervalle infrastruktuur en droë krane) dui.
Daar is bowenal nie ’n gebrek aan swak munisipale oudituitkomste nie: Slegs 16% het ’n skoon oudit in die jongste ronde behaal, terwyl 59 s’n verbeter, maar 40 verswak het. Skoon oudits is ook swaar gekonsentreer in die Wes-Kaap met meer munisipaliteite daar wat vir vier jaar of meer skoon oudits gehandhaaf het as die hele res van die land se munisipaliteite saam. Van al die metro’s het slegs Stad Kaapstad ’n skoon oudit ontvang. In Gauteng het slegs twee munisipaliteite skoon oudits behaal, terwyl net Midvaal ’n skoon oudit vir agtereenvolgende jare kon behou. Noordwes en Vrystaat het geen skoon oudits behaal nie.
Die waterkrisis is sekerlik die ernstigste van alle uitdagings. Die land se grootste en belangrikste stad gaan gebuk onder nypende wateronderbrekings. Johannesburgse nywerheids- en woongebiede soos Selby, Soweto, Midrand en Roodepoort is vir weke op ’n slag sonder water. Dieselfde geld vir gebiede soos Primrose in Ekurhuleni, nog ’n metro in Gauteng aanliggend tot Stad Johannesburg. In die Noord-Kaap sukkel Upington, Kuruman en Kimberley al vir ’n wyle met waterprobleme. Sommige van hierdie probleme kan aan foute by grootmaatverskaffers toegeskryf word, maar dit word vererger en selfs veroorsaak deur munisipale disfunksionaliteit. Munisipaliteite wend nie afgebakende fondse vir water aan om infrastruktuur in stand te hou en bou nie. Hulle betaal ook nie die waterrade nie, wat weer ’n bose kringloop van onderfinansiering veroorsaak.
’n Verwante aangeleentheid is natuurlik die gehalte van drink- en afvalwater. In 2023 het die Blou Druppel-verslag (oor drinkwater) getoon dat uit alle gemete waterstelsels (bykans 1 000) in die land, 52% gedruip of naelskraaps geslaag het wat hul behandelingsvermoë betref. Dit is wel bemoedigend dat 48% as “lae risiko” bestempel is en dus met beter bestuur selfs beter kan vaar. Die Geen Druppel-uitslae het getoon dat 47% van alle drinkwater weens faktore soos lekkasies verlore gaan. Die Groen Druppel-verslag het bekendgemaak dat 64% van rioolaanlegte ’n hoë of kritieke risiko loop om onverwerkte of deels verwerkte afvalwater in die omgewing te stort.
Die probleem is dus nie slegs die infrastruktuur nie (want in die meeste gevalle bestaan dit wel), maar hoe dit bestuur en onderhou word. Dit is dus nie dat niks meer bestaan nie, maar dat dit nie sonder die nodige kapasiteit kan werk nie. Nuwe infrastruktuur moet ook beter en vinniger gebou word. Ramos Emmanuel Mabugu en Eddie Rakabe het in ’n 2024-studie redes uiteengesit hoekom infrastruktuur so gebrekkig is. Dit sluit in gebrekkige menslike hulpbronne, die swak toewysing van beskikbare fondse, politieke inmenging, burokrasie en ’n gebrek aan eienaarskap. Dit strook met die OG se bevindinge oor oorsake.
Al hierdie oorsake het dus met mense te doen, omdat stelsels nie selfonderhoudend is nie en deur menslike besluitneming onderlê word. Dis immers hoekom ons stem: Om die mense te verkies wat aan die stuur van ons munisipaliteite staan. In die meeste van die gevalle het die huidige tekortkominge in bestuur voorspelbare en voorkombare gevolge vir munisipale infrastruktuur, aldus Mabugu, Rakabe en die OG: ’n gebrek aan onderhoud en ondoeltreffende aanwending van fondse; die bou van verkeerde infrastruktuur; en die swak funksionering van infrastruktuur.
........
Hierby moet genoem word waarvoor jy gaan stem en nié gaan stem nie. Jy gaan nie vir openbare skole, behuising en hospitale stem nie. Of vir provinsiale paaie om opgegradeer te word nie. Jy gaan wel oor vullisverwydering, jou buurt se paaie, die beskikbaarheid en gehalte van jou drinkwater asook kraglewering stem.
........
