
Ek het altyd uitgesien na ’n nuwe boek deur Mariël le Roux. Om die teks met al die geslaagde karakteriserings en helder stemminge te lees, ’n keurverslag te reël en/of self te skryf, die teks te redigeer, proewe te lees en later dit by ’n leeskring en in ’n radioprogram te bespreek. Ons het saam gewag vir die letterkundiges se lof en kritiek. Het saam die verkoopsyfers dopgehou.
Deurgaans was daar ’n gedissiplineerdheid in haar onderhandelinge met ons as boekeredakteurs. Dit het vir my aangesluit by haar loopbaan as verpleegster en lektor in verpleeg- en verloskunde.
Ek en sy het in 1947 die eerste lewenslig aanskou, ek in Februarie en sy in Oktober. Ek het grootgeword ten noorde van Worcester op Brandwacht; sy ten suide daar by Scherpenheuvel. Die naam herinner aan die verre verlede van veroordeeldes wat aan galge teen ’n heuwel sterf. In haar meisieskooljare het ek haar nie geken nie. Wel vir eggenoot Jean le Roux as klasmaat by die Hoër Jongenskool. Hy het ook eers op plase gewerk in daardie omgewing. Ons twee het weer by mekaar in Kaapstad uitgekom: Ek by Tafelberg-Uitgewers en hy by Die Burger. Ek het pas ’n goeie beskrywing van hom raakgelees: “joviaal”. Ek herinner my ook aan sy belangstelling in letterkunde.
En toe begin my redakteurskap van Mariël se boeke in 2007. Ek was dadelik gaande oor haar Wilhelmina: Kampkind op Java. Dis in Nederlands vertaal as Sterretje.
Sy reageer gunstig en deeglik op my voorgestelde veranderings waarvan daar nie juis veel was nie. En die ontberinge van die Nederlandse moeder, grootmoeder en dogters gedurende die Tweede Wêreldoorlog in ’n Japannese kamp is dramaties en sielkundig sterk oortuigend.
Toe vind ek boonop uit dis op die werklikheid gebaseer. Die hoofkarakter het later gewoon op ’n plaas in die Brandwacht-vallei wat van ons s’n net deur ’n grondpad geskei is. Ons het as kinders haar geken as tannie Will, eggenoot van oom Paul Möller. Hulle Pieter en Martinette het saam met my skoolbus gery. Toe ek jare later die kortverhaal “Tant Hanna se Kerskonsert” in Sarie publiseer, wens Martinette my daarmee geluk. Sy herken ons Sondagskool daarin. Tannie Will het iets van Nederland behou. Sy het ons uitgenooi na ’n Sinterklaas-aand waar ons waarlik al geskenke gekry het lank voor Kersoggend. Ek het pick-up-sticks gekry en dit lank gebruik!
Ek was bevoorreg om daarna betrokke te wees by Mariël se Die Naamlose (2010), Klara (2013) en Isabella (2017). Met Die Naamlose is sy ’n naaswenner in die Sanlam Groot Romanwedstryd. Vir LitNet skryf ek ’n lofrede daaroor.
Op 22 November 2018 woon ek ’n gedenkdiens vir Will Möller in Vishoek by saam met Mariёl-hulle. Uit die kleurryke program het ons ’n lied gesing wat ek nou by Mariёl se heengaan ook wil aanhaal. Sy het graag tuingemaak en in haar romans plaas- en natuurtonele voortreflik opgeroep. Haar kennis en ervaring van verpleging kom na vore in ’n menigte intriges.
Ek sien die veld
die bosse, berge, vlaktes.
Ek hoor hoe fluister
grasse, stroom en wind.
O Heer, U sorg
vir klein, vir groot, vir alles
en sorg dag na dag vir my, u kind.
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Die huldigingsdiens vir Mariël le Roux vind op die 15de November om 15:00 in die NG Moedergemeente in Durbanville plaas.


Kommentaar
'n Mooi huldeblyk, Danie!
Ek waardeer jou mening, Daniel. Sal bewaar word. Danie
Dankie Danie vir die deel in jou kosbare herinneringe van 'n merkwaardige vrou!
Maar net een Danie Botha.
Goeie Hennie en Nico
Ek waardeer die reaksies. Sal dit bewaar en bewaar. Danie
Dankie Danie, vir die herinneringe - die groot word aan die voet van die Brandwachtberge. Martinette
Jou naam was altyd vir my so mooi. Ja, ek en broer Koos was by die gedenkdiens. Waar's die dae toe ek en hy saam met Pieter vrugte vir julle pa gedroog het? Ja, en daardie sneeu op die ou berg. Moet darem weer daar uitkom. Danie
Lieflik, Danie! Ek het nie eers geweet van julle verbintenis nie.
Dankie, Danie. Mamma was altyd vol Danie-stories, wat ons saam met die res sal koester.
In my dagboeke is nog heelwat belewenisse opgeteken. Ek lees op die oomblik die inskrywings van 1995-6. Sal uitkyk. Was by die kerk wonderlik om jou weer te ontmoet. Julle groep was iets besonders. Danie .
Dankie,Trisa. As Google reg het, woon jy op Kleinmond. Dit was ons familie se vakansieplek in die latere jare. Kleintyd moes ons baie vroeg op Nuwejaarsoggend opstaan, want dan ry ons van Worcester af net vir die dag deur. Danie