Morfeus moet trou

  • 3

Ek was 34 jaar oud toe ek ’n weduwee geword het. Ek het myself bitter jammer gekry, ook omdat ek so jonk was. "Maar Mevroutjie, jy is nog so jonk, was jou man dan in die Mag?" het vreemdes gevra. Ja, ander mense het my ook jammer gekry en teksverse en troosboodskappe het baie maande lank in my inboks bly recycle. Ek het die plasebo van dinge leer ken, hetsy ’n pil, teksvers of gebed, maar wat my hart week gemaak het, was die opregte bedoelings ágter die SMS'e. In dié tyd het ek teruggetrek Pretoria toe en ’n ou ontmoet wat op 27 ’n wewenaar geword het. Ons het mildelik troos geput uit mekaar se droewige verhale. Gedurende hierdie tyd het ek ook drie maal in die hospitaal gedraai met EKG's – maar, soos Koos Prinsloo gesê het, mens oorleef ook verdomp alles. After all is ek en my familie geneties ’n spul robuuste bliksems. 

Hierdie vriend van my het besluit ek is te eensaam en voorgestel dat ek by die een of ander gesogte "weduklub" inskakel. Die weduklub was ’n klub vir ’n paar uitgelese Pretoria-Oos-weduwees en die sameroeper se naam was Marilyn. Ek moes haar Woensdae in die Wimpy ontmoet, dan het sy haar selfoon se wekker vir presies ’n uur lange afspraak gestel. Die gedagte was om my beter te leer ken alvorens sy my aan die ander wedu's voorstel.

"Is dit wedu vir weduwee soos skadu vir skaduwee?" was my openingsvraag aan haar. Sy het onpeilbaar oor die spyskaart na my gestaar. Ek moet byvoeg dat ek in dié tyd baie uitgereik het na randfigure – of dalk het ek hulle aangetrek, ek weet nie. In iedergeval, "wedu” het sag op die oor geval – die ingekorte woord het ook reg aan die lot van ’n weduvrou geskied. 

Maar van die begin af was ek en Marilyn nie op dieselfde bladsy nie. Want sien, die wedu's in haar groep was niks anders as ’n spul ryk, verveelde socialites wat die verskoning vir hulle mans se dood gebruik het om te jol nie. Hulle was soos divorcees, heelwat ouer as ek, maar met ’n reuse-upgrade as dit by simpatie kom. Dalk het my vrugbare verbeelding iets heeltemal anders voorgestel, vroue in swart klere soos Oosblok-weduwees, besig om te rou. Nie híérdie baldadige wedu's nie. Marilyn het my vertel hoe lekker dit sal wees om deel te wees van die klub: ons sou gaan shop in Menlyn, gaan tee drink en lemon meringue en eggs benedict eet in Brooklyn, of wegbreek na Leriba Lodge; Vrydae-aande na Nataniël se shows gaan kyk en boekklubs bywoon (Toetsie Terblanche spreek nou juis oor drie weke die dames toe oor haar nuwe hygroman, Pols); ons sou brug-aande hou, en dan is daar die beplanningsgesprekke rondom kerkfunksies, en moenie vergeet nie, die wedu's besoek ook hulle susters in nood wat in Denmar-kliniek lê met senuwee-ineenstortings. Marilyn het haar selfoon oopgemaak en ’n lêer met foto's vir my gewys. “Sien,” het sy trots gesê, “en hier is ons in die Kaap tydens ’n paar besoeke aan wynplase ... en hiér in Stellenbosch.” (Nou baie ingenome): “Ons het ook uitreik-aksies na weduklubs dáár.” Wel, ek wou ’n sosiale lewe gehad het, maar nie só nie. Ek dink dit was dan juis my verdriet en gravitas op daardie stadium wat die rede was waarom Marilyn huiwerig was om my aan my mede-wedu's voor te stel. Eintlik het sy ander planne met my gehad: sy wou my voorstel aan ’n familielid van haar, ’n tipe blind date, ’n mediese dokter dringend op soek na vroulike geselskap.

En só ontmoet ek dr. Johannes Paulus van Vollenhoven toe ─ ’n narkotiseur van Pretoria. En ons het in die Wimpy ontmoet, op my aandrang; ’n publieke plek is altyd veiliger. Menige reeksmoordenaar het ’n skoon, oop gesig, soos Ted Bundy, en ’n mens kan nooit té seker wees nie. 

Die Groot Vangs se voorkoms was baie gewoon. Muisvaal hare, woestynbruin oë en ’n bril. Hy was soft spoken en het gebewe. Ek het dowwe stampgeluide onder die tafel gehoor en besef dis my date se knieë wat so trappel en skuifel.

Nou kyk, die saak het só gestaan: Johannes was reeds 39 jaar oud en sy pa het hom begin pols om te trou en ’n familie te begin – die Van Vollenhoven-bloedlyn moes teen elke prys voortbestaan. Johannes het ’n perfek gestrykte sakdoek uit sy broeksak gehaal en die sweet van sy gesig weggevee. Dis toe wat ek besef het hy's op draks – dis nie senuwees nie. 

