
Rockbottom
Dalk moet elke mens
’n leë dam in die oë gaan kyk;
een waarin vervloë
se (nóú) naakte bome staan.
’n Dam wat sonder asem is,
waarin wit stof soos ’n wasem is
wat uit waterlose bodems
van droë riviere slaan.
Miskien moet elke mens
kaalvoet teen ’n wal afloop
(een waarop jou spore
in die growwe sand verdrink)
en strompel oor die duine –
verby stomp- en klippetuine
tot waar die laaste plasse
in die aard se kors versink.
Ek dink ’n mens moet weet
hoe droogte op sy felste lyk;
jy moet die vlam kan voel –
hoe dit skroei teenaan jou lyf.
Ek weet ’n mens moet soms
’n leë dam in die oë kan kyk –
een wat ongenaakbaar
’n hunk’ring in jou siel vasskryf.
*
Want ’n dam wat vol van water is
verruk nie met dieselfde krag nie.
En ’n hart wat nooit die dors leer ken nie,
sal ook nóóit na laafnis smag nie.


Kommentaar
Baie dankie vir die plasing. Ek waardeer dit regtig baie 😊
Mal hieroor en die dieper betekenis. Hou ook van die herhaling van "miskien". Dit heg die strofes saam en die rympatroon is effe weggesteek. Lekker ritmiese verse en heel singbaar.
Baie dankie, Adri. Ek is bly dat jy die vers geniet het. Ek waardeer jou kommentaar.
So mooi Carma, net iemand wat droogte kén kan dit só verwoord.
Dis n pragtige gedig op die bodem is waar al die skatte is.
Baie dankie, Estelle 😊
Ek waardeer die saamlees, Harry. Dankie vir die kommentaar 😊
Ek leef myself in die beeld wat jy skilder met jou woorde! En hoe verder ek lees, hoe meer ervaar ek die emosie agter die beeld. Ongelooflik. Waar kan ek nog van jou gedigte kry behalwe op die webtuiste? Digbundels?
Carma - wat meer kan ek sê.
Jy is 'n uitsonderlike digter.
Dankie vir jou werk.
Uitstaande, baie geluk.