Martjie Bosman (1954–)

  • 1
Foto: Izak de Vries

Sêgoed van Martjie Bosman

Hoekom poësie? “Miskien omdat ’n mens mooi goed met min woorde kan sê en ek lui is. Maar al het ’n gedig minder woorde as ’n roman, is die proses geensins makliker nie. ’n Mens moet ’n slag hê om deur prosa ’n storie te kan vertel. Dis iets wat ek nog nie probeer doen het nie. Ek het al stories uitgedink, maar nog nooit so ver gekom om dit op papier te sit nie. Ek hou van die krag van suggestie van die poësie. Dis lekker om ’n frase te gebruik waaraan ’n klomp betekenisse geheg kan word.” (Beeld, 12 April 2003)

Haar ideale resensie: “Een wat ’n sleutel vir die lesers gee. Te dikwels is ons resensies niks meer as waarde-oordele nie, en boonop so kort dat die resensent dit nie behoorlik kan motiveer nie.” (Rapport, 13 April 2003)

Oor die Ingrid Jonker-prys: “Alhoewel ek nie juis aanklank vind by Ingrid Jonker se poësie nie, is die prys nietemin betekenisvol. Ek is nie jonk nie. Ek is nie ’n voortvarende jongeling wat ’n digbundel gepubliseer het nie. Dit het baie moed geverg en die prys is ’n bevestiging dat ander mense ook dink dit was die moeite werd en dat ek nie drooggemaak het nie. Dit beteken baie.” (Rapport, 13 April 2003)

“Die skryfproses is moeilik. En wanneer jy dit wat jy geskryf het, die wêreld instuur, ontbloot jy jouself verskriklik. Dié ontbloting is deel van die verskrikking én die plesier van die skeppende proses.” (Beeld, 12 April 2003)

“Skryf is kommunikasie; jy wil immers hê jou werk moet gelees word.” (Beeld, 12 April 2003)

“Ek dig oor enigiets wat my aangryp en dig om woorde te kry vir ervarings wat ek nie heeltemal begryp nie. Ek probeer ook om my verwondering in sekere situasies in woorde om te sit. Om klarigheid te kry oor dinge en om iets van die gevoelswaarde van ’n ervaring te kommunikeer.” (Beeld, 12 April 2003)

Oor die moontlikheid dat haar gedigte getoonset kan word: “Laurinda Hofmeyr het eenkeer gesê ’n gedig moet ’n sekere ritme hê wat tot haar spreek. Ek dink nie my werk is toonsetbaar nie. EK dink nie dit het daardie soort ritme nie.” (Beeld, 12 April 2003)

Gebore en getoë

Martjie Bosman is op 19 September 1954 gebore, die oudste van ses kinders. Sy word in ’n dorp groot – haar ma en pa was albei taalonderwysers in Groblersdal. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal.

“Daar was altyd boeke in ons huis,” vertel Martjie aan Stephanie Nieuwoudt. (Beeld, 12 April 2003) “Maar dit was al van kleins af vir my moeilik om te skryf. Ek het Donderdagaande deur die huis gedool en gekla dat ek nie weet waaroor ek moet skryf vir stelwerk nie. Ek en my pa, my Afrikaans-onderwyser, het dan altyd vasgesit omdat hy gemeen het ek het twee weke tyd gehad om die opstel te skryf.

“Boeke en lees was ’n baie belangrike deel van die Bosman-huishouding,” het sy voorts gesê. “Wanneer ons met vakansie gegaan het, het ons boeke saamgeneem waaruit ons hardop kon voorlees. Lees in ons huis was ’n sosiale bedrywigheid. My pa het ook vir my as laerskoolkind boeke gegee om te lees wat eintlik te moeilik was. Maar ek was gevlei dat hy geglo het ek kan dit lees.”

Verdere studie en werk

Na skool is Martjie na die Universiteit van Pretoria, waar sy haar BA-graad behaal. In 1985 behaal sy haar meestersgraad in Afrikaanse letterkunde. In 1981 is sy aangestel as navorser by die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), waar haar kollegas die letterkundige Francis Galloway en die digter Johann Lodewyk Marais was. Sy het ook ervaring as sosiaal-wetenskaplike in die Laeveld en KwaZulu-Natal opgedoen en het tussen 1991 en 2000 saam met Johann Lodewyk Marais aan navorsingsprojekte in landelike gebiede gewerk.

