Isabella
Mariël le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081371
Bespreking deur Danie Botha by die Goodwoodse Leeskring, Dinsdag 13 Februarie 2018. Voorsitter: Bes van Zyl.
Ek is bly ek kan weer my jaarlikse besoek bring. Dankie, Bes van Zyl, vir die uitnodiging. Jou naamgenoot is in die boek. So ’n staatmakervrou in die myngemeenskap. Met sterk boarms. Jy’t gesê jy ken die wêreld van Isabella.
Goed om die skrywer en Jean, haar “eg” soos sy hom noem, hier te hê. Hulle kan dalk goed noem wat niemand anders weet nie.
Wie het ’n verbintenis met Worcester? Daar gewoon, familie daar, kom nog daar?
Ek vra dit omdat ek vanoggend se bymekaarkom tot ’n Worcesterse geleentheid verklaar. Dis ’n plek waar nogal heelwat skrywers gewoon het of nog daar is. C Louis Leipoldt was ’n sendelingkindjie daar; ID du Plessis onderwyser by die skool waar ek en Jean heelwat jare later sou matrikuleer. NP Van Wyk Louw het op ’n keer daar gekuier en daarna het hy die wonderlike “Vier gebede by jaargetye in die Boland” geskryf. JM Coetzee het in die Paglande grootgeword. Dan is daar David Kramer, FW en Marietjie de Jongh, Reinette de Villiers, Marzanne Leroux-Van der Boon, Floris Brown, Esta Steyn, Diana Ferrus en AHM Scholtz van Vatmaar-faam.
Ek, Mariël en Jean kom ook daarvandaan. Ek van ’n plaas in die Brandwacht-vallei ten noorde van Worcester; Mariël op Houmoed meer suid van Worcester; Jean van die dorp self, maar hy’t ook in vakansietye plase opgepas daar in Mariël se jeugland. Ek wonder hoekom!
Ons matrikuleer al drie in 1964. Sy natuurlik by die Hoër Meisieskool, ek en die joviale Jean aan die Hoër Jongenskool. In daardie jare het ek nie van Mariël se bestaan geweet nie. Jean het haar glo daar in Tulbaghstraat bewonder. Heelwat jare later raak ek en Mariël skrywers by Protea Boekhuis. Ek met my toneelboek Voetligte en applous! en sy metWilhelmina: kampkind op Java, later in Nederlands vertaal as Sterretje. Dit was toe al die tyd die ware verhaal van ’n buurvrou van ons in die Brandwacht-vallei. Sy was vir ons die bloesende Nederlandse tannie wat met oom Paul Möller getroud is. Sy het nooit vertel van haar ontberinge tydens die Tweede Wêreldoorlog nie. Wilhelmina was vir ons plaaskinders “tannie Wiel”. Soos in iets wat draai! En so het ek en die Le Rouxs by mekaar uitgekom. Ek en Jean was Naspersers; sy dosent in verpleegkunde. Van Mariël sou hierna verskyn: Die naamlose (naaswenner in Sanlam se Groot Romanwedstryd), Klara en nou verlede jaar Isabella.
Nog ’n Worcesterse verbintenis. Enkele jare gelede het ek ook hier ’n boek kom bespreek. En toe ontmoet ek iemand in julle geledere wat op ’n buurplaas op Brandwacht gewoon het: Joycie Swarts. Sy is oorlede. In my matriekjaar loseer ek op die dorp. Joycie-hulle het toe ook al op die dorp gewoon. As ek op my fiets verby hulle huis ry, sit sy op hulle stoep en singpraat: “Ou Daantjie ruik na gom! Ou Daantjie ruik na gom!” Ek het oor haar in my boek Die helder dae geskryf. Ek dra die bespreking op aan die nagedagtenis van Joycie Swarts.
Ek gesels nou graag oor Mariël le Roux se Isabella.
Isabella vertel haar verhaal in die eerste persoon. Sy dra haar eie gedagtes en emosies oor, beskryf hoe sy teenoor ander optree en dramatiseer die talle gebeurtenisse oor 300 groot bladsye heen. Hier gebeur inderdaad baie. Ek was nie verveeld nie. Alles word duidelik ingedeel in tonele wat tipografies geskei word. Die leser weet dadelik waar die karakters hulle bevind ná ’n tydsverloop. Nuwelinge word voorgestel. Verlede jaar het ons hier gesels oor ’n boek waar dit nie die geval is nie. Waar ’n mens gou deurmekaar was met waar ons in die tyd staan: hede of verlede.
