"Moenie bly ná die eerste klap nie"

  • 2

Foto-erkenning: Tumisu op Pixabay. ©2019 Tumiso, gepubliseer op 17 Mei 2019. Gepubliseer onder die gratis lisensievoorwaardes van Pixabay.

Ek het ook maar van kleins af ’n knop in my keel gekry as ek sien hoe ’n man ’n vrou slaan. Nee, ’n knop in my keel is die verkeerde woord. Ek het dit gehaat met ’n passie. Ek het gehuil en wegbeweeg sodat ek dit nie kon sien nie. Maar sommige dae het ek stilgestaan. Doodstil. Dit was die tye wanneer ek die omstanders se gedrag dopgehou het. Hoekom help niemand nie? Hoekom lag my vriend? Hoekom sê ’n ander vrou dat die slagoffer mos nie wou luister nie? Hoekom sê die slagoffer herhaaldelik: “Slaan, slaan, slaan nog!”

Geslagsgebaseerde geweld is nie iets nuuts vir my nie. Niemand het dit aan my voorgestel nie. ’n Mens word soms in ’n omgewing gebore en daarin is net sekere goed wat jy verstaan. My weerstand het ek aan my ma te danke. Ek onthou hoe sy ’n man op straat uitgeskel en op ’n manier aangeval het toe hy haar pleegsuster seksueel geteister het. Ek onthou my ma se sterk hande en breë skouers wat mans in hulle spore laat trap het as hulle dit waag om ons vroue aan te val. Maar veral onthou ek my ma se woorde: Moenie bly ná die eerste klap nie.

My ma besef nie die mag in daardie woorde nie, en ek het nooit gedink dat ek dit moeilik sou vind om weg te beweeg ná die eerste hou nie. Niemand, geen woorde kan jou voorberei op die storm wat binne-in jou plaasvind wanneer dit iemand is wat jy met jou hele lewe liefhet en vertrou nie. Die ergste van alles is dat niemand jou kan voorberei op die feit dat die persoon jou nie wil laat gaan nie.

Van kleins af weet ek wat is geslagsgebaseerde geweld, maar dis toe ek dit aan my eie lyf gevoel het dat ek uiteindelik verstaan het.

Dis die oomblik toe ek ’n uiterste vrees begin ontwikkel het vir mans in die algemeen. In ’n oomblik het ek weer klein geword, magteloos vasgevang in ’n donkerte wat ek gedink het net die dood my uit kon red. Klein, donker en ’n leeftyd se selfvertroue is van my af weggevat. En ek kon nie verstaan nie, want ek was dan sy prinses en hy was dan lief vir my; hy het dan geweet ek het nie ’n pa wat my kon beskerm nie, en ek het dan hom vertrou met my lewe.

Nog steeds was dit moeilik en hartverskeurend om weg te bly. Maar ek het. Al verdwyn liefde nie in ’n oomblik nie.

Vandag luister ek na mense wat sê dat iemand net moet wegbly en dat hulle die oorsaak van hulle eie dood gaan wees. En ek weet, ek verstaan met ’n donkerte wat oor en oor terugkom. Ek verstaan uit ondervinding. Ek het net nooit geweet in my oomblik van die grootste vernietiging en vernedering gaan ek ’n ander stem vind nie. ’n Bewerige stem wat vroue se kant van die saak wil stel.

In die jare ná die gebeurtenis kon ek net verstom staan oor die feit dat mense my blameer vir wat met my gebeur het; redes gesoek het dat ek die oorsaak is vir my eie seerkry en swaarkry. Ek moet toegee: Soms dink ek nog aan goed wat ek wel verkeerd gedoen het. Hoe toksies ek miskien was. Hoe ek nie kon laat gaan toe ek rooi vlaggies begin sien het nie. En net soos die gemeenskap, begin blameer ek myself.

Ek dink nie mense praat genoeg oor hierdie realiteit nie. Die tye wanneer jy jouself blameer vir iemand anders se foute. Dan onthou ek: Dit waarvoor ek blameer word, stem nie ooreen met die foute waarvoor ek myself verwyd nie. Ná hierdie besef kan ek myself ’n klein bietjie meer vertrou.

Wanneer ek verder dink en praat, besef ek dat ek nooit my kant van die saak gestel het nie, want die mense wat my ken, weet. Ek was net nie voorbereid op die feit dat van my naastes teen my sou wees nie. Snaaks genoeg het dit my magtiger laat voel, minder laat omgee oor ander mense se opinies. Dis seker daar waar my mag lê.

Lees ook:

Enkelvroue: ’n SêNet-brief kort anderkant Vrouedag

Amma deur Charmaine Africa: ’n resensie

  • 2

Kommentaar

  • Cornelius Henn

    Leona

    Ek het jou stuk gelees. Dit het my lank bygebly. Nie omdat dit dramaties is nie, maar omdat dit eerlik is.

    Ek het gedink aan iemand wat pas uit ’n motorongeluk klim - olie op die hande, glas in die hare, ore wat nog tuit. Op daardie oomblik het jy nie ’n resep vir scramble eggs nodig nie. Jy het eerstehulp nodig. Iets wat die bloeding stil en die skok lig.

    Eers later, wanneer die ergste pyn bedaar het, kan jy begin kyk wat nog gered kan word uit die wrak.

    Jou brief voel vir my nog baie naby aan daardie ongeluk. Daarom gee ek jou nie raad of resepte nie. Net ’n paar liedjies wat dalk die pyn vir ’n rukkie kan dra.

    Uit die wrak:
    1. You Oughta Know – Alanis Morissette
    2. It’s All Over Now Baby Blue – Marianne Faithfull
    3. Hoe Ek Voel – Johannes Kerkorrel
    4. Skielik Is Jy Vry – Koos du Plessis
    5. Never Going Back Again – Lindsey Buckingham & Stevie Nicks (live 2005)
    6. I Am... I Said – Neil Diamond

    Dis nie bedoel as genesing nie. Net ’n bietjie ruimte.

    Sterkte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top