Ly jou laerskoolkind aan aandagtekort?

  • 1

Aandagtekort- en Hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV) word gekenmerk deur ’n aanhoudende patroon van onoplettendheid en/of hiperaktiwiteit-impulsiwiteit wat ’n negatiewe invloed op daaglikse funksionering en ontwikkeling het. Kinders met ATHV in die middelkinderjare (ouderdomme ses tot twaalf) het eiesoortige ondersteuning nodig in die bemeestering van verskeie ontwikkelingstake eie aan hierdie fase. Dit plaas, bo en behalwe die gewone eise van ouerskap, eiesoortige druk en stres op ouers. Raad en wenke vir ouers en onderwysers blyk uit die navorsing vir 'n artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Opvoedkunde) gepubliseer is.

Lees 'n gesprek van Estelle Kruger met Susan Van Zyl-Du Toit en Estelle Swart oor hulle artikel:

Ouers van kinders in hulle middelkinderjare met aandagtekort- en hiperaktiwiteitsversteuring se belewing: ’n veerkragtigheidsperspektief

1. Wat is julle ervaring in die onderwys wat daartoe gelei het dat julle bewus geraak van die probleem wat ouers van kinders met ATHV in hulle middelkinderjare het – met ander woorde wat is die agtergrond van julle betrokkenheid by die studie?

As opvoedkundige sielkundiges is ons werksaam in verskeie skole waar ons paaie dikwels kruis met ouers van kinders met ATHV. Ons het ook dikwels in ’n ondersteunende hoedanigheid te make met ouers van kinders met ATHV in hul middelkinderjare. Ons het besef dat kinders in hierdie stadium van hul lewe unieke uitdagings aan ouers stel. Hulle is byvoorbeeld nog ekstra afhanklik van hul ouers se hulp in terme van hul skoolwerk. Ons het begin wonder oor die maniere van intervensie om hierdie ouers op geskikte wyses te ondersteun.

2. Dit blyk duidelik in julle artikel dat ouers van leerders met ATHV besondere behoeftes het.

a. Hoe kan ouers beter toegerus word om hulle kinders met hierdie steurnis meer doeltreffend te hanteer?

Die belangrikste is dat ouers toegerus moet word met inligting aangaande ATHV as ’n toestand. Die meerderheid ouers wat deelgeneem het aan hierdie navorsing het getuig dat dit vir hul die belangrikste deurbraak in die verstaan en hantering van hul kinders was. Die ideaal is dat ouers op een of ander wyse deel word van ’n ondersteuningsnetwerk, hetsy ’n  ouerondersteuningsgroep, WhatsApp-ondersteuningsgroep of selfs aansluit by ’n Facebook-blad wat ’n netwerk van ondersteuning bied. Dit is ook belangrik dat ouers belangrike rolspelers in hul gesin se lewe inlig oor hierdie toestand en die hantering daarvan. Indien die kind se onderwysers aan boord is en samewerking tussen die skool en ouers gevestig word, kan dit ook tot meer doeltreffende ondersteuning van die ouer lei.

b. Is dit moontlik dat ATHV oorerflik is? Een van die deelnemers meld dat die dokter gesê het: “En jy is ook aandagafleibaar.”

Statistiek is soms misleidend, maar daar is reeds patrone in die literatuur hieroor. Volgens navorsers is tot 80% van die gevalle oorgeërf. In die lig van die genetiese verband is daar 35% kans dat ’n onmiddellike familielid en 32% kans dat ’n broer of suster ook die toestand sal hê. Die kans is ook 57% dat ’n kind met ATHV gediagnoseer sal word wanneer ’n ouer die toestand het. Die hipotese aangaande die rol van genetiese faktore word deur die resultate van tweelingstudies ondersteun. Daar word op grond van tweelingstudies verduidelik dat ATHV meer algemeen in monosigotiese tweelinge as disigotiese tweelinge voorkom en dat omgewingsfaktore slegs vir 0-6% van die variansie in ATHV-gedragsimptome verantwoordelik is.

