Titel: Meer as jou seerkry
Skrywer: Johannes de Villiers
ISBN: 9780624093428
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
So ’n bietjie meer as twee jaar gelede het ek die boekie Floreer van Ilse Salzwedel gelees (wie se boekeprogram elke Woensdagaand op RSG ’n gereelde lekkerte is, so tersyde). Ek onderneem dikwels om my nooit weer met enige selfhelpboek te bemoei nie, maar as ek weer sien, dan gebeur dit maar weer. Ek reken ’n mens moet maar op jou hoede bly, want tussen die 12 reëls vir die lewe, die sewe gewoontes van hoogs suksesvolle mense en al die ander stappe en metodes op die mark kan jou kop later seker lelik begin draai. Van Floreer onthou ek maar min, maar die boek het veral klem geplaas op die konsep van veerkragtigheid. Opvallend dus hoe De Villiers in Meer as jou seerkry nogal heel krities staan oor die konsep van veerkragtigheid: “Groei is nie om terug te keer na wie jy was voordat dinge verkeerd geloop het nie. Dis om die nuwe mens te word wat ’n nuwe lewe van jou vra” (bl. 37). Van De Villiers het ek al twee boeke gelees. Sy boek oor die geskiedenis van die spiritisme1 in Suid-Afrika geniet ’n soort kultusstatus in die kleine volgens my beskeie oordeel. En dan was daar die boek oor die einde van die wêreld.2 ’n Mens wonder hoekom Agter die somber gordyn nie gelys word by die ander boeke wat in Meer as jou seerkry gelys word onder die hofie “deur dieselfde skrywer” nie.
’n Mens kan nogal heelwat aflei uit die titel Meer as jou seerkry. Die kern van die argument in hierdie boek is as volg: Mense se trauma, seerkry en verlies verander hulle permanent. Niks is ooit weer presies dieselfde nie, maar uit daardie gebrokenheid kan ook weer nuwe moontlikhede ontwikkel wat sin aan die mens se bestaan verskaf. Dit gaan dus hier oor die stories wat mense weef met hulle ervaringe. Hoe lyk daardie stories? Hoewel trauma op die oog af sinneloos kan voorkom, kan daar “meer” daaruit ontwikkel. Dit herinner ’n mens aan die sogenaamde kintsugi, die Japanese kuns om stukkende erdeware met goud te restoureer, en so verkry die gebrokenheid dan groter prominensie en betekenis. By my het dit ook ’n ander klok in my kop laat afgaan. Dié van die psigoloog Viktor Frankl (1905–1997) met sy bekende Man’s search for meaning, wat in Afrikaans vertaal is deur Daniël Louw onder die titel Waarom lewe ek? (1978, HAUM). Dit het my laat blaai na die bronnelys en so waar as wat padda manel dra, daar is Frankl toe wel as bron gelys, maar ek kon buiten die bronnelys geen ander direkte verwysing na Frankl vind nie, tensy my geheue my in die steek laat. ’n Mens kan egter nie wil beweer dat De Villiers se idees presies dié van Frankl naboots nie. Daar is verskille in die twee se presiese interpretasies.
De Villiers is bekend as kenner van mindfulness en dit was seker tot ’n mate te verwagte dat hy sy idees sou laat aansluiting vind by die Boeddhisme. Hy span veral die vier edelwaarhede van die Boeddhisme in. Interessant is die manier waarop De Villiers ooreenkomste trek tussen die lewe van Siddhartha Guatama (563 vC–480 vC), beter bekend as die Boeddha, en die lewe van die katoliek Thomas van Kempen (1380–1471). De Villiers skryf nogal heelwat oor sy kinderjare in die Paarl en die indruk wat die katolieke kerk op hom gehad het, maar spesifiek Van Kempen se boek Die navolging van Christus3 wat oorspronklik in Latyn geskryf is en een van die mees vertaalde boeke ooit is. De Villiers lê die klem op die manier waarop beide die Boeddha, sowel as Van Kempen ’n lewe van eenvoud voorgehou het as die salf vir menige kwaal van die gees.
