Meer bek as binnegoed het baie om die lyf: ’n onderhoud oor die ATKV se idiome-bordspeletjie

  • 16

https://atkv.org.za/nuus/posts/2022/may/speel-en-leer-met-prettige-idiome-bordspel/

’n Bordspeletjie oor idiome is net die oortjies van die seekoei van ATKV-projekte wat Afrikaans bevorder. As jy ’n Afrikaans-onderwyseres is, onthou dat Afrikaanse idiome nie vir die kinders bokant hulle vuurmaakplek hoef te wees nie. En wat gesinne betref, sal almal hier hulle ’n papie kan lag as gevolg van die pret wat die speletjie bied.

Esmé du Toit, Takvoog van die ATKV-jeugtak Prieska en van Hoërskool Prieska, en Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie, ATKV, praat met Naomi Meyer oor die bordspeletjie “Meer bek as binnegoed”.

Esmé en Mercia, ek sien die ATKV is betrokke by ’n Afrikaanse bordspeletjie met die naam “Meer bek as binnegoed”. Nogal ironies, want die speletjie lyk vir my of dit nogal heelwat om die lyf het! Afrikaanse idiome is besig om al meer in onbruik te raak. Of is dit nie so nie? Vertel my asseblief van die bordspeletjie. Waar het die idee hiervoor vandaan gekom?

...........
Dit is juis omdat ons nie meer hoor dat mense idiome in alledaagse gesprekke gebruik nie dat ek begin dink het aan ʼn manier – ’n bordspeletjie –  om dit weer terug te bring. Toe besef ek die kinders se opstelle is net so "vaal", want hulle ken nie die Afrikaanse idiome nie, daarom gebruik hulle dit nie.
.............

Dit is juis omdat ons nie meer hoor dat mense idiome in alledaagse gesprekke gebruik nie dat ek begin dink het aan ʼn manier – ’n bordspeletjie – om dit weer terug te bring. Toe besef ek die kinders se opstelle is net so "vaal", want hulle ken nie die Afrikaanse idiome nie, daarom gebruik hulle dit nie. In die ou dae het ons lyste en lyste idiome in die skool geleer. Die kurrikulum laat dit nie meer toe nie en die onderrigmetode het heeltemal verander. Dit is daar waar die idee vir die speletjie gebore is.

Bordspeletjies is groot pret. Vertel asseblief hoe dié speletjie se reëls werk?

Die speletjie kan deur enige aantal spelers gespeel word en spelers kan ook in spanne deelneem. Die spelers trek ’n kaartjie en moet dan die idioom raai deur na die leidraad te kyk. Die antwoord en betekenis van die idioom verskyn agterop die kaartjie. Vir elke korrekte antwoord skuif spelers een blokkie op die bord aan. Indien die speler die betekenis van die idioom ook ken, kan hy/sy nog ’n blokkie aanskuif. Daar is ook kniehalterblokkies op die bord wat sake vir spelers kan bemoeilik.

Watter idiome het julle vir die speletjie gebruik?

Hier is voorbeelde van sommige van die kaartjies.

In my vorige vraag vra ek oor "nuwe idiome". Afrikaans is dinamies en aan die ontwikkel. Dink jy dat alle sprekers van Afrikaans hierdie speletjie sal kan geniet? Wie was die samestellers van hierdie spel en al sy idiome?

Ek het dit met die leerders van ons ATKV-Jeugtak bespreek en ons het aan die werk gespring. Ons het maar gesit en dink hoe ons die idioom kan uitbeeld. Ons kon natuurlik net idiome gebruik wat `ʼn mens lekker kan uitbeeld. Ek (as takvoog en Afrikaans-onnie) moes maar inspring en leiding gee. Covid-regulasies het ook gemaak dat ons nie bymekaar kon kom nie. (Ons lede is nie net van Prieska nie – omliggende dorpe se kinders woon ook ons skool by.) Ek het die finale redigering gedoen en die kans gevat om dit aan ons ATKV-streeksbestuurder, Gertjan, voor te lê en te kyk wat gebeur.

Bordspeletjies beteken samesyn. Gesinne kan dit saam speel, en as ek na hierdie een kyk, lyk dit vir my soos iets waarvan Afrikaans-onderwysers kennis behoort te neem. Waar kan die speletjie bestel word?

Alle kinders, van graad 4 tot 12, sal dit kan speel. Dit lyk vir my of die grootmense nog méér opgewonde is. Ek dink ook dat dit beter sal werk as kinders saam met volwassenes speel. Op dié manier sal hulle gouer idiome aanleer.

Bestel "Meer bek as binnegoed" hier.

 

  • 16

Kommentaar

    • Goeiedag! Dankie vir jou navraag. Ek het dit vir die ATKV aangestuur. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder

    • Goeiedag! Dankie vir jou boodskap. Ek het dit vir die ATKV aangestuur. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder

    • Baie dankie vir jou navraag! Ek stuur dit vir die ATKV aan. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder

  • Daar is 'n skakel aan die einde van die artikel: Bestel "Meer bek as binnegoed" hier. In rooi ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top