
Op 1 April 2023 is dele van hierdie essay voorgelees tydens die Langenhoven-gedenklesing[1] by die KKNK. Die teks is daarna met die vergunning van die Langenhoven Gedenkfonds en die skrywer aan LitNet gebied vir publikasie.
...
Steampunk, binne hierdie beskouing, word gedefinieer as ’n subgenre van wetenskapfiksie wat afspeel in die verlede en waarin moderne tegnologie, soos wat dit vandag bekend is, nog nie bestaan het nie. In kort is dit narratiewe wat ooreenstem met wetenskapfiksie, maar sonder dat die digitale era ooit plaasgevind het.
...
Die boek Loeloeraai van CJ Langenhoven word dikwels beskou as die eerste wetenskapfiksie in Afrikaans. Met die eeufeesviering van Loeloeraai ontstaan die gesprek rondom die wetenskaplike korrektheid van die boek in die hedendaagse konteks, gegewe die lang geskiedenis van ruimteverkenning wat die mensdom sedert die eerste publikasie van die boek in 1923 deurloop het. Sou ons Loeloeraai met die leidende wetenskapfiksieverhale van dié tydgreep vergelyk, byvoorbeeld die werk van Jules Verne of HG Wells, is daar ooreenkomste (Verne 1993; Wells 2017).
Daar is egter tekortkominge indien vergelykings getref word met latere toonaangewende wetenskapfiksie soos dié van Isaac Asimov, Arthur C Clarke, Frank Herbert, die Russiese broers Arkady en Boris Strugatsky (Asimov 1950; Clarke 2000; Herbert 1990; Strugatsky en Strugatsky 2012) of die distopiese fiksie van Aldous Huxley en George Orwell (Huxley 2012; Orwell 1961). In hierdie latere wetenskapfiksieverhale word daar gebruik gemaak van ’n baie meer omvattende, aanneemlike en geloofwaardige weergawe van die wetenskappe.
In wetenskapfiksie word ’n fiktiewe verhaal geskep wat begrond is op wetenskaplike kennis en tegnologiese vooruitgang. In Loeloeraai is daar heelwat onduidelikhede rondom wetenskap en tegnologie, en weet ons buitendien dat daar nog weinig kennis hiervan geredelik teen 1923 in Suid-Afrika bestaan het. Dit was beperk tot die navorsing van die gerekende wetenskaplikes van die dag.
Miskien moet Loeloeraai gewoon nie beskou word as wetenskapfiksie in die moderne sin van die woord nie, maar eerder, soos in die geval van From the earth to the moon van Verne, asook The first men in the moon van Wells, binne die moderne nomenklatuur as steampunk beskou word (Verne 1993; Wells 2017).
Steampunk, binne hierdie beskouing, word gedefinieer as ’n subgenre van wetenskapfiksie wat afspeel in die verlede en waarin moderne tegnologie, soos wat dit vandag bekend is, nog nie bestaan het nie. In kort is dit narratiewe wat ooreenstem met wetenskapfiksie, maar sonder dat die digitale era ooit plaasgevind het. Die tegnologie van die Eerste Industriële Revolusie word geëkstrapoleer en die aandrywing van vaartuie of werktuie vind dus meganies of met behulp van stoom (soos tydens die Eerste Industriële Revolusie) plaas. Steampunk is dus ook ’n vorm van nostalgie na die wetenskapfiksie van ’n vergange tyd en dit verromantiseer die Eerste Industriële Revolusie en die Victoriaanse inkleding daarvan. Steampunk is ook staties – dit ontken die bestaan van verdere ontwikkelings in wetenskap en tegnologie en vind anachronisties plaas (Robb 2012).
Die steampunk-beweging het in die moderne era ook ’n soort teenkultuur geraak wat in verskeie fasette van die samelewing gestalte vind.
I.
Om die wetenskaplikheid van Loeloeraai te ondersoek, verg ten eerste ’n kort oorsig van die huidige status van die Suid-Afrikaanse ruimtebedryf asook die belangrikste nuwe internasionale verwikkelings. Wanneer ons ruimtenavorsing en die ruimteprogramme van ons land vandag ondersoek, is dit belangrik om te verstaan waarom die mensdom homself na die ruimte wend.
...
In die moderne tyd is dit veral Elon Musk se uitspraak dat die mens ’n interplanetêre spesie is wat toonaangewend is. Die mensdom was histories ’n nomadiese spesie wat altyd na nuwe weiding vir kleinvee en ander landbougeleenthede gesoek het.
...