Sy voel dat haar vertroue in haar bestaansreg geweldig ondermyn is toe die mat by die RGN onder haar uit gepluk is en die afdelings vir letterkundige en geskiedkundige navorsing gesluit het. “Wêreldwyd is daar ’n tendens om geesteswetenskaplike dissiplines af te skaal. Dit kring uit na die universiteite en bring verskeie probleme mee – soos dat al hoe minder onderwysers in dié vakgebiede opgelei word. Taaldepartemente krimp – ondanks die feit dal almal die waarde van kommunikasie besef.” (aan Stephanie Nieuwoudt in Beeld van 12 April 2003)

Vanaf 2000 werk Martjie by die SAUK se Klankargief, waar sy verantwoordelik was vir die argivering van Afrikaanse radioprogramme en ander klankmateriaal. In 2004 is sy as redakteur by Protea Boekhuis in Pretoria aangestel, waar sy gou ’n reputasie as ’n “oerdeeglike” redakteur opdoen.

Van Martjie Bosman se gedigte het sedert 1990 (voor die publikasie van haar bundel Landelik) reeds in literêre tydskrifte verskyn, asook in bloemlesings soos Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997) wat gemik is op die ekologie. Ook in 1997 het 12 van haar gedigte in die bloemlesing Nuwe stemme 1 verskyn. ’n Aantal artikels en ander publikasies oor sosiaal-wetenskaplike en literêre onderwerpe het ook al uit haar pen verskyn.

In ’n onderhoud met Johann Lodewyk Marais op Versindaba wou hy by Martjie weet of haar werk en werksomgewing bygedra het tot die verruiming van die onderwerpe waaroor sy skryf.

Hierop het Martjie as volg geantwoord: “Die fisiese, ruimtelike omgewing waarin ek werk het sekerlik ’n bydrae gelewer tot my skryfwerk, maar ek dink nie die aard van my werk self nie. Vier jaar se heen en weer ry na die SAUK in Johannesburg het aanleiding gegee tot die skryf van die gedig ‘Pendelaar, N1’ in Toevallige tekens en die drie gedigte vir Aucklandpark het weer ontstaan as uitvloeisel van my stappery oor etenstye buite die SAUK-gebou, maar ek dink nie enige gedigte het hulle ontstaan direk te danke aan my werk as argivaris vir Afrikaans nie, al was programme oor die letterkunde en radiohoorspele ’n belangrike deel van my werk.

“Ook die werk as redakteur is nie regtig bevorderlik vir eie skeppende skryfwerk nie. Om as poësieredakteur die beste moontlike bemoeienis met ander digters se tekste te maak, vra dat ek eintlik my eie styl en my eie skryfwerk moet opskort of tussen hakies plaas: Ek probeer my indink, inlééf in die digter voor my se werk en as ek enige aanbevelings maak, moet dit in lyn wees met hierdie digter se werk. Dit gee soms ure se geworstel af met enkele woorde of enkele reëls, veral met digters soos jy en Daniel Hugo wat lettergrepe tel! Enigiets wat ’n mens dan wil voorstel, mag nie die perk van agt of tien lettergrepe per reël van daardie betrokke gedig oorskry nie of te min wees nie, en dis nogal ’n groot uitdaging vir die redakteur. Ook Jacobus van der Riet se sonnette was besonder moeilik. En soms het digters ’n eie ritme wat ek nie noodwendig kan peil nie, en dan praat ons maklik by mekaar verby.”

Sy debuteer in 2002 by Protea Boekhuis met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys in 2003 ontvang.

In die vroeë 1990’s het sy ’n bundel aan Human & Rousseau voorgelê en is dit positief deur die keurders aanvaar. Maar die siekte en dood van haar redakteur, Ampie van Straten, het daartoe gelei dat dit op die ou end nie gepubliseer is nie. “Daarna was ek in ’n lugleegte,” sê sy aan Sonja Loots in Rapport (13 April 2003). “Ek het niemand geken aan wie ek dit kon voorlê nie. En toe kom die tyd dat dit so duidelik geword het dat die Kaapse uitgewers nie meer poësie uitgee nie. Ek het kontak gehad met ander digters en het gehoor bundels word afgekeur as die gevestigde uitgewers se kwotas vir digbundels vol is. Gelukkig het Protea Boekhuis toe op die toneel verskyn.”

Martjie dink die wêreld van haar uitgewer, Nicol Stassen. “Hy dink nie net aan verkoopsyfers nie. Hy het visie. Ek dink dis wat die Afrikaanse letterkunde en kultuurwêreld nou nodig het. Visies – al gaan dit opofferings verg en nie noodwendig baie winsgewend wees nie.” (Rapport, 13 April 2003)

Sy was baie bly toe Nicol instem om haar bundel, wat van die gedigte bevat wat in 1990 afgekeur is, uit te gee, want, sê sy aan Loots, “ek skryf nie net om tot klarigheid te kom nie, maar ek wil, soos alle digters, geléés word. Dis hoekom jy publiseer en nie tevrede bly met ’n laai vol verse nie. Jy skryf omdat jy dink jy lewer ’n bydrae tot die diskoers. Jy wil kommunikeer.”

