Maak jy musiek? Schalk van der Merwe vertel hoe om te "plug in with a pro"

  • 0

Steek kers op by ’n kenner. In BandwithPro se taal: “Plug in with a pro.” Schalk van der Merwe vertel vir Naomi Meyer van ’n plek waar enigiemand met musikale aspirasies by bekendes in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld kan aanklop.

Schalk, ek hoor van julle nuwe aanlyn platform waar musikante by gevestigde musikante kan leer. Wat is BandwithPro?

BandwithPro (www.bandwith.pro) is ’n plek waar jy ’n seleksie van topmusikante kan “browse” en ’n 40 minuut lange aanlyn sessie met hulle kan bespreek. Dit is meer as bloot ’n les – dis kersopsteek / raad vra / dinge leer / wyshede verkry. Die “catch phrase” is “Plug in with a pro” en dis bedoel om jou te inspireer. Daar is aanlyn lesse beskikbaar op die internet, maar daar is, sover ons weet, nie iets soos BandwithPro nie. Dit is definitief ’n eerste vir Afrika. Die funksionaliteit van BwP is ook baie verbruikersvriendelik, en jy kan binne drie klieks ’n bespreking maak. Ek het al na ander platforms gegaan en na 11 probeerslae tou opgegooi.

Hoe werk dit?

Jy teken in as gebruiker (met ’n gmail-rekening en kredietkaartbesonderhede vir betalingsdoeleindes), en dan het jy twee opsies: (1) Jy kan soek volgens jou instrument/genre en beskikbare tyd, dan sorteer BwP vir jou die moontlike musikante uit wat beskikbaar is. Dan kliek jy bloot op ’n spesifieke tydgleuf, en siedaar! BwP stuur dan vir beide partye ’n uitnodiging vir ’n aanlyn videokonferensie-oproep wat vir daai tyd geskeduleer is. Wanneer die tyd aanbreek, kliek jy bloot op “join conference call”, en dan kan julle mekaar sien en hoor. Of (2): Jy kan direk na ’n spesifieke musikant se profiel gaan om te kyk wanneer hulle beskikbaar is en dan daarvolgens bespreek. Die een baie lekker ding is dat jy enige plek kan wees waar daar internet is. Dalk het jy nie toegang tot musiekonderwysers by jou skool of in jou dorp nie. Jy mag dalk “home-school”. Of jy is op reis en het ’n los uurtjie in jou hotel wat jy konstruktief wil benut. Jy hoef nêrens heen te ry nie, wat ’n bonus is deesdae met die stygende petrolprys.

Wie is betrokke?

Ons lys van beskikbare musikante groei byna daagliks. Tans is daar liedjieskrywers soos Valiant Swart, Hunter Kennedy, en Danie du Toit van Spoegwolf op die platform, asook die kitaarspelers Jedd Kossew en Richard Onraet (albei lede van Francois van Coke se groep Die Gevaar); die blues-maestro Basson Laubscher; die fantastiese sessiekitaarspeler en liedjieskrywer Frank Freeman; die supertalentvolle Richard Brokensha; en Karen Zoid se langtermyn-sessnaarkoning, Henry Steel. Die legendariese hip-hop-sangeres/liedjieskrywer Ernie (Ernestine) Deane is daar. Dan ook die baskitaarmeesters Schalk Joubert, Shaun Johannes en Shane Cooper; tromspelers soos die Amerikaans-gebore legende Michael Canfield (wat al saam met Bob Dylan gespeel het!); die jazzvirtuoos Jonno Sweetman; Tim Rankin (uiters ervare en veelsydige sessiemusikant en studio-ingenieur); en Darren Petersen (tans in Karen Zoid se band); en ook klawerbordspesialiste soos Melissa van der Spuy (baie ervare musikale regisseur en tans besig met ’n PhD in komposisie); Kyle Petersen (in Karen Zoid se band en “brand”-ambassadeur vir ’n voorste instrumentmaatskappy); en Simon Orange (lid van die legendariese Blues Broers, en al vir meer as 20 jaar in Valiant Swart se band). Ek is ook daar as jy meer wil weet van baskitaarspeel :).

Tesame het hierdie groep musikante al in die omgewing van 30 000 shows gespeel, oor die 500 albums opgeneem, waarvan seker 50 goud- of platinumstatus bereik het. Hulle deel ’n baie lang lys van toekennings – van SAMAs tot Kannas en Fiëstas en vele meer. Hulle is te hore op meer as 40 nommer 1 plaaslike treffers, en het al saam met al die groot name in die plaaslike musiekbedryf gewerk.

Internasionale kunstenaars met wie sommige van hulle al saamgewerk het, sluit in Bob Dylan (soos reeds genoem), Chuck Berry, Paul Simon, Michelle Shocked, Crash Test Dummies, George Benson, Cyndi Lauper en nog vele meer. Die meeste van hulle toer gereeld oorsee.

Waarom het julle BwP geskep?

Sessiemusikante het soms “staantye” – tye tussen repetisies, opnames en toere – wat onbenut bly. BwP is ’n manier om daai spesialisvlak van kennis, gepaard met beskikbare tyd, op die ope mark te sit, wat vir hulle ’n ekstra inkomste kan genereer. Maar dit is ook meer as net inkomste genereer. Dit bied werklik ’n wonderlike geleentheid vir musiekliefhebbers om hul musiekervaring te verdiep. Heng, ek is al ’n “ou hand”, maar selfs ek leer elke keer iets nuuts by hierdie mense wanneer ons die lyne toets.

