![]() |
| Mathilda Slabbert reageer op Susan Smith se LitNet Akademies-artikel "Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman". |
Cheryll Glotfelty en Harold Fromm het in die middel-negentigs die ekokritiese teorie formeel geïnstitusionaliseer met die stigting van die organisasie ASLE (Association for Study of Literature and the Environment). Hierdie verwikkeling het die ekokritiese teorie se aanvanklike sterk letterkundefokus ontwikkel en uitgebrei tot ’n meer interdissiplinêre gebied. Ek hou nogal van Jean Arnold se beskrywing wanneer sy hierna verwys as “a cross-fertilization of the humanities” wat lei tot “a cauldron of brand-new perspectives”. Dit is hierdie sameloop van uiteenlopende perspektiewe wat die ekokritiek so ’n opwindende navorsingsveld maak. Ten spyte van, of dalk juis as gevolg van, die interdissiplinêre aard is dit belangrik dat die beduidende rol van poësie in dié kritiese teorie nie oor die hoof gesien word nie. Dana Phillips verduidelik dat Jonathan Bate byvoorbeeld die term ecopoetics gebruik as sinoniem vir ecocriticism in sy boek Romantic Ecology: Wordsworth and the Environmental Tradition. Vanweë my agtergrond in die Engelse letterkunde, en spesifiek my belangstelling in die ekokritiek, was ek verbaas om te lees dat Smith reeds in die opsomming van haar artikel opmerk dat “[d]ie omskrywing en definiëring van die begrip ekopoësie [...] nog weinig aandag in die Afrikaanse literatuurteorie ontvang” het – ’n opmerking wat die belangrikheid van die studie beklemtoon.
Na ’n ietwat breedvoerige historiese en teoretiese oorsig van die ekokritiek en ekopoësie gebruik Smith die hoekbeginsels van die kritiese teorie om ’n werksdefinisie te formuleer wat sy vervolgens toepas in haar interpretasie van gekose gedigte uit Martjie Bosman se bundel Toevallige tekens. Die beginsels verwys na die afbreek van grense tussen digotomiese idees oor mens-natuur-verhoudings en die bewusmaking van die sensitiewe verbintenis en interafhanklikheid van alles in die kosmos: lewend én nielewend. Smith stel die term fraktering voor wat “as uitbreiding op en ontwikkeling van die begrip destablilisering” dien. Sy verduidelik voorts dat die ekopoësie poog om ’n nuwe soort “woning” te skep waar die “kruispunt” van mens-natuur-verhoudings in harmonie kan funksioneer – inderdaad ’n waardevolle siening.
Haar bespreking van fraktering het my aan Dan Wylie se fotografietentoonstelling by 2010 se Literature, Film and Ecology Colloquium herinner. Wylie se foto’s het gehandel oor insidente waar die natuur letterlik deur mensgemaakte strukture breek of beur. Alledaagse voorbeelde hiervan sluit in gras of onkruid wat tussen en deur plaveisel groei, mos in die kraak van ’n muur, of ’n bossie wat deur die gapings tussen randstene beur. Soos Bosman se gedigte wat “’n kykie toe[laat] deur die krake in die gedig”, toon Wylie se foto’s ’n gefokuste blik op “toevallige tekens” van mens-natuur-verhoudings, in werklikheid ’n nuwe soort skoonheid wat dikwels misgekyk word.
In die afdeling “Die ekologie van die visuele: buiteblad en titel” beweer Smith egter dat “Bosman die leser op die buiteblad konfronteer met ’n gefrakteerde fotobeeld” en dat “die digter spanning” (my beklemtoning) skep “met die gefrakteerde blom” teen die musiekblad-agtergrond. Om die digter as ontwerper van die grafiese beeld van die bundel te identifiseer en te evalueer is problematies, aangesien die keuse vir die voorkoms van ’n buiteblad gewoonlik die verantwoordelikheid van ’n grafiese span is wat weer in opdrag of onder toesig van die uitgewer of opdraggewende redakteur staan. Die buiteblad is dus selde die keuse of skepping van die outeur self. So dui die inligtingsblad van Bosman se bundel dan aan dat die “Foto van Morning Glory verskaf [is] deur Getty/Gallo Images”.