Nog ’n rede vir haar laat debuut is dalk die feit dat sy as navorser by die RGN in “hoë geselskap” gewerk het en sy nie gedink het dat sy iets het om te sê nie. “Dit was intimiderend. Jy moet in ’n sekere modus wees om gedigte te skryf. Terwyl jy besig is om akademiese verslae op te stel, is daar nie plek in jou kop vir die poësiemodus nie.” (Beeld, 12 April 2003)

Sy beskryf Landelik as die produk van ’n tien jaar lange worsteling oor die Afrikaner se plek in Suid-Afrika. “Ek het gewonder of ons hier hoort,” vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt. “Die Afrikaner is deur ’n baie selfkritiese fase, maar ek sien klein tekens dat die Afrikaner weer sy selfvertroue herwin. ’n Mens bly egter deurentyd bewus van die groot gesprekke om jou.”

Martjie en Ingrid Jonker verjaar op dieselfde dag – “dalk was dit in die sterre” dat sy juis hierdie prys gewen het, spot sy teenoor Stephanie Nieuwoudt. (Beeld, 12 April 2003) “Wanneer jy so oud soos ek is – 48 – wanneer jy debuteer, gaan dit met groot onsekerheid gepaard. Mense het meer durf. Vir my was dit ’n geweldige waagstuk. Maar die erkenning is ’n bevestiging dat dit wel die moeite werd was om deur al die pyne van die digproses te gaan. Die Ingrid Jonker-prys is spesiaal, want dit word deur digters aan digters toegeken. Dis nie ’n akademiese prys nie. Dit is ook ’n aansporing om aan te hou skryf en weer na die handvol gedigte in my laai te kyk.”

Martjie sê aan Stephanie Nieuwoudt in Beeld (10 April 2003) dat sy “verstom en dankbaar” oor die Ingrid Jonker-prys is. “My bundel het enkele maande gelede verskyn en ek het gedink dit was dalk te onlangs om vir die prys in aanmerking te kom.”

Nicol Stassen, uitgewer van Protea Boekhuis, was baie trots daarop dat vier van die vyf digbundels wat die kortlys vir die prys gehaal het, uit sy stal gekom het. Hy sê aan Nieuwoudt dat Martjie se gedigte “deurgewerk en goed afgerond is. Haar klassieke styl het dalk die beoordelaars beïndruk.”

Joan Hambidge (Rapport, 16 Maart 2003) skryf dat Martjie se debuutbundel ’n handvol sterk, onthoubare verse bevat: “Daar is by sommige digters wat in versamelbundels soos Nuwe stemme publiseer, nie meer ongeoeste verse nie, maar by sommiges, soos Bosman, is daar ’n sterk poëtikale visie en blik op die wêreld wat ’n enkelbundel moontlik maak. Die digter kyk na die ekologie en die mens se verbintenis met die heelal. Vir ’n debutant skryf sy reeds wég van die self (’n bonuspunt). ‘Laaste luiperd’ is die sterkste vers in die bundel en een wat getuig van duidelike talent. Die digterlike onbewuste in hierdie bundel val uit in ’n kartering van die letterlike en fantasmagoriese wêreld. Dikwels is daar nog ’n kinderlike verwondering te bespeur en juis hierom is die wrede pyn van hierdie land vir die spreker soms onhanteerbaar. (...)

“Die religieuse verse in die vierde afdeling is treffend en die gestalteverse in die vyfde afdeling onthoubaar, maar nie almal ewe tegnies bedrewe nie. Bosman is op haar beste as sy oor die stiltes van situasies skryf of subtekste ontgin. Persoonlik verkies ek haar emosionele verse bó haar intellektueel-bespiegelende verse. (...) ’n Strenger keurdershand kon moontlik van die mindere verse, veral aan die begin van die bundel, uitgelaat het, en ’n bietjie langer wag kon hierdie bundel nog sterker gemaak het, maar dit is nietemin ’n gawe debuut.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 24 Maart 2003) skryf as volg oor Landelik: “Martjie se ekologiese sensitiwiteit spreek uit haar eerste solobundel met sy sprekende titel. Landelik het nie net betrekking op die platteland en die natuur nie. Dit druk ook ’n verbondenheidsgevoel met Suid-Afrika, Afrika en by uitbreiding met die hele aarde uit. Soos die bundelmotto (’n aanhaling uit NP Van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver) en die bundelopdrag Vir die Anna Marias en Martha Alettas) uit die staanspoor suggereer, word ook die Afrikaanse erfenis deur die ekologiese verantwoordelikheidsin gedek. Die uiteindelik optimistiese tematiese kompleks, uitgedruk in redelik beheerste versvorme en dikwels treffende segging, lewer ’n aantreklike debuutbundel wat sy pragomslag grootliks waardig is.