Hier na die einde van die boek verander die toon van Meer as jou seerkry dus so ’n bietjie. Nou is dit nie meer net die potensiaal van trauma in die skep van nuwe moontlikhede nie, maar die boek begin ook vrae vra oor die absolute noodsaaklikheid van ’n oorhoofse lewensdoel vir die mens. En hier is waar De Villiers se eie interpretasie van Frankl duidelik neerslag kry. ’n Mens sou nie kon sê dat Meer as jou seerkry veroordelend staan teenoor die soeke na sin in die lewe of die geneigdheid van mense om sin en betekenis te vind in hulle beroepe, verhoudinge, ensovoorts nie. Daar is seker wel in die proses ligte kritiek op die soeke na sin in die lewe as hipernorm en daar is veral eerder ’n klem op berusting in die feit dat die mens se lewe nie altyd op die oog af enige sin of doel het nie. Die feit dat die mens se gebrokenheid moontlik iewers in die toekoms tot sin kan ontwikkel, bied immers ’n skrale troos aan gebroke en getraumatiseerde mense in die situasies waarbinne hulle hul bevind. Diegene wat wel later betekenis vind in die lewe, spesifiek voortvloeiend uit hulle traumatiese ervaringe, kan daarby baat, maar diegene wat uiteindelik nie enige sin en betekenis juis insien nie, kan steeds berus in die lewe se eenvoudige vreugdes. Voeg meditasie by die mengsel en daar bestaan ’n praktiese resep waarmee die leser kan werk.
Alhoewel Meer as jou seerkry op die oog af ’n bietjie teenstrydig en onsamehangend mag voorkom, kan ’n mens die gevolgtrekking maak dat die boek verskillende modelle bied waarmee lesers kan werk wat tot verskillende behoeftes sal spreek. ’n Sleutel in die proses is die berusting by die realiteite van die lewe, in teenstelling tot die ewige rustelose verwagtinge en vooropgestelde idees van die mens wat net meer lyding tot gevolg het. Deur middel van die toepassing van die vier edelwaarhede kan die siklus van die geboorte en verlies van sin in die lewe beter bestuur word. Waar die boek aanvanklik werk met die idee dat trauma tot nuwe moontlikhede vir individue kan lei, ontwikkel die boek later tot ’n goeie gematigde kritiek teen die gejaagdheid van die mensdom, die eise van materialisme en popkultuur en gulsigheid en kompulsiewe konsumpsie. Dit is nie net legitieme kritiek nie, maar ook baie noodsaaklik in ’n wêreld waar daar dikwels te min tyd is om te dink oor wie en wat ons as mense werklik wil wees en waar ons onsself te veel definieer in terme van die verwagtinge van andere. Fassinerend in dié verband is dan De Villiers se kritiek teen die bekende filosofiese konsep van ubuntu (bl. 113), hoewel De Villiers se spesifieke interpretasie van die ubuntu-filosofie moontlik in eie reg sommige vrae by die leser kan laat.
Notas:
1 Agter die somber gordyn (2011, Griffel).
2 Die einde van die wêreld (en hoe om dit te oorleef) (2012, Tafelberg). Die wêreld was destyds veronderstel om op 21 Desember 2012 te eindig, na aanleiding van ’n Maya-kalender wat op dié dag eindig, maar De Villiers se boek was ’n algemene ondersoek na die einde van mensdomscenario’s.
3 Die navolging van Christus kan in Nederlands gelees word by die digitale bibliotheek voor de Nederlandse letteren: https://www.dbnl.org/titels/titel.php?id=thom001navo02, geraadpleeg op 02.10.2023.
Kommentaar
De Villiers se oogmerk is dus om die leser te gaslight en vol vertwyfeling te laat oftewel gas te gee en met die kop te smokkel. Te smokkelgas, as te ware. Goeie resensie.