Wat die res van Smith se interpretasie betref, wil ek net kortliks by ’n paar van haar punte stilstaan. Sy verwys na “die ekologie van gedigstrukture en -prosesse” en meld verder Harriet Tarlo se omskrywing van “landskap as gedig en gedig as landskap”. Timothy Clark se bespreking van ekopoësie sluit goed hierby aan wanneer hy ’n analitiese benadering noem waarin die gedig self as “a kind of ‘ecosystem’” beskou word en daar ’n spesifieke proses plaasvind “within the text and in relation to other texts, contexts and places”. Smith beskryf Bosman se gebruik van intertekste as ’n “’herwinningstegniek”. Dis ’n gepaste vergelyking, want die veelvoudige intertekste in Bosman se werk, waarvan sommige uit musiek, kuns, letterkunde en sosiale wetenskappe spruit, beklemtoon nie net haar interdissiplinêre benadering nie, maar illustreer ook hoe sy meesterlik met grenskonsepte oor die ekologie (geografies, kultureel of polities) te werk gaan. Daar is byvoorbeeld die verwysing na Kamante van die film Out of Africa in “Die seun met die sere aan die bene” (17), of Eugène Marais se bestudering van chacma-bobbejane (Die Siel van die Aap) in “Hesperiese neerslagtigheid” (38). Ek hou veral van die gedig “Gedragswetenskap” (52) waar Bosman speels met die “animal gaze” woeker en die bobbejaan “tersluiks” vir die “ongemanierde trop in die motor” loer. Die “herwinning” in die gedigte herroep Arnold se punt oor “cross-fertilization” en nuwe idees in een “cauldron” .
Smith bespreek Bosman se beheersing van die versvorm met verwysing na haar “enumerasietegniek” merkbaar in “Mutilados” (23). Ons word daagliks gekonfronteer met getalle en syfers wanneer ons telkemale hoor van ’n aantal honderd sterftes wat deur ’n vloed veroorsaak is, of ’n sekere aantal dromme olie wat elke uur in die VSA verbruik word, maar die werklikheid en betekenis van hierdie hoeveelhede is dikwels moeilik om uit te beeld. Deur die verminkte Mosambiekse vroue individueel te identifiseer gee Bosman nie net aan elkeen ’n identiteit nie, maar met die herhaling van veral die naam Maria vir ’n volle tién keer word die kwesbaarheid van elke vrou beklemtoon.
Wat my veral van Bosman se bundel opval, is die groeperings in spesifieke afdelings, asook haar gepaste opskrifte. Dié groeperingstegniek skyn aanvanklik op skeidings te dui, maar is misleidend juis omdat dit oor grensuitwissing gaan. Die eerste reeks gedigte handel byvoorbeeld oor voortvlugtiges en die voortdurende en tragiese gevolge van geografiese en/of nasionale grense vir die individu, soos vergestalt in siekte, armoede, wanhoop, verlange, en dies meer. Hierdie gevolge hou verband met magsmisbruik en die bekende “-ismes”, waarvan die bekendstes kolonialisme, rassisme en seksisme insluit. Rob Nixon verwys breedvoerig na die gevolge van magsisteme in sy grensverskuiwende studie Slow Violence and the Environmentalism of the Poor. Soos met haar gedigte oor voortvlugtiges bevraagteken Bosman ’n spektrum van perspektiewe oor die “uitheemse” in gedigte soos “Die populiere” (76). Dit is dan hierdie “uitheemse” wat in werklikheid neerslag vind in die “inheemse”, maar miskien selfs belangriker, en veral in die gees van fraktering, deel vorm van die “inheemse”. Die reeks “Aucklandpark: Drie herfsverse” word vervolgens ’n feesviering van die diversiteit wat mens-natuur-verhoudings in ’n spesifieke stedelike konteks uitbeeld.
Smith se keuse van digter vir haar bespreking van die ekopoësie is interessant en waardevol. Haar verduideliking van idees rondom die term fraktering word uiteindelik vir my opgesom en vasgevang in Bosman se slotgedig, “Toevallige digter” (81), waarin die digproses beskryf word as ’n komeet wat deur die ruimte bars “tot in ’n nagtelike tuin/ waar onder fosforglans/ die swart swaan/ ’n oomblik lank verskyn.”
Bibliografie
Arnold, J, L Buell, MP Cohen, E Dodd, SC Estok, UK Heise, J Levin, PD Murphy, A Parra, W Slaymaker, S Slovic, T Sweet en L Westling. 1999. Forum on Literatures of the Environment. PMLA, 114(5): 1089-90.
Bosman, Martjie. 2010. Toevallige tekens. Kaapstad: Protea Boekhuis.
Clark, Timothy. 2011. The Cambridge Introduction to Literature and the Environment. Cambridge: Cambridge University Press.
Nixon, Rob. 2011. Slow Violence and the Environmentalism of the Poor. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press.
Phillips, Dana. 2008. Ecocriticism, Ecopoetics and a Creed Outworn. New Formations, Lente , 39.
Smith, S. 2012. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNet Akademies, 9(2): 1, 9-13.