“Die mens se beheersingsdrang het nie net vir die omgewing nie, maar ook vir homself vernietigende gevolge en dit is breedweg die tematiek van afdeling ses, waarin ’n aantal van die beste gedigte in die bundel voorkom, waarvan ‘Reisvaardig’, ‘Die groen vinger van God’, ‘Laaste Luiperd’, ‘Walvislied’ en ‘Voorstad’ enkeles is. Ondanks seker huiwerighede in onderdele van die bundel bewys gedigte soos hier bo dat Landelik ’n sterk debuut is wat Bosman met selfvertroue oor haar digterskap behoort te vul.”

Daniel Hugo (Die Burger, 19 Mei 2003) is veral beïndruk met die volgende: “Die selfversekerde wyse waarop Bosman oor groot én intieme ruimtes kan skryf. Sy verken enersyds die wye Suid-Afrikaanse landskap en andersyds die beperkte kontoere van die binnehuis (veral in afdeling IV). Daar is wel mindere gedigte wat deur die bundeleenheid gedra moet word, soos byna al die gedigte in die eerste twee afdelings – met die uitsondering van ‘Soektog van die eenhoring’ en ‘Wrede winter’ (met sy Eugène Marais-eggo in die slotreëls). Bosman is nie ’n vernuwer van die Afrikaanse digkuns nie, maar sy betree reeds gebaande paaie met ’n kenmerkende eie voetval.”

Die blywende indruk wat die lees van Landelik op Philip John (Beeld, 5 Mei 2003) laat, is dat die “sosiale en die intermenslike grootliks afwesig is of ver op die agtergrond geskuif is. In die konsekwente en intense manier waarop die rug gekeer word op die kontemporêre wêreld, spesifiek die sosiale lewe in die moderne grootstad, herken ’n mens die sfeer van karakters in JM Coetzee se The lives of animals. Net soos met Coetzee se boek, wat in ’n groot mate handel oor die verhouding tussen mens/gemeenskap en natuur, kan jy by Landelik vrae stel oor ’n konsekwente vooropstelling van die natuurlike: as die vooropstelling van die natuur te ver gedryf word, het dit nie tot gevolg dat die menslike dimensie uit die oog verloor word nie? Die quiëtistiese gerigtheid (die quiëtisme is ’n vorm van religieuse mistiek) op die verlede en die ‘ontydige’ van die natuur laat ’n mens verder wonder: kan so ’n ingesteldheid dien as ’n basis vir ’n groter korpus gedigte?

“Dit is een van die voortreflikhede van Landelik dat vrae soos hierdie op die spits gedryf word, sonder dat dit aan die leser opgedwing word. Die intensiteit en behendigheid – en laat ’n mens byvoeg en sê, toeganklikheid – waarmee ’n sekere ingesteldheid poëties tot sy logiese konsekwensie gevoer word, maak van Landelik ’n onderhoudende lees- en dinkervaring.”

Volgens Fanie Olivier (Literator, November 2003) is Bosman se gedigte in terme van versversorging redelik heg gebind. “Daar is selde sprake van formele versbou, maar vol eindryme duik orals op, terwyl sy deur middel van ryk assonansies die eenheid van die vers verseker. Die verse wil ook in gesprek tree met ander tekste uit ons poësietradisie (Van Wyk Louw, Opperman en Breyten Breytenbach), en Bosman doen dit sonder dat dit vergesog en vertonerig word.

“Daarteenoor is daar rondom die dieptestruktuur van die bundel te veel gedigte met ’n slotsom wat uitdruklik geformuleer word. Hierdeur word die suggestiewe ruimte van die vers ingeperk. Soms gebeur dit met ’n retoriese vraag, soms met ’n eksplisiete stelling soos in die mooi ‘Laaste luiperd’. Dit is asof die digter net nie genoeg vertroue het in die ruimte en die werklikheid wat sy in haar gedigte tot stand bring nie.

“Uiteindelik is Landelik ’n ongelyke bundel. Daar is ’n handvol werklike knap gedigte (wat bewys dat Bosman inderdaad ’n beduidende digter kan wees), maar daar is myns insiens nog te veel gedigte wat nie met digterlike mening, poëtiese drif en durf uit die verf gekom het nie.”

Na die verskyning van Landelik wou Martjie nie uitsprake maak oor die bestaansreg van die Afrikaanse digkuns nie, “want skrywers het ’n vermoë om te verras met die onverwagse wending wat hul werk inslaan”. Maar sy was tog opgewonde oor die nuwe moontlikhede in poësie, sê sy aan Nieuwoudt.

“Poësie is nie meer net ’n private dingetjie van lees nie. Kyk na die rock-lirieke van Piet Botha, Koos Kombuis, die Brixton Moord & Roof Orkes, Valiant Swart en ander. Soveel van hul lirieke is gegrond op poësie.

