Monumentaal

  • 10

My taal is soos ’n suikerbos
wat geanker teen berghange groei
en bottergeel haar blom laat bloei;
soos reën wat oor granietsteen vloei
en die droë aarde binnedring;
soos mos wat sag en groen 
teen rotse rus
en alle skadu’s vul met lewe.

Soos wind wat deur die klowe huil,
maar eindelik die donker 
vir vryheid en vir lig verruil –
só is sy.
En sonder hamer, sonder beitel
vind sy die krake tussen klip;
sy laat haar woorde en haar weelde
na nuwe wêrelde ontglip.

Haar wese is ’n toring
wat (sonder perk) 
die horison en landskap merk.
Haar siel is wolke, soos môremis
wat geen grens of some ken nie.

My taal is soos ’n suikerbos
met vele voete in die grond;
gewortel in verskeidenheid
protea sy haar lote
wuiwend oor valleie 
en die hoogste kranse uit.

Lees ook:

Soos een wat op verlossing wag

Fyn – soos fynbos

Rockbottom

Heilige ibis

  • 10

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    Carma Shaw, jou gedigte laat altyd 'n warm gevoel in my binneste.
    Dit is 'n belewenis om jou werk te lees.
    Mag ons nog baie van jou hoor!

  • Karel van Niekerk

    Baie dankie, me Shaw. Ek hou van die gedig, en van die taal van onse Proteus-vermoë soos deur u geartikuleer.

  • Opvallend is die klem op die organiese. Afrikaans, anders as ander tale, is 'n soort wilde loot wat vanself groei. Die beitel en die tegniek (waarmee geleer is om te dig, en wat moeisaam ontwikkel is) is nie nodig nie. Dit sê iets van die stand van die taal vandag, maar net 'n feestaaltjie, 'n wilde onkruid wat nie hoort in die netjiese tuine nie, dit moet daar doer êrens in die veld groei, en sal sonder kunsmis, gifdoders en snoeiskêr (in kort: sorg) gedy.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top