Die onderliggende meesterteks is deur die Amerikaanse ruimtenavorser en wetenskapkommunikeerder, Carl Sagan, geformuleer (Sagan 1997). Hy het gesê: “We began as wanderers, and we are wanderers still.” Sagan is ’n belangrike denkleier in beide die mens se verkenning van die ruimte en die soektog na intelligente lewe elders in die kosmos. Die ideaal om na die sterre te reis is so oud soos die mensdom se bewustheid van die sterre. Hiermee saam ontstaan die vraag of daar lewe in die sterre is, of ons ooit ’n besoek van hierdie lewe kan verwag, en of ons in staat sal wees om hulle te besoek.
In die moderne tyd is dit veral Elon Musk se uitspraak dat die mens ’n interplanetêre spesie is wat toonaangewend is. Die mensdom was histories ’n nomadiese spesie wat altyd na nuwe weiding vir kleinvee en ander landbougeleenthede gesoek het. Om die ruimte te verken is ’n logiese volgende stap. Sagan was onder meer aan die voorpunt van projekte wat die lewensvatbaarheid van lewe op ons buurplanete (Venus en Mars) ondersoek het, en waartydens daar bepaal is of daar voorheen lewe op hierdie planete kon wees. Sagan en sy span navorsers was ook verantwoordelik vir die alombekende SETI (“search for extraterrestrial intelligence”). Sagan waarsku gereeld dat intelligente lewe nie noodwendig die (menslike) vorm sal aanneem wat ons so maklik voor die geestesoog oproep nie.
Suid-Afrika se ruimteprogram het verskeie doelwitte:
- Opvoedkundige doelwitte: Om eerstehandse kennis van die ruimte op te bou speel ’n belangrike rol in die uitbouing van STEM (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde). Hierdie studieveld wen meer siele as enige ander wetenskaplike projekte. Dit is dus die eerste belangrike fokus van ons eie ruimteprogram.
- Ruimteverkenning: Om ambisieuse verkenningstogte (soos die bekende Voyager 1 van die 1990’s deur NASA) die ruimte in te stuur, is ’n duur onderneming en daarom is ons land se deelname aan hierdie fokusarea beperk en maak ons staat op die inligting wat deur die leidende lande op hierdie gebied ingewin word. Elon Musk, daarenteen, is uitgesproke daaroor dat hy ons buurplanete wil verken om dieselfde redes as die nomades van voorheen: op soek na hulpbronne om te ontgin en ’n habitat wat lewe kan ondersteun. Hy doen dit omdat wetenskaplikes waarsku dat die mensdom besig is om verskeie natuurlike hulpbronne op te gebruik, maar ook as gevolg van die bevolkingsgroei van die mensdom. Die enkele grootste uitdaging vir ruimteverkenning is egter die verskaffing van energie vir die aandrywing van ruimtetuie en die las wat die gewig daarvan op so ’n vaartuig plaas. Bemande verkenning kan eers plaasvind wanneer ’n vaartuig genoegsame energie kan saamneem om ook die terugtog suksesvol te voltooi.
- Operasionele projekte: By verre die belangrikste fokusarea van ons eie ruimteprogram is die onderneming van operasionele missies waartydens spesifieke operasionele doelwitte nagestreef en bereik word. Dit is in hoofsaak gerig op die satellietbedryf, want satelliete het ’n noodsaaklike element van die tegnologiese vooruitgang van ’n land geword. Dit het ’n onmiddellike voordeel en nutswaarde, byvoorbeeld kommunikasie en aard-observasie. Daar is reeds verskeie satelliete in ons land ontwerp en gebou, heelwat met die hulp van universiteite, by die Universiteit Stellenbosch (SUNSAT-projek) en later by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (F’SATI-projek), wat vandag ’n belangrike rol in die ontwerp en vervaardiging van satelliete vir die Suid-Afrikaanse ruimtebedryf speel.
Die hedendaagse fokus is op klein satelliete en veral nanosatelliete. Dit is ’n voorbeeld van die tegnologiese vooruitgang wat in die afskaling van die dimensies van nuwe ontwikkelings plaasvind. So het ’n nanosatelliet vandag byvoorbeeld dieselfde operasionele vermoë as die groot satelliete (wat nou soos dinosourusse voorkom) van die verlede. Nanosatelliete word in groepe gelanseer (wat konstellasies genoem word). Die voordeel van ’n nanosatelliet (behalwe vir die kostevoordeel) is die feit dat ’n konstellasie van ’n groep satelliete ’n baie beter dekking van die aarde bied. Die bekendste voorbeeld van hierdie konstellasies is die konstellasie wat ons kuslyn moniteer met die doel om vreemde skepe wat ons land se marinehulpbronne plunder, te identifiseer. Dit kan ook gebruik word om weerpatrone te monitor en om brande en ander katastrofiese gebeure te voorspel.