“Daar is ander terreine van die poësie wat ook verken kan word. Ons moenie só neusoptrekkerig wees oor die kunsvorms wat nie streng literêr is nie dat ons vasstaar teen die gedrukte formaat en nie die ander moontlikhede raaksien nie. Daar was ’n tyd toe hoogs intellektuele digters se werk te moeilik was vir die gewone mens. Maar daar was steeds ’n behoefte om mooi woorde te hoor. Dit is waarom sangers gedigte gebruik het.”

In 2010, agt jaar ná haar debuut, publiseer Protea Boekhuis Martjie se tweede digbundel onder die titel Toevallige tekens. Die uitgewers beskryf die verse in die bundel in hulle inligtingstuk as volg: “Om die verse in hierdie digbundel te lees is soos om spore te volg. In die eerste afdeling word die verwoestende gevolge op veral vroue en kinders van die oorlog en armoede in Mosambiek en Rwanda getoon.

“Die tweede afdeling word gekenmerk deur bedreigings wat elke Suid-Afrikaner ervaar: jou handsak word uit jou motor gesteel, ’n indringer wil die veilige hawe van jou huis betree, die dood wag dalk op die snelweg wat jy elke dag ry. Ná die aanslag van die bose van afdelings 1 en 2, word afdeling 3 gekenmerk deur mooi en gerusstellende herinneringe van ’n verblyf op ’n rustige dorp.

“In afdeling 4 kom kunstenaars, musikante en musiek aan die bod. Die laaste afdeling toon tekens van nuwe lewe, seisoene en tye aan. Bosman toon in hierdie bundel dus tekens van die dood en verval aan, maar ook van hoop, lewe en onverwagse skoonheid.”

Joan Hambidge is die resensent in Volksblad (22 Januarie 2011) en vir haar dui die titel reeds daarop dat die leser die tekens en spore in Toevallige tekens baie stip sal moet volg: “Die teken as teiken dus en ’n mens word telkens bewus van ’n volgehoue semiotiese spel met die leser. (…)

“Bosman bewys weer met haar tweede bundel dat sy ’n knap digter is wat aan elke beeld en woord aandag gee. Haar leser word bekoor deur die tekens wat jy moet snap: foto’s, musiek, mense, diere se geluide.

“Die gedigte lyk op die oog af sober en in beheer – onder is daar ’n melancholie wat by elke herlees ’n mens dieper tref. Dit is ’n bundel oor ‘vae en ontwykende drome’ wat helder en stip verwoord word. Alles is hier dringend in klein tekens op papier gemerk, om die digter aan te haal.”

Toevallige tekens is net soos Landelik ’n bundel wat spreek van deeglike beplanning en is ook ’n bundel poësie wat goed versorg is,” begin Heilna du Plooy haar resensie in Literator (April 2011).

“Die sorgsame aanbieding begin met die buiteblad waarop daar ’n windverwaaide en gebreekte blom van die purperwind, ook bekend as die eendagblom, verskyn. Die stukkende blomblare in blou is geplaas teen ’n ligte gelerige agtergrond waarop daar ’n musiekpartituur afgedruk is. Twee belangrike temas in die bundel is hiermee reeds aan die orde gestel: breekbaarheid en verganklikheid asook, via die musiekpartituur, die kunste en estetiese intertekste. (…)

“Die gedigte is geskryf in ’n sober, onopgesmukte styl wat goed pas by die tematiek. Die verkenning van ander Afrikalande soos Mosambiek en Rwanda bring ’n wyer tematiek in die Afrikaanse poësie onder woorde. Dit is deurdagte poësie, wat tegnies goed afgerond is en ’n goeie poëtiese aanvoeling weerspieël. Dit is egter veral in die eerlikheid en gebalanseerdheid van die gedigte waarin daar oortuigingskrag lê. Afrika het sy verskriklike kante en Suid-Afrika kan ’n land van vrees en skrik wees – maar die kontinent en die land is ook die pragtige natuurskone plek wat ons ken en waaruit ons herinnerings kom. (…)

“Die leser word met sensitiewe en intelligente poësie gekonfronteer, daar is diepgang, eerlikheid en aktualiteit wat boei, en baie lesers sal met die verse kan identifiseer.”

Vir Zandra Bezuidenhout (Rapport Boeke, 2 Januarie 2011) bevestig Martjie Bosman met Toevallige tekens die belofte wat haar debuut ingehou het: “Die bundeltitel is pittig en betekenisvol: soos klein verstellings in die musiekpartituur ’n wending in klank meebring, kan nietige, onverwagse afwykings of verskuiwings in die alledaagse leefwêreld gewone dinge nuut maak.

