Moord, kos en boeke: Bonnie Espie se Making a killing verras

  • 0

Titel: Making a killing
Skrywer: Bonnie Espie
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795711114

Die skrywer Bonnie Espie het met haar debuutroman Making a killing haar naam goed gevestig in die genre van knusmisdaad.

Making a killing is snaaks, gevul met kleindorpiegeheime en is lig en maklik om te lees. Espie bring met Making a killing ’n heerlike draai in wat as knusmisdaadstories beskryf word (in Engels ’n cosie). Die omslag is prettig en die leser kry ’n goeie idee van wat om te verwag van die boek wat sommer van die begin af die leser se aandag boei.

Haar inspirasie vir Making a killing het gekom uit die plattelandse dorpie en sy mense waar sy nou woon.

Inspirasie

Dié beskeie skrywer het grootgeword in ’n familie van misdaadlesers en sy was “omring deur die genre van misdaadstories, so dit was seker natuurlik dat ek aangetrokke was tot die skryf van misdaadverhale”. Sy onthou nostalgies dat haar ma boeke uitgeneem het by die biblioteek.

Espie skryf al reeds jare, maar werkverantwoordelikhede en die reis wat daarmee gepaard gegaan het, het haar tyd vir skryf gekniehalter. In Stanford waar sy nou afgetree het en met haar twee windhonde Ella en Olive woon, kan sy voltyds haar aandag aan skryf gee. “My skryfwerk kan nou spoed optel,” gesels Espie.

Sy vertel ook dat Chickpea, die hond in Making a killing, juis op een van haar eie honde gebaseer is. “Daar is regtig ’n Chickpea; sy is familie van my honde,” voeg sy by.

Bonnie Espie

Bonnie Espie (foto: verskaf)

Espie vertel dat sy ’n hondemens is en nog nooit ’n kat as troeteldier gehad het nie. “Ek sal nie weet wat om met ’n kat te doen nie.” Sy is ’n teedrinker en drink baie selde koffie. Op die vraag of sy dink pynappel hoort op pizza, was die antwoord ’n besliste nee. Haar styl van notas maak is op papier wat sy kan opfrommel en weggooi wanneer sy klaar is daarmee. Sy hou wel van mooi notaboeke, maar dit is vir wanneer sy iets wil neerskryf wat sy graag wil onthou, “soos ’n mooi aanhaling”.

Sal ons ’n kortverhaal uit Bonnie Espie se pen sien? “Ek hou van die uitdaging wat flitsstories van 250 of 500 woorde bring, maar nee, nie ’n kortverhaal nie. Daarmee sukkel ek om die een of ander rede.” Sy vertel dat sy een van hierdie flitsstories, “ook maar ’n donker storie”, geskryf het vir ’n flitsskryfkompetisie.

Sy sou dalk graag haar hand aan romanse wou probeer, en sê dat dit “interessant sal wees”, maar erken dat dit nie werklik haar genre van keuse sal wees nie, en “beslis ook nie fantasie of wetenskapfiksie nie”.

Making a killing

Die twee hoofkarakters is die twee mees onwaarskynlike mense om vriende te raak. Met verskillende waardes en ideale wil Winifred glad nie saam met Sylvie in besigheid gaan of met haar vriende wees nie.

Winifred besef gou dat sy Sylvie se hulp nodig het om werklik haar voete in die kleindorpie en tussen die plaaslike inwoners te vind. Die twee raak meer as besigheidsvennote en vriende. Wanneer ’n liggaam hulle rustigheid versteur, sien ons ’n ander weergawe van ’n misdaadverhaal: Hulle probeer nie die moord oplos nie, maar steek liewer die liggaam weg.

Winifred is veel ernstiger en toon meer kommer oor hulle situasie as die vryer van gees Sylvie. Sylvie hanteer die saak en beweeg aan.

Bonnie Espie (foto: verskaf)

Making a killing is ’n heerlike, ligte misdaadverhaal met ’n sterk plaaslike, Suid-Afrikaanse geur. Die storie sorg vir tong-in-die-kies-oomblikke en maak misdaad selfs komies. Die slot van die verhaal is gewaarborg om die leser te verras. Espie vertel dat daar ’n alternatiewe einde was, maar sy het dit herskryf op versoek van die uitgewers. “En hulle was reg daaroor. Dit was na ’n dinkskrumsessie met ’n vriendin op die dorp wat ek die huidige einde geskryf het, en dit is beter as die eerste een,” erken Espie.

Die einde lei na ’n opvolg en Espie is reeds druk aan die werk hieraan. Sy gee weg dat die opvolg ’n wyntema het, “aangesien ons in wynland is”. Sy vertel voorts dat lesers dieselfde karakters kan verwag, maar dat dit wel ietwat anders as sy voorloper sal wees. Lesers hoop dat die opvolg van die eerste Making a killing ’n liefdesbelangstelling vir een of meer van die karakters gaan bring. Daaroor swyg Espie egter en glimlag op die vraag daarna. Sy vertel wel dat sy een van die maklike karakters weer in die opvolg ingeskryf het na vele versoeke.

“Ek konsentreer nou op die vervolg van die eerste boek. Dit is nog minstens ’n jaar weg.” Sy voeg vinnig by: “As die uitgewers dit aanvaar, natuurlik.”

Lesers kan ook ’n riller verwag uit Espie se pen. “Daar lê tans een by die uitgewers. Ons het net gewag vir die regte tyd om die een uit te bring.” Sy vertel verder dat “dit ’n tipiese riller is”.

Raad aan skrywers

Die skrywer vertel dat sy nou doelbewus aandag daaraan gee om meer te lees en veral hou van skrywers soos Nicki French en Louise Doughty wat sy baie vermaaklik vind.

Espie volg nie ’n streng skryfroetine nie, alhoewel sy graag in die oggend skryf. Sy sê wel dat sy nie hard is op haarself daaroor nie en nie voel dat sy beter of meer skryfwerk só produseer nie. “Elke skrywer het sy of haar eie vloei.” Sy werk al lank saam met ’n mentorskap-skryfgroep en sê die positiewe kritiek is van onskatbare waarde.

“Skryf net.” Haar raad is reguit en op die man af. “As jy ’n behoefte het om te skryf, doen dan juis dit, sit en skryf.” Sy gee verder raad dat skryf, soos enige iets anders, oefening verg en skrywers nie bang moet wees vir kritiek nie. Sy sê: “Jou eerste roman hoef nie perfek te wees nie; dit is selde, en daar is ’n delete-knoppie.”

Wanneer sy vashaak en skrywersblok ervaar stap sy ’n ent met die honde of maak ’n draai in haar tuin.

Espie hoef egter nie terug te staan vir enige ander knusmisdaadskrywer nie; Making a killing is uniek, goed gebalanseerd en die storielyn is vars. Bonnie Espie se debuutroman is ’n moetlees vir enige aanhanger van hierdie genre.

Lees ook:

FynArts-kunstefees 2025: Literêre trio onthul hulle muse

Ontvoer: ’n onderhoud met Constant van der Merwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top