Die Suid-Afrikaanse ruimteprogram word gekoördineer deur SANSA, wat deel vorm van die Departement van Wetenskap en Innovasie.
Daar is egter belangrike verwikkelings in die wêreld ten opsigte van ruimteprogramme, naamlik die demokratisering van die ruimte (maw dat dit bekostigbaar geraak het en nie meer die speelveld van net enkele ryk en magtige lande is nie); asook die privatisering daarvan. NASA het die afgelope paar dekades baie afgeskaal. Dit is ’n gevolg van beide die einde van die Koue Oorlog (en die gepaardgaande mededinging tussen die Ooste en die Weste) en die herwaardering van politieke en ekonomiese prioriteite in die lande wat voorheen ’n sleutelrol gespeel het. Die fokus het dus mettertyd geskuif na samewerking eerder as mededinging (byvoorbeeld die Internasionale Ruimtestasie), asook die toetrede van ander lande as die tradisionele moondhede. As gevolg van hierdie faktore het verskeie privaat inisiatiewe intussen ikonies geraak in die moderne wêreld: Elon Musk, Jeff Bezos en Richard Branson is voorbeelde van ryk sakemanne wat hulle eie inisiatiewe finansier. Ook voorheen staatsbeheerde en geklassifiseerde programme in die tradisionele moondhede het ’n kommersiële fokus ontwikkel. So byvoorbeeld is die Russiese Ruimteagentskap beskikbaar om teen ’n baie bekostigbare fooi jou satelliet vir jou te lanseer. Jy bespreek gewoon ’n kaartjie vir een van hulle verskeie lanserings. Saam met die demokratisering van die ruimte is daar egter nuwe uitdagings, soos die regulering van die ruimte en veral die bestuur van rommel wat in die ruimte agtergelaat word. Daar is reeds verskeie wrakke van uitgediende satelliete wat steeds in wentelbane rondom die aarde sweef, en die risiko bestaan dat die mens dieselfde afdruk op die ruimte gaan laat wat reeds op die aarde sigbaar is.
Meer onlangs het NASA aangekondig dat hulle ’n terugkeer beplan na hulle meer ambisieuse verkenningstogte in die ruimte. Hulle is besig is met voorbereidings om terug te keer na die maan: Met die Artemis-sendings sal die eerste vrou en eerste persoon van kleur op die maan land. Daar word van innoverende tegnologieë gebruik om meer van die maanoppervlak as ooit tevore te verken. NASA sal met kommersiële en internasionale vennote saamwerk om die eerste langtermyn-teenwoordigheid op die maan te vestig. NASA sal daarna die lesse wat hieruit geleer is, gebruik om die volgende reusesprong te neem: om die eerste ruimtevaarders na Mars te stuur. Die Artemis II-sending reis reeds in 2024 na die maan.
II.
Wetenskapfiksie het ewewydig aan bogenoemde ’n groot gedaantewisseling ondergaan. Dit is gedeeltelik beïnvloed deur die spekulasie van Sagan en, ná hom, Neil deGrasse Tyson, in die toonaangewende TV-reeks Cosmos (Druyan en Sagan 1980).
...
Indien die subgenre van steampunk by bogenoemde ingereken word, sou films soos Hugo, Sky Captain and the world of tomorrow, Around the world in 80 days, Journey to the center of the earth, The Aeronauts en ander filmweergawes van Verne en Wells uitstaan.
...
Die gedaantewisseling het egter gepaard gegaan met ’n verskuiwing vanaf die gedrukte media na die TV- en filmkuns. Hierdie verskynsel is uiteraard ook toeskryfbaar aan die publiek se behoefte om nie alleen te lees van fantastiese verskynsels in die buitenste ruimte nie, maar om dit te sien en te ervaar. Gelykertyd was daar groot ontwikkelings in filmkuns en die skep van spesiale effekte. Dus het verhale met fantastiese narratiewe ontstaan wat teen die agtergrond van die buitenste ruimte afspeel, waar die mens saam met, en soms teenoor, wesens van ander uithoeke van die kosmos voor verskeie uitdagings te staan kom en dit uiteindelik op heldhaftige wyse oorkom. Ook die jongste verwikkelings in biotegnologie word ingesluit in hierdie narratiewe.