“Bosman lei haar leser om hierdie tekens raak te lees; om ‘bybetekenisse en bowetone’ raak te hoor en te wonder oor die ‘toevalligheid’ daarvan.

“Soos in haar vroeëre werk maak Bosman vryelik gebruik van natuurbeelde. Op eerste vlak word die leser maklik meegevoer deur ’n geskakeerde aanbod van die inheemse. Maar bewus dat verrukking onder die oppervlak van taal en dinge lê, streef Bosman na die ombuig van taal wat in sy andersheid poësie word. (…)

“Voornemende digters kan veel by Bosman leer. Haar gedigte is helder, maar vol bybetekenisse wat sowel die oningewyde leser as die poësiekenner sal ontroer en verras.”

Weer is daar ’n redelike lang tydperk wat verloop tussen die publikasie van Martjie se tweede en derde digbundel. Haar derde bundel, Vloeibare middelpunt, word in 2016 by Protea Boekhuis gepubliseer.

Martjie vertel aan Johann Lodewyk Marais op Versindaba dat die ruimtes waarin sy haar op ’n gegewe tyd bevind, ’n invloed het op haar verse; dus is dit die rede waarom haar gedigte in Vloeibare middelpunt nie meer so op die landelike gerig is nie: “Ek kom nie meer so baie in landelike omgewings nie, en probeer ook om meer bewustelik te leef in die stad – om teenwoordig te wees, werklik te ervaar daar waar ek is. Ek het dit as ’n uitdaging aan myself gestel om meer op te let na wat om my aangaan en waar te neem wanneer ek agter my motor se stuurwiel inskuif, en nie die hele tyd te beplan of te dink oor wat aan die einde van die rit voorlê of wat ek oor die radio hoor nie. Die gevolg was meer gedigte oor Pretoria.”

Vir Marais is daar wel sprake van Martjie se betrokkenheid by sosiale kwessies in Suid-Afrika, soos blyk uit gedigte soos “Kanna hy kô hystoe”, “Blok myself” en “The powers that be”, maar daar is minder as in die vorige bundels.

Hierop reageer Martjie as volg: “In die vorige twee bundels was daar meer gedigte oor die aktualiteit, maar op hierdie stadium van ons geskiedenis beleef ek die Afrikaner as gemarginaliseer, sonder inspraak, selfs sonder taal. Poësie in Afrikaans oor landsvraagstukke is nie veel meer as ’n binnegesprek oor sake wat al in talle forums opgehaal is en werklik nie veel nuut gaan bydra nie. Dit beteken nie dat ek my terugtrek in die vermaledyde ivoortoring nie, net dat ek totaal ontmagtig voel.”

In die sesde afdeling van Vloeibare middelpunt is daar gedigte wat afspeel in lande en stede in die noordelike halfrond – Cambridge, Oxford, Edinburgh, Ysland en Duitsland. Oor haar belangstelling in vreemde plekke vertel Martjie aan Marais op Versindaba: “JH van den Berg het iewers geskryf dat ’n mens skerper herinneringe aan vakansies op ander plekke het omdat jy dan los is van alledaagse kwellinge. Wanneer ’n mens in die buiteland is, plaas jy regtig groot afstand tussen die gewone lewe en die vreemde plek waar jy jou bevind en kan jy konsentreer met al jou sintuie en jou bewussyn. Jy moet ook konsentreer, anders verdwaal jy! Maar dit het waarskynlik ook te maak met jou instelling teenoor die nuwe ervaring: Moontlik gaan jy nooit weer op hierdie plek kom nie, dus moet jy soveel as moontlik inneem. Waarom ek daarin belangstel om plekke in die buiteland te besoek? Baie dikwels beplan ek om ’n plek te besoek omdat my belangstelling in dié plekke geprikkel is deur wat ek tevore gelees het (soos Lindisfarne), maar soms duik ’n geleentheid op wat ek net nie deur die vingers kan laat glip nie.”

Oor bogenoemde gedigte skryf Dewald Koen op LitNet: “Bosman se fyn waarnemingsvermoë as die reisiger-as-waarnemer is veral opvallend. Soortgelyk aan Hambidge in talle van haar reisgedigte beskryf Bosman die vreemde plekke as kontaksones waar die buitestander haar bevind. Weer eens vind die reismotief ook aanklank by die titel waarin die reisiger as deel van die vloeibare middelpunt beskou kan word – die reisiger-waarnemer is die subjek wat in beide tyd en ruimte oor selfs landsgrense heen beweeg.”