Hierby moet genoem word waarvoor jy gaan stem en nié gaan stem nie. Jy gaan nie vir openbare skole, behuising en hospitale stem nie. Of vir provinsiale paaie om opgegradeer te word nie. Jy gaan wel oor vullisverwydering, jou buurt se paaie, die beskikbaarheid en gehalte van jou drinkwater asook kraglewering stem.
’n Tydsgreep van partypolitiek
Hoewel hierdie verkiesing op plaaslike sake fokus, is dit nooit so eenvoudig nie. Kiesers in Suid-Afrika stem nie in enige verkiesing vir partye waarvan hulle eenvoudig nie hou of hulle nie mee vereenselwig nie. Dit is problematies, omdat hul omstandighede veelal daaronder ly.
Hoe dit ook al sy, ondanks die feit dat die ANC steeds die meeste plattelandse setels in die noorde en sentrale streke sal inpalm, gaan dit in baie gevalle met verkleinde meerderhede wees. Verskeie peilings dui op dalende steun, terwyl die ANC nie histories goed in plaaslike verkiesings vaar nie. Hulle sal straks koalisies in sekere gevalle in veral KwaZulu-Natal, die Oos-, Wes- en Noord-Kaap en Gauteng moet aangaan. Die Gautengse metro’s, Nelson Mandelabaai en eThekweni sal bestrede wees, maar hulle behoort Buffalo City en Mangaung maklik te wen.
Ek is nie oortuig daarvan dat die ANC nie sy verlore steun kan terugwen nie, of dat die party sonder ’n volstrekte meerderheid noodwendig beter sal regeer nie. In 2024 is hul steun grotendeels deur MK weggekalwe en dit kan ook weer verander. Benewens Kaapstad sal hulle ’n wesenlike deel van die steun in ander metro’s uitmaak. Koalisies soos die een in Knysna (waarvan die EFF en ANC deel is), het verskeie uitdagings ten aansien van riool en water aldaar veroorsaak.
Dit sal daarom onverantwoordelik wees om hulle van meet af as ’n faktor af te skryf, in weerwil van onvermydelike steundaling. Die meer positiewe nasionale nuus (wat nie uitsluitlik of selfs meestal hul eie prestasies is nie) kan ook positief inwerk op hul steun en hulle het steeds historiese sentiment en ’n gebrek aan alternatiewe op tallose plekke wat in hul guns tel. Hul veldtogte en sigbaarheid het sedert 2019 se verkiesing egter sleg afgesteek en hofsake oor skuld vir verkiesingsmateriaal asook ander geldelike uitdagings (tesame met ’n beeldprobleem) sal skenkers – wat feitlik heeltemal opgedroog het – en verskaffers toenemend afskrik.
Die DA het reeds bewys dat hulle suksesvol kan regeer en het dus ’n bewese en onteenseglike rekord om op terug te val wat veral plaaslike regering betref. Kaapstad is in alle opsigte die keur van die metro’s, en DA-geleide munisipaliteite troon uit bo die res in elke denkbare indeks. Ek het al in ANC-munisipaliteite gewoon en nou in ’n DA-beheerde een. Daar is geen vergelyking nie. Die knoop lê daarin dat mense regoor Suid-Afrika dit nie weet nie en nie vir hulself iets anders kan voorstel nie. In veral plattelandse gebiede buite die Wes-Kaap – en vernaam onder swart kiesers – het die DA steeds geen ferm vastrapplek nie.
.......
Die binnegevegte tussen Dion George en die DA-partyleier, John Steenhuisen, het die party se beeld geskaad.
.......
Die binnegevegte tussen Dion George en die DA-partyleier, John Steenhuisen, het die party se beeld geskaad. Steenhuisen, ook minister van landbou, het nou besluit om hom nie weer in April as partyleier verkiesbaar te stel nie te midde van ’n ernstige uitbraak van bek-en-klouseer en verhewigde rassekwotas in landbou – nasionale kwessies wat die party se kiesersbasis woedend gemaak het. Nietemin is daar nog tyd vir die DA om die skade te beheer, en hulle het ook langtermyn- politieke kapitaal (weens onder meer sekere prestasies in die RNE) asook die beste verkiesingsmasjien in die land opgebou.
