Toevallige tekens is 'n aangename speurtog en leeservaring

  • 0

Toevallige tekens
Martjie Bosman
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869194000
Prys: R127.50

Klik hier en koop Toevallige tekens nou van Kalahari.net!

’n Belangrike digbundel wat aan die einde van 2010 verskyn het, is Martjie Bosman se Toevallige tekens. Die bundel verskyn sewe jaar na haar debuutbundel, Landelik, wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is. Die belofte wat met die eerste bundel gemaak is, word in hierdie bundel voltrek.

Met die invalslag suggereer die bundeltitel en pragtige buiteplat alreeds ’n interessante speurtog vir die leser op die spoor van allerlei tekens. Op die eerste vlak verwys die bundeltitel na die musikale terminologie van toevallige tekens, soos mineur- en majeurtekens, molle en kruise wat ’n verandering in die dominante toonsoort van ’n musiekstuk aandui. Dit word direk voor ’n noot of note geskryf en verander dan net daardie spesifieke noot of note se toonaard. Die implikasie is dat deur die kyk en raaksien van toevallige, vervlietende tekens van skoonheid die toonaard van emosionele belewing verander word, die neerdrukkende gelig word.

Die gedekonstrueerde eendagskoon op die voorplat dien as teken van skoonheid, maar dui ook op die vervlietende aard van skoonheid; dit is ’n voorlopige teken vir al die variante van die blom wat aangetref word, soos “eendagskoon” (27) en “dagbreekroos” (48), maar ook van ander blomme, voëls en natuurgegewens. 

Tekens verwys egter na veel meer: dit sluit seisoenale tekens in, tekens in die natuur (veral voëls), tekens as simbole wat vir iets anders staan, tekens van ’n bepaalde landstreek, tekens as verskynsels, en ook taal as teken. Dit word ingespan as vooruitwysing na en voorspeller van die toekoms, maar ook as spoor en oorblyfsel van die verlede. Ook die negatiewe aard van tekens word ontgin: tekens van verval, ellende, politieke onvermoë en rampspoed, en die invloed daarvan op persoonlike vlak.

Deur die motto, ’n aanhaling uit Tristia van Van Wyk Louw, tree die digter reeds in gesprek met aspekte van die taal as teken en betekenis en die ontoereikendheid van menslike taal om die werklikheid en verganklikheid onder woord te bring. Die magteloosheid van taal word sterk verwoord in gedigte soos “Mosambiekse vlugteling 1” en “Mosambiekse vlugteling 3”, waar verbrokkeling van normale taalstrukture plaasvind en die digter wys op die tale wat “tussen ons faal” (22). Hierteenoor word die krag van taal uitgedruk in “Die seun met die sere aan sy been” (17), waarin die seun genesing vind deur die woorde: “I will speak/ to this leg.”

Die programgedig “Op die spoor” (11) voorsien die sleutel vir die res van die bundel: die soektog na “’n duidelike woord”, ’n “metafoor” waarmee die tekens in die natuur beskryf kon word, waarmee nie net die “verrotte stomp” en die “dooie bulkalf” beskryf kan word nie, maar ook die miere en bruin kewers, die waterhiasint en die “kiewiet” en sy weerkaatsing in ’n poel.

Sou ons maar ’n metafoor kon vind.
’n Patroon om af te lei.
’n Verhaal om te vertel.
In die sand lê die spore kruis en dwars
En droë blare val daaroor.
(“Op die spoor”, 11)

Die wildernis, wat by implikasie deurmekaar en onleesbaar en onverstaanbaar is, is voorwaar nie eenvoudig nie en die spore daarvan lê net tydelik in die sand en word vinnig weer verbloem. Die vlietende aard van skoonheid word hiermee bevestig, sowel as die digter se soeke na ’n wyse om dit te verwoord.  

Die bundel is in vyf afdelings verdeel. In die eerste afdeling handel die gedigte hoofsaaklik oor die bestaansnood en lyding van die mens in Afrika. Die afdeling word ingelui met ’n motto van Willem die Swyger: “My God, wees my en U arme mense genadig.” Die lyding, verminking, vlugtelingskap, doodslag en onontkombaarheid van hierdie omstandighede staan voorop in hierdie afdeling. Maar ook in hierdie haglike omstandighede soek die oë die tekens soos die “rooi vere van die loerie wat wydoop lag”, wat onvervreembaar en “gemene besit” bly, “gebied onder koningsgesag”, dus, deur God gebied aan alle mense.