Koen sluit sy resensie van Vloeibare middelpunt af: “Lesers moet hulself nie deur die ooglopende eenvoud van sommige gedigte laat mislei nie. Bosman se spel met woorde is soos ’n goedgeorkestreerde simfonie van klanke en beelde wat die sintuiglike waarnemingsvermoë van die leser op kreatiewe wyse prikkel. Vanaf die programgedig ‘Oidipus’ tot die laaste afdeling bied Bosman se bundel ’n ryk skakering van gedigte wat allerlei temas aanraak. Die gedigte is toeganklik en sal by ’n wye verskeidenheid poësielesers aanklank vind. Met hierdie bundel bou Bosman voort op die sukses van haar vorige bundels. Vloeibare middelpunt is ’n welkome toevoeging tot Bosman se oeuvre en die Afrikaanse woordkuns.”

In Vrouekeur van 13 Januarie 2017 neem Willie Burger Vloeibare middelpunt onder die loep: “In hierdie bundel kom ’n mens in vers ná vers onder die indruk van Martjie Bosman se meesterlike vakmanskap en die sorgvuldige afgewerktheid van haar gedigte. Elke woord is versigtig gekies en elke beeld en metafoor met sorg gekonstrueer.

“Haar verse troon tegnies bo baie tydgenootlike digters se werk uit en haar fyn waarnemings word só raak verwoord dat ’n mens sommer lus kry om die verse weer en weer te lees. Soos ’n mens van goeie poësie verwag, steek beelde en beskrywings uit haar gedigte onwillekeurig in ’n mens se geheue vas. Kyk byvoorbeeld na hierdie beskrywing van die jakarandas in Pretoria – ek is seker jy sal van nou af nooit weer die pers bome sien sonder om aan hierdie beeld herinner te word nie:

Soos tantes van vroeër, mollig en mild,
staan die jakarandas langs die strate,
hul koppe, vars gewas en ligpers ge-rinse,
na vore gebuig om die jongste nuus
oor en weer te fluister op die bries. (…)

“Deur benutting van ’n ruim woordeskat en wye verwysingsveld kry Bosman se poësie ook ’n klankrykheid wat ’n mens laat voel jy wil die gedigte hardop lees. Soos in haar vorige bundels is ’n bewustheid van die aarde en natuur telkens opvallend. Dit is pretensielose en kragtige poësie wat ook van kennis oor mense en liefde, teleurstellings en dankbare ervarings getuig.”

Ook Joan Hambidge (Beeld, 1 Augustus 2016) is beïndruk met Martjie Bosman se digterlike vermoëns in Vloeibare middelpunt: “Die tweede bundel is altyd ’n gevreesde hekkie binne enige digterlike bestaan. Hieroor het die digter moeiteloos geseil en met ’n derde komplekse bundel, wat handel oor musiek, die liefde, dood, reis en landskappe, bevestig Bosman haar besonderse posisie. (…)

“Ons vind hier ’n digter wat op intelligente wyse besig is met ’n bestekopname en in vreemde landskappe haar eie digterlike woorde plaas teen ’n groter ‘backdrop’. Ook die liggaam word blootgestel wanneer indrukke of ervarings deur haar ‘metafore bars’. Maar die maak van kuns en gedigte word gesatiriseer in ‘Openbare kuns’. Dis alles nie loodsware erns nie, want die tannies wat sit en brei lyk na die langwol-Yslandskaap. (…)

“Hierdie bundel bevat egter nie ekologies-politiek gedrewe of ‘groen’ verse nie; dit is eerder gedigte wat die mens se weerloosheid openbaar teenoor die groter drif van die natuur.

“’n Goeie gedig word uiteindelik méér as die boodskap; vra vir verskillende maniere van lees en taksering, soos Vloeibare middelpuntbewys. Dis ’n ryk bundel - vir herlees, nadink en weer besoek. Veral die reis- en landskapverse maak ’n unieke bydrae tot hierdie subgenres. Die voorblad van Ryan Loubser, ‘Spookhuis in die reën’, is werklik besonders.”

Martjie vertel aan Beeld (13 Augustus 2001) dat voor ’n besoek aan die Krugerwildtuin ’n vriendin aan haar ’n boek geleen het wat sy gedink het Martjie goed sou kon gebruik. Daardie boek, Kenneth Newman se Voëls van Suider-Afrika. 1: Nasionale Krugerwildtuin, het inderdaad nuttig te pas gekom. “Dit het, om die waarheid te sê, oor die afgelope vyftien jaar ’n beduidende invloed op my lewe gehad. Dit het my ’n kompulsiewe voëlkyker gemaak.

“Ek het tydens daardie selfde vakansie vir myself ook ’n Newman-veldgids in Satara se bedrywige ruskampwinkel uitgesoek. Daarna het ’n goeie verkyker gevolg. Toe kom die voëlkursusse in die Nasionale Dieretuin, waar ek saam met tientalle ander in-die-bol-gepikte Pretorianers op snikhete somersaande naarstiglik Ulrich Oberprieler se wenke vir die uitken van KVV's (klein vaal voëltjies), roofvoëls in verskillende kleurstadia en skaars somerbesoekende watervoëls gesit en neerskryf het.