Hy het oop kaarte met my gespeel. Die deal is eenvoudig: hy soek ’n vrou wat inpas by sy genepoel en agtergrond – en dié vrou hoef niks te doen nie, sy moet net sy kinders baar en ’n stigtelike tuisteskepper wees. (Ek kan die woord "baar" nie verduur nie: dis een van die afgryslikste woorde in Afrikaans. Dit klink bar … so báár.) “Daar is ’n butler en huispersoneel,” het hy geesdriftig vervolg. Sy vrou moet net ’n sieraad aan sy sy wees as sy kollegas kom kuier, en intelligent kan gesels. (Há, het ek gedink, maar met ’n poker-gesig bly luister.) Oor finansies hoef sy nie te worry nie, hy sal vir alles sorg. Maar daar is net een MAAR. En dit is Johannes se leefstyl – hy gebruik ontwerpersmiddels op ’n daaglikse basis. Draks, in plein Afrikaans: bensodiasipiene, opiate, hipnotika, barbiturate, narkotika-reseppies wat hy persoonlik beproef … daardie tipe ding. Sy pa het niks daarvan geweet nie.

"A," het ek verras gesê. (Ek het seker baie liberaal voorgekom, maar draks was nog nooit op my radar nie.)

"Ja," het hy vervolg, en vertel dat hy besig was om ’n kortlys saam te stel van die vroulike kandidate wat aan sy vereistes voldoen. Ek is vier, amper vyf- en dertig en baie na aan my vervaldatum as dit by die voortplantingstorie kom. "Ons sal moet spring," het hy gesê, en ek het gewonder of die dok dan reeds sy mind opgemaak het. Is ek nog hu-báár genoeg?

"So, Morfeus, (en sy oë het effens gerek toe ek die woord sê), gaan ons hierdie ding … kontraktueel bevestig?"

Weer die sakdoek en ’n sweetstraaltjie. "Nee, dis darem té riskant."

Natuurlik. So ’n stukkie papier kan inderdaad lelik boemerang as die druiwe suur raak. 

Ek het na die droë skuim in my koppie gestaar. "Nog ’n cappuccino?" het hy aangebied en bestel; nou het hy my van sy familie vertel. Die Van Vollenhovens was ’n ou, trotse familie en hy het sy ken gelig en op sy voortande gepraat as hy uitgewei het oor hulle statuuuur. Sy pa was ook ’n dokter (GP), maar old school: hy doen nog huisbesoek. En hy wat Johannes is, is die enigste kind (én séún daarby), en dan is daar nog hierdie erfporsie wat in gedrang kom as hy nie ...

"Ja-ja, ek verstaan," het ek hom gerusgestel. Dis toe dat ek die dokter se bewondering vir my hare opgemerk het. Jare gelede was my hare besonder lank en dik, krullerig en goudblond van kleur. En omdat ek geseën (of gestraf) is met ’n spul weerbarstige kroontjies, kan ek my hare óf baie kort óf baie lank en ruig dra. Daai dae was dit lank. Ek het dit nooit uitgedun nie en was op ’n onverskillige manier trots op my welige boskaas.

Nou, as daar een ding was wat my ’n voorsprong bo die ander kandidate gegee het, was dit my blind date se fassinasie met my hare. 

"O," het hy geprewel en sy hand gelig. "Mag ek maar vat?"

"Ja," en ek het vorentoe oor die tafel geleun, my gesig vas teen die menu met die sunrise surprise special.

"Og, dis so mooi," en hy het ’n dik goue lok deur sy vingers begin ryg. 

"Vertel my van jou werk," het ek aangedring en die dreigende spasma in my nekspiere geïgnoreer. 

Hy het oor ’n intieme kennis van middels beskik en begin vertel; hoe die hemel se hekke oopswaai as hy Pethidine gebruik, of Welconal, of kodeïen-konkoksies; en dan, natuurlik, al die skedule 7-9-goedjies waartoe hy as narkotiseur toegang het. 

"En jy, gebruik jy ietsie?" het die dok met opregte belangstelling gevra. "Julle skrywers vat mos af en toe ietsie."

Ek het ge-smile: "Nee, behalwe as kafeïen en nikotien tel. ’n Skrywer moet mos sy verstand oppas, of hoe?"

"Jy rook ..?" Sy gesig het vertrek. "Nee, as ek en jy … nee, dit sal moet stop. Wéét jy hoe skadelik is rook vir jou?" het die medikus in hom vir ’n oomblik ontwaak. 

"Ja, ek weet, elke roker weet dit tog." (Ek het niks oor sy draks gesê nie.) En met my leke-kennis en -belangstelling in chemie begin praat oor opiumdenne in die ou dae, en waarom Eugène Marais morfien bo opium verkies het ...