Deels hoe Mariël dit regkry om ons te laat bybly, is met iets wat besonder voortreflik gedoen is: die slotsinne van die tonele. Dit dra ’n sekere finaliteit oor. Die sluitsinne is sober en oorwoë. ’n Gebeurtenis word duidelik afgesluit.
Drie voorbeelde:
Voorbeeld 1
Toe die psigiater my medisyne ná weke verminder, vra Gideon hom of hy nie bietjie haastig is nie. Ek val hard aarde toe. (103)
Voorbeeld 2
Ek stap kamer toe, sluit die deur agter my en gaan sit in die verste hoek op die vloer, my rug teen die muur, onseker, bang vir myself. (103)
Voorbeeld 3
Man-alone bou saans ná werk by lanternlig en naweke van voor sonop tot laatnag. Die bouwerk kom in rekordtyd klaar, lank voor die winter verby is. (Bl 216; die laaste woorde bly ’n mens by; dit klink na in jou kop.)
Mariël se dialooggedeeltes is ook baie oortuigend. Luister na die mengtaal: “My oompie, jy’s in die kol. Bike van die jaar, 1996. ’n GTR 1000. Ek het hom second hand vir next to nothing opgetel by ’n vriend van my. Hy het ’n garage in Goodwood. Moes hierdie een repossess toe die jafel wat hom splinternuut daar uitgetrek het nie kon deliver nie. Ma’ ek kom gooi later ’n draai. Miskien kan ek die oompie vir ’n spin vat. Dis nou as ek lank genoeg in die lewe kan bly. Daai skerpioenwyfie van my wil my net opvreet vanoggend” (210).
Isabella beskryf haar kleintyd as “verflenterd”. Haar Britse pa was ’n boekhouer. Wanneer hy bots met iemand, of as daar te veel geraas in die omgewing is, onttrek hy hom nors in sy slaapkamer en moet daar ’n kers agter ’n swart sambreel brand, want hy ly aan migraine. Net Queenie, die oudste dogter, weet hoe om hom snags te troos. Sy en hul moeder laat nie Isabella daar toe nie. Hierdie verwerping deur die gesin is dan die begin van Isabella se sielkundige probleme.
Queenie sal telkens deur die roman heen heerssugtig optree. Sy kom baie duidelik as onaangenaame voor. Maar Mariël teken Queenie so goed dat jy begrip vir haar kry, dat jy kan aanvoel hoekom sy so optree. Jare later laat Isabella en haar man, Gideon, nie toe dat Queenie hulle baba help oppas nie. In ’n eintlik humoristiese toneel jaag Queenie woedend weg: “Die volgende oggend toe dit begin lig word, trek my suster brullend in die vroegoggendse stilte voor ons huis weg. Gruisklippies spat onder haar wiele uit tot op ons voorstoep” (84).
Oor Isabella se persoonlikheidsprobleme is daar ’n sterk verhelderende toneel vroeg in die roman. Wanneer die rugbyspelende myningenieur in die Noord-Kaap, die joviale Gideon Malherbe, haar vra om met hom te trou, voel Isabella vasgekeer. Dit herinner haar aan die onderhoud wat ’n gryskopvrou by ’n verplegingskollege met haar gevoer het (16):
Ek was in ’n hoek, het dit my gevoel. ’n Gryskopvrou se woorde in die laaste weke van die tweede semester het in my kop gedreun. “Dis die klein jakkalsies,” het sy daardie dag afgemete begin terwyl sy oor haar bril vir my geloer het. Ek het oorkant haar lessenaar gestaan. “Dis die klein jakkalsies, juffrou Dickson, wat jou in die hakskeen byt, wat jou van die spoor af stamp. En klein jakkalsies word groot.” Sy het haar lywige agterstewe verder na agter op haar sitplek geskuif, haar borste op die lessenaar geanker en in die lêer met my naam op die omslag geblaai. “In ons beroep ...” Sy het die lêer toegemaak, dit in my rigting oor die lessenaar gestoot en aan die swaar gelaaide epoulette op haar skouers gevat. “In die verpleegberoep is daar ook ’n gevoelsinhoud waarin jy, volgens jou verslae, nie slaag nie. Jou sosiale vaardighede is afgeskeep.” Sy het haar asem diep ingetrek, haar bril van haar neus afgehaal en my in die oë gekyk. “By jou, juffrou, vermoed ek, lê die versperring stewig en diep geanker en is die jakkalse uitgegroei. Dit gaan jou pootjie in jou lewe. Jy kan wel bietjie beheer toepas, maar net as jy kan toneelspeel. En dan moet jou vertoning uitmuntend wees.” Die vrou op die stoel oorkant my het my geroskam. “Jy staan kil teenoor jou medemens. Ek hou jou al ’n ruk dop. Jou skrifte bly feitlik foutloos, maar ek sien nie dat jy deur die skans om jou probeer breek nie. Dit laat jou stom. Jy sal jou vertoning moet opknap.” Toe het sy my met haar hand uit haar kantoor gewuif.
In die roman is daar ’n groot verskeidenheid karakters en situasies wat Isabella uitdaag, laat nadink; mense met wie sy bots, op wie sy jaloers raak omdat sy nie so gemaklik soos hulle met ander kan omgaan nie. Een van die mees geskakeerde verhoudings is met Gideon. Hoe hy haar beskerm, haar verstaan, maar dan ook tog nie. Hy stel dit ’n keer dat hy nie weet waar haar hart sit nie. Hier is talle ontroerende tonele rondom die egpaar.
’n Voorbeeld hiervan sien ons toe hulle hul kleindogter in die Kaap gaan haal het om as hulle eie groot te maak. Ek as ongetroude wat nooit pa geword het nie, het aangedaan geraak om te lees hoe Gideon as pa reageer as pa (191):
Toe ek op Calvinia uit die ruskamers by die vulstasie kom, stap Gideon met die baba in sy arms om die motor. “Sy het wakker geword,” fluister hy. Ek dink hy jok. “Toe tel ek haar bietjie op,” maak hy skuldig verskoning.
“Ek is klaar te lig bevind.” Buite die motor in die koelheid van die Karoo se vroeë winternag hou Gideon vir ’n paar minute sy kleinkind teen sy bors vas. Hy gooi haar koppie met ’n kombers toe en neurie vir haar. Ná ’n rukkie sit hy haar saggies neer. Onwillig. So lyk dit vir my.
Ook treffend is die toneel waar hulle saam met Victor hul dogter Vicky se as by Bloubergstrand in die see strooi (239):
Eers toe ons uit die water is en oor die sand na ons motor toe begin stap, raak Gideon aan my. Hy sit sy arm om my lyf. Ek voel hoe elke vesel in my spiere verstyf. Die ruimte om my krimp.
Here, help my, bid ek geluidloos, dat ek hierdie man nie nou wegstamp nie. Maar dis nie nodig nie, want Gideon los my. Hy weet.
“Kom, Isabella,” sê hy sag, “ons het ’n lang pad môre. Kom ons gaan rus.”
Dit is ’n lewensgetroue voorstelling wat Mariël van so ’n sielkundige toestand gee. Baie van ons kan ons daarmee vereenselwig. Ek onthou die lot van my suster se oudste kleinseun toe hy seker so nege geword het. Sy onderwyseres en sy jong ouers het geglo hy moet hulp kry. Hy’s te teruggetrokke. Hy’s ’n introvert. Hy moet dramaklasse neem; dit sal hom meer selfvertroue gee. Ek en sy oupa Eric aan moederskant het maar kop geskud. Ek en sy oupa kan ook maar goed in onsself gekeer raak as ons die dag lus het.
Die lewe, jou werksomstandighede dwing jou, ruk jou daaruit. In my geval het dramaklasse wel ook gehelp. En toe woon ons almal Adriaan se eerste diplomaplegtigheid van die toneelskool in die Paarl by. Omdat sy naam met ’n A begin, verskyn hy eerste op die verhoog en moet die ander langs hom in ’n ry inval. Die “introvert” staan eers alleen. En wat sien oom Danie en oupa Eric? Die mannetjie begin met die gehoor te flankeer, die ene laggies en gesigtrekkings.
Deur die roman heen beleef ons dan Isabella se telkense onvermoë tot uitreiking, maar ook hoe sy tog sukses daarmee het. Sy omskryf dit self byvoorbeeld as ’n volslae mislukte vertoning. Of as sy wat op die kantlyn staan. ’n Verslaentheid sak in vlae op haar toe. Diep en donker. Die radikaalste, die ontstellendste voorbeeld daarvan is ná die geboorte van haar en Gideon se Nicola, ook Nicky genoem. Isabella is oorval met wat die psigiater gediagnoseer het as postnatale of puernatale psigose. Sy had hallusinasies van swerms katte en ’n stem wat haar byvoorbeeld aanspoor om die kind terug te gee vir Jesus. Die kussing waarmee sy dit wou doen, die versmoring, sou lank nog ’n skrikbeeld wees.
Soms kan sy net nie so ver kom om iemand te antwoord nie. Of die ander ignoreer haar.
Ná die dood van Gideon is daar ’n toneel met hul kleindogter Donnie:
Ná ’n paar minute hoor ek gedempte snikke. Ek weet wat ek behoort te doen, maar ek draai rond, trek die gordyne toe en sluit die voordeur. Daarna eers stap ek tot by haar kamerdeur, lig my hand om te klop en laat sak dit weer. Toe gaan lê ek op my sy op die bed waaruit ek en Gideon die oggend opgestaan het en trek sy kussing nader; dit ruik na hom. Ek lê doodstil met my arms om my man se kussing, tot die snikke uit Donnie se kamer stil raak. Toe staan ek op en klop liggies aan haar kamerdeur. Ek kry nie antwoord nie en maak die deur op ’n skrefie oop. Donnie lê op haar maag. Sy is vas aan die slaap.
’n Verlatenheid sak in vlae oor my neer. Diep en donker. (247)
Nou ’n voorbeeld waar Isabella wel kontak maak. Vicky bel vanuit ’n tehuis vir ongehude moeders in die Kaap. Sy praat eers met haar pa. Isabella probeer luister:
Ek staan ’n oomblik vasgenael, stom, voor ek op die ingewing van die oomblik die foon by hom neem. “Jy moet vasbyt, Nicky. Jy kan hierdeur kom. Ons weet jy kan.” Toe trek ek my asem diep in. “En onthou dat ons baie lief is vir jou.”
“Ek weet, Ma,” huil sy. “Nag, Ma.”
My hele lyf ruk. Ek het dit reggekry, juig dit in my. Ek het dit reg gedoen. Hierdie keer. (176)
Daar is nog vele gebeurtenisse in die roman. Die seun wat opgehang is aan ’n boom met die voete wat so swaai. ’n Mens wonder of die seun Kobus wat sy broer Johan so op stil maniere treiter, en telkens lewensgevaarlike situasies veroorsaak, nie psigopatiese neigings het nie Ook ’n soort verwantskap met Isabella het.
Daar’s die stryd met skuldgevoelens oor al die leuens om ’n tienerswangerskap weg te steek. Telkens die vraag: Hoe hanteer Isabella dit?
Deur die boek heen is daar mooi sensuele tonele. Die fisieke word nie afgeskeep nie. Erotika word dikwels humoristies oorgedra. In die myndorpie is daar byvoorbeeld die omie wat met graagte plesierig verkeer met grasweduwees, dws dié wie se mans opgeroep is vir militêre diens of op ’n rugbytoer is. Hy trek altyd sy broek se naat so op. En daar’s ook die begeerlike Tulip wat ’n byna nudistiese vertoning vir die manne lewer. Op bl 203 doen sy meer as dit:
“Die mannetjie wat ’n paar dae gelede aangekom het, slaap buite,” sê ek. “Hoekom weet ek nie, maar hy slaap onder die afdak voor die garage op ’n stretcher. Ek was gisteraand laat nog wakker en het buite in die agterplaas gaan koelte soek. Toe hoor ek die geskuifel en gesnuffel en gekreun anderkant die draad. So in die lig van die volmaan kon ek hulle duidelik sien. Die meisiekind was daar by hom onder die wit laken. En die laken was woelig. Onrustig, sê ek jou.” Ek lag saggies. “Dat die opslaankooi se oorkruishoutpootjies dit gehou het, was suiwer aan genade te danke.”
Teen die einde van die roman is dit oorlede Nicky se Donnie, Isabella se aangenome dogter, wat baie doen om Isabella weer rus en geluk te laat vind. Donnie vertrek Londen toe. Die slottoneel volg. Dit is ook ’n voorbeeld van die helder natuurbeskrywings in Isabella (300):
Die see is dae lank al onstuimig, in pas met my eie rusteloosheid sedert ek Donnie ’n week gelede by die lughawe afgelaai het. Die dag is verby. ’n Rukkie gelede het miswolkies soos ’n string wattebolletjies op die horison tussen die berg en Robbeneiland kom lê. ’n Vaal dynserigheid het daarna opgesteek. Toe die eiland uit die oog verdwyn, word die wind koud en my gesig voel klam in die sproei van die brandergeweld wat springgety bring. Dis tyd om huis toe te gaan.
My besluit is geneem. Dis tyd vir my om ook te vervel. My skimme en spoke moet ek verjaag en dit finaal gaan afskud.
Môre gaan ek ’n tas koop. ’n Troeteldier wat langs my sal loop, een met vier pote, want ek moet baie klere inpak. Dis bitter koud en nat in Engeland, het Donnie gister oor die foon gesê.