Normloosheid en sosiale isolasie in Afrikaanse ekstreme metal. Martjie Bosman reageer

  • 0

Martjie Bosman reageer op die artikel “Vervreemding in die ekstreem: ’n Oorsig oor normloosheid en sosiale isolasie in Afrikaanse ekstreme metal” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Burgert A Senekal.

Burgert A Senekal lewer met hierdie artikel, soos met sy ander bydraes oor Afrikaanse protesmusiek (Senekal 2010; Senekal en Van den Berg 2010), ’n waardevolle bydrae tot die kartering van die steeds uitbreidende Afrikaanse musiektoneel. Die subgenre ekstreme metal is weliswaar steeds ’n randverskynsel in Suid-Afrika en sal dit waarskynlik bly; Senekal is egter van mening dat dit as sosiale verskynsel nadere ondersoek werd is. Hoewel kenmerke van die musiek en lirieke van metal-musiek as algemene verskynsel genoem word, lewer Senekal nie uitspraak oor die kwaliteit en struktuur van óf die musiek óf die tekste van Afrikaanse ekstreme metal nie, en wil ’n mens dan ook die kommentaar beperk tot die verskynsel as sodanig en nie die artistieke meriete daarvan nie.

Die artikel plaas Afrikaanse ekstreme metal in die konteks van die ontwikkeling van internasionale metal sedert die sewentigerjare van die 20ste eeu. Een van die boeiende verskuiwings in die subgenre is dié weg van die hegemonie van Anglo-Amerikaanse metal na Noord-Europese lande, en daarmee saam  ’n toename in die gebruik van ander tale as Engels vir die lirieke. Senekal verbind die opkoms van ’n tweede generasie Suid-Afrikaanse metal-groepe wat naas Engels ook Afrikaans gebruik, met die gebruik van tale soos Duits, Noors en Sweeds in die Europese konteks.

Die vraag kan egter gevra word of die verskyning van Afrikaanse metal-musiek nie ook deels toegeskryf kan word aan die algemene opbloei van Afrikaanse musiek sedert die 1980’s nie. In die lig daarvan dat die eksponente van ekstreme metal hulle dikwels versit uit die hoofstroom (Senekal 2011:16), is die vraag dus of Afrikaanse ekstreme metal nie ontwikkel het uit die behoefte om iets anders as populêre musiek daar te stel nie, om dus iets onderskeidends te doen nie.

Alhoewel heelwat vordering al gemaak is met die beskrywing van die musiektoneel, is ’n goed gedokumenteerde geskiedenis van Afrikaanse musiek in die laat 20ste eeu nog nie geskryf nie. So ’n geskiedenis sou kon nagaan wanneer en op watter wyse sangers en groepe verskillende nuwe subgenres ontgin het: Wanneer is Afrikaanse blues, jazz, kabaret en ander vorme byvoorbeeld die eerste keer op die verhoog uitgevoer? Wanneer het die eerste rock-CD’s verskyn? En wanneer is die eerste Afrikaanse protesmusiek gehoor? So ’n chronologie sou dit moontlik maak om beter te beoordeel of Afrikaanse metal-musiek nie ’n ontwikkeling uit of voortsetting van rock- of protesmusiek, of selfs die eiesoortige Beat-musiek van The Buckfever Underground (Kruger 2006:78–101), is nie.

Senekal voer aan dat die lirieke van die tweede generasie ekstreme metal aansluit by internasionale tendense, wat weer in verband gebring word met sosiale verandering sedert die einde van die Koue Oorlog. Die internasionale tendense verskaf dan ’n nuttige instrument waarmee ’n greep gekry kan word op die relatief klein korpus Afrikaanse ekstreme metal, waaruit tendense andersins dalk nie so gemaklik af te lei is nie. Ongelukkig word in die artikel nie enige voorbeelde van die lirieke uit die eerste generasie Suid-Afrikaanse metal gegee nie en die leser kan dus nie oordeel of daar enige aansluiting by die tematiek van vroeëre, sy dit dan Engelse, lirieke binne die Suid-Afrikaanse konteks is nie. Die vraag is dan weer of Afrikaanse ekstreme metal nie ’n unieke karakter het wat uit plaaslike omstandighede ontwikkel het nie. Sluit dit nie eweseer aan by die proteskarakter wat ook in ander subgenres van Afrikaanse musiek gemanifesteer word nie?

Ek vra hierdie vrae omdat die verbande tussen die Noord-Europese en Suid-Afrikaanse, en spesifiek Afrikaanse, kontekste vir my nie so voor die hand liggend is nie. Op die gevaar af dat ’n mens jou skuldig maak aan die lê van reglynige verbande tussen artistieke uitinge van watter aard en meriete ook al en die samelewing (die ou besware teen mimetiese sieninge van kuns), sou ’n mens dalk nog kon aanvoer dat wit Afrikaanse jong mans vervreemd van die Suid-Afrikaanse hoofstroom voel, dat die ineenstorting van die apartheidsbestel tot normloosheid gelei het, en dat die eksponente van ekstreme metal sosiaal geïsoleerd voel.

Maar geld dieselfde jongmense van die welvarende en goed geordende samelewings van Skandinawië en Duitsland? ’n Mens wil nie sinies wees nie, maar op ’n skaal van vervreemde en onderdrukte samelewings sou Saoedi-Arabië en Afganistan waarskynlik aan die een uiterste en die Noord-Europese lande aan die ander uiterste lê. Sou dit nie dalk ook moontlik wees om te argumenteer dat verskynsels soos ekstreme metal eerder gevind kan word in hoogs verdraagsame samelewings, waar kunstenaars toegelaat word om grense te toets en te verstel nie?

Die waarheid is dat die verband tussen samelewings en die kuns wat daaruit gebore word, besonder ingewikkeld is. ’n Mens sou maklik verlei kon word om te argumenteer dat omdat samelewingsverval en sosiale disintegrasie tot die uitdrukking van marginalisering en normloosheid by individue kan lei, die voorkoms van sulke uitdrukkings dan ook omgekeerd op sosiale verval en disintegrasie dui. ’n Growwe voorbeeld van hierdie argument sou wees dat omdat daar werk van die kranksinnige Adolf Wölfli in die Kunsmuseum in Bern hang, ons kan aflei dat die hele Switserse samelewing kranksinnig is.

Senekal is versigtig genoeg om nie sulke afleidings oor die Suid-Afrikaanse samelewing uit ekstreme metal te maak nie en daarvoor moet hy gelukgewens word. Maar of Seeman se fasette van sosiale vervreemding wat hy bespreek, werklik verteenwoordig word deur die lirieke van Afrikaanse ekstreme metal – daarvoor lyk die korpus Afrikaanse lirieke op hierdie stadium nog te klein.

Bronne

Kruger, H. 2006. ’n Suid-Afrikaanse Beat: The Buckfever Underground en Toast Coetzer. Stilet, XVIII(2):78-101.

Senekal, BA. 2009. “Die lied van die nuwe jong Suid-Afrika”: Die representasie van vervreemding in hedendaagse Afrikaanse protesmusiek. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 16(2):53-67.

Senekal, BA. 2010. Bloedrivier: Die representasie van vervreemding in hedendaagse Afrikaanse protesmusiek. Ongepubliseerde referaat gelewer tydens die dagsimposium Patryspoort na buite, Universiteit van Pretoria, Januarie 2010.

Senekal, BA en C van den Berg. 2010. ’n Voorlopige verkenning van postapartheid- Afrikaanse protesmusiek. LitNet Akademies, 7(2):98-128.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top