In die lig van die rol van genetiese faktore op ATHV, is daar in ’n studie oor die interaksie tussen genetiese en omgewingsfaktore bevind dat ’n kind wel ’n genetiese predisposisie tot omgewingsinvloede ten opsigte van ATHV kan hê. Daar word aangevoer dat genetiese faktore beide die blootstelling aan die risiko’s tot ATHV binne die omgewing, asook die individu se vatbaarheid daarvoor, kan beïnvloed. In die breë kan omgewingsinvloede dus dien as óf ’n bydraende faktor tot die spesifieke genetiese en biologiese meganismes van ATHV óf as ’n inperking/verswakking daarvan.

Studies oor oorerflikheid is veral relevant tot die navorsing aangaande die vergestalting van veerkragtigheid van ouers van kinders met ATHV. Navorsers het reeds spesifiek ondersoek ingestel aangaande die rol van positiewe ouerskap in die vermindering van genetiese invloede op ATHV. Op grond hiervan is daar gevind dat die genetiese effek op AHTV deur die voorkoms van groter ouerbetrokkenheid verhoog is, terwyl ouerbetrokkenheid ’n verlaagde invloed op omgewingsfakore gehad het.

3. Hoe sou julle veerkragtigheid in + 25 woorde beskryf aan ’n besorgde ouer van ’n kind met ATHV?

Om te midde van teenspoed en uitdagings ’n belewing van welwees te ervaar deur die uitreik na mense en ook die hulpbronne in die omgewing.

4. Dit is duidelik uit julle artikel dat daar relatief min (ander) navorsing in Suid-Afrika oor die ervaring van ouers van kinders met ATHV in hulle middelkinderjare is. Julle maak dus ’n beduidende bydrae. Hoe wil julle hierdie navorsingsgetuienis bekend maak aan ouers, onderwysers en die onderwysdepartement?

Die navorsingsbevindinge het die onkunde van die samelewing beklemtoon en daarom ook hoe belangrik die bewusmaking van ATHV as toestand is. Die bevindinge van die navorsing is reeds aan die provinsiale kantoor van die onderwysdepartement deurgegee. Die voorstel is dat daar geleentheid vir opleiding aan ouers en onderwysers by skole gebied word. Dit sal ideaal wees as skole ouerondersteuningsgroepe kan stig. Bronnesentrums van die Departement van Onderwys kan opleidingsgeleenthede en inligtingspraatjies as deel van hul intervensie by skole aanbied.

5. As een van julle die hoof van die Departement van Sosiale Ontwikkeling was – hoe sou jy te gaan om die Onderwyswitskrif te wysig sodat ouers bemagtig kan word om meer veerkragtig en bekwaam te wees om kinders in hulle sorg met ATHV te verstaan en te hanteer?

Wat belangrik is, is dat die Onderwyswitskrif prakties uitvoerbaar is en daarom omgeskakel word in strategieë en riglyne wat prakties uitvoerbaar en relevant is. Daarvoor is die ideaal dat daar meer opvoedkundige sielkundiges en beraders in diens geneem word. Daar is tans ’n groot tekort aan hierdie groep mense in die onderwysdepartement, wat dit byna onmoontlik maak om die basiese dienste effektief uit te voer. Sielkundiges in die onderwysdepartement is nodig om onderwysers met inligting te bemagtig om kinders met ATHV in die klaskamer te kan akkommodeer en aan ouers die nodige leiding en ondersteuning te bied. Die noodsaaklikheid van hierdie aanstellings moet dus eerste bepleit word.

6. In die artikel meld julle dat dit belangrik is dat onderwysers met spesifieke vaardighede toegerus word om kinders met ATHV in hoofstroomklasse (inklusiewe onderwys), wat hoofsaaklik uitsluiting as tegniek wat die kind isoleer gebruik, te hanteer.

a. Hoe kan hierdie onderwysers toegerus word met sodanige vaardighede?