Een van die gedigte in hierdie afdeling wat uitstaan, is “Mutilados”, waarin die klankmatige opnoem van verminkte vroue (wat gewoonlik naamloos bly) se name as’t ware ’n musikale inkantasie met religieuse ondertone word, bewerkstellig deur die herhalende gebruik van “Maria”. So word die naam “Maria” dan die naam van alle ander naamlose en stemlose “verminkte, verkragte en getraumatiseerde vroue” (Lucie Möller: Onderhoud met Bosman op Versindaba). In die sleutelgedig, “Eendagskoon” (27), word die tematiese gegewe wat deur die bundeltitel en buiteplat bekendgestel is, op treffende wyse voltrek deur die “toevallige teken” van die eendagskoon se “glorieryke blou” wat herinner aan die “koningsgesag” in “Meent” (15) en “koningsrooi” in “Die kamelia” (75).

Dan, onverwags om nog ’n hoek,
word jou asem weggeslaan
waar ’n gordyn van glorieryke blou
geil afrank in ’n slordige tuin
en soos ’n toevallige teken
die toonaard van die ganse buurt verstel.
(“Eendagskoon”, 27)

Blou en pers as kleure wat oppergesag simboliseer, is ook implisiet teenwoordig in die naam purperwinde, ’n alternatiewe benaming vir eendagskoon of eendagmooi, “dagbreekroos” genoem in “Ma se plante” (48). In laasgenoemde gedig word die toevallige tekens vervang deur die “toevallige verbygangers”, en voltrek in die titel van die slotgedig, “Toevallige digter” (81), waarin daar gesuggereer word dat die kykproses uiteindelik net so toevallig soos die aanbod van skoonheid is.

In Afdeling 2 word motiewe van vrees, bedreiging en woede verwoord wanneer die bedreiging nader aan die digter se eie lewe beweeg. In “Die skreeu” (31), met sy intertekstuele assosiasie van die Edward Munch-skildery, vind daar ’n paradoksale ommekeer plaas wanneer die Bybelse konnotasie van die slang as teken van die Bose omvergewerp word. Die skrik (bose/aanvaller) en die skreeu (slagoffer), wat as slang transfigureer, word teenoor mekaar opgestel, en dit is die slang wat sal seëvier. Die digter tree hier in gesprek met die kunswêreld, ’n gesprek wat in die vierde afdeling voortgesit word.

Dit is opmerklik hoe die bose progressief nader beweeg en nou aan eie lyf gevoel word:

dié wat deur die ruit wil breek
met wit oë wil inkyk in my kamer;
wil inklim in my ruimte;
(“Venster”, 34)

Die verweer en verskansing teen die geweld en die bose is maar skraal: “te min van roosmaryn/ om my te verweer teen die vaal ding” wat “deur die dun hout van die voordeur in wil dring” (“Huis”, 33); ten spyte van die sierlike “wering/ van die klein siersteenhuis” wat probeer “afweer” en “verbied”, bly die vensters “vreesbevange” (“Venster”, 34). Opvallend is die herhaling van “sier-”, wat daarop dui dat hoewel die skoonheid ’n verstelling in toonaard kan bewerkstellig, dit nie in staat is om verweer te bied teen die aanslae van die bose nie.

In die gedig “Handsak” (32) ontgin die digter die ontstellende gewaarwordinge wanneer ’n skending van die intiem persoonlike ruimte plaasvind:  

Uit al dié dinge van min waarde
sal ’n mens dalk ’n lewe kan herbou –
’n gesig kyk uit ’n natgereënde
paspoortblad bleek na boontoe;
’n rybewys skuil half onder gras;
tussen bou-afval lê ’n besmeerde
ID-boek ouderdom en blyplek bloot;
’n verwese sakboek verkondig
intieme nommers van bekendes,
die huisarts, die versekeraar;
lipstif, ’n bril, ’n hoofpynpil,
kaartjies vir die simfoniekonsert.

Ironiserend is die “dinge van min waarde” wat uiteindelik die somtotaal van “gister” is.

In hierdie afdeling word ook die onthutsende gedig “Pendelaar, M1” (37) gevind, waarin die digter die leser en die medepadgebruiker aanspreek en ’n blik gee op die aanwesigheid van die dood in die alledaagse. Die pendelaar word die teken van die dood met sy “sens” wat “blink in die agtermiddaglig” waar hy agter ’n pilaar uitloer. 