“Daarna het talle korter en langer voëlkykritte na uiteenlopende plekke gevolg. Die verkyker gaan orals saam. Daar moet ook altyd ’n boekie byderhand wees waarin ’n mens nuwe waarnemings kan opteken om later met jou lewenslys te vergelyk.

“Vriende val naderhand ook in twee klasse uiteen: die oningewydes en die voëlkykers, saam met wie ’n mens in die Steenkampsberg agter ’n suikervoël aan klouter, die stortreën van die somer van 1999/2000 in ’n tentjie by Wakkerstroom trotseer en heupdiep deur Nylsvley se vloedwaters waad.

“Voëlwaarneming beteken nie net dat ’n mens se gedrag en gewoontes verander nie, maar dat jy ook ’n besondere belangstelling in literatuur van ’n bepaalde soort ontwikkel. Die Wildtuin-Newman was die eerste van ’n reeks boeke oor voëls, die bome waarin hulle nesmaak, die blomme waarvan hulle die nektar drink, die diere waarop hulle bosluise soek, die tuine waarna jy hulle kan lok ...

“Die belangrikste is egter dat die voëlkykery my geleer het om skerper waar te neem: te kyk na die landskappe waardeur ek beweeg, te luister na die geluide rondom my, op te merk hoe die beweging van voëls die verandering van seisoene aankondig. En op ’n manier het dit ’n bevestiging van my hierwees in Afrika geword.”

In 2012 is met die projek Skilder met Woorde III aan sewe beeldende kunstenaars en sewe digters opdrag gegee om elk ’n kunswerk en gedig te skep rondom die tema “1, 2, 3 blok myself!”. Deur ’n wisselwerking tussen die beeldende- en woordkunstenaars, is daar kunswerke en gepaardgaande gedigte geskep wat die tema uitbeeld.

Die volgende stap was dat ’n klankbaan vir die uitstalling geskep is. Mr Cat and the Jackal is verantwoordelik vir die Skilder met Woorde III-klankbaan. As deel van die klankbaan, dra stemkunstenaars (Anna-Mart van der Merwe en Petrus du Preez) die gedigte voor. Besoekers aan die uitstalling bekyk elke kunswerk/gedig-kombinasie individueel, aangesien dit afsonderlik belig word terwyl die bypassende klankbaan gehoor kan word.

Martjie Bosman was ook deel van hierdie projek en sy het ’n gedig geskryf wat saamgegaan het met die werk van Karin Miller. Ander digters was Diana Ferrus, Tom Gouws, Ronelda Kamfer, Johan Myburg, Melt Myburg en Danie Marais.

Die produksie het gedebuteer by Clover Aardklop 2012, en is in 2013 ook te siene by die US Woordfees, die Absa KKNK en die Grahamstown National Arts Festival. Skilder met Woorde III is ’n ATKV-produksie en die kurator is Nita Cronjé. (LitNet)

Martjie het ook deel gevorm van die ATKV se tweede Filmverse wat tydens die kykNET Silwerskermfees van 2016 gedebuteer het. Altesaam 12 Afrikaanse gedigte is deur 12 animasiekunstenaars, of groepe kunstenaars, geanimeer. Martjie se gedig “Nagte in die tuine van Spanje” is deur Theresa Jo Wessels geanimeer en die animasie het die klanke, kleure en beelde van die gedig baie goed saamgevat en uitgebeeld.

Publikasies:

Publikasie

Die hoërskoolleerling as leser: resepsieteoretiese perspektiewe op die Afrikaanse letterkundeleerplanne vir die sekondêre skoolfase

Publikasiedatum

1987

ISBN

0796904936 (sb)

Uitgewers

Pretoria: SENSAL

Literêre vorm

Opvoedkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die beplanning van onderrig in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Saam met Charles Malan

Publikasiedatum

1987

ISBN

0796904944 (sb)

Uitgewers

Pretoria: RGN

Literêre vorm

Opvoedkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Landelik

Publikasiedatum

2002

ISBN

1869190068 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 2003

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toevallige tekens

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781869194000 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

2011 Kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vloeibare middelpunt

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781869194000 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Martjie Bosman as vertaler

  • Kuijer, Guus: Die boek van alle dinge. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 [ISBN 9781485302254 (sb)]
  • Kuijer, Guus: Polleke. Pretoria: Protea Boekhuis, 2017 [ISBN 9781485305910 (sb)]

Artikels oor Martjie Bosman beskikbaar op die internet

Artikels deur Martjie Bosman beskikbaar op die internet

Martjie Bosman se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-10-12 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Geluk, Martjie, met hierdie insiggewende artikel oor jou loopbaan en digkuns. Dis 'n voorreg om jou te ken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top