Dit is belangrik dat onderwysers toegerus word met inligting rakende ATHV en wat hierdie toestand presies behels, sodat hul die werklike implikasie daarvan op die kind in die klaskamer kan verstaan. Skoolondersteuningspanne van die Departement van Onderwys kan werkswinkels aanbied met praktiese voorbeelde hoe om kinders met hierdie toestand te akkommodeer. Spesiale skole wat ingestel is op die spesifieke akkommodasie van hierdie kinders kan in hul rol as bronnesentrums sulke uitreikaksies loods om hul raad en ervaring met onderwysers in hoofstroomskole te deel. Onderwysers kan as verteenwoordigers van skole ouerondersteuningsgroepe bywoon waar ouers ook uit hul ervaring praktiese raad en ervaring deel.

b. Is dit eintlik hulle houding, die stigma rondom medikasie en die oorvol klaskamers wat moet/kan verander?

Inklusiewe onderwys is ’n ingesteldheid. Ons uitgangspunt is dat die belangrikste oorweging is om kinders met spesiale hindernisse in die klaskamer te kan akkommodeer. Tog bly sistemiese hindernisse soos oorvol klaskamers ’n realiteit wat die beste voorneme om kinders te akkommodeer soms belemmer. Ons oortuiging, wat ook soos dit in die navorsing aan die lig gekom het, is dat die bewusmaking van ATHV kan bydra tot die bevordering van inklusiewe onderwys. Wanneer onderwysers ’n beter begrip van die implikasie van ATHV het, kan dit gevolglik ook ’n positiewe invloed op onderwysers se ingesteldheid daartoe hê. Dit is ons verdere oortuiging dat bewusmaking ook kan help om die stigma rondom medikasie vir ATHV te verminder. Uiteraard is daar uiteenlopende menings aangaande die gebruik van medikasie vir ATHV. Wat vir ons belangrik is, is dat die ouers vir wie se kind dit wel die mees aangewese oplossing is, die nodige ondersteuning en samewerking van die skool en klasonderwyser het.

c. Hoe kan hierdie verandering gebeur? Hoe lyk jou ideale wêreld in hierdie verband?

’n Ideale Suid-Afrika het genoeg hulpbronne om meer sielkundiges aan te stel wat bewusmaking kan bevorder, onderwysers met inligting en hanteringstrategieë kan bemagtig en selfs kinders en ouers kan ondersteun. Die hele proses vanaf die aanvanklike vermoede, die diagnose tot en met die effektiewe aanpassings en ondersteuning sal soomloos wees. In ’n ideale wêreld is elke onderwyser bewus van die implikasie van hierdie toestand en word dit nie as byvoorbeeld ’n blote gedragsafwyking beskou nie. In ’n ideale Suid-Afrika is daar kleiner klaskamers en meer onderwysers sodat kinders meer individuele ondersteuning kan ontvang. Dit is baie moeilik vir ’n onderwyser wat reeds swaar dra aan die las van baie administratiewe werk en 40 kinders in sy of haar klas het, om voldoende aandag aan die kind met ATHV te gee. In so ’n ideale wêreld is daar ook toeganklikheid vir alle ouers tot die nodige hulpbronne, soos medikasie wanneer hul kind dit nodig het.

7. Die deelnemers in julle navorsing kom hoofsaaklik uit ’n landelike konteks. Dink julle die resultate sou anders gewees het in ’n stedelike konteks? Verduidelik asb.

Sielkundiges in landelike gebiede wat in diens van die onderwysdepartement is, moet soms ver afstande na skole ry. Dit belemmer die hoeveelheid tyd tot hul beskikking om dienste te lewer. Werksgeleenthede in sekere dele van die platteland is ook dikwels beperk en ouers is meer afhanklik van byvoorbeeld staatshospitale vir hul kind se medikasie. Vervoer na die hospitaal is ook dikwels ’n probleem, wat op die beurt die toeganklikheid tot medikasie beperk. Ons is egter oortuig dat daar ouers in stedelike gebiede is wat aan dieselfde uitdagings blootgestel word. Die aanbeveling is daarom dat die navorsing nou uitgebrei word.

8. Ons leef in ’n tyd van sensoriese oorlading met allerlei elektroniese toestelle wat (amper) tot elke kind se beskikking is en dalk bydra tot ATHV. Hoe kan ouers opgelei word om dit te hanteer sodat kinders beter kan leer om te leer fokus op enige taak wat verrig moet word?

Alhoewel tegnologie ook baie effektief as opvoedkundige hulpmiddel aangewend kan word, is daar al genoeg bewyse om te argumenteer dat te veel en verkeerde blootstelling daaraan tot  nadeel van die kind kan wees. Die sleutelwoord hier is waarskynlik balans. Ons leef in ’n era waarin die daaglikse lewenstempo vir ouers vinnig en stresvol is. Ouers werk van vroeg soggens tot laat saans. Kinders het ook dikwels beperkte toegang tot die buitelug en is heeldag in die huis vasgekeer. Skermtyd raak ’n maklike en gerieflike oplossing om kinders besig te hou en ouers is soms onkundig rakende die gevare hiervan. Ouers moet dus ingelig word aangaande die belangrikheid van balans en dat die hoeveelheid skermtyd per dag beperk moet word. Die ideaal is dat ouers praktiese voorbeelde ontvang van alternatiewe aktiwiteite wat kinders kan besig hou. Ouers kan ook baat by leiding oor water tipe aktiwiteite op rekenaars, slimfone en tablette voordelig en ondersteunend kan wees. Hier sou dit ideaal wees as arbeidsterapeute in die staatsdiens werkswinkels by skole kan aanbied om ouers en ook onderwysers van praktiese raad en leiding te voorsien.

9. Hoe kan die samelewing (ouers, onderwysers, anders kinders) se negatiewe houding teenoor medikasie vir kinders met ATHV verander word – dalk sosiale media soos Facebook, WhatsApp en blogs? Wat nog?

Dit is soms juis deur sosiale media wat negatiewe en vals inligting aangaande die gebruik van medikasie versprei word. Tog kan sosiale media en tegnologie tot groot voordeel in terme van die ondersteuning aan ouers wees. Ouers wat deelgeneem het aan die studie het melding gemaak van die waarde van WhatsApp-ondersteuningsgroepe vir ouers van kinders met ATHV. Dit is soms vir ouers onmoontlik om ouerondersteuningsgroepe by te woon. Hul programme is vol, huiswerk moet ingepas word, kinderoppassers is dikwels ’n probleem, enkelouers het nie genoeg hande nie, en soms is daar bloot nie so ’n groep in die omgewing waar ouers woon nie. Dít is wanneer ouers in die gerief van hul eie huis hul lief en leed op sulke WhatsApp-groepe kan deel. Ouers vra raad, wend hulle daartoe wanneer hul mismoedig is en deel praktiese riglyne wat vir hul werk. Hul weet dat daar iemand op die groep is wat moontlik dieselfde ervaar en beleef ’n gevoel van geborgenheid en begrip van mense wat regtig verstaan. Soortgelyke Facebook-groepe kan ook van groot waarde wees vir ouers wat toegang daartoe het. Daar is ook heelwat blogs wat nuttige inligting vir ouers en onderwysers het. Die kwessie is egter dat dit dikwels nodig is om die ouer te help om die inligting wat beskikbaar is te verteer en dan beter keuses te maak.

Spesiale skole dien ook as bronnesentrum van die onderwysdepartement. Ouers wat raad of hulp benodig kan hul kontak om leiding te ontvang. Hierdie skole bied ook dikwels inligtingpraatjies wat ouers kan bywoon aan.

10. Dit lyk of narratiewe rekonstruksie een van die moontlike oplossings is vir ouers van kinders met ATHV.

a. Verduidelik asb wat hiermee bedoel word.

Wanneer gesondheidsprobleme veroorsaak dat ’n mens se verwagte lewenspaadjie die koers kwytraak, kan dit die samehang van daardie persoon se lewensverhaal, die betekenis wat hy of sy aan die lewe heg, asook hul identiteit beïnvloed of selfs stroop. Ten einde aan te pas by hierdie verandering, wat dikwels as traumaties beskou word, word ’n proses van narratiewe rekonstruksie geïmpliseer. Dit beteken dat nuwe stories of betekenisse geskep moet word ten einde nuwe betekenis aan ’n situasie te gee. Vir die ouers met ’n kind met ATHV, impliseer dit dat hul doelbewus nuwe, oftewel alternatiewe lewenstories moet skep. Daar is dikwels geen keuse in die rigting van die afdraaipaadjies op ’n mens se lewenspad nie, maar soms is daar wel ook geleentheid om kreatiewe, interessante en nuwe paaie van jou keuse aan te durf. Neem roetes wat jou as ouer na waters van rus kan neem. Kies en skep doelbewus geleenthede wat die pad ook vir jou makliker en mooier kan maak.

b. Is daar spesifieke maatreëls wat die deelnemers in julle navorsing beklemtoon het wat hulle help in gesinsverband?

  • Positiewe kommunikasie is baie belangrik. Deel jul belewing as ouers met mekaar sodat beide partye mekaar se behoeftes kan verstaan. Dit kan ook bydra tot meer effektiewe spanwerk wanneer ouers beter begrip het tot mekaar se situasies.
  • Betrek jul uitgebreide familiesisteem as ondersteuningsbron. Oupas, oumas en selfs broers of susters kan van groot waarde wees indien hul soms fisies hand kan bysit met die kinders of bloot net begrip het vir die uitdagings wat ouers van kinders met ATHV soms beleef.
  • Waak daarteen om van jou ander kinders wat minder aandag verg, te “vergeet”. Maak doelbewus tyd om as ’n gesin te ontspan en aktiwiteite te doen. Dit kan iets so eenvoudig wees as om saam om die gras te lê en na prentjies in die wolke te soek. Moet nooit die waarde van ontspanning en lagsessies onderskat nie.
  • Los mekaar af, sodat elke ouer ook genoegsame tyd kry om op sy of haar eie te ontspan. Vir ’n ma mag dit wees om ’n koppie koffie saam met ’n vriendin te gaan drink. Pa wil dalk ’n draaitjie ry of ’n oggend in die natuur spandeer. Herlaaisessies vir ouers is ook belangrik.
  • Wees versigtig vir sosiale onttrekking. Gesinne van kinders met ATHV is geneig om soms eerder tuis te bly, omdat ander mense nie altyd hul kinders se gedrag verstaan nie. Verduidelik eerder jou kind se toestand aan mense. Jou sosiale netwerk dra ook by tot jou ondersteuningsnetwerk.
  • Sorg dat jy definitiewe hanteringstrategieë tuis in plek het. Streng reëls en dissipline; konsekwente optrede; ’n beloningstelsel wat nie aan geld gekoppel is nie. Verskeie ouers getuig ook dat dit vir hul van groot waarde is om iemand te kry om hul kind met huiswerk te help. Dit spaar die ouer tyd en stres en verminder die konflik wat met huiswerk gepaard gaan. Gebruik dan eerder daardie tyd om elke dag iets ontspanne saam met jou kind te doen.
  • Kry betyds professionele hulp wanneer die eise van elke dag te veel stres op jou huwelik plaas.

c. Watter beskermingsmeganismes is daar wat ouers kan bemagtig om veerkragtig te wees?

Doen selfvoorspraak. Verduidelik aan die mense in jou lewe die implikasies van jou kind se toestand, sodat hul kan verstaan en die nodige begrip en ondersteuning kan bied. Woon ondersteuningsgroepe by of sluit aan by WhatsApp- en Facebook-groepe wat aanlyn ondersteuning verskaf. Vermy negatiewe en kritiese mense. Omring jouself met familie en vriende wat verstaan. Stel hanteringstrategieë in plek wat vir jou werk. Meeste ouers vind dat streng dissipline en roetine ’n beduidende verskil maak. Werk aan ’n positiewe ingesteldheid – leer tegnieke aan om jou gedagtes te bestuur. Soms kan jou ingesteldheid al wees wat jy het om aan vas te hou. Belê in jou eie emosionele welstand en doen dinge wat jou eie tenkie weer kan volmaak.

d. Het julle nog enige ander praktiese wenke vir ouers en onderwysers?

Onderwysers en ouers kan beide daarby baat deur hande te vat en mekaar as gelyke vennote in die ondersteuningsproses van die kind met ATHV te erken. Ouers is gewoonlik die meesterkenner van hul kind. Wanneer die ouer en die onderwyser ’n effektiewe benadering tuis en by die skool konsekwent toepas, verhoog dit die doeltreffendheid waarmee die kind geakkommodeer word, en verlig dit die uitdagings van die ADHD vir al die partye.

11. Uit julle navorsing is dit duidelik dat ’n ondersteuningstelsel (uitgebreide familie of ondersteuningsgroepe) beduidend bydra tot hulp vir ouers met kinders wat ATHV het. Is julle bewus van enige spesifieke sodanige groepe wat ouers op sosiale media kan opspoor om hulle te help?

Die volgende groepe wat op Facebook bestaan, is deur ouers aan ons verskaf: ADHD Support South Africa; ADHD Afrikaans; Kinders wat KAN; ADHD Adventures Support group; Kinders met ADHD en ADD; Moms of extra special kids SA; +ADHD/ADD Positief+; ADHD Ouerondersteuningsgroep; South Africa Adult ADHD Support Group.

12. Wat het julle persoonlik geleer in die proses van navorsing en publikasie van julle artikel?

In die onderhoude het ons gemerk dat die deelnemers die behoefte het om hul algemene belewing van die uitdagings van ’n kind met ATHV met die wêreld te deel. Nie net is ons geïnspireer deur die moedige ingesteldheid van die betrokke ouers van kinders met ATHV nie, maar het ons ook besondere waardering vir elkeen van die deelnemers gehad wat bereid was om hul storie te deel sodat dit moontlik ook tot die veerkragtigheid van ander ouers van kinders met ATHV kan bydra. Ons wens in terme hiervan is dat die bevindinge van hierdie studie op een of ander wyse tog tot die voordeel van ouers van kinders met ATHV in hul middelkinderjare kan strek. Ons het besef hoe onkundig ons aangaande ouers met ’n kind met ’n gestremdheid se alledaagse belewing is. Ons het ook besef dat ons ’n sosiale verantwoordelikheid het om vir hierdie ouers voorspraak te maak.

13. Is daar nuwe navorsing op julle horison? Kan julle ons daarvan vertel sonder om julle geheime uit te laat?

Een van die belangrikste dinge wat die betrokke navorsing aan die lig gebring het, is die onkunde aangaande ATHV in die samelewing. Dit dra tot ’n groot mate by tot die stres en uitdagings wat ouers van kinders met hierdie toestand ervaar, omdat dit aanleiding gee tot onnodige kritiek en dit die stigma rondom medikasie versterk. Dit lei ook daartoe dat mense nie weet hoe om kinders met ATHV te hanteer en te akkommodeer nie. Ons belangrikste fokus voordat ons enige ander navorsing aanpak, is dus om mense te bemagtig deur die bewusmaking van ATHV, die implikasies en ook die hantering daarvan. Ons poog om dit te doen deur byvoorbeeld met personeelopleiding by hoofstroomskole te begin. Ons hoop om spoedig daad by die woord te voeg. 

  • 1

Kommentaar

  • Daar is so min mense wat ATHV kinders verstaan .Ek is ’n alleenouer en baklei elke dag vir my seun. Ek moes hom verlede termyn uit ’n naskool haal omdat die onderwyser hom nie verstaan het nie. Ek bid elke dag dat daar ’n oplossing in die onderwys kan kom sodat meer onderwysers in hoofstroomskole kinders met ATHV sal verstaan. Dis regtig ’n groot bekommernis vir my as ouer om elke dag daarmee te moet deel. Dankie vir ’n uitstekende berig .Dit gee my meer moed vir die nuwe kwartaal wat voorlê .

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top