Dit is feitlik ’n uitgemaakte saak dat Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Stad Kaapstad, die volgende DA-leier sal wees. Sy sukses en ervaring in regering en sy gemoedelike beeld is bates op sy balansstaat. Sy voorneme om steeds Kaapstad te lei behoort ook nie op kort termyn problematies te wees nie en kan ook help om hom as partyleier te vestig. Die vraag is wat met Steenhuisen as ongewilde minister en ook met bek-en-klouseer gaan gebeur, maar dit behoort nie die enigste oorweging vir kiesers te wees nie. Selfs belangriker is hoe hulle hulself as tegnokratiese en samewerkende party in die RNE kan posisioneer terwyl hulle steeds ’n opposisierol oor belangrike kwessies speel.
Die VF+ onder die nuwe leierskap van die ervare Corné Mulder is die alternatief vir ‘n menigte DA-kiesers. Onder Mulder blyk dit dat die party weer grootliks ’n konserwatiewe tuiste vir wit Afrikaanssprekendes geword het. Hulle maak aanspraak op waardes waarmee hierdie groep identifiseer, terwyl ander minderhede nie heeltemal agterweë gelaat word nie. Dit is strategies slim ná ’n paar verkiesings van kragdadige maar hol leuses en ’n oënskynlike verlies aan strategiese posisionering. Desentralisering, federalisme, meriete, asook Christelike en Westerse waardes staan nou voorop in hul agenda.
Dit is gepas om jou waardes en identiteit klinkklaar te maak, want klein partye kan nie bekostig om aan strategiese dubbelsinnigheid te ly nie, en in die politiek gaan dit net soveel oor identiteit as oor funksionele sake. Die uitdaging is egter om in veral ’n plaaslike verkiesing uiteen te sit hoe hierdie waardes beslag gaan kry. Met ander woorde, indien hulle in koalisies of selfs alleen regeer, hoe gaan hierdie waardes tasbaar word? Wat gaan hulle anders as byvoorbeeld die DA doen op munisipale vlak met hul invloed? Kortom, waardes kan nie slegs waardes bly nie, en munisipale verkiesings gaan oor brood-en-botter-kwessies.
Die vraag is ook hoe hul verhouding met die DA as opponent en vennoot daar uitsien. Hulle het mekaar nodig, maar vang ook vis in dieselfde kiesersdam, en swewende stemme is taamlik uitruilbaar tussen hulle (soos die Steenhuisen-sage tans toon). Ondanks werkende koalisies met die DA en die feit dat die twee partye natuurlike vennote is, is dit reeds duidelik dat daar spanning tussen hulle bestaan wat in verkiesingstyd sal verhewig.
Die res van die partye regverdig nie ’n uitgebreide ontleding nie en ’n paar opsommende opmerkings is voldoende. Die IVP het reeds verbetering getoon in die munisipaliteite wat hulle nou beheer, maar hul groot geveg op KwaZulu-Natal se platteland sal teen MK wees en nie die ANC nie. Hoewel Suid-Afrika wel ’n effense swewende stem ontwikkel, is die grootste skuiwe te bespeur tussen etniese groepe binne dieselfde rassegroepe en nie tussen rasse op sigself nie.
Meer spesifiek was dit MK se Zoeloe-stem wat die ANC in 2024 van sy meerderheid ontneem het. Dieselfde met die DA se droewige vertoning in 2019 toe Afrikaanse kiesers hulle die rug toegekeer het ten gunste van die VF+. MK is chaoties, maar hulle blyk nogtans sterk te wees, en daar is ’n ontluikende toenadering tussen hulle en die National Freedom Party (NFP). In die Wes-Kaap voorspel tussenverkiesings se uitslae niks goed vir die DA nie. Die PA is besig om vinnig stemme en wyke by hulle af te rokkel. Hulle sal waarskynlik dieselfde met munisipaliteite kan doen indien hierdie tendens voortduur. En dit lyk of dit sal.
Laastens: Die EFF sal steeds ’n faktor bly en hier en daar deel van koalisies vorm – afhangende van hul hoeveelheid steun en veral die interne dinamika in die ANC en EFF. MK het egter nuwe stemme by hulle in 2024 weggerokkel, daar is ’n algehele tamheid onder die publiek jeens hulle, hul koalisies in plekke soos Ekurhuleni en Knysna lewer wrange vrugte op, en die party is intern verswak. Hulle het ook nie waffers in onlangse tussenverkiesings gevaar nie. Die EFF-leier, Julius Malema, het die komende verkiesing as “victory or death” vir sy party beskryf. Eerder as hierdie binêre keuse gaan die party waarskynlik aanhou om stadig te kwyn eerder as om plotseling te sterf.
Lees ook:

