Soos een wat op verlossing wag

  • 16

Soos een wat op verlossing wag

êrens waar die sterre tuimel
uit die newels van ’n melkweg
êrens waar ’n towermaan
oor ’n dor en barre aarde skyn
breek ’n boom ’n klip
en kremetart sy onder hemele
oneindig wyd en ruim

diklyf, kaal en sonder skaamte
wring sy haar arms tot geraamte
en laat haar vingers teen die silwer nag skelet
sy skreeu ’n stil gebed
sy dors na reën
en hyg na wasem

sy roep die winde met haar laaste asem
en smeek hul om die wolke
en die storm te gaan haal
sy spits haar ore vir die donderweer
haar oog verlang ’n weerligstraal

*

êrens waar die sterre val
en tuimel deur die newels van die nag
êrens waar ’n towermaan nog skyn
breek ’n boom ’n klip
en kremetart sy onder hemele
soos een wat op verlossing wag
van ’n drooggesuipte aarde ...
wat na water smag

  • 16

Kommentaar

  • Adri Croukamp

    Dis 'n sterk gedig wat 'n ongelooflike smagting vasvang. 'n Lieflike uitbeelding vir my van 'n Afrika-droogte.

  • Jou gedig is geskryf soos 'n feëverhaal waar ek nie kon wag vir die einde nie. Mooi bewoord wat al my sintuie geprikkel het. Jy het die reën gaan haal met jou woorde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top