
Zuléka Smit het my aandag getrek toe ek gedurende Desember haar boekie Lea gaan skool toe onder oë gekry het.
’n Mens sê Zoe-lie-ka.
Haar nuutste boek is Ben en die groot wedstryd wat ook in Engels beskikbaar is as Ben and the big game. Ek en Zuléka het ’n tydjie gelede lekker gesels op video oor WhatsApp terwyl sy in haar motor gewag het vir een van haar kinders wat besig was met buitemuurse aktiwiteite.
Ek kon nie haar opgewondenheid oor haar nuwe boekie mis nie en sy spring weg: “Canan Moodie was by my in graad 1 gewees. En joe, daar is hy ’n Springbokspeler en hulle wen die World Cup. Hierdie nuwe boekie van my is oor teleurstelling in ’n kind se lewe. Jy weet mos hoe ’n kind streef om A-span te speel. Of jy kry daai mammas en pappas wat druk op ’n kind sit om te moet A-span speel of daar gebeur iets tydens ’n wedstryd. Pappa skree ‘gaan druk ’n drie’ of meneer sê iets anders langs die kant. So, daardie boekie gaan uit en uit oor teleurstelling. Wat gemaak as my kind teleurstelling ervaar? Jy as mamma of pappa staan hier langs die kant en jy sien hoe seer jou kind het. Hoe spreek mens dit aan of hoe maak mens dit beter? Daar is niks so erg as ’n mamma of pappa moedeloos voel en jy weet nie hoe om jou kind te help nie.”
Die Ben-reeks het alreeds vier boekies. Lea se reeks gaan ook nog aangevul word. Dieselfde temas waaroor sy skryf in die Ben-reeks, gaan dan ook aangeraak word in die Lea-reeks. Elke storie wat Zuléka skryf, is goed wat werklik met haar leerders gebeur het.
Ben en die boelies – wat maak mens as jou kind geboelie word? Dis regtig ’n tawwe tema. Ouers kom praat gewoonlik met die juffrou om die probleem te help oplos. Hoe ouer die kinders word, hoe erger word boeliegedrag. Ons moet ons kinders help sover ons kan deur hulle te leer om eers self ’n oplossing te vind, al moet ons hulle ook by ’n sielkundige kry om hulle te help om coping skills te kry, want later in die grootmenswêreld kry ons ook te doen met boelies.
Ben en die groot toets – dis die boekie waar hulle die “d” en die “b” omruil. Die storie vertel hoe maklik ’n gesonde kind skielik kan siek word omdat hulle nie die toets wil skryf nie. Die boekie gaan oor die hantering van ’n kind se angs.
Ben gaan skool toe – die boekie gaan oor wanneer die kleintjies die eerste keer skool toe gaan en hoe hulle dan sukkel om maatjies te maak. Daar is altyd vir almal maatjies, hulle moet net die regte maatjie vind.
Zuléka gee al 21 jaar onderwys by Klein-Boishaai in die Paarl en haar eerste 12 jaar was as graad 1-juffrou, en sedertdien is sy die Afrikaanse graad R-juffrou. Hulle speel lekker, word lekker vuil en sy swem elke dag graag saam met haar kindertjies.
Sy is ook ’n koshuis-mamma vir 74 koshuisseuns. “My dag begin soggens met seuns en eindig saans kwart voor tien met seuns. Liewe Jesus het darem vir my ’n dogtertjie gegee. Hy het gesien ek het ’n bietjie pienk in my lewe nodig.”
Zuléka oor haar Ben- en Lea-reekse: “Die boekies is nie myne nie – dis Liewe Jesus se boekies. Hy het gedurende Covid-tyd dit in my hart gelê om hierdie boekies te skryf. Alle eer aan Hom. Dis Sy boekies – ek is net die instrument waardeur Hy werk.”
Die Ben-reeks is geskryf vir kinders vanaf 5 tot 9 jaar oud, maar is beslis perfek vir graad 1-leerders.
Die talentvolle Zuléka het twee keer ATKV-Woordveertjies gewen: 2022 vir Ben gaan skool toe, en toe weer in 2023 vir Ben en die groot toets.
Sy begin ook ’n blog gedurende inperking om mammas te help wat toe skielik tuisjuffrou moes wees en die kindertjies help met huiswerk, want almal is mos nie gebore om juffrouens te wees nie. Dit moes baie moeilik gewees het, want almal het nie altyd geduld nie. “Ek het die blog begin daai tyd vir mammas om vir hulle te sê wat hulle kan doen om die skoolwerk makliker te maak. So, dit is uit en uit wenke en raad wat ek gee. Goed wat ek self deurgemaak het.” Met trots sê sy haar blog Uit die pen van ’n mamma en ’n juffrou het meer as 71 000 volgelinge.
Almal sal ook onthou van die video wat oraloor Facebook was oor hoe hulle groet in die oggend.
Sy is ook ’n motiveringspreker wat nog tot verlede jaar elke Saterdag by vrouegeleenthede gepraat het. Tans is daar minder geleenthede, want haar eie kinders se sportbedrywighede bepaal tans hoe haar naweke verloop. Sy sien uit daarna om oor twee of drie jaar weer meer gereeld by geleenthede op te tree. Die lekkerte van die geleenthede vir haar is die gesels met die mammas na die tyd.
Wanneer ek na die borrelende Zuléka luister, kan ek verstaan waarom sy ’n onderwyseres is. Haar passie en liefde vir kinders is duidelik sigbaar soos haar oë skitter, en is ook hoorbaar in haar borrelende stem.
Ek sien baie uit daarna om te sien hoe die Lea-reeks uitbrei, asook om Ben se nuwe avonture te volg. Lesers kan gerus onthou: Beide reekse is in Afrikaans beskikbaar en sommige titels is reeds ook in Engels beskikbaar.


Kommentaar
Fantasties. Net 'n moederhart kan sulke stories laat leef.
Altyd besig en aan die gang met skryf, tussen al haar ander pligte. Maar dit word met soveel liefde gedoen. Kinders is haar alles.