Betaal 'n mens R250 vooraf (en hoe?) en dan gesels jy aanlyn met een musikant van jou keuse?

Jy skep ’n gebruikersprofiel met jou gmail-rekening tesame met jou kredietkaartbesonderhede. Die betaling gaan outomaties deur sodra jy op “book” kliek, so jy hoef nie jouself verder te bekommer oor betaling ens nie. Supermaklik. Die R250 is basies wat ’n normale musiekles jou sal kos, of selfs ’n bietjie minder.

Chat jy soos mens amper met 'n whatsapp sal maak - in real time? Kry jy tyd om vrae te vra of van jou musiek te speel (deel van die vraag is: kan julle mekaar HOOR)?

Julle sien en hoor mekaar "live"- dit geskied oor Google se "Meet” of "Hangout"-platforms. Jy kan die "Pro" enigiets vra oor musiek. Die basiese prinsiep is dat meeste van ons geleer het deur gesprekke eninteraksies met ons musiekhelde (of ten minste meer ervare musikante),en nou kan die verbruiker ook. Daar is geen curriculum nie. Jy gaan nieeksamen speel nie, maar jy gaan verseker ’n verrykende ervaring he. Ek vergelyk dit altyd met gholf. Jy kry jou klub se "resident pro" wie se taak dit is om te werk aan jou"‘swing", by wyse van spreke. En dan eendag kom Tiger Woods ’n rondte speel by jou klub en jy kry die kans om saam met hom te stap, hom te observeer en met hom te gesels. Sulke ervarings is goud werd. Net so kan jy vir Jedd vra hoe hy opgekom hetmet daai ongelooflike kitaarsolo in “Tot die son uitkom”. En hy kan vir joustap-vir-stap verduidelik hoe om dit reg te speel. Of jy kan jou eie liedjie vir Valiant speel en sy insette vra. Die opsies is werklik oop.

Is daar 'n keuringsproses aan die mense wat toegang kry? Sê noumaar die mense wat vrae wil vra is passievol, maar hulle entoesiasme alleen gaan nie maak dat hulle musiek kan skryf nie. Sal julle kunstenaars nog steeds met hulle praat en raad gee?

Geen keuring nie. Geen ervaring nodig nie. Jy hoef nie eers ’n instrument te kan bespeel nie. Natuurlik gaan diegene wat wel doen,dalk miskien meer baat vind by so iets, maar enige musiekentoesias - en daars baie sulke mense daarbuite - kan die platform gebruik. Ek het al talle korporatiewe gigs gespeel waar ek na die tyd met die CEO van die maatskappy gesels net om te hoor hy/ sy was in band op skool ofuniversiteit, maar het uiteindelik eerder die korporatiewe wereld betree vir die sekuriteit, en nou wonder hulle wat sou gebeur het as hulle aangehou het met musiek. Hulle MIS dit. Sulke mense kan nou daai rock ’n roll inspuiting kry waarna hulle verlang. Praat oor kitare, toerusting, kry wenke oor wat om te koop, hoeveel om daarvoor tebetaal, kry lesse!

Kom ons sê iemand maak al goed genoeg musiek en wil dit nou versprei. Kan die musikante raad gee?

Beslis. Onthou, hierdie mense “have been there” en is nog steeds. Daar is ook ’n paar mense wat juis spesialiseer in die besigheidskant van musiek by wie jy kan gaan kers opsteek. As jy bv ’n paar sessies met verskillende mense bespreek gaan jy ’n baie goeie idee en perspektief kry van die musiekindustrie en hoe om jouself daarin te posisioneer.

Schalk van der Merwe (foto: https://bandwith.pro/)

Kom ons wees eerlik: almal het geld nodig. 'n Musikant wat nou net begin, is dalk arm. Hoeveel sessies se gesprekke sal hy nodig hê om praktiese raad te kry en te kan begin geld verdien?

Sjoe, dit hang af van persoon tot persoon. Maar ek kan "guarantee" datBandwithPro jou die kennis gaan gee om vinniger daarby uit te kom!

Aanlyn platforms is die ding, ek lees nou die dag Generasie Zverkies YouTube as sosiale platform, bo iets soos Facebook. Is dit nie die maklikste manier om iewers te kom met jou musiek nie? Skep iets,laai dit op die internet, bemark jouself en hoop mense hoor jou ophierdie manier en raak bewus van jou talent nie?

Dit is definitief ’n nuwe medium, met sy eie uitdagings. Met ‘streaming’,asook goed soos Youtube, het jy toegang tot ’n enorme mark, maar aandie ander kant het die verbuiker ook weer ongekende toegang tot derduisende kunstenaars. Daar is basies niks wat jou keer om toegang te verkry tot wieookal se musiek nie. Hou jy van ’n Mongoolse punk keelsanger, kan jy hulle musiek kry. Of ondergrondse metal uit Irak. Die tradisionele geografiese beprekings betstaan nie meer nie. So jy moetregtig weet wat jy doen om uit te staan. Dus, gaan praat met die mense wat weet 😉

Gaan kyk gerus die volgende skakels:

www.bandwith.pro

  • Alle foto's: https://bandwith.pro/
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top