Oor troostantes en ander wyshede

  • 3

In die vroeë tagtigs het Ma ’n rubriek as klatannie gehad. Ja, een van dáárdie sosiale raadgewers wat vir Jan Publiek sielkundige advies in tydskrifte en koerante gee. Ma se rubriek het een maal ’n week in ’n bekende dagblad verskyn, nogal met die misterieuse naam Helena gee raad. Onder die koerantkop het ’n foto van Ma, erg ge-blur, gepryk. Natuurlik is ons kinders die dood voor die oë gesweer: niemand mog ooit geweet het dat die troostante ons ma is nie. Sondaemiddae het Ma die possak, tjok-en-blok vol briewe, op haar koningingrootte-bed uitgestrooi en van ’n kant af deurgelees. Ons kinders was soos ietermagogkleintjies al om en bo-oor haar, gretig om saam te lees en die Groot Gebod te bewaar: ons mag nie uitpraat nie. Ek was nog op laerskool en onthou ons het ses wit troetelkatte gehad. Met groen oë. Tot ergernis van die bure – want natuurlik het kat-se-kind ’n paar slagoffers se huise binnegesluip en die tjops, of ander vleis wat vir aandete moes ontdooi, geskaai. Of die roomkoek in die kombuis. Op ’n keer sommer ’n hele krismiskalkoen. Die dreigemente en pleidooie het gekom, maar Ma het haar doof gehou: sy was heilig op haar diere. Toe, een Sondagmiddag was daar jou warempel ’n brief van ons direkte buurvrou, Eufesia van Zyl, in die possak. Haar skuilnaam was Desperaat van V: Liewe Helena, ek het ’n reuse-probleem met my buurvrou en haar ses katte ...

Uiteraard het die loot op dié brief geval. Ma kon nie almal in die bonkige sak antwoord nie; as ’n reël net so vier of vyf, afhangend van koerantspasie. En Ma het Buurvrou versigtig begin bearbei, haar daarop gewys dat diereliefhebbers maar ’n spesie op hulle eie is, dat ’n mens begrip moet hê, dat daar dalk ’n leemte in haar katbuurvrou se lewe is – en dat dit iederwel altyd ’n goeie idee is om vleis of koek met ’n net te bedek. 

Die teoloog en skrywer, Murray Janson het blou jare lank Huisgenoot se bekende "Sake van die hart" behartig. Murray was ’n legende in sy eie leeftyd wat dié terapierubriek gevestig het as die langslewende een in Afrikaans. In die vorige bedeling was abuse – op verskeie vlakke – normaal; dit was selfs die norm. Kinders is dwarsdeur hulle skoolloopbaan “reggeslaan”. Daar was diensplig en die Grensoorlog: alles het kwansuis van jou ’n man gemaak. Ons is afgeknou deur ’n sisteem van onderwysers, korporaals en ander uniformdraers, en die kerk. Daai dae was daar nog nie so baie versteurings soos vandag nie. Ses van die bestes, teksverse en ’n spul vermanings en jy was weer hunky-dory – of só het ons gedink. Ons het abuse volledig geïntegreer in ons menswees; geleer om daarmee saam te leef. Afknouery was bloot ’n bevestiging van dissipline en van jou plek in die pikorde. In ’n sekere sin kan Oom Murray se rubriek gelees word as ’n soort psigo-sosiale tydsdokument van hierdie dekadelange abuse. Van die bekendste issues waarmee mense geworstel het, het rondom skuldkomplekse gesentreer. So byvoorbeeld was masturbasie by seuns en mans hoog op die agenda – met Oom Murray wat die ontboesemings en kwelvrae netjies sou systap met ’n voorspelbare dr-Jan-van-Elfen-relaas oor die biologiese werking van dinge. Bybelse, patriargale raad het die prof se rubriek gekenmerk. Ek het dikwels my bedenkinge gehad oor die praktiese nut van hierdie advies – hy het male sonder tal hierdie briefskrywers bloot verder af – of óp – in die ketting verwys na ’n predikant, huisdokter of sielkundige. Ek onthou op ’n kol het ’n 22-jarige prostituut geskryf en Oom Murray gesmeek om raad oor hoe om weg te breek uit haar vernietigende siklus van dwelms en prostitusie. Sy antwoord? Ek bid vir jou. Plus ’n teksvers. Sela.  