Dink aan die eerste wetenskapfiksiefilms uit die laat 1960’s, die 1970’s en die 1980’s, soos 2001: A space odyssey (Kubrick 1968); die Russiese film Solaris (Tarkovsky 1972); Dune (Lynch 1984); en die hoogs suksesvolle Star Wars- (Lucas 1977), Star Trek- (Roddenberry 1979), Battlestar Galactica- (Larson 1978) en Stargate-reekse (Emmerich 1994). Ook die Britse TV-reeks Space: 1999 (Anderson en Anderson 1975) wat aan Afrikaanse gehore as Alpha 1999 bekend is, was toonaangewend in die 1970’s. Die TV-reeks The X-Files uit die 1990’s was op sigself ’n baanbrekersreeks waarin onverklaarbare verskynsels, wat moontlik op buiteruimtelike lewe kan dui, ondersoek word, onder meer na aanleiding van spekulasie wat in die VSA bestaan rondom Area 51 in Roswell en die moontlikheid dat die Amerikaanse spesiale ondersoekeenheid (die FBI) oor inligting hieroor beskik wat doelbewus van die publiek weerhou word (Carter 1993).
Indien die subgenre van steampunk by bogenoemde ingereken word, sou films soos Hugo, Sky Captain and the world of tomorrow, Around the world in 80 days, Journey to the center of the earth, The Aeronauts en ander filmweergawes van Verne en Wells uitstaan (Scorsese 2011; Conran 2004; Anderson en Farrow 1956; Brevig 2008; Harper 2019).
Daar was ook enkele gevalle van wetenskapfiksie wat in suksesvolle radiodramas omskep is. Dink byvoorbeeld aan Richard Burton se ikoniese openingswoorde as die verteller in die Britse radiodrama en musiekblyspel War of the worlds, wat op HG Wells se verhaal gebaseer is:
No-one would have believed, in the last years of the nineteenth century, that human affairs were being watched from the timeless worlds of space. No-one could have dreamed that we were being scrutinized, as someone with a microscope studies creatures that swarm and multiply in a drop of water. Few men even considered the possibility of life on other planets. And yet, across the gulf of space, minds immeasurably superior to ours regarded this earth with envious eyes, and slowly and surely, they drew their plans against us.
Na die eerste films en TV-reekse was daar ’n ontploffing in wetenskap-, fantasie- en toekomsfiksie wat nie net in die ruimte afspeel nie, maar ook op die aarde; wat in sommige gevalle as ’n utopie uitgebeeld word en in ander gevalle as ’n distopiese, postapokaliptiese wêreld waarin ’n nuwe orde oor die ruïnes van ’n vergane wêreld heers.
Hierdie narratiewe word breedweg in drie groepe verdeel, wat ook verteenwoordigend is van die verskillende scenario’s wat deur toekomskenners voorgehou word:
- scenario’s waarin tegnologiese vooruitgang sodanig is dat dit vooruitgang fasiliteer en dat die wêreld in die toekoms beter is as vandag
- scenario’s waarin tegnologiese vooruitgang sodanig is dat dit hoogstens nuwe uitdagings uitbalanseer en die toekoms, ná alles, bloot ’n voortsetting van die huidige orde is
- scenario’s waarin die aftakeling van die planeet, oorbevolking en oorlog ’n veel groter rol speel as tegnologiese vooruitgang, en die toekoms gevolglik groot agteruitgang teenoor vandag toon.
In bykans alle gevalle het hierdie verhale ook hulle weg na die silwerdoek, of ten minste die kleinskerm, gevind. Die eerste voorbeelde hiervan is die filmweergawes van Huxley se Brave new world en Orwell se 1984 (Libman en Williams 1998; Radford 1984).
Só het wetenskapfiksie ook ’n belangrike deel van die populêre kultuur geraak, en word gesegdes en aanhalings uit wetenskapfiksie gereeld in die populêre kultuur gebruik, byvoorbeeld “May the force be with you!”. Vandag kan ons die wêreld van film en TV kwalik indink sonder om wetenskapfiksie daarby in te reken. Selfs die musiekwêreld het hierdie narratief begin aanhang: ná die bekende The Planets van Gustav Holst volg daar in die era van ruimteverkenning populêre musiek deur onder meer David Bowie in die 1970’s, byvoorbeeld Space Oddity; die klankbaan van War of the worlds deur Jeff Wayne; The age of Aquarius uit die klankbaan van die film Hair; in die 1980’s Peter Schilling se Major Tom; asook verskeie ander atmosferiese elektroniese musiek wat bedoel is om die kosmos instrumenteel uit te beeld, byvoorbeeld sommige van die vroeëre musiek van Jean-Michel Jarre, Vangelis en Tangerine Dream. ’n Hele subgenre elektroniese musiek, bekend as spacesynth, het hieruit ontstaan.
’n Ander vorm van wetenskapfiksie wat sedert die 1980’s ontstaan het, het gepaard gegaan met die ontploffing in beide animasie- en rekenaartegnologie, naamlik rekenaar- en videospeletjies. Hierdie medium betrek die leser/kyker sélf by die narratief en laasgenoemde word ’n rolspeler daarin of deelnemer daaraan. Die wêreld van rekenaar- en videospeletjies het op sigself ’n groot omwenteling ondergaan sedert Atari en Nintendo in die 1980’s platforms hiervoor ontwikkel het en speletjies soos Space Invaders gewild geraak het. Vandag spog platforms soos Xbox, Playstation en ander oor uitmuntende animasievermoë en selfs die vermoë tot virtuele realiteit wat as skilderdoek vir fantasieverhale in die ruimte dien. Die rol hiervan in die populêre kultuur kan geensins onderskat word nie. Die ouer generasie van vandag bevraagteken dikwels die jonger generasie se gewoonte om daagliks vir ure agter die konsole van ’n rekenaarspeletjie te spandeer asof dít hulle belangrikste dagtaak geword het. Heelwat studies is sedertdien gedoen oor hierdie verskynsel, veral ten opsigte van die moontlike verslawende effek daarvan en die wyse waarop dit die werklikheidsbewussyn van mense kan versteur en sosiale fobies kan veroorsaak. Hierdie verskynsel is in die jongste weergawe van die American Psychiatric Association se Diagnostic and statistical manual of mental disorders, 5th edition (DSM-5) opgeneem.
III.
Telkens wanneer ’n nuwe tegnologie sy opwagting maak, is die mensdom se reaksie soortgelyk. Hierdie verskynsel word omvattend omskryf deur Rogers en Kuhn in hulle toonaangewende boeke Diffusion of innovation (Rogers 1962) en The structure of scientific revolutions (Kuhn 1962).
...
Hoe dit ook al sy, wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang het nog altyd ’n teelaarde geskep vir goeie wetenskap- en toekomsfiksie, asook fantasieverhale.
...
Sommige kommentators is só beïndruk met nuwe tegnologie dat uitsprake gemaak word wat die rol van daardie tegnologie in die wêreld totaal oorskat en dat daar ekstrapolasies gedoen word wat geheel en al onrealisties is. Die eerste maanlanding het byvoorbeeld die verwagting geskep dat ons teen 1999 die maan behoort te koloniseer; daarvandaan ’n TV-reeks soos Alpha 1999. Die maan word spesifiek geteiken omdat dit die naaste hemelliggaam aan die aarde is en omdat daar ’n aantal minerale teenwoordig is wat moontlik nuttig kan wees. Daar is ook verskeie moontlikhede om energie te vervaardig deur die maan as hulpbron te gebruik.
Ander kommentators is weer behoudende puriste wat die bestaande tradisie teen sulke nuwe onhebbelikhede probeer beskerm. Dink maar aan die musiekbedryf en die koms van die grammofoon. Om na jou gunstelingopera op ’n draagbare toestel te luister? Nee wat, dit sal nie deug nie. En dink aan die koms van sintetiese musiekinstrumente in die vroeë 1970’s – kunstenaars soos Jean-Michel Jarre, Klaus Schulze en Kraftwerk het groot debatte veroorsaak: Aan die een kant wou entoesiaste dit hê dat hierdie vorm van musiekinstrumente die toekoms in die geheel moes oorheers, terwyl ander dit as kitsch, kortstondig en ’n kortpad vir die talentloses beskryf het. As ons terugskouend na enige van hierdie verskynsels kyk, besef ons dat die waarheid altyd iewers in die grys gebied tussen hierdie twee uiterstes lê, en dat die tegnologiese baanbrekers op enige terrein as hoogs eksperimenteel beskou behoort te word totdat die tegnologie volwassenheid bereik het.
Hoe dit ook al sy, wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang het nog altyd ’n teelaarde geskep vir goeie wetenskap- en toekomsfiksie, asook fantasieverhale. Die huidige ontploffing in kunsmatige intelligensie het oor dekades ontwikkel en was reeds aan die woord in 2001: A space odyssey (as HAL 9000) (Kubrick 1968); in robotte wat met kunsmatige intelligensie toegerus is in films soos Bicentennial Man (wat op ’n novelle van Isaac Asimov gebaseer is) (Columbus 1990); in Ex Machina (Garland 2014); en in Passengers (Tyldum 2016). Ook die donker “ghost in the machine” word vergestalt in narratiewe soos vervat in die Matrix-filmreeks (Wachowski en Wachowski 1999) wat ook tot ’n subgenre bekend as cyberpunk aanleiding sou gee.
IV.
Wetenskapfiksie is fiktiewe tekste wat gebaseer is op wetenskaplike kennis of ekstrapolasies daarvan.
...
In die moderne Afrikaanse lettere en binne die heersende populêre kultuur is daar natuurlik ’n baie groter verskeidenheid boeke wat as wetenskapfiksie beskou kan word.
...
In die Afrikaanse lettere is daar kortverhale van Jan Rabie en jeugverhale in die Fritz Deelman-reeks van Leon Rousseau wat elemente van wetenskapfiksie bevat (Rabie 1973; Rousseau 1956). Die kortverhaalbundel Uit ’n ander wêreld van Pierre Haarhoff, ’n voormalige kernwetenskaplike en professor in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria, het in 1989 die Eugène Maraisprys verower en is ’n goeie voorbeeld van suiwer wetenskapfiksie in Afrikaans (Haarhoff 1987).
Die Suid-Afrikaans-vervaardigde trefferfilm District 9 bevat ’n uiters vernuwende en oorspronklike narratief waarin die mensdom se reaksie teenoor die koms van ruimtewesens uitgebeeld word as ’n korrelaat vir rassisme en segregasie (Blomkamp 2008). Ook die inkleding wyk af van die tradisionele Hollywood-fantasiewêreld en vertoon eerder as ’n soort township of plakkerskamp buite Johannesburg waarin verval, kriminaliteit en maatskaplike nood aan die orde van die dag is.
In die moderne Afrikaanse lettere en binne die heersende populêre kultuur is daar natuurlik ’n baie groter verskeidenheid boeke wat as wetenskapfiksie beskou kan word. Voorbeelde hiervan is Willem Anker se Skepsel, Carien Smith se Bot, Isa Konrad se Toekomsmens en vele ander (Anker 2020; Smith 2022; Konrad 2021).
Wanneer Loeloeraai met die belangrikste wetenskapfiksietekste vergelyk word, is dit waarskynlik ’n soort hibried wat elemente van wetenskapfiksie, fantasie en toekomsfiksie bevat. Daar bestaan steeds sommige inligting waarvan die wetenskaplikheid onduidelik is en hierdie “dowwe kolle” word as fantasie aangebied. Dalk is die benadering om dit as steampunk te beskou die mees gepaste een, aangesien steampunk geensins probeer om die wetenskaplikheid ten alle koste te begrond nie en sekere gevolgtrekkings aan die verbeelding oor laat.
Die hemelwese Loeloeraai is afkomstig van die planeet Venus. Daar is baie lae simboliek aan hierdie planeet: die oggend- en aandster as simbool van die koms van die Messias; die Stella Maris as simbool van Maria; en die simbool van liefde en skoonheid.
Ons weet natuurlik lank reeds dat daar geen lewe op Venus bestaan nie. Langenhoven verskaf nie helder leidrade oor hoe die ruimteskip aangedryf word of welke tegnologie gebruik word nie. Uit die terminologie wat gebruik word, kom dit voor asof Langenhoven die terminologie (“vliegmasjien”) van die Wright-broers, wat sekerlik op daardie stadium bekend was, as uitgangspunt gebruik het en dat die aandrywing dus meganies van aard sou wees. Maar die voorkoms van die ruimteskip toon dalk eerder ooreenkomste met dié van ’n Zeppelin uit die Duitse arsenaal van die Eerste Wêreldoorlog en daarna weer in die 1920’s. Neem byvoorbeeld die volgende aanhaling uit Loeloeraai wat hierdie vermoede asook die steampunk-argument versterk:
“Nee, oom Stoffel, alla goeie!” sê Vroutjie. “Straks ontplof die ding. Wie weet is dit nog ’n verdwaalde oorlogstuig van die Duitsers. Sal ons hom nie maar so laat staan tot môre toe nie?”
Daar bestaan heelwat ander vrae waarvoor Langenhoven nie duidelike antwoorde verskaf nie:
- Waarom is die ruimtetuig van goud en het Loeloeraai ’n goue voorkoms? Kan dit wees omdat, in die 1920’s, die goudbedryf in Suid-Afrika so beduidend was?
- Waarom kies Loeloeraai juis Suid-Afrika? Is dit moontlik ’n vorm van antroposentrisme en sommer ’n groot dosis Afrikanernasionalisme?
- Hoewel Langenhoven aandag skenk aan sommige besonderhede, is daar steeds onbeantwoorde vrae, soos die “rieme” in die ruimtetuig wat as ’n soort veiligheidsgordel dien – word daar dan leer gelooi op Venus? Ook die gordyne in die gewigloosheid van die ruimte val op.
- Die doel van die besoek aan die maan gaan die leser tot ’n mate verby.
- As teks in die moderne Afrikaanse letterkunde sou daar vandag vrae gevra kon word oor die wyse waarop Vroutjie en Engela (vanuit die feminisme) asook die plaaswerker (vanuit die postkolonialisme) uitgebeeld word en oor die wit Afrikaanse man wat die apeksposisie beklee.
- Sal ’n ruimtewese van Venus af uit Genesis 1 aanhaal en die mens berispe om te heers oor die aarde?
- Loeloeraai is uiteindelik ’n morele leermeester met ’n Messiaanse beeld; daarom ook die engelagtigheid en die sandale. Dit herinner aan Chris de Burgh se lied “A spaceman came travelling”.
Daar is wel gegewens in die boek wat wetenskaplik haalbaar is en wiskundig korrek is, byvoorbeeld die snelheid van die ruimtetuig en die afstande en reistye na die maan en die planeet Venus.
Al word al die voorafgenoemde problematiek in ag geneem, kan die baanbrekerstatus van Loeloeraai nie misken word nie. Dit sou literêr disrespekvol wees om ’n narratief te evalueer aan die hand van kennis van 2023 en daarom gebreke te probeer uitwys. Die moderne leser, met al sy superieure kennis, behoort met patos met die teks om te gaan, hoe argaïes of ouderwets die teks ook al mag wees. Anders sal literêre lesers eweneens oor nog 100 jaar dieselfde doen met die tekste van vandag waarin kunsmatige intelligensie waarskynlik nog in sy kinderskoene staan. Dit bly dus belangrik dat ’n werk soos Loeloeraai se status in die kanon behoue bly as ’n narratief wat in 1923 ontstaan het.
Loeloeraai is inderdaad die eerste van ’n spesie in Afrikaans. Afrikaans was ten tye van die publikasie van Loeloeraai (wat eers as ’n reeks sketse in die nuusmedia aangebied is) nog nie eens ’n volwaardige taal nie – Loeloeraai is in 1923 gepubliseer, terwyl Afrikaans eers in 1925 deur die Parlement as landstaal geproklameer is. Om so ’n komplekse verhaal op daardie tydstip te kon skep, en dít in ’n era waarin daar nie soos in die geval van vandag internet of kunsmatige intelligensie beskikbaar was om te raadpleeg nie, bly op sigself ’n kragtoer.
Maar miskien lê die uiteindelike antwoord juis daarin om Loeloeraai as steampunk in te skat, met al die lokaal gemoedelike dialoog, Vroutjie met haar ouderwetse rok en Neelsie met sy manelpak.
Dan kan dit knus langs Verne en Wells op die boekrak staan.

Die roman is steeds te koop, koop dit nou by Graffiti:
Loeloeraai
CJ Langenhoven
Protea Boekhuis (2007)
9781869191405
Eindnota:
[1] Die Langenhoven-gedenklesing is moontlik gemaak deur ’n skenking van die LW Hiemstra-trust.
Verwysings:
Anderson, G en Anderson, S (regisseurs). 1975. Space: 1999 (rolprent).
Anderson, M en Farrow, J (regisseurs). 1956. Around the world in 80 days (rolprent).
Anker, W. 2020. Skepsel. Kaapstad: Queillerie.
Asimov, I. 1950. I, Robot. New York: Gnome Press.
Blomkamp, N (regisseur). 2008. District 9 (rolprent).
Brevig, E (regisseur). 2008. Journey to the center of the earth (rolprent).
Carter, C (regisseur). 1993. The X-Files (rolprent).
Clarke, A. 2000. 2001: A space odyssey. New York: Ace.
Columbus, C (regisseur). 1990. Bicentennial Man (rolprent).
Conran, K (regisseur). 2004. Sky Captain and the world of tomorrow (rolprent).
Druyan, A en Sagan, C (regisseurs). 1980. Cosmos (rolprent).
Emmerich, R (regisseur). 1994. Stargate (rolprent).
Garland, A (regisseur). 2014. Ex Machina (rolprent).
Haarhoff, P. 1987. Uit ’n ander wêreld. Kaapstad: Human & Rousseau.
Harper, T (regisseur). 2019. The Aeronauts (rolprent).
Herbert, F. 1990. Dune. New York: Ace.
Huxley, A. 2012. Brave new world. Londen: Penguin Classics.
Konrad, I. 2021. Toekomsmens. Johannesburg: LAPA Uitgewers.
Kubrick, S (regisseur). 1968. 2001: A space odyssey (rolprent).
Kuhn, T. 1962. The structure of scientific revolutions. Chicago: University of Chicago Press.
Langenhoven, C. 2011. Loeloeraai. Kaapstad: CruGuru.
Larson, G (regisseur). 1978. Battlestar Galactica (rolprent).
Libman, L en Williams, L (regisseurs). 1998. Brave new world (rolprent).
Lucas, G (regisseur). 1977. Star Wars (rolprent).
Lynch, D (regisseur). 1984. Dune (rolprent).
Orwell, G. 1961. 1984. New York: Signet Classic.
Rabie, J. 1973. Een-en-twintig. Kaapstad: Human & Rousseau.
Radford, M (regisseur). 1984. 1984 (rolprent).
Robb, B. 2012. Steampunk: An illustrated history of fantastical fiction, fanciful film and other Victorian visions. McGregor, Minnesota: Voyageur Press.
Roddenberry, G (regisseur). 1979. Star Trek (rolprent).
Rogers, E. 1962. Diffusion of innovation. New York: Free Press.
Rousseau, L. 1956. Fritz Deelman en die skepe van Mars. Kaapstad: Human & Rousseau.
Sagan, C. 1997. Pale blue dot: A vision of the human future in space. New York: Ballantine Books.
Scorsese, M (regisseur). 2011. Hugo (rolprent).
Smith, C. 2022. Bot. Kaapstad: Tafelberg.
Strugatsky, A en Strugatsky, B. 2012. Roadside picnic. Chicago: Chicago Review Press.
Tarkovsky, A (regisseur). 1972. Solaris (rolprent).
Tyldum, M (regisseur). 2016. Passengers (rolprent).
Verne, J. 1993. From the earth to the moon. New York: Bantam Classics.
Wachowski, L en Wachowski, L (regisseurs). 1999. The Matrix (rolprent).
Wells, HG. 2017. The first men in the moon. Londen: Oxford World Classics.
Wells, HG. 2017. The war of the worlds. New York: Pan MacMillan.
Lees ook:



Kommentaar
O aarde, maar die skrywer van hierdie artikel neem Langenhoven gans te ernstig op! Ek is seker dat Sagmoedige Neelsie minstens drie maal in sy graf omgedraai het.
Die skrywer beweer:
"Wanneer Loeloeraai met die belangrikste wetenskapfiksietekste vergelyk word, is dit waarskynlik ’n soort hibried wat elemente van wetenskapfiksie, fantasie en toekomsfiksie bevat. Daar bestaan steeds sommige inligting waarvan die wetenskaplikheid onduidelik is en hierdie “dowwe kolle” word as fantasie aangebied."
Word die "wetenskaplikheid" van Langenhoven se werk gekritiseer op grond van huidige kennis?
Ek het dit nog altyd as 'n stuk “tong-in-die-kies” satiriese verbeeldingsvlug beskou en Langenhoven het dit self as fantasie beskou. Langenhoven het trouens erken dat sy verhaal losweg op Wells se boek gebaseer is, maar dat hy dit na die konteks van Oudtshoorn en Sagmoedige Neelsie se gesin verplaas het.
Die vrae wat die skrywer vra, raak ook nog kant of wal:
• “Waarom kies Loeloeraai juis Suid-Afrika?”
Die eenvoudige antwoord is dat Langenhoven die boek geskryf het en dat hy in Suid-Afrika woonagtig was.
Hy het die boek geskryf toe Afrikaans nog in sy kinderskoene en is moedswillig “antroposentristies”, veral as dit oor Engels en Afrikaans gaan. Loeloeraai is mal oor Afrikaans en verkies dit bo Engels, want dit is “doeltreffender en verstandiger”.
• “...onbeantwoorde vrae, soos die “rieme” in die ruimtetuig wat as ’n soort veiligheidsgordel dien – word daar dan leer gelooi op Venus?”
Soos bo, speel die storie in die boeregemeenskap van Oudtshoorn af, waar rieme wel bekend is.
• “Die doel van die besoek aan die maan gaan die leser tot ’n mate verby.”
Loeloeraai wou hulle Venus toe neem, maar dit is te ver en hulle kies toe ’n “nader plekkie”, die maan.
Ten slotte: Ek is verstom oor die skrywer se gebrek aan humor.
Lees gerus:
https://www.litnet.co.za/langenhoven-se-1923-verbeeldingsvlug-maan-toe/
Ek stel voor bogenoemde kommentator knap sy kennis van literêre teorie op alvorens hy saamgesels. Deur Langenhoven gelyk te stel aan die verteller in Loeloeraai, is ’n fout en getuig van outeursdwaling. Ook: “The death of the author is the birth of the reader” – Roland Barthes. In die lettere bestaan daar nie net een perspektief, fokuspunt of interpretasie nie, maar verskeie – dit is hoe die literêre diskoers