Ons het weer cappuccino gedrink, en nog ’n rondte. So, die huwelik sou suiwer transaksioneel wees, het ek gedink, dan is die testament ook secure. Maar wat van ware liefde? het die outydse romantikus in my geneul. En in ’n paar glimpe het ek my toekoms voor my sien afspeel: my ontmoeting met oudokter Johannes Paulus van Vollenhoven snr. (my skoonpa, wat ek as "vader" sou aanspreek). Natuurlik sou hy ’n spierwit Mercedes Benz E220 ry: ou Afrikanermanne met statuuuur is besonder lief vir wit Mercs. Ek het in my geestesoog gesien hoe ek swierig die nuwe "Nerina van Vollenhoven"-handtekening neerpen, Victoriaanse krul en al onder die naam. (Ja, ek sou my ID-boek-naam gebruik vir my upgrade na hierdie familie.) Dan die epiduraal – hoe dan anders? En blomme, ruikers vir Afrika in my hospitaalkamer as ek geboorte geskenk het aan die volgende geslag Van Vollenhoven-wunderkind. As troosprys vir my gekraam sou my eggenoot liefdevol ’n dik, goue ketting om my hals hang en my gelukwens met sy fris seun (die eersteling sál ’n seun wees, hoe dan anders?). En ek het ook gesien hoe my toekomstige man met ’n narkotika-walm by die huis uitsweef, op pad na die hospitaal en hoe ek by die ou patriarg vir sy seun se bas moet cover oor die draks. In ’n ánder glimp het ek gesien hoe ek skelm rook in die groot agtertuin (deur ’n landskapsargitek ontwerp), hoe ek rondsluip tussen die kokospalms en hemelbesems en broodbome en strelitzias sodat die huispersoneel my nie sien nie. En dan die vrees dat die twee dokters snuf in die neus sal kry oor die gerokery en my bloed enige oomblik vir nikotien kan toets ...

"O, jou hare is mooi, amper soos ’n meermin s’n," het hy weer geswymel. Moet net nie poëties raak nie, dit werk nie, het ek sinies gedink, maar vriendelik geantwoord: "Baie dankie."

"Wat se sjampoe en conditioner gebruik jy?'

"Nee, ek weet nie, die goed op my rak," het ek vinnig geskerm, onkant betrap deur so ’n persoonlike vraag. (Is die ou ’n groter psycho as wat ek gedink het? Of is dit bloot ’n fettish met lang, blonde hare? Of dalk net ’n opregte bewondering, shame? (En nóg ’n toekomstige glimp: my eggenoot is die hele tyd in my hare.)

Nee, my blind date is nie ’n reeksmoordenaar nie. Net ’n skadelose dokter, en sy enigste verhouding is met sy draks. 

Néé, néé.

Ek het nog lank so gesit met Morfeus wat my hare met sy bleek vingers bemin en my met sy rustige stem vertel van sy synstoestande en droomwêrelde tot hy opgestaan en gesê het: "Ek moet hospitaal toe." Hy het sy kop agtertoe gegooi en vinnig met ’n geoefende beweging iets afgesluk. 

"Wakker slaap, daar's ’n mens se lewe in jou hande," het ek sy hand geskud.

"Vanaand ontmoet ek Christizané Sonnekus," het hy dromerig gesê. “Nóg ’n kandidaat.”

"Nou maar good luck," en ek het geglimlag en nader gestaan vir die hand wat vir oulaas aan my lokke wou vat.

Ek het my oudste suster vertel van my blind date en die hangende huweliksproposisie (wat ek uiteraard nie sou aanvaar indien die loot op my sou val nie). My sus is ’n regsgeleerde wat graag gespog en gedreig het dat sy spesialiseer in mediese reg en al wat korrupte dokter is, uithaal. In iedergeval: sy het die SAGTR en al wat databasis vir mediese dokters is, gefynkam, en nadat sy lank en deeglik ge-spy het, het die bevinding teruggekom: dr. Van Vollenhoven het ’n kraakskoon rekord en sobere werksetiek, geen klagtes of sake teen hom nie.

Later het ek verneem dat mejuffrou Sonnekus toe inderdaad die aangewese kandidaat was. (Sy was hoofmeisie van Afrikaans Hoër Meisies en sou beslis ’n aanwins en voorslag vir die voortreflike Van Vollenhoven-familie wees.)

En Morfeus? Ek het hom nog dikwels daarna in die Wimpy ontmoet, dan het hy my die kiekies op sy selfoon van klein Johannes Paulus III gewys. "Uitgeknip om ’n dokter te word eendag, nes Pappa en Oupa," het hy gespog, en oudergewoonte gevra: "Mag ek maar aan jou hare vat?"

Lees ook:

2019 se top 15: hoogtepunte, laagtepunte, raakpunte en knelpunte

Oor troostantes en ander wyshede

  • 3

Kommentaar

  • Is dit ’n moderne weergawe van hoekie-vir-eensames? In die ou dae was dit: “Ek hou van die buitelig, perdry, stap en dans”. Hier is dit iets soos: “Ek hou van draks, om pervers ’n vreemde vrou se hare te bevoel en seks vir teël doeleindes. Ek stuur ’n foto van my Merc. Bankstate is beskikbaar op aanvraag.”

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Nou ja dis mos 'n goeie Katoliek wat slegs seks vir voortplanting dan nie? Is mos hoe die erfsonde oorgedra word, deur te jy weet wat...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top