Of dit nou Raadop van A, Verward van P, of Keelvol van H is: uiteindelik vorm hierdie briewe klone van mekaar. Die patrone en krisisse in menslike gedrag is dieselfde, dit bly herhaal. Vroue wat vasgevang is in ’n huwelik met ’n lummel wat suip, rondloop, of haar aanrand het nog altyd die top 5-lys gehaal. Murray se antwoord, veilig gepasmaak, was voorspelbaar: Gaan spreek (saam) ’n huweliksberader. Maar daar was die één insident … die Afrikaanse volksbybel, Huisgenoot het een jaar weke aaneen van die rakke afgevlie’ toe Oom Murray ’n rotnes oopgesteek en die destydse SAP by een van die klagtebriewe betrek het. Dit was lank voor die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders-veldtogte. ’n Dame het geskryf en beweer dat sy as seksslaaf gyselaar gehou word deur haar eie man; en dat sy haar brief aan Oom Murray via haar buurvrou uitgesmokkel het om te pos. Nadat die berader versigtig rondgesnoep het of dit nie dalk ’n gekskeerder is nie, het die polisie met groot fanfare toegeslaan op die betrokke woning en die damsel in distress bevry. Weke aaneen het dit gegons: Huisgenoot onthul; of Eksklusief: Vrou vertel van nagmerrie-ervaring met ...

Dan: laat ons ook nie van Antie Mona, Die Son se troostante, vergeet nie. Van al die raadgewers is sy waarskynlik die eerlikste. Kom ons erken dit maar: ons lees klarubrieke omdat ons voyeurs is – en omdat mense verligting van hulle eie katarsisse ervaar wanneer hulle van ander se ellendes lees. Antie Mona is afgestem op ’n geelpers-gehoor; en tipies geelpers, leen dié rubriek hom tot sensasie, die-in-die-oomblik-wees, die vlugtigheid van gebeure. Presies die teenoorgestelde van ernstige lektuur. Dis daar om te geniet en om te lag. Kyk, Antie Mona het straatwysheid. Sy ken die lewe. Sy is deurwinter, maar nie sinies nie – nee: ’n klatannie moet ’n ewige optimis wees, ’n onwrikbare lewensbegeleier. Of altans, só het ek klein-klein by Helena geleer. In die tagtigerjare het seksberaders, aanvanklik kopsku, hulle opwagting begin maak in Engelse mode- en skoonheidstydskrifte. Die terapierubrieke het begin divergeer: emosionele of geestelike berading – óf raad met bedsake en kie. Vandag se raadgewers moet kan bontstaan en lesers oor ’n wye spektrum van menswees kan adviseer.

Jare gelede was ek ook ’n slagoffer van ’n troostante. Skaars 18 jaar oud en bewapen met my rybewys, maak ek toe mos ’n massiewe motorongeluk op die ou Johannesburgpad in destydse Verwoerdburg. My splinternuwe Mini het helder oordag, in ’n oogwink, scrap geword. Nodeloos om te sê ná die insident het die paniekaanvalle hulle tol begin eis. Ek kon om die dood nie meer bestuur nie en het soos ’n springveer gebeef elke keer wat ek in ’n kar moes klim. In my jeugdige verwarring besluit ek toe om ’n klatannie by ’n gewilde tydskrif te kontak – ek kan  nie meer onthou of dit Vra vir dr Adri, vir dr Janie, of vir dr Deidre was nie. Ek het my hele droewige verhaal blootgelê, ’n geskriffie vol woede, selfverwyt en grenslose twyfel. Die weke het later maande geword, en Dinsdae het ek die tydskrif gretig ingewag – maar nee. Nada. ’n Ysige stilte het my begroet. Dalk het die reverse psychology, om botweg deur die dok geïgnoreer te word, die gewenste uitwerking gehad. Dalk het sy nie my brief gelees nie … of dalk het sy eerder ánder, sappiger klagtes ge-cherry-pick, ek het tog geweet hoe die proses werk. My probleem was nie belangrik genoeg nie. En toe word ek kwaad. Ek het agter die stuurwiel ingeskuif en kon myself van buite sien, my lippe in ’n dun, verbete lyn, my arms stokstyf en vasberade teen die stuur. 

Mense wat troostantes opsoek, vermoed – of wéét – intuïtief wat die antwoord gaan wees.

Daardie dag het ek gerý. 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Baie dankie vir die verwysing na ietermagogkleintjies. Gelukkig (?), anders as die vlakhaas, net een op 'n slag.

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Baie dankie vir die verwysing na ietermagogkleintjies - hulle mag nie uit die prentjie verdwyn nie. Daar is, terloops, (anders as in die vlakhaas se geval) net een ietermagoggie op 'n slag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top