Die verlies en verval wat onder woorde gebring word, is nie net dié van natuur en kultuur nie, maar sluit ook die verlies aan taal in, soos in “Vanishing Voices” (40) uitgedruk word. Die herhaalde gebruik van die woord “eensaam” (nie minder nie as ses keer) tree in gesprek met die huidige vrese rondom Afrikaans.

In “Grondeis” (35) tree die digter in gesprek met Opperman:

Hierdie stukkie aarde het ék gekoop,
soos Dirk gedink dis my gebied.

Die stryd is egter teen meer as goggas: “teen dié wat aankruipend aanspraak maak”. Teen die agtergrond van die gedigtitel gaan dit ook om die bedreiging van verval en wildernis en ontmagtigende lewe in ’n “donker land” (“Hesperiese neerslagtigheid”, 38) en in Afrika.

Herinneringsgedigte aan die jeug, dikwels gekoppel aan natuurbeelde, vorm die kern van die derde afdeling. Die toemaak en verskansing teen die bose word in hierdie afdeling omgekeer deur die wete dat “jy nou/ alle vensters oop moet maak” (“Bosveldvisvanger”, 50) vir skoonheid en dit onder woorde probeer bring. Die tekens wat herhaaldelik na vore tree, is dié van weersomstandighede - “blitse” en “weerlig” en “donder” (“Somerstorm”, 43), ’n “blouswart donderstorm” (“Middagrit”, 44) wat ’n naderende storm voorspel; en ’n groot aantal voëls – “duiwe” (44), “swaels” (44), “’n naguil” wat roep (45), ’n “mikstert,/ piet-my-vrou of diederik” (49), ens. Die natuur, wat op bykans pastorale wyse beskryf word, word die teenvoeter vir die “stadsgedrang” (51) en word gevra om sy tekens te onthul (“het ons gewens/ dat die veld aan ons ’n kwarteltjie sou wys” (51)), waardeur die wisselende toonaard en ’n skoonheidsbelewenis bewerkstellig word: “en ek voel hoe alles wissel” (44).

In die vierde afdeling word die musikale tema wat deur die buiteplat voorspel word, verder ontwikkel, veral deur gedigte soos “Cavatina” (68) en “Grosse Fuge” (69). Dit is ook die afdeling waar kunstenaarskap en die kunstenaar en fotograaf as waarnemer ondersoek word. In “Kameelkaravaan, Mauritanië” (56) is daar nie net die verdwynende “spore” van die kamele in die foto sigbaar nie; die foto self is die spoor wat deur die waarnemer agtergelaat word waardeer die tydelike en eteriese aard (“Wolf op die tweesprong”,57) van die skoonheid getransendeer word. Die verdwynende spore is insgelyks ook ’n teruggryp na die spore wat deur droë blare verdoesel word in die openingsgedig, en die “dowwe glans onder lae patyn” verderaan in “Vertoonkas” (59).

Die digter as waarnemer (ván die waarnemer in sommige gevalle) word herhaaldelik in die bundel aangespreek. Die digter is bowenal interpreteerder van tekens, kyker (16, 25) en wégkyker (17, 19 en 20). In “Vertoonkas” en “Grosse Fuge” word geheue en onthou net nog ’n manier waarop daar gekyk word. En in “Vakansie in die Bosveld” is die digter soeker en mískyker:

Lê betekenis in wat ons vind
of wat die soeker telkens bly ontwyk?
Ons het voor ’n jakkalsbessie stilgehou
en tussen lalapalms die swartwitpens misgekyk.
(“Vakansie in die Bosveld”, 51)

In die slotafdeling word die troos en vreugde wat die natuur bring, weer eens betrek, terwyl die slotgedig baie doeltreffend die bundeltitel en al die tematiese elemente saamknoop.

Die bundel is ’n aangename speurtog en leeservaring, met volop intertekstuele saamklink van stemme soos dié van Wilma Stockenström, TT Cloete en NP Van Wyk Louw. Die beelding is helder en die styl gestroop en op die man af. As “groen” bundel slaag dit daarin om aktuele sake aan te sny sonder om die individuele, persoonlike perspektief prys te gee.  Deur die herhaaldelike opnoem van blom-, voël-, diere-, plek- en vrouename anker die digter haarself stewig binne die Suid-Afrikaanse en Afrika-konteks, loop sy sober en oopoog die tekens van ons taal en van ons land na, slaag sy daarin om die tekens te beteken.

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top