![]() Foto: verskaf
|
Sêgoed van Mariël le Roux “Ek is baie bly ek het die boek (Die naamlose) ingeskryf vir die wedstryd, maar ek is nou nie nederig as ek sê ek het nie gedink die boek sal enige indruk maak nie. Ek het maar net gehoop hulle sou hom raaksien.” (Die Burger, 11 September 2010) “Ek belowe om nooit ’n hospitaalstorie te skryf nie, want ek sal die bubble bars! Die meeste hospitaalverhale is romanses tussen die suster en die dokter. Ek kan nie daai soort storie skryf nie – dit het nog nooit gebeur waar ék was nie.” (Die Burger, 11 September 2010) “Ek sê nog nie ek’s ’n skrywer nie. Eers by boek tien sal ek dit sê.” “Ek het nog nie veel tyd gehad om fiksie te skryf nie, maar ek loop al my hele lewe lank met ’n pen in die hand rond. Ek het stories in die sand geskryf met ’n stokkie en later met ’n potlood toe ek rêrig kon skryf. En daarna, toe ek verpleegster was, al die verpleegverslae in detail geskrywe. Ek sê altyd as ek ’n verloskundige verslag klaar geskryf het, was elke kontraksie afgehandel met byklanke teen die tyd wat ek huis toe gaan.” (Die Burger, 11 September 2010) “Ek hoop die toekoms duur nog lank. Ek gaan beslis kyk wat ek kan doen met nog ’n boek of twee, en dan wil ons die wêreld ook nog ’n bietjie gaan verken. Dis heerlik om nie te beplan nie. Ons kleinkinders en ons kinders hou ons besig.” “Skryf was altyd ’n stokperdjie. Ek het maar altyd geskryf vir die onderstelaai en dan later die stories weggegooi.” (Standard, 13 November 2008) “Eendag, wanneer jy jou eie roman skryf, onthou jou leser – jou leser is die belangrikste karakter in sy storie.” (aan haar kleindogter Emma kort voor haar skielike heengaan, TikTok) “Wanneer ek ’n roman skryf, het ek voor die tyd ’n tema, ’n gebeurtenis waarvan ek wil vertel, maar die verhaal groei grootliks van self. Ek hou ’n geboorteregister in ’n groen omslag waarin elke karakter se geboorte noukeurig geregistreer word.” (Volksblad, 17 Julie 2013) “Toe ek nie meer (mediese) verslae gehad het om te skryf nie, het ek met my eerste storie begin. Met ’n heerlike verskil: ek kan lekker bylieg as dit my pas.” (Netwerk24, 16 Julie 2013) “Jare lank het ek verpleegsters opgelei, eers in die Boland en later in die Wes-Kaap. En skryf het ek geskryf, ware verhale met kliniese feite oor kwesbare en siek mense, groot en klein. Ook oor nuwe lewetjies. Lang verslae van vooruitgang, en helaas ook agteruitgang. Ons het ons nie veel aan taalreëls gesteur nie. Dit is waarom my redakteur hare op sy tande nodig het: Ek laat waai net met my storie, wetend daar is ’n engel wat sal regmaak.” (Netwerk24, 16 Julie 2013) |
Gebore en getoë
Mariël le Roux is op 1 Oktober 1947 op die plaas Houmoed in die buurt Scherpenheuvel, distrik van Worcester, gebore as die middelkind van vyf. Hulle oudste boetie is by geboorte oorlede en sy het ’n ousus, ’n kleinsus en ’n boeta wat laaste in die ry staan. Mariël was ’n nooi Stofberg. Sy is in die hoofslaapkamer op die plaas gebore. “Dit was ’n gedoente. Ek was ’n groot baby – vyf kilogram! ’n Normale babatjie is tussen drie en drie en ’n half kilogram. My pa moes ’n stuk watte voor my ma se neus vashou met chloroform daarop. So is ek die lewe ingehelp.” (Die meeste van die biografiese inligting het Mariël le Roux aan LitNet meegedeel.)
Haar pa, Pieter, het op Houmoed geboer. Hy is in die buurt gebore en is op negentigjarige ouderdom op die plaas oorlede. Die grond was onbewerk toe hy daar begin het, grootliks agtergelaat soos na die Skepping. Dit was eers die natuurlike winterweidingplaas van voorgeslagte en moes nog mak gemaak word. Die Skepper het baie klippe in die aarde van Houmoed, langs die Breërivier, neergesit. Toe word Mariël ’n klippe-tuinier. “My hele lewe lank het ek klippe uitgery om iets geplant te kry, en nou ry jy klippe in.” Dit was haar pa se kommentaar op haar klippe-tuin onder haar karobboom in Durbanville. Wat sy hom nie gesê het nie, is dat sy die klippe gekoop het wat sy daar ingery het.
Sy vertel dat haar pa ’n praktiese man was. “Ons het ’n vierkantige blombedding aan die een kant van die tuinpaadjie van die vierkantige tuin voor die voordeur van die ou huis op Houmoed gehad en ’n grasperk aan die ander kant van die paadjie, ook vierkantig – om die kikoejoe-lote uit die blombedding te hou.
“My ma, Maria, het op Steynsburg grootgeword en het daar aan die Onderwyskollege gestudeer. Dis haar eerste onderwyspos wat haar na my pa toe gelei het. By Doornrivier se eenmanskool in die buurt aangrensend aan Scherpenheuvel het sy die boere se kinders begin leer, van sub A tot standerd 6 in een klaskamer. Sy het by ’n buurplaas geloseer en het elke oggend en middag deur twee stelle doringdraad gebuk om by haar skool te kom – elke dag, winter en somer, met sykouse aan haar bene net ingeval die inspekteur die skool sou besoek. As haar sykouse almal geleer was of nuwes gedurende die oorlog onverkrygbaar was by die winkels op die dorp, het sy met ’n wenkbrou-potlood swart strepe op teen die agterkant van haar bene getrek. Al die kouse het toe nog nate gehad. Só groot was die ontsag vir die inspekteur.”
Mariël se ma was ’n liefdevolle dame. Sy was ’n Dopper; toe trou sy in 1942 met ’n Gatjieponner. En soos die vroue van daardie tyd was sy onderdanig aan haar man en het sy ook Gatjieponner geword, maar die Dopperstreep het gebly. G’n nonsens as dit by die Bybel en die kerk kom nie. G’n storietjies van die kansel af nie – die boodskap moes uit die Woord kom. Sy het sommer hard gesnuif as die predikant eers begin met “Broeders en susters, ek staan by die bed van ’n geliefde seun [...]” En dié stempel het op Mariël afgedruk. Haar ma het aan Alzheimer se siekte gely en is in haar sewe-en-sewentigste jaar oorlede.
Oor haar kinderjare vertel Mariël: “Ons drie meisiekinders het saam masels gekry toe ons nog nie een in die skool was nie. Toe word ons in my ma en pa se slaapkamer in die skemerdonker toegemaak met Grietjie Carolus – sy was so twaalf – as ons oppasser. Sy moes ons besig hou. Maar so by die vierde dag het dinge te veel geword vir haar. Sy moes hulp kry. Met my kop stewig in haar hande vasgevat, my skouers tussen haar knieë en haar agterstel net so effentjies op die witmensbed geanker, het sy begin bid. Hartstogtelik het sy die Skepper aangeroep. ‘Jirretjie, maak asseblief die meisiekinders gesond. Seblief tog, liewe Jirretjie.’ Sy het my geskud dat my fris ronde lyf soos ’n jellievis gedril het; as’t ware die maselkiem uit my gedryf. Vorentoe, agtertoe, kante toe het ek getuimel. Ritmies het sy aanhou roep met haar gesig plafon toe gedraai. Haar stem het momentum opgebou soos sy gesmeek het en gou was sy juigend, luidkeels besig om haar pleidooi oor en oor hemele toe uit te bulder. Dis toe dat my Doppermoeder oor die drumpel stort; bo-oor ons het haar toorn ons tot orde gedwing. Ons het alleen agtergebly in die skemer kamer – Grietjie is huis toe gestuur om te gaan besin.
“Ons maats op die plaas was die vyf seuns van die voorman en die bruin kinders oorkant die groot sloot. My pa het, toe ons klein was, elke ses weke op ’n Vrydag dorp toe gegaan, maar ons het selde saamgegaan. Ons het nie eintlik strate en motors en winkels geken nie. Eers toe ons dorpskool toe is, het ons wêreld ’n bietjie groter as Houmoed gerek. Toe het my pa ons elke Vrydag kom haal en Maandagoggende, onder snot en trane, weer teruggeneem dorp toe. Ek het selde pop gespeel – net as die dogters van die buurt saam met hul ouers op ’n Sondagmiddag opgedaag het vir koffie. Dan was die voorman se seuns en die bruin kinders by hul eie huise en op hul eie werf.
“Ons het voëls in wippe gevang; punte gekry vir ons vangs. Ons het ons wippe agter die kelder gestel, onder grootmensoë uit – veral onder my ma se oë uit. Die wippe het ons gemaak uit ’n staalhoepel wat ons met sifdraad aan die een kant oorgetrek het, die sif effens uitgepof om plek te maak vir die vangs. Die hoepel is gestut op ’n stewige mikstokkie waaraan ’n tou net bokant die grond vasgemaak is. Om die voëls te lok, het ons gebreekte mielies uit my ma se voorraad vir die hoenders vasgelê en onder die hoepel gestrooi. Dan het ons op ’n afstand gaan lê, toutjie in die hand om op die regte oomblik die mikstokkie uit te pluk om die hoepel vinnig grond toe te laat val as die voëltjies, niksvermoedend, die mielies kom vreet het. Dit was nie altyd ’n skoon spel nie – baie voëltjies het groot skade opgedoen onder die val van die wip – gebreekte vlerke, gebreekte bene en groot vere-verlies te alle tye. Jy het meer punte gekry vir die skaars soort voëls; die minste vir mossies. Die voëltjies – dis dié wat wel kon wegkom – is weer vrygelaat ná die punte bereken is vir elke vangs.
“Tussen die bloekombome en die klippe op Houmoed het ons ons dag na dag vermaak. Ons het met draadkarre resies gejaag, met tyres, regop tussen ons hande voor ons uit, langs mekaar laat waai dat die klippe onder ons kaal voete uitgespat het om eerste van die hoek van die huis by die agterstoep, al langs die hoenderkamp verby, met die stowwerige paadjie tot by die konynkamp se verste hoek te kom. As jou tyre omgeval het, was jy uit.
“Ek het ure op die rivier se wal alleen gesit en droom. Die wêreld was veilig; net as ons kennis gekry het dat ’n bandiet by die tronk op die dorp ontsnap het, mag ek nie weer alleen gaan stap het tot die voortvlugtige weer veilig agter tralies was nie. Die bandiete is feitlik altyd in die rivier aangekeer. Hulle kon dae lank wegkruip op die klein eilandjies in die sterk stroom water waar die digte palmiet hulle beskerm het teen oë van die wal af. Maar as die honger hulle uitgedryf het na die plaasvolk se huise toe, was daar altyd ’n informant byderhand. Enige potensiële sondaar kon so ’n paar punte score by die dienders.
“Ons het ’n boekrak gehad met die Skatkis-reeks as ons grootste vreugde. My ma se voorgeskrewe boeke uit haar skooljare en haar studietyd by die onderwyskollege, asook boeke wat sy as pryse gewen het, het die rakke amper volgemaak. So hier en daar onthou ek ook ’n boek met my pa se naam voorin, maar hy was nie ’n storieleser nie. Op die boonste rak, in die linkerhoek, was ’n tweetalige woordeboek en ’n dik, groen doktersboek met die titel Die Huisdokter en gids tot gesondheid. Die boek staan nou op my boekrak tussen my kleinode. Ons mag nie aan dié boek geraak het nie – verbode vir die kind se oog. Maar Sondagmiddag, wanneer die grootmense ná ete gerus het, het ek my kans gevat. Voor in die boek staan: ‘Nie bedoel om die plek van die geneesheer in te neem nie, maar om die leser te help om intelligent met hom saam te werk.’ En op kleurplaat X tussen die voorste paar bladsye het ek gekry waarna ek gesoek het. ‘Manlike bekkenorgane’. In pers en rooi en ryklik bedeeld. Fassinerend, want ek het nie geweet nie.
“Boeke was geskenke, nie op die alledaagse inkopielys nie. Dit was net te duur. Ons het wel Die Burger gekry, elke oggend op die plaas afgelewer deur die melklorrie, Die Huisgenoot, die Sarie Marais, beide ook afgelewer deur die melklorrie saam met die pos wat oom Bailey, die oom wat die melklorrie ‘gery’ het, elke dag vir ons by die poskantoor gaan haal het. Verder het ons Die Landstem gelees, maar kon dit net koop wanneer ons kerk toe was. Die Landstem was eintlik ’n sondige koerant omdat dit op Sondae uitgegee is, maar my pa het gesê hy koop dit net vir die sportverslae. Hy het dan ook die koerant so van agter af gelees, maar hy het wel tot op die eerste bladsy volgehou.
“Wanneer die Springbokke oorsee gaan toer het, of oorsese spanne hier was, het ons meer dikwels Die Landstem op die dorp gaan koop en só meer dikwels in die kerk gekom. So het dit in elk geval vir my gevoel, want ek was my pa se rugbypêl. Uit Australië en Nieu-Seeland is die wedstryde tussen vieruur en vyfuur in die oggend oor die radio uitgesaai, krakend en onduidelik, maar ek het elke uitsending saam met hom deurgesit, in eerbiedige stilte. Ek wonder wat van my plakboek van Basie Viviers se toer na Australië geword het? Die span was drie maande weg en op die voorblad van Die Burger was ’n groot foto wat van die skip geneem is met hul vertrek uit die Kaapse dokke, met streamers wat van die dek gegooi is en wat hoog waai in die wind.
“Ek het vir die bruin kinders Sondagskool gehou toe ek skaars kon lees. Hulle moes onder die afdak langs die kelder kom sit op ’n paar kafbale wat hulle self daar ingedra het. My ma het eendag kom inloer. Ek wou bietjie indruk maak. ‘Onthou julle wat Noag se seuns se name was?’ het ek gevra. Een hand in die gehoor het effens gelig. ‘Sem, Gammat en Jafta, kleinnooi,’ het dit met ’n klein stemmetjie gekom. ‘Mooi,’ het ek gesê. My ma het die aftog geblaas. Dit was my eerste klas.”
Mariël se skoolloopbaan het in Moordkuil se plaasskool begin. Hulle het nie skooldrag gehad nie en sy het in haar dagrokke, wat haar ma gemaak het, skoolgegaan. Dit was in die dae voor meisies kort- en langbroeke gedra het. In die somer het hulle kaalvoet gespeel op die stukkie klipperige speelgrond rondom die skoolgeboutjie.
“Dis droë wêreld; geen grasperke nie,” vertel Mariël aan LitNet. “Net ’n paar malvas om die hoek van die stoepie voor die skool. Die twee klaskamers is met ’n houtafskorting geskei. In sub A het ons al geweet wat vir ons wag in standerd vyf. Elke woord wat die twee onderwysers in hul klaskamers ge-uiter het, was van weerskante van die houtpanele duidelik hoorbaar. In die hoek van die speelgrond was ’n dammetjie met paddavissies tussen die klippe en die slik. Ons het, met blikkies aan ’n stuk draad, gedurende pouses die paddavissies gevang, getel, gestry, teruggegooi en weer gevang. ’n Enkele ‘hokkie’, van sinkplaat, maar stewig aanmekaargesit, was agter die skool in die bloekomlaning. Binne was net ’n planksitplek met ’n ronde gat daarin oor die long drop en ’n haak van bloudraad agter die deur met stukkies koerantpapier daaraan en baie daddy-long-legs in die hoeke van die dak.
“My ousus en ek is dorpskool toe toe my pa moeg geword het van op en af ry om ons skool toe te gaan wegbring elke oggend en in die middae weer te gaan haal. My ma het nooit motor bestuur nie. Ons het ná die Kersvakansie gaan aanmeld by die Laer Meisieskool in Worcester in ons somersdrag van ligblou rokkies. Skoon verskrik het ons twee in die lang rye van honderde kinders voor die ingange na die skoolgebou ingeval. Ons was te jonk vir die dogterskoshuis op die dorp, maar hulle het ons ingeneem vir ’n probeerslag. Dit het glad nie gewerk nie. Toe het ons in my pa se tante se losieshuis gaan bly, by haar in die kamer geslaap op ’n dubbelbed, maar ook dít het nie lank gehou nie. Toe het ons by my Stofberg-grootouers ingetrek. Ons het myle te voet afgelê skool toe en terug, sport toe en terug. Ek onthou die verlange na die plaas en ons mense, en die plaasskool se kaalvoetdae. En ek het die donkerblou ‘serge-pinafore’ en die swart langkouse van die dorpskool se wintersdrag gehaat, maar ek was baie lief vir my oupa en my ouma, al was my ouma baie suinig met die vrugte aan die bome in die tuin, veral die lukwarte. Ons mag self geen vrugte gepluk het nie, want ons sou die bome seermaak. Elke middag halfdrie het ek styf onder my oupa se blad saam met hom Liefdeslied oor die radio geluister en saans Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Ons twee styf teenmekaar in die hoek van die groot ou sofa teen die muur in die eetkamer.
“My herinneringe aan my hoërskooldae in die Hoër Meisieskool Worcester is mooi. My ousus en ek het in my standerdsesjaar weer geskuif na ’n losieshuis veel nader aan die skool. Vakkeuses en die ruil van klasse en onderwysers was opwindend. Miskien was dit ook die kontak met die seunskool wat bygedra het tot die opwinding, want ons het dikwels debatsaande met die seunskool gedeel, redenaarskompetisies gehou en dan die groot, groot gebeurtenis elke jaar op die skoolkalender was die interskole-sportbyeenkoms met Robertson se hoërskool. In my standerdnegejaar het ek ’n skiet vir die byeenkoms gekry van Jean le Roux. Die hele dag het ons sy aan sy in ons skoolklere mekaar goed deurgekyk en die aand is ons, soos dit die gebruik was, bioskoop toe. Dis hoe dit met interskole gewerk het. Hy was sewentien, ek sestien. My pa en ma, kleinsus en boeta is almal saam bioskoop toe, want ek moes weer ’n geleentheid plaas toe hê. Ek en Jean het bo in die fliek gesit en die wagtende familie onder. Ná die vertoning het ons afskeid geneem op die sypaadjie voor die Scala-bioskoop in Hoogstraat langs my pa se wyevlerk-Pontiac.”
In standerd agt het Mariël ’n stukkie vir ’n tydskrif ingestuur, maar hulle het dit teruggestuur en gesê dat dit te min om die lyf het vir publikasie.
Verdere studie en werk
Dit was nooit werklik deel van Mariël se toekomsdrome om te gaan verpleeg nie. “Ek wou tale bestudeer, ’n onderwyseres word en die wêreld regeer. Maar dit werk nie sonder geld nie.” Toe haar onderwysbeurslening ná ses maande op Stellenbosch die gees gee, was die skrif aan die muur. Sy het eers by die Koöperasie op Worcester ’n tydelike werkie gaan doen, want sy moes die lening terugbetaal. Daarna het sy nog ’n paar draaie geloop voordat sy uiteindelik by die Karl Bremer-hospitaal in Bellville aansoek gedoen het vir verpleegopleiding. Sy het dit as ’n uitweg gesien om te werk terwyl sy kon studeer. Dit was, volgens Mariël, ná al die wroeging ’n uitstekende besluit.
“Aanvanklik was die elke dag se eentonige skoonmaak- en skropwerk vir my ’n las. Ons het selfs in ons eenvoud op die plaas altyd bediendes gehad om ons wêreld skoon te hou. My hande was nie gewoond aan soveel chemikalieë om al die hoekies en gaatjies te reinig nie. Potte en potte kamferroom het ’n groot deel van my maandelikse loon ingesluk. Namate die tyd verbygegaan het en meer en meer senior werk in die sale aan my toevertrou is, het ek die magsposisie waarin dit my geplaas het, begin respekteer en dit begin geniet. Ons het vinnig grootgeword in die hospitaalsale – hartseer, pyn, die dood, die vreugde van ’n nuwe baba en van herstel van ’n siekte is emosies wat my soms onkant gevang het. ’n Paar keer moes die familie my troos!
“Jean en ek is getroud net voor ek my finale eksamen vir registrasie as Algemene Verpleegkundige geskryf het, twaalf dae ná die groot aardbewing van 1969. Ek het ’n oorplasing na Eben Dönges-hospitaal op Worcester gekry en my diploma daar voltooi. In die daaropvolgende sewe jaar is die vier klein Le Rouxtjies gebore – Marí (sy bestuur haar eie onderneming), Ernie (hy werk in Angola vir British American Tobacco), Pieter, wat ’n aankoper vir Shoprite in Nigerië is, en klein Jean, wat ook sy eie onderneming het.
“Vir veertien jaar was ek huisvrou totdat ek die Verloskundekursus op Worcester gaan doen het aan die begin van 1982. Ek moes van voor af leer, maar dit was baie exciting. En toe het my studie rigting gekry. Aan die einde van 1987 voltooi ek ’n BA Cur in Verpleegonderrig aan UNISA en kon ek uiteindelik skoolhou vir die verpleegsters. Jean en al vier die stomme kinders moes die gradeplegtigheid in die stadsaal van Parow deursit, die ganse Saterdagmiddag, almal stomend in hul Sondagklere.
“Net daarna is Jean, wat in totaal bykans 40 jaar vir Naspers koerante verkoop het, vanaf die Worcester Standard Kaapstad toe verplaas om eers Die Burger en later die suidelike koerante te bestuur. Ek het aanvanklik by Otto du Plessis-verpleegkollege gewerk en later by die Universiteit van Wes-Kaapland. By laasgenoemde het ek deeltyds ingeval en altyd Verloskunde, maar ook soms ’n verskeidenheid ander vakke aangebied, afhangende van die behoefte van die kollega wat met studieverlof, siekverlof of kraamverlof was. Dit was ’n besige, wonderlike tyd.
“Toe Jean noorde toe verplaas word om Beeld en die noordelike koerante te gaan bestuur, het ek tuis gebly om die ouerhuis se vlam in die Kolonie hoog te hou terwyl die kinders nog aan’t studeer was. Ek wou ook nie my loopbaan prysgee nie. Aan die einde van 1999 het ek afgetree, die huis in Durbanville verkoop en Hermanus toe getrek. Jean het sowat ses maande later ook die tuig neergelê en by my aangesluit. Ons het albei weer begin werk net nadat ons hier in Hermanus ons tasse uitgepak het – Jean by die Hermanus Times, ook deel van die Naspers-stal, waar hy sewe jaar later weer afgetree het, en ek deeltyds by die Universiteit Stellenbosch se Verpleegkunde Departement. So ongeveer twee jaar gelede (2008) het ek ook halt geroep en vir die laaste keer afgetree. Ek het nog altyd gesê as mens meer as twee keer per week die versoeking het om te sê: ‘... maar in my dae het ons ...’, dan is dit tyd om te loop. Dan het jy ’n nat waslap geword. Die verpleegberoep het aanbeweeg. Verpleegsters is nou professionele persone in eie reg met nuwe visie. Die knegskap aan die mediese professie is iets van die verlede. In Suid-Afrika het die fokus van versorging verskuif na primêregesondheidsonderrig met voorkoming as prioriteit. Ek sal in my volgende lewe graag dié kursus wou aanpak. Die verpleegkundiges se hande het nou ten minste ’n beter kans op behoud, want hulle skrop en skuur nie meer om die sale skoon te hou nie en hulle dra handskoene. Salig!”
En dit is daar teen die Mosselberg in Hermanus waar Mariël besluit het om haar hand met mening aan die pen te waag. Haar eerste boek, Wilhelmina: kampkind op Java, word in 2007 deur Protea Boekhuis uitgegee. Dit vertel die ware storie van Wilhelmina (Will) van Halewijn, haar ma en haar twee sussies wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog op die eiland Java in Indonesië deur die Japanners gevange gehou is.
“Ek het baie ure vir myself gehad,” vertel Mariël aan Willemien Brümmer (Die Burger, 11 September 2010). “En hierdie Wilhelmina-vrou se notas het ek 35 jaar gelede reeds gelees. Destyds het ek al vir haar gesê haar notas moet gepubliseer word, maar dit het nie daai tyd gebeur nie. Eers toe ek nou hier sit en dink watse storie sal ek skryf, het haar notas my weer bygeval en sy sê toe: ‘Ja, sure.’”
Dit het haar drie jaar geneem om die storie te skryf. Sy het dit aan Protea Boekhuis voorgelê, waar dit verskyn het onder die uitgewershand van Martjie Bosman. Danie Botha het vanuit ’n gedeelde ver verlede in Worcester haar pad gekruis as redakteur van Wilhelmina: kampkind op Java. Intussen stuur sy vir Riana Scheepers ’n inskrywing vir haar plaasstorieboek Die melkweg het ’n ster laat val, wat sy saam met Nicci Thabo saamgestel het, en Mariël se storie “Ant Mêkie” is aanvaar om in die bundel opgeneem te word.
Wilhelmina se vader was ’n skeepsbouer in Roemenië en die gesin vlug na Indonesië met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Die besetting van die eiland deur die Japanners bring ’n wending in hul lewe met die ellende wat so ’n situasie inhou. Hulle emigreer uiteindelik na Suid-Afrika.
Die Van Halewijns het hulle op Worcester gevestig en hier het sy toe vir Mariël le Roux ontmoet. Mariël se man Jean en Will het albei aan die Rotariërs behoort. Will het aantekeninge, wat sy vir haar kinders wou bewaar, gemaak oor haar tyd in die konsentrasiekamp en sy het dit aan Mariël gewys: “Ek het vir haar gesê dis ’n stukkie geskiedenis wat gedeel moet word,” het Mariël aan die Standard gesê.
En dis hoe Wilhelmina: kampkind op Java gebore is. Will het Vishoek toe getrek en dit was vir haar baie emosioneel toe sy die boek vir die eerste keer in haar hande gehou het: “Ek het in die sewentigs probeer om my notas (wat sy laat bind het) te publiseer, maar ek het nooit Afrikaans geleer nie, ek het dit net opgetel.”
Will is in November 2018 in Vishoek oorlede.
Joan Hambidge (Die Burger, 28 April 2008) skryf: “Die boek is besonder mooi uitgegee met ’n foto op die omslag van die kampkind. Hirosjima en Nagasaki en die atoombomme is die een oorlog; daar is egter ook die Javaanse opstand teen die Hollandse oorheersing. En Wilhelmina is Nederlands.
“Die dubbele oorlog word verder bemoeilik wanneer die vader terugkeer, onbewus van die werklike ellende wat beleef is omdat hy tydens die oorlog in Simonstad was. Die groter oorlog word gesinkopeer met ’n binne-oorlog van verdere onsekerhede.
“Dié roman aktiveer vir hierdie leser Alice Miller se The Drama of Being a Child – The Search for the True Self (Virago 1987), en in welke mate die geskonde kind, deur stem te gee aan verdrukking, tot genesing kom. Deur die verhaal aan ons te bied, word nie alleen ’n belangrike en relevante letterkundige teks gelewer nie, maar word dit ’n dokument van oorwinning en vryheid vir Wilhelmina. Hierom die begin van die teks waarin sy bely dat sy moes vrede maak met die oorlog wat haar geknyptang het.
“Dit is ’n bekende kode van die belydenisroman om ’n verhaal aan ’n ander te vertel wat dit dan as ’n soort dokument vir die leser aanbied. Daar is sewe kussingslopies volgestop met klere en linne, die werklikheid van die Rooi Kruis en die onrustighede wat só ’n bestaan inhou. Daar is ’n Japanse soldaat wat Nederlands kan praat, en hulle word teruggeneem om hul besittings te gaan haal. Dit blyk egter dat hul huise in Perak beset is en dat hulle niks mag wegneem nie. Hulle is as die flapkeppe met lemgewere X gestereotipeer, ontmenslik. Waargeneem deur die oë van ’n kind. Horlosies moet volgens Tokio-tyd gestel word en daagliks is daar nuwe reëls en regulasies. Verbod op BBC en Radio Nederland. ’n Afsluiting van die buitewêreld. Japanse geld word toiletgeld genoem; dis waardeloos.
“Die prosa in hierdie gedeeltes is dringend en verraai iets van die ontsteltenis van die waarnemer. Dit is duidelik ’n knoop in die psige, soos Lacan hierdie soort trauma beskryf. Soerabaja is die kamp vir die vroue en kinders, met hoë heinings van hakiesdraad. Ons sién die hakiesdraad en heinings. Met subtiele implikasies oor wat mans aan vroue kan doen. Die ma waarsku immers dat mans se onheil broei in die nag [...] Daar is vele anekdotes oor hoe die vyand uitoorlê word en die oorlewingstaktieke is geloofwaardig. Die verveling van oorlog en die uitdaging van die vyand (deur hulle in die oog te kyk), kom eweneens aan bod. Moenie ’n soldaat in die oog kyk nie. Oppas vir verkragting. Daar word skoolgehou, in klein groepe, om die kinders besig te hou, en met juffrou Bot wat hulle vertel wat aangaan. Interneringskampe bestaan, en die smokkel van kos en klere na die gevangenes. Die verraaiers neem deel om besig te bly en ter wille van vergoeding. [...]
“In die kursiefgedeeltes, met erge emosionele pyn, beleef ons die hede. Het vriende die oorlog oorleef? Hier word beskryf hoe gesinne van mekaar geskei word en hoe haar moeder hulle altyd bymekaar gehou het. Twee vragmotors kon verskillende bestemmings bereik. Die verhaal word in ’n sober prosa aangebied sodat die emosionele impak des te groter word vir die leser. (Daar is ook humor, soos die omkeer van ’n pot op ’n Japanner wat probeer inkom.)
“Hierdie stuk geskiedenis het my nog altyd gefassineer. Besoeke aan die museums in Hirosjima en Nagasaki gee uiteraard ’n ander kant van die munt, nes Pearl Harbour. Maar die mens, die klein onskuldige kind veral, wie se lewe oorweldig en verander word deur ’n oorlog – dís waaroor hierdie verhaal handel teen die agterdoek van ’n groot omwenteling in die geskiedenis en sy skending van menseregte.
“Op die agterplat word vertel dat ’n mens nie maklik hierdie boek kan neersit nie. Dit was hierdie leser se ervaring van dié dokumentêre fiksie. Alles gebeur op twee vlakke: ’n verhaal vertel aan ’n ander; twee oorlogsituasies en ’n voortdurende beweeg tussen die hede en die verlede.”
Vir At van Wyk (Beeld, 19 Desember 2007) is Wilhelmina ’n boek sonder pretensie wat jou saggies saamvat, dan plotseling oorrompel. En lank nadat jy klaar gelees het, wil die seer gesiggie van die tienermeisie op die voorblad jou nie los nie. “Dis vandat sy hul werk by die rioolput op Java by die naam noem – ’n 70-tal bladsye voor die einde – dat sy haar oënskynlike onskuld begin verloor en die ‘bietjie grootmens’ in haar ’n volwasse vrou word wie se storie, en dié van haar ma, jou enduit meevoer. As jy dink dis ’n cliché om te sê waarheid is vreemder as fiksie, lees vir Wilhelmina.”
Wilhelmina was ’n treffer en dit is in Nederlands vertaal. Dit is ook op RSG voorgelees.
Ná die sukses van Wilhelmina begin sy eers versigtig en later met oorgawe aan haar volgende roman skryf. “Die tweede prys in Sanlam se Groot Romanwedstyd was ’n heerlike verrassing. Toe Riana Barnard, uitgewer van fiksie by Tafelberg, my bel om te sê my boek gaan gepubliseer word, was ek uit my vel. En toe Danie Botha weer as redakteur aangewys word, het ek veilig gevoel.”
In Die naamlose put sy vryelik uit die arsenaal van “verskriklike verhale” wat sy in die kraamsaal gehoor het, vertel sy aan Willemien Brümmer. In dié roman is Carli Botha amper sewe jaar oud toe haar ma, Bella, ’n gebore Italianer, in die donker plaashuis op Grootvlei die lewe skenk aan ’n wangeskape, breinlose – oftewel anensefaliese – boetie.
“Dis ’n katkoppie, baas,” sê Lena van anderkant die groot sloot, waar die bruin mense woon. Dit reën al dae lank sonder ophou op Grootvlei. Ma Bella is op die plaas vasgekeer, en daar is geen manier om hulp te ontbied nie. Carli se pa, Wilhelm, blaf vir Lena om ’n plan te maak met die katkoppie, en kort daarna skree Lena hard: “Jirretjie, God, baas, nooi Bella het uitgegaan!”
Van toe af lê ma Bella en die katkoppie in Grootvlei se kerkhof, en Wilhelm in die dorpshotel, waar hy drink en hoereer. Dora van anderkant die groot sloot sorg vir Carli totdat Oudominee en die Welsynsvrou haar op die plaas kom haal. Die emosionele mishandeling duur egter voort, al is sy in die sorg van die Gesalfde.
Carli knoop ’n verhouding oor die kleurgrens aan met Dora se seun, haar speelmaat van kleintyd, totdat ’n tragedie hulle skei. Op hul laaste dag by die rivier weet Carli haar dae op Grootvlei is verby.
Al word die geweste waarin dié hartseer verhaal hom afspeel, nooit in die boek verklap nie, vertel Mariël: “Grootvlei is gebaseer op my grootwordplaas, Houmoed, in die distrik Scherpenheuvel, naby Worcester.”
Mariël en Willemien Brümmer gesels verder oor Die naamlose: “Ek het dit in die boek maar so ’n algemene plattelandse dorp gemaak, maar ons het ook die bloekombos en die groot sloot en die rivier gehad – nou toegegroei onder die palmiet. Daar’s nie meer swemplek of sandbanke nie. Ek was nou die dag vir die eerste keer in seker veertig jaar daar [...] Ons is nou veertig jaar getroud, en van toe af het ek nie baie daar gekom nie.”
“My pa het nog tot in sy negentigste jaar op die plaas agtergebly. Hy wou nie roer nie. Hy’t petrol in die kar ingegooi by ’n petrolpomp op die plaas en hy’t langs die kar inmekaargesak. What a way to go!
“My ma is so 13 of 14 jaar gelede dood weens Alzheimers. Dis mos snaaks, as jy jou goed en jou mense wegvat van die plaas, is dit nie meer joune nie. Ek het nie meer ’n hunkering na die plaas nie.”
In haar grootwordjare het Mariël en Carli op dieselfde plekke gespeel, en soos in die boek was Mariël ’n laerskoolkind toe haar gesin die eerste keer ’n badkamer op die plaas kry. Sy was vyftien toe elektrisiteit op Houmoed geïnstalleer is, en haar eerste twee skooljare was in die plaasskooltjie Moordkuilskool. Net soos Carli is sy later na die dorpskool, en sy en haar susters moes in die dorp tuisgaan – by familie en in losieshuise. Die groot verskil is dat Mariël gelukkige herinneringe aan haar grootwordplaas het – en haar pa is beslis nie die dronk sadis Wilhelm nie.
Tog is hierdie ’n storie wat sy nog altyd wou vertel en is “die meeste daarvan op die waarheid geskrywe. Ons het regtig gespeel met die toktokkies en die goeters, en van die bruin vroue oor wie ek skryf, het ek regtig geken. Hulle was ons geselskap in die huis. Ek het altyd gedink ek wil graag hierdie storie skryf oor die plaas, want ons het amper armoedig daar bestaan.”
Baie van die staaltjies in die boek kom van oorkant die groot sloot: Stories in die buurt wat jou hare laat rys het, oor die rooiooghond wat by die drif spook en die boer se seun wat in sy bakkie daar afgespoel het. Daar was ook regtig Italiaanse krygsgevangenes wat in die buitekwartiere op Houmoed gebly het, nes ma Bella se oom, wat die land tydens die Tweede Wêreldoorlog binnegekom het. “Ek het ’n foto gesien waar een van die Italiaanse krygsgevangenes met my op sy arm staan. Ek was toe ’n babatjie, maar ek kan die staaltjies onthou wat my pa oor hulle op die plaas vertel het.”
Die emosionele mishandeling waaroor sy skryf, sê sy, is meestal gebaseer op ervarings in haar verpleegloopbaan. “Mense het amper gebieg oor die goed wat met hulle of met hul kinders gebeur het. Ek dink daar word geweldig baie klem gelê op fisieke en seksuele mishandeling, maar omdat daar nie bloed en wonde is nie, word emosionele mishandeling onder die mat ingevee. Jou pa gaan nie tronk toe omdat hy jou ignoreer of jou sleg behandel nie.
“En dan was daar [...] ek onthou uit my kleintyd hierdie ooms wat so ’n bietjie verkeerd gevat het aan ’n mens. Ek onthou dit so goed dat dit die indruk op my gemaak het: Ek wil vir Oudominee daar sít en ek wil vir hom ál die skuld gee.”
Sy het ook eerstehands kennis gemaak met die anensefaliese babas in die kraamsaal: “Dit beteken dat die skedel en die brein óf gedeeltelik óf heeltemal nie ontwikkel nie; die babas is gewoonlik prematuur. Die katkoppies word so genoem omdat die ogies van die baba, wat uitstaan omdat die kopvel bo plat getrek is, soos katoortjies lyk. Die naam ‘katkoppie’ kom van die vroedvroue, of die oumas, soos ons hulle genoem het, wat op die plase die babies ‘vang’.
“En,” vertel sy vir Brümmer, “die een wat die langste gehou het waarmee ek besig was, het vier ure so ’n bietjie asemgehaal. Hulle kán nie leef nie. Partykeer is daar net genoeg brein om vir refleks-aksies te sorg. Jy kan niks vir die baby doen nie.”
Jacolette Kloppers (Beeld, 1 November 2010) beskryf Die naamlose as ’n hartseer storie oor eensaamheid, onregverdigheid, verlange, herinneringe, onsekerheid en die verwoesting wat ’n pa kan saai as hy nie sy kinders en hulle ma liefhet nie. “Dit is die verhaal van ’n onskuldige kind wat vir die sondes van haar vaders gestraf word (omdat die wraak van haar ouma Sarie, haar pa se ma, geen einde geken het nie). Dit is ook die storie, sonder dat dit aan ’n spesifieke datum, tyd en plek gekoppel word, van ’n tyd toe die ontugwet ’n werklikheid was, skelname mense afgebreek het, wit en bruin nie kon meng nie en toe twee beste vriende, sielsgenote en verliefdes, hul lewens op die spel moes plaas om bymekaar te wees.
“Ons beleef Carli, die verteller, se moeilike grootwordjare op die plaas Grootvlei, die nag toe haar ma, Bella, tydens haar boetie se vroeë geboorte dood is en Lena ’n plan met die ‘katkoppie’ moes maak, en die dag toe haar pa, Wilhelm, haar lieflinghond sonder rede op haar vyfde verjaardag doodgeskiet het. Deur Carli se oë ervaar die leser ook Wilhelm se drankmisbruik, sy mishandeling (fisiek, emosioneel en verbaal), haar losies op die dorp by die vulgêre Oudominee wat sy kanse met haar probeer vat het sodra niemand kyk nie, die Welsyn se dreigemente, die polisie wat haar en Wimpie tussen die bosse dophou, en die dorp se ongevoelige skinderbekke.
“Indien ’n mens jou hart vir die boek oopmaak en jou aan die storie oorgee, kan dit jou ’n nag lank laat huil omdat dit eerstens so hartseer is en omdat ’n mens Carli se vrese so aan jou eie lyf kan voel. Maar tweedens wil ’n mens huil van verligting omdat Carli se verdrietigheid ten einde laas ook verbygaan en ma Bella se ‘eendag-op-’n-reëndag’, waaroor hulle so lank gedroom het, toe wel waar geword het.
“Die een ding wat dalk soms te goed is om waar te wees, is Carli se beskermengele wat maar net altyd daar was om haar pa op ’n afstand te hou. Eers Lena, en toe Dora, Sampie, Evelyn en later die Italiaanse familie. Baie ander kinders in soortgelyke situasies het nie ’n Dora of ’n Evelyn gehad nie en sou met nog meer letsels daarvan afgekom het.
“Die naamlose herinner baie aan Pat Stamatélos se Kroes en Die val van die dice en ook Odette Schoeman se Swartskaap in dié opsig dat onskuldige mense – kinders – se ellende só beskryf word dat ’n mens maar net weer besef daardie pyn sal vir die res van hul lewens met hulle wees, al was hulle gees sterk genoeg om te oorwin.”
Elsabe Claassen skryf in Volksblad dat die titel van die boek verwys na die geheim van die naamlose katkoppie en ook na die onnoembare dinge in ons samelewing wat verdoesel word.
“Dit geld nie net die tyd waarin die storie afspeel nie, maar ook ons eietydse samelewing. Dit sluit in die onmenslike liefdeloosheid van ’n pa, die korrupsie van die gereg en die skynheiligheid van ’n predikant.
“Die naamlose kloof die wreedheid van rassisme oop, die sondes van die vaders waarvoor die nageslag moet boet en die skuldgevoelens wat aan kinders oorgedra word. Die verhaal van Carli, Lena, Dora en Wimpie is aangrypend. Dit ontketen by die leser emosies van woede en magteloosheid, maar ook van verwondering en vertroue in die basiese goedheid van die mensdom: woede oor grootmense se gevoelloosheid en gewetenloosheid teenoor dié wat onder hul sorg geplaas word; magteloosheid teenoor die korrupsie van mense in magsposisies. Die emosie van verwondering, asook hoop en vertroue in die fundamentele goedheid van die mens, kry gestalte in die oorweldigende liefde en lojaliteit van die versorgers, die gewone huisbediendes. Die sout van die aarde, dít is hulle: die Lenas, Doras en Evelyns. Diésulkes wat ’n kind soos Carli, wat haar lewe op Grootvlei en die pastorie as ‘een lang dodemars’ ervaar het, kon omvorm tot ’n vrou wat die lewe vierkantig in die oë kon kyk en dit met albei hande kon aangryp.
“’n Mens se blywende gevoel oor die boek is dié van dankbaarheid en bewondering vir al die getroue bediendes wat kinders soos Carli teen hul eie ouers en die samelewing se liefdeloosheid en wreedheid beskerm het en daardeur dikwels self groot opofferings gemaak het, of soms met hul eie lewe moes boet.”
Vir Malene Breytenbach (LitNet) handel Die naamlose veral oor die uitgeworpene, die buitestander, se wil om oorlewing en oorwinning ondanks teenslae, hoon en mishandeling. “In dié stryd is daar ook verloorders. Broeiende onheil. En identiteitskrisisse, wat al in die romantitel gesuggereer word. Aan die begin van die verhaal keer Carli Botha terug na haar grootwordplaas, Grootvlei, wat sy geërf het. Sy het nie regtig ontsnap aan haar ‘kleintyd se spoke’ nie. Haar herinneringe aan dié plek en haar pa, Wilhelm Botha, wat sy verafsku het, waarsku dat hier allerhande negatiewe en afgryslike dinge in die verlede gebeur het. Die implikasie is dat Carli wreedheid en hardvogtigheid en ’n gebrek aan liefde van haar pa ervaar het.
“Daarna strek die verhaal oor die tydperk vandat sy amper sewe jaar oud is totdat sy reeds ná skool as verpleegster gekwalifiseer het. Die roman ontvou in tydspronge tussen die hede en die verlede. [...]
“Dis ’n leesbare, boeiende boek. Maar dit pla tog dat die wit volwassenes (met die uitsondering van Bella) sulke oordrewe gemene, kwaadwillige, monsteragtige figure is. Hul griewe en haat vererger net en van vergifnis is daar geen sprake nie.
“Die sersant – ’n negatiewe, korrupte gesagsfiguur – word tien jaar lank skynbaar oor die hoof gesien vir bevordering. Hy en sy vrou en dogter, Marita (‘Rooivlegsel’), se haat en nyd teenoor Carli omdat sy Marita op skool uitstof, grens aan kinderagtige gedrogtelikheid. In teenstelling met dié klomp is die huishulpe almal liefdevol, versorgend en opofferend. Hierteenoor staan die rassevooroordele onder die ou bedeling en wette skerp afgeteken. Maar wat bybly, is ’n verhaal waarin menslike wilskrag seëvier en die uitgeworpenes teenslae en mishandeling oorwin.”
Riette Rust (Beeld, 1 November 2010) beveel Die naamlose heelhartig aan. “Wanneer ’n mens Die naamlose optel, dink jy dalk ag, nee! – nie nóg ’n storie uit die apartheidsjare en oor armoede nie. Wie wil ook weer aan die dopstelsel herinner word? Maar die verhaal is so aangrypend en word met soveel deernis vertel dat jy ingetrek word.
“Die karakters lewe, so geloofwaardig is hulle. ’n Mens wonder net of Carli se pa nie net soms sy menslike kant kon toon nie. Niemand is tog net sleg nie.
“Le Roux kry dit wonderbaarlik reg om die leser in die kop van die kinderkarakter, Carli, te laat klim. Jy kan jou net indink wat in haar kop gebeur wanneer sy glo dat Liewe Jesus haar ma en hond letterlik uit die grond sal kom haal. Of wanneer sy ‘’n meisie word’ en nie weet wat haar tref nie. Die plaas word as’t ware nóg ’n karakter. Jy kan die omgewing en die gebeure daar ruik, voel, proe en sien. Le Roux se skryfstyl is gestroop; die kuns lê juis daarin om met min maar goed gekose woorde so baie te kan sê.
“Die verhaalstruktuur is goed deurdink en verloop vol verrassende wendings vlot na die einde toe. Al die drade kom netjies bymekaar. Die paar hoofstukke wat kursief gedruk is, lees moeilik. Hierdie lettertipe is egter onnodig, want die leser kan die tydspronge duidelik aflei.”
Toe Mariël hoor sy het die tweede prys in die Sanlam Groot Romanwedstryd ná Dan Sleigh se Wals met Matilda, het sy die huis warm gehardloop, vertel sy aan Willemien Brümmer. “Ons skoondogter uit Lusaka was hier, en dit was ’n geweldige geraas in hierdie huis. Sy was ’n dramastudent op haar dag, en sy en haar skoonpa het omtrént die dak gelig!”
En sy het nog net goeie terugvoering oor die boek gekry. “My ander skoondogter het gesê sy’t ophou lees, want haar man was in Luanda, en daar moet net iemand naby wees as sy so buite weste aan’t snikke raak.”
Nog mense het al laat weet haar werk toon ooreenkomste met dié van Dalene Matthee en ’n vriendin het gebel om te sê sy is so bly iemand praat ’n slag oor die rondslapery van die Gesalfdes. Sy het ook ’n hele paar briewe gehad van mense uit haar ver verlede. “Met party van hulle het ek dekades laas gesels. Briewe van aanmoediging, van waardering en selfs van bewondering, maar bowenal van lekkerte omdat die storie van Die naamlose hulle laat onthou. Estelle Visser, wat saam met my op die sub A-banke van Moordkuil se plaasskool gesit het, deel in my vreugde oor die sukses van my nuwe begin. Sy skryf daarin vir my: ‘... dans nog ’n riel saam met my om bly te wees oor Die naamlose’.”
Mariël het nog nie ’n vaste idee vir ’n volgende boek nie, maar daar is “baie insidentjies en goedjies uit die verlede – dit sal maar altyd ’n plaasverhaal of ’n kleindorpse verhaal wees wat ek skryf”.
Mariël le Roux se volgende boek is toe in 2013 by Tafelberg uitgegee onder die titel Klara. Dit vertel die storie van Klara wie se pa in ’n ongeluk oorlede is en hoe sy, saam met haar ma en twee susters, die plaas Bovlei moes verlaat en in die “wit lokasie” in die dorp moes gaan bly het. Haar suster het met verloop van tyd uit hulle ellendige omstandighede ontsnap, maar Klara moes vir haar ma en boetie sorg.
Mariël het aan JB Roux vertel dat sy van jongs af naby mense soos dié wat in Klara beskryf word, geleef het: “Ons het eenvoudig grootgeword, in die sinkbad voor die houtstoof gebad, ons doodgegril vir die daddy long legs in die buitetoilet.
“Ons buurt was afgesonder, nie arm nie, nie ryk nie, beslis nie agterlik nie, met ’n magdom kleurryke siele weerskante van die groot sloot en al teen die rivier af. Ek is deel van hierdie mense. Ek ken hulle.
“Klara se verhaal loop al lank saam met my. Die intriges rondom haar verwoeste drome het my heugenis stuk-stuk binnegeloop terwyl ek met haar storie besig was, maar die draaie wat die lewe met ’n mens kan gooi as jou geld opraak, spook al jare by my. Ek het baie geluister na platgetrapte ideale, drome wat agtergelaat moes word.
“Maar daar is ook my verwondering met die deernis wat uit mense kan straal wat in die diepste ellende saamgegooi is. Hulle help mekaar, gee wat hulle het, sorg vir mekaar en mekaar se families asof dit die natuurlikste ding op aarde is.
“Vir my is die mooiste liefde in Klara se lewe haar verknogtheid aan Boplaas: Die ruimte, die vryheid wat sy daar het om haar drome op die damwal te droom. Liefdes, toekoms- en grootmensdrome. Maar dit alles moet sy op Boplaas agterlaat. Die teleurstellings in die romantiese liefde trek haar dieper in die trog van oorgawe in waarin sy haar bevind toe hulle dorp toe trek – oorgawe aan dit waaroor sy geen beheer het nie en waarin sy geen keuse het nie.”
In Rapport (4 Augustus 2013) skryf Dineke Volschenk dat Klara se verhaal meesleurend is en een van armoede, verlore drome en hoop: “Die ding van Klara se ma staan redelik sentraal. ’n Mens is nooit werklik seker wat fout is met die ma nie. Dit klink soms asof sy so te sê psigoties is, maar dalk is sy net bipolêr. Sy keer in haarself in, word soos ’n kind, en dit is veeleisend om na haar om te sien. En daar is die groot geheim van die baba. Hul ma word swanger langer as ’n jaar nadat haar man verongeluk het en niemand weet wie die pa is nie. [...]
“Klara se verhoudings met die twee seuns van Boplaas, Dries en Hannes, is die spil waarom die storie draai. Die klasseverskille tussen haar en die broers en haar probleme met die ma en broertjie kelder telkens haar liefdesverhoudings, eers met Dries en later met die ander broer, Hannes.”
Klara is vir Dineke Volschenk in essensie ’n liefdesverhaal – “’n uitgebreide sage wat in die 1960’s en 70’s afspeel. Die mans moet almal weermag toe en een van die buurseuns sterf op die Grens, maar dit is werklik die enigste leidraad wat die leser kry oor die tydperk.
“Dit is ’n vermaaklike storie vol heerlike karakters en lekker outentieke taal. Wat ontbreek, is werklike tekstuur. Dit speel af in ’n onstuimige tyd in ons geskiedenis, maar in hierdie verhaal leef wit en bruin in liefdevolle harmonie saam en is daar van politieke onrus geen sprake nie. Die armoede verkry ’n soort romantiek en die werklik weldadiger verskrikking daarvan word nie uitgebeeld nie.
“Die mense van die Witlokasie is baie vermaaklik, maar hulle – trouens, al die karakters, selfs Klara en haar susters – word nie veel meer as stereotipes nie. Daar is nie werklik konflik in die verhaal nie. Dinge gebeur maklik, los netjies op, die toonaard van die verhaal bly gemoedelik. Dit word weinig meer as net ’n soapie oor mense aan wie die lewe sy gatkant wys.
“Nogtans sal die nostalgiese leser wat na ’n lekker liefdesverhaal op soek is Klara geniet en vir hulle beveel ek dit sterk aan.”
Klara begin in Duitsland, waar Klara, toe al in haar veertigerjare, op die spore van Martjie, haar oorlede suster, gaan stap om te probeer sin maak uit Martjie se skielike afsterwe, skryf Elsabé du Toit in Volksblad (20 Julie 2013). “Daarna word die leser teruggeneem na die gebeure wat aanleiding gegee het tot hierdie besoek.”
Daar is egter kleinighede in die boek wat vir Elsabé du Toit pla – soos die blykbaar onoorkomelike probleme tussen Klara en Hannes wat nie opgeklaar kon word nie en hoekom Martjie nie met die man in die rolstoel wou trou nie, maar desnieteenstaande is Klara leesbaar en hoop Du Toit dat daar nog baie stories uit haar pen sal vloei.
Mariël se vierde roman is Isabella en Riette Rust (Rapport, 28 Mei 2017) beskryf dit as ’n “lekkerleesverhaal wat met deernis en humor vertel word”.
In Isabella begin Mariël le Roux haar storie in 2014. Dan gaan sy terug na 1975 en word die verhaal van daar af chronologies vertel vanuit die ek-perspektief. Vir Rust bring dit die leser baie naby aan die gebeure, en verskaf ook insig in die hoofkarakter se psige.
Rust gaan voort: “So ’n karakter [soos Isabella] tref jy nie in elke tweede roman aan nie. Sy raak verlief, ja. Maar nie só dat sy onmiddellik tot trou instem (soos wat baie keer in die vorige eeu die geval was) nie. Die leser weet trouens van die staanspoor af dat haar verhouding met Gideon Malherbe nie passievol is nie. Haar kinderjare, gekenmerk deur koue verhoudings, het ook sy merk gelaat.”
Gideon oortuig egter vir Isabella om te trou. Dit beteken dat sy haar studies moet staak en saam met Gideon na ’n afgeleë myndorpie in die Noord-Kaap moet trek. Toe sy boonop gou swanger word, moet sy ook vergeet van haar studies deur Unisa. Sy verval in depressie en dit lei amper tot tragiese gevolge.
Rust skryf verder in haar resensie: “Mariël le Roux verdien volpunte vir karakterisering én vir die uitbeelding van verhoudings. Spesifiek dit wat ongesê bly. [...] Die karakters ontwikkel almal na behore.
“Die milieu is nóg ’n karakter wat boonop treffend uitgebeeld word. [...] Kritiek is daar skaars. Maar te veel karakters ‘lig ’n hand in ’n groet’ en soms noem Le Roux die vanselfsprekende. [...]
“Die verhaal is hartseer én snaaks, maar g’n niks soetsappig nie. Isabella se storie is so lewensgetrou, dit word deel van jou grein. Hoop is daar wel. Dis hoekom jy hierdie roman met ’n lekker hart sal toemaak.”
Ook Trisa Hugo (Beeld, 2 Mei 2017) is beïndruk met Isabella. Sy skryf dat Le Roux nie soos in haar vorige boeke terugkeer na haar temas van vrees en ontbering wat vanuit die kind se oogpunt beskryf word nie, maar sy verskuif in Isabella die fokus na ’n volwasse karakter wat self verantwoordelik is vir haar dade en die gevolge daarvan.
Hugo gaan voort: “’n Mens kry dit egter nie reg om afkeer teenoor Isabella te voel nie, maar die leser word toenemend ingetrek in die verhaal om in jou eie binneste te delf om deernis en begrip iewers uit te grou vir haar aksies.
“’n Tema wat soos ’n draad deur al Mariël le Roux se boeke loop, is sterftes. Haar agtergrond as verpleegkundige en lewensrypheid is duidelik waarneembaar wanneer sy sulke emosionele temas aanpak. Dit word nooit aangebied dat die leser ’n blote bejammering voel teenoor die karakters nie, maar eerder ’n belewing en dieper deernis. Ook in Isabella speel die dood van mense na aan haar ’n groot rol. [...]
“Isabella is nie jou gewone heldin in ’n storieboek nie. Skuldgevoelens is daar en wel ook met goeie rede en Isabella verstar telkens voor menslike emosies, meelewing en deernis. As leser sou ek wel wou sien dat die karakter dit in ’n mate oorkom of selfs oorkompenseer, net om ’n bietjie woema te wys. Die einde is wel ‘oop’ genoeg dat dit as moontlikheid gesuggereer word. [...]
“Hierdie boek is geskik vir ’n wye lesermark. Lesers van ernstige literêre werke sowel as dié wat lekkerleesboeke verkies, behoort aanklank hierby te vind.”
Tydens ’n leeskringbespreking by die Goodwoodse Leeskring in Februarie 2018 het Danie Botha die bespreking gelei en hy het as volg gesê (op LitNet): “Isabella vertel haar verhaal in die eerste persoon. Sy dra haar eie gedagtes en emosies oor, beskryf hoe sy teenoor ander optree en dramatiseer die talle gebeurtenisse oor 300 groot bladsye heen. Hier gebeur inderdaad baie. Ek was nie verveeld nie. Alles word duidelik ingedeel in tonele wat tipografies geskei word. Die leser weet dadelik waar die karakters hulle bevind ná ’n tydsverloop. Nuwelinge word voorgestel. Verlede jaar het ons hier gesels oor ’n boek waar dit nie die geval is nie. Waar ’n mens gou deurmekaar was met waar ons in die tyd staan: hede of verlede.
“Deels hoe Mariël dit regkry om ons te laat bybly, is met iets wat besonder voortreflik gedoen is: die slotsinne van die tonele. Dit dra ’n sekere finaliteit oor. Die sluitsinne is sober en oorwoë. ’n Gebeurtenis word duidelik afgesluit. [...]
“Isabella beskryf haar kleintyd as ‘verflenterd’. Haar Britse pa was ’n boekhouer. Wanneer hy bots met iemand, of as daar te veel geraas in die omgewing is, onttrek hy hom nors in sy slaapkamer en moet daar ’n kers agter ’n swart sambreel brand, want hy ly aan migraine. Net Queenie, die oudste dogter, weet hoe om hom snags te troos. Sy en hul moeder laat nie Isabella daar toe nie. Hierdie verwerping deur die gesin is dan die begin van Isabella se sielkundige probleme.
“Queenie sal telkens deur die roman heen heerssugtig optree. Sy kom baie duidelik as onaangenaam voor. Maar Mariël teken Queenie so goed dat jy begrip vir haar kry, dat jy kan aanvoel hoekom sy so optree. [...]
“Deur die roman heen beleef ons dan Isabella se telkense onvermoë tot uitreiking, maar ook hoe sy tog sukses daarmee het. Sy omskryf dit self byvoorbeeld as ’n volslae mislukte vertoning. Of as sy wat op die kantlyn staan. ’n Verslaentheid sak in vlae op haar toe. Diep en donker. Die radikaalste, die ontstellendste voorbeeld daarvan is ná die geboorte van haar en Gideon se Nicola, ook Nicky genoem. Isabella is oorval met wat die psigiater gediagnoseer het as postnatale of puernatale psigose. Sy had hallusinasies van swerms katte en ’n stem wat haar byvoorbeeld aanspoor om die kind terug te gee vir Jesus. Die kussing waarmee sy dit wou doen, die versmoring, sou lank nog ’n skrikbeeld wees. Soms kan sy net nie so ver kom om iemand te antwoord nie. Of die ander ignoreer haar.”
Danie Botha sluit sy bespreking as volg af: “Teen die einde van die roman is dit oorlede Nicky se Donnie, Isabella se aangenome dogter, wat baie doen om Isabella weer rus en geluk te laat vind. Donnie vertrek Londen toe. Die slottoneel volg. Dit is ook ’n voorbeeld van die helder natuurbeskrywings in Isabella (300): ‘Die see is dae lank al onstuimig, in pas met my eie rusteloosheid sedert ek Donnie ’n week gelede by die lughawe afgelaai het. Die dag is verby. ’n Rukkie gelede het miswolkies soos ’n string wattebolletjies op die horison tussen die berg en Robbeneiland kom lê. ’n Vaal dynserigheid het daarna opgesteek. Toe die eiland uit die oog verdwyn, word die wind koud en my gesig voel klam in die sproei van die brandergeweld wat springgety bring. Dis tyd om huis toe te gaan.
‘My besluit is geneem. Dis tyd vir my om ook te vervel. My skimme en spoke moet ek verjaag en dit finaal gaan afskud.
‘Môre gaan ek ’n tas koop. ’n Troeteldier wat langs my sal loop, een met vier pote, want ek moet baie klere inpak. Dis bitter koud en nat in Engeland, het Donnie gister oor die foon gesê.’”
Mariël laat weer haar lesers ongeveer drie jaar wag voor die publikasie van haar volgende roman, Mieke, wat in 2021 deur LAPA uitgegee is.
Op die agterflap word die storie van Mieke só beskryf: “Liefde vra soms van jou om onmoontlik dapper te wees. Teen haar beterwete nooi Mieke vir Boeta in haar huis en haar lewe. Sy het nie geweet van haar man se vorige verhouding of sy kind nie. Hoe kan sy Boeta kwalik neem vir sy pa se vergrype as jongman? Buitendien, Boeta hou almal se harte in die holte van sy hand. Mieke leer dat die mense wat jy liefhet soms van jou vra om onmoontlik dapper te wees. Dat seerkry en heelword verskillende kante van ’n munt is. En dat almal uiteindelik die koestering van huis en huismense nodig het.
“Dit vereis soms onmoontlike situasies om jou eie innerlike sterkte te ontdek. En die hoofkarakters het beslis diep gedelf in hierdie hartroerende verhaal.”
Trisa Hugo begin haar bespreking van Mieke (Rapport, 25 April 2021) só: “Om ’n verhoudingsroman te skryf met oortuigende karakters, storielyne en spanning verg lewenswysheid en insig in die self sowel as die mensdom.
“Mariël le Roux het haar reeds bewys as ’n meester op dié gebied. Haar karakters is menslik, rou en eerlik, asof dit mense is van wie jy weet, dalk selfs verlangse familie. Sy skryf oor gebeure wat jy hoop jy nooit mee te doen kry nie. Daar gebeur dinge in families wat toegesmeer en geheim gehou word, en Mieke is geen uitsondering nie.
“Die verhaal word vertel uit die oogpunt van Mieke, wat as bejaarde saam met haar man, Johan, in Gouda in Nederland terugkyk na gebeure wat amper 40 jaar gelede op hul plaas, De Hoek, uitgespeel het. [...]
“In Mieke kyk die titelkarakter toe op ’n duidelik getraumatiseerde Boeta se lewe en hoe dit hulle almal geraak het. Hy het op ’n dag aan hul deur kom klop met sy opgeboude skoen en verweerde leerkoffer. Aanvanklik is daar ’n afstand, ’n weerstand geskep deur omstandighede. Gou word Mieke en al die mense op die plaas egter intens betrek by die weerlose kind wat almal op De Hoek se lewe onherroeplik verander. Soos wat Mieke se weerstand verkrummel, sleep sy die leser al hoe dieper saam die verhaal in.
“Le Roux se karakters is mense met foute en skuldgevoelens, en in Mieke kry ons te doen met die titelkarakter se skuldgevoelens, oorkompensasie, onttrekking en jaloesie. Tog probeer sy terselfdertyd haar bes om Boeta te laat diagnoseer en behandel, ondanks sy ma, Ella, se oënskynlike ongeërgde houding. [...]
“Die roman is deurspek van daardie daaglikse drama wat om ons eie kombuistafels en in ons sitkamers sou kon afspeel, maar waaroor ons dankbaar is dat dit nié die geval is nie. Gruwelikhede waarvan ons lees, gepleeg deur mense wat ons bure kon wees. Of soos tante Trix die roman in ’n paar woorde opsom: ‘Ons is mos maar almal skuldig aan menswees.’
“Die temas is ernstig en emosioneel, maar word lig en toeganklik aangebied, in eenvoudige taal wat dieper sny as groot woorde. Le Roux skryf vir ’n groot leserspubliek: Aanhangers van ligte lekkerleesboeke én ernstige literêre werke behoort by Mieke aanklank te vind.”
JB Roux is die resensent vir Mieke in Beeld van 6 September 2021: “Mieke is hoofsaaklik gerig op die impak wat Boeta op die onderskeie karakters in die boek het en ook op die impak wat sy koms op die verhoudings van die karakters om hom het – veral dié tussen Mieke en Johan. Mieke was aanvanklik telkens haar hande aan haar man se lewensgrootte en veeleisende ‘liefdesbaba’, maar word toenemend en teensinnig ingetrek by ’n storie waarvan sy aanvanklik nie deel wou wees nie.
“Die karakters in Mieke is boeiend en oortuigend. Die skrywer sorg dat hulle nie koers verloor nie, maar ’n mens kry die indruk dat hulle sou kon doen wat hul wou en daarmee sou wegkom omdat hulle so ‘raak’ en léwendig is. Die deernis wat die karakters teenoor mekaar wys – en wat die skrywer teenoor haar karakters toon – is onpeilbaar.
“Mieke voel by tye soos ’n familieroman, met koerende of suurderige ooms en tantes en tonele wat soms in ’n gesellige pruttel ontaard, maar ook dié familielede laat jou voel dat hulle by die verhaal betrek móés word.
“Al word Boeta se storie – met die uitsondering van die ‘stil’ aanloop – grootliks in volkleur vertel, is daar genoeg lekkerte tussen die reëls vir dié wat lus het om daarna te soek en om ’n bietjie te dink.”
Mariël beskou haarself as ’n late bloomer. “Alles half agterstevoor gedoen. Maar nou is die tyd reg vir my om te skryf. Ek het ’n leeftyd van ervaring om uit te put. Lina Spies het die bekendstelling van Die naamlose by Protea Boekwinkel op Stellenbosch kom bywoon. Ons twee was in 2008 saam op die verhoog by Aardklop met ons tieners in die Tweede Wêreldoorlogkampe. Sy met haar vertaling van die dagboek van Anne Frank in Afrikaans en ek met Wilhelmina van Halewijn se storie uit die interneringskampe van Java. Op Stellenbosch, die oggend, gee sy vir my blomme, met ’n kaartjie met twee voëltjies voorop daarby. Binne skryf sy: ‘Ek sien die twee voëls voor op die kaartjie is bye-eters. Dit laat my dink aan heuning. Mag jy ’n korf vol daarvan hê om uit te put vir nog vele boeke. Ek deel in jou vreugde. Lina.’” (aan Willemien Brümmer)
Op Vrydagoggend 10 November 2023 is Mariël le Roux ná ’n kort siekbed oorlede. Mari Lategan, haar dogter, het aan Netwerk24 vertel dat haar ma drie weke vroeër skielik siek geword het van ’n pyn in haar rug. Akute pankreatitis is by haar gediagnoseer en sy is in Mediclinic Cape Gate oorlede. Sy word oorleef deur haar man, haar dogter, Mari, en drie seuns, Ernie, Pieter en Jean, skoonkinders en sewe kleinkinders.
Huldeblyke:
- Phyllis Green, boekeredakteur van Sarie: “Dis haar meelewing en empatie met die lewensgetroue karakters oor wie Le Roux skryf, wat my sal bybly. Sy het sterk vrouekarakters geskryf. In haar verhale het sy vraagstukke wat vroue regstreeks raak, uitgelig. In haar boek, Isabella, het sy byvoorbeeld met groot deernis oor nageboortelike depressie geskryf. ’n Leser kon saam met haar karakters stap. Haar boeke het moeilike onderwerpe gehad, maar was geensins swaarmoedig nie, want sy het die vermoë gehad om lig te skryf. Haar verhale is verhoudingsverhale. Sy het onder meer gekyk na die emosionele mishandeling van vroue en hoe vroue probeer oorleef in verhoudings waar die maats nie met mekaar praat nie.” (Netwerk24, 10 November 2023)
- Mari Lategan, dogter: “Ek ken my ma as ’n verpleegster in murg en been – nie net in die verpleegkunde nie, maar ook as ’n verpleegster van so baie wat gemaklik by haar kom sit en hul stories gedeel het. Hierdie diepte van haar kring het ons die afgelope tyd gedra. My ma was op haar gelukkigste kaalvoet, in haar denims en T-hemp in die tuin, wat sy haar ‘kerk’ genoem het.
“Sy het nog altyd geskryf – op papiertjies, en ook die ellelange verslae wat sy as deel van haar beroep as verpleegkundige en later dosent in die verpleegkunde geskryf het. Maar dit was eers nadat sy ons vier grootgekry en my pa in sy werk by Media24 ondersteun het dat sy die stories in haar kop kon lewe gee. My ma het altyd gesê mense gaan tronk toe oor die fisieke leed wat hulle kinders aandoen, maar nie vir die emosionele skade wat hulle kinders berokken nie. Hierdie tema is vervleg in baie van haar boeke. Die deernis wat sy met mense as deel van die verpleegberoep gehad het, is duidelik in haar skryfwerk.” (Netwerk24, 10 November 2023)
- Danie Botha, Mariël le Roux se uitgewer: “Ek het altyd uitgesien na ’n nuwe boek deur Mariël le Roux. Om die teks met al die geslaagde karakteriserings en helder stemminge te lees, ’n keurverslag te reël en/of self te skryf, die teks te redigeer, proewe te lees en later dit by ’n leeskring en in ’n radioprogram te bespreek. Ons het saam gewag vir die letterkundiges se lof en kritiek. Het saam die verkoopsyfers dopgehou. Deurgaans was daar ’n gedissiplineerdheid in haar onderhandelinge met ons as boekeredakteurs. Dit het vir my aangesluit by haar loopbaan as verpleegster en lektor in verpleeg- en verloskunde.” (LitNet, 14 November 2023)
- Trisa Hugo, skrywer (in haar resensie van My naam is Tina): “Le Roux se skryfwerk word gekenmerk deur moeilike temas wat die leser emosioneel betrek. Haar agtergrond as verpleegkundige en haar lewensrypheid is duidelik waarneembaar wanneer sy sulke emosionele temas aanpak. Dit word nooit so aangebied dat die leser bloot jammer voel vir die karakters nie – jy ervaar eerder dieper deernis en meelewing met hulle, maar ook walging vir dit waartoe die mens in staat is. In verskeie van Le Roux se boeke speel ’n pa wat die bottel stewig omarm en die dood van mense na aan die hoofkarakter ’n groot rol.
“Om hierdie soort roman te skryf met oortuigende karakters, storielyne en spanning, verg lewenswysheid en insig in die self sowel as die mensdom. Die skrywer het baie geput uit die stories van mense van die omgewing waar sy grootgeword het. In al haar boeke, behalwe die eerste een, staan die plaasmilieu voorop – of dit nou in die Noord-Kaap afspeel of in die Boland.
“Le Roux se karakters is menslik, ru en eerlik, asof dit mense is van wie jy weet of wie dalk soos verlangse familie voel. Sy skryf oor gebeure wat jy hoop jy self nooit mee te doen kry nie. Daar gebeur dinge in families wat toegesmeer en geheim gehou word [...].” (Rapport, 17 Maart 2024)
Mariël het haar laaste roman, Donkertyd. My naam is Tina, voltooi voordat sy oorlede is, maar dit is eers in 2024, ná haar oorlye, deur LAPA gepubliseer.
Donkertyd begin só: “‘My ma het die grootste sonde van haar tyd gepleeg. Sy het ’n man in haar jongmeisielyf ontvang en daarom was dit haar skuld toe sy swanger word. Toe doen my pa die eerbare ding en trou met haar en verniel haar vir die res van haar lewe met sy tong. My naam is Geertina Joubert. Ek is vyf jaar ná die kind van my ma se sonde, my broer Sarel, gebore. Die mense na aan my noem my Tina. My pa, daarenteen, volhard met Geertina’,” begin Antoinette Coetzee haar resensie op FMR wat op LitNet geplaas is.
Coetzee gaan voort: “Die ek-verteller is Tina. Haar opperste bullebak-pa, Servaas, swakkeling-ma, Annie, en ouer broer Sarel voltooi die gesin. ’n Baie disfunksionele gesin waar suutjies trap en mond hou die norm is.
“Die pa se boeliegedrag word deur Annie weggepraat deur ‘Vergewe hom maar. Sy kindertyd was donker.’ Die leser verwag dat die patroon hom gaan herhaal. Maar alhoewel Tina soos haar ma lyk en aan dieselfde tipe verbale geweld blootgestel word, kry sy dit tog reg om nie te gaan lê nie. Hierin word sy veral gehelp deur haar broer, Sarel. Hy kry self baie swaar en ly geestelik en fisiek onder sy pa. Maar hy is soos ’n kurkprop wat altyd boontoe dobber. Nié dat dit sonder baie moeite, lyding en opoffering gepaard gaan nie. Tina ly meestal in stilte. Sy koester nie die gewelddadige tipe wrokke wat die leser amper wil hê sy moet nie. Haar hart bly sag. Sy kan nie haar droom verwesenlik om ’n veearts te word nie, maar probeer om genesing te bring deur te verpleeg. Sy bou skanse om haarself, maar hoe ondoeltreffend dit is, word duidelik wanneer haar besoek aan Auschwitz ’n buitengewoon ontstellende reaksie by haar ontketen. Hierdie selfbeskermingsinstink veroorsaak dat sy moeilik vriende maak en maklik glo dat niemand in haar belangstel nie.
“Oujaarsaande dien as merkers in die verhaal. Immer is daar ’n partytjie in ’n skuur op ’n plaas. En altyd is die laaste lied ‘Goodnight Irene’. Met Servaas wat elke jaar met ’n ander vrou styf teen die blad dans. Die nuwe jaar is nooit ‘Heppie op die Nuwe Jaar’ soos Bettie, die huishulp, groet nie.
“Bettie en Willem is van die konstant goeie mense in Tina se lewe. Van boelies en varke het sy baie ondervinding. En, so voel dit, met elke nuwe jaar is die vooruitsig maar droef. Die eerste teken is toe sy sommer van standerd 1 af in die koshuis gestop word omdat haar pa nie heen en weer met haar wil ry nie. Selfs in haar tweede jaar as verpleegster gryp ’n dokter op Oujaarsaand in die donker na haar. Sy ontsnap en dink: ‘Ek stamp hom in Pa se kamp in. Op die buurman se plaas het Pa nou net die laaste dans van die jaar gedans, flits dit deur my kop. Ek wonder wie hierdie jaar sy Irene was vir wie naggesê moes word.’ [...]
“Letsels bly en Tina sukkel om van haar verlede te ontsnap. Haar reis van onskuldige sewejarige dogtertjie op die mooi Bolandse plaas, Die Laagte, tot middeljarige vrou is ’n lange, en meestal donker. Boonop is sy in ’n beroep waar sy eerstehands die ellende van armoede en bendegeweld ervaar. Die beskrywing van ’n jong meisie wat geboorte skenk en die inval van ’n bende in die hospitaal daarna, ruk aan die hart. Die skrywer het lank verpleeg- en verloskunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap doseer. Hierdie beskrywings is outentiek en plaas die soeklig op die komplekse probleme waarmee daar in ons samelewing geworstel word.
“In hierdie verhaal vind ons karakters wat lewe. Sommige van hulle gaan die leser erg omkrap. Verveel gaan hulle jou nie. En van hulle sal jou laat hardop lag, al voel jy dalk om hul te klap.”
Coetzee meen dat die storie van Donkertyd en die vyf geslagte Albrechts se verhaal die leser sal intrek en meevoer.
In Rapport (17 Maart 2024) bespreek Trisa Hugo Donkertyd: “Die boek word in drie dele vertel uit Tina se perspektief: 1966, 1976 en 2001. Ons lees van allerhande gruwelikhede in die hede en verlede, gepleeg deur mense wat bure kon gewees het. Tina is nie jou gewone storieboekheldin nie. Sy ervaar skuldgevoelens met goeie rede en verstar dikwels voor menslike emosies, meelewing en deernis. As leser sou ek wel wou sien dat die karakter dit in ’n mate oorkom of selfs oorkompenseer. [...]
“Tina toon wel in later jare bietjie selfinsig en besef dat sy verhoudings met mans self-saboteer en alle mans oor dieselfde kam skeer as haar pa. Maar was dit genoeg? Dit sou dalk die roman gebaat het as sy vir terapie gegaan het, of in haarself gegroei het om meer selfgeldend te wees.
“In van Le Roux se vorige boeke was die temas hoofsaaklik vrees en ontbering uit die oogpunt van ’n kinderkarakter wat die slagoffer en ooggetuie van onnoembare dade is. Die fokus het in Isabella verskuif na ’n grootmenskarakter wat self verantwoordelik is vir dade wat onmeetbare gevolge het. In Donkertyd begin ons by Tina as sub A-meisietjie, en eindig by die lewensryp volwasse vrou. ’n Voltooide kringloop.
“Tydens haar opleiding het Le Roux se verpleegkundedosent haar gewaarsku die lewe is ’n toneelspel, en indien sy ’n bietjie beheer oor haar sosiale vaardigheid toepas, kan sy ’n uitmuntende vertoning lewer. Sy het haarself bewys deur verskeie uitmuntende vertonings, ook voor haar sleutelbord.”
Publikasies:
Publikasie |
Wilhelmina: kampkind op Java |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9781869191627 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Nederlands onder titel Sterretje |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die naamlose |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780624049111 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Sanlam Groot Romanwedstryd 2010 naaswenner |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Klara |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780624058885 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Isabella |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780624081371 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Mieke |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
9780639606132 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Donkertyd. My naam is Tina |
Publikasiedatum |
2024 |
ISBN |
9780637002974 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Mariël le Roux
- Botha, Danie
- Brümmer, Willemien: Stories uit die kraamsaal. Die Burger, 11 September 2010
- Mariël le Roux [geraadpleeg 18 Junie 2024]
- Pople, Laetitia: Skrywer Mariël le Roux (76) ná kort siekte oorlede. Netwerk24, 10 November 2023
- Schröder, Hilderine: Kampkind op rakke. (Worcester) Standard, 13 November 2008
Mariël le Roux se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-12-14 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne:
- Baie dankie aan Mariël le Roux vir haar bydrae. Sonder haar hulp sou die skrywersalbum nie so volledig gewees het nie.
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.