Meer as jou seerkry deur Johannes de Villiers: ’n resensie

  • 2

Meer as jou seerkry
Johannes de Villiers
Tafelberg, 2022
ISBN: 9780624093428

Daar is sekerlik niemand wat nie hartseer, swaarkry of persoonlike teëspoed ken nie. Almal ervaar een of ander tyd ’n verlies van iemand, iets, of dinge wat nie uitgewerk het nie. Sommige mense ervaar verskriklike trauma en persoonlike terugslae waaroor daar in die media gelees kan word, terwyl ander stilweg en ongesiens temas van swaarkry dra en probeer verwerk. Hoe om persoonlike seerkry te hanteer en sinvol verder te leef is die fokus van vele boeke in die selfhelpgenre, hetsy deur kenners op die gebied of deur mense wat ’n unieke pad met fisieke of emosionele terugslae gestap het en daarna bepaalde insigte met lesers deel.

.........
Hoe om persoonlike seerkry te hanteer en sinvol verder te leef is die fokus van vele boeke in die selfhelpgenre, hetsy deur kenners op die gebied of deur mense wat ’n unieke pad met fisieke of emosionele terugslae gestap het en daarna bepaalde insigte met lesers deel.
............

Meer as jou seerkry, met die subtitel Groei as jy stukkend is, is die derde werk van Johannes de Villiers wat tande in die onderwerp van persoonlike vervulling inslaan. Op eerste oogopslag mag die titel en tema van hierdie boek sekere vooroordele opwek as gevolg van die “pienkboekie-fenomeen” en die volume selfhelpboeke wat wêreldwyd dieselfde tema onder die loep neem. Diegene wat as gevolg hiervan aanvanklik ’n afgewaterde “tienstapbenadering tot ’n vervulde lewe” tussen die bladsye van De Villiers se boek verwag, behoort gelukkig baie vinnig agter te kom dat dit nie hier die geval is nie. Johannes de Villiers het ervaring as ’n joernalis, en dit is duidelik dat hy kán skryf. Hy het verder ’n bewese rekord as joga-instrukteur, asook as begeleider in meditasie (hy skryf ook en verwys daarna as bewustelikheid/”mindfulness”), en demonstreer dat hy nie net sy onderwerp teoreties goed ken nie, maar ook prakties lééf. In Meer as jou seerkry gaan De Villiers op ’n behendige manier van die standpunt af uit dat persoonlike pyn nie iets is wat mens net hoef te oorleef nie, maar ’n geleentheid is tot persoonlike groei en ontwikkeling. Hy verwys na hierdie proses as posttraumatiese groei, maar dit is omtrent so ver as wat hy gaan om teoretiese verwysings en terme te gebruik. Die boek lees dus maklik en die leser raak nie verstrengel in akademiese en abstrakte goëlery nie. Moet egter geen fout maak nie – jy kry hier oorgenoeg substansiële inhoud en pitkos om aan te kou en te herkou.

Meer as jou seerkry word losweg verdeel in vier onderafdelings, maar word nie oorgestruktureer nie. Omdat hoofstukke gemaklik in mekaar in vloei en nie duidelik afgebaken is in verskillende temas nie, kry ’n mens die indruk dat die uitleg van die hoofstukke soms lukraak of onnodig is. De Villiers se gemaklike skryfstyl keer egter dat die losse uitleg die leser hinder, en het tot gevolg dat die boek eintlik een oorhoofse tema vorm wat in een hap verorber kan word.

Die skrywer verwys deurgaans na ware gevallestudies van mense wat hy ken, mee te doen gehad het, of met wie hy ’n pad gestap het. Die verhale van gewone (en soms meer bekende) individue word met empatie, maar sonder stroperigheid, aangebied en dien as ’n konstante vermaning om die leser daaraan te herinner dat swaarkry en seerkry deel van almal se lewens is. Die leser kan vervolgens nie anders as om kennis te neem daarvan hoedat die lewe sy eie pad loop ten spyte van mense se beplanning en verwagtinge nie, en hoedat niemand gevrywaar is teen rampspoed, ongeluk en verlies nie. De Villiers deel ook sonder om te skroom hoe sy eie lewenspad onverwags skeef geloop het, en boesem hiermee vertroue by die leser in deurdat hy nie vanuit ’n ivoortoring preek oor lewensgeluk nie. “Ek het dan so lekker hoog gevlieg,” skryf hy. “’n Jaar tevore het ek duur wyn op my spoggerige stoep gedrink; nou drink ek warm witwyn in die bad.”

In Meer as jou seerkry word geen kitsoplossings voorgehou nie. De Villiers wy die grootste gedeelte van sy fokus aan die konsep van rou, en veral aan ontkenning. Hy gaan van die veronderstelling uit dat die lewe seermaak (hy noem dit ’n “edelwaarheid”, in die tradisie van M Scott Peck). De Villiers slaan die spyker op die kop deur die moderne (ongeslaagde) neiging om persoonlike pyn te probeer vermy of te omseil, sterk te bevraagteken. Wat help dit om persoonlike pyn te ontken of te verdoof? word daar pertinent gevra, en die leser word herhaaldelik met die ongemaklike realiteit gekonfronteer dat die rede vir seerkry geleë is in hoe daar aan die verkeerde idee oor die lewe vasgeklou word: “En tog leef baie van ons asof ons ons lewe van ’n spyskaart gekies het. Ons dink daar bestaan ’n hele aantal moontlike lewens, party van hulle sonder enige pyn, dat ons eerder die een sou wou gehad het waar ons nie pyn sou beleef nie.”

Johannes de Villiers fokus sterk daarop dat die teenvoeter vir ontkenning geleë is in bewustelikheid. Waardevolle tegnieke en metodes, sommige stap vir stap, word netjies en verstaanbaar aan die leser gebied. Sy fokus op bewustelikheid spruit nie sommer uit ’n esoteriese plek van oorsprong nie, en komplementeer opinies van internasionale kenners op hierdie gebied, asook goeie en geldige navorsing oor sielkundige trauma. ’n Mens sou seker kritiek kon uitspreek teen De Villiers se fokus op bewustelikheid as die grootste fokus in die verwerking van persoonlike trauma, maar hy is immers ’n kenner op hierdie gebied, en sy benadering is heeltemal in lyn met hoe daar deesdae oor die verwerking van persoonlike trauma gedink word. Die leser word prakties begelei met metodes en tegnieke wat waardevol en nuttig kan wees.

..........
Die leser word telkemale daarvan bewus gemaak dat Meer as jou seerkry nie net die persoonlike mymeringe van ’n joga-instrukteur is nie, maar ’n weldeurdagte dans met hoe daar deesdae deur gesaghebbende mense na persoonlike verlies en swaarkry gekyk word.
...........

Die leser word telkemale daarvan bewus gemaak dat Meer as jou seerkry nie net die persoonlike mymeringe van ’n joga-instrukteur is nie, maar ’n weldeurdagte dans met hoe daar deesdae deur gesaghebbende mense na persoonlike verlies en swaarkry gekyk word. Verskeie anekdotes en verwysings hou die leser geanker in die wete dat daar wêreldwyd ’n groeiende bewussyn is oor hoe negatiewe ervarings in betekenis omskep kan word sonder om onrealistiese uitkomste te verwag. Verwysings na onder ander die werk van Brené Brown, Joseph Campbell, Bessel van der Kolk, Rick Warren en vele meer word gemaklik integreer met De Villiers se eie stem, en bevestig vir die leser dat die skrywer van hierdie boek weet waarvan hy praat.

Meer as jou seerkry behoort geen leser se tyd te mors nie. Trouens, hierdie boek kan gelees en weer gelees word, en kan as ’n waardevolle handleiding in die hantering van die lewe se felle aanslae ingespan word.

Lees ook:

Eerste slukkie: Meer as jou seerkry deur Johannes de Villiers

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top