Fyn – soos fynbos
Ek sien jou staan teen krans
en klippilare.
Daar is fynbos in jou arms
en jou vel is soos ivoor.
Die winterson toor heuning
en amber uit jou hare.
Die aarde is van jou bewus –
sy weet jy is ’n kaalvoetkind
wat net partymaal skoene dra.
(Sy ken jou vrae,
maar elke antwoord hou sy in geheimenis –
as jy dit soek, sal jy dit vind.)
Selfs die bergwind wis
dat hy sag met jou moet maak,
hoe teer hy aan jou siel moet raak,
dat sy asem jou moet koester
as jy dans voor krans
en klippilare.
Jou vel is soos ivoor,
die son blos oor jou wang
en teen die holte van jou slaap.
En daar is fynbos in jou hande –
’n bossie veldblom
uit die ooptes van die Kaap.
Kommentaar
Asemrowend mooi. Wat 'n pragtige gedig
Baie dankie, Jan. Ek waardeer jou lees en kommentaar baie.
Met sulke wat mooi en sensitief die mens met natuur vergelyk, kan mens amper weer hoop kry vir die wêreld. Dankie vir die deel van hierdie besondere mooi gedig.
’n Baie groot dankie vir jou mooi woorde, Ilze. Ek waardeer dit sommer baie.
Jy is, want jy skryf.
Baie dankie vir die saamlees, Hjleroux
Dis so pragtig geskryf - een van my nuwe gunstelinge beslis!
Baie dankie, Liesl. Jou kommentaar laat my baie bevoorreg voel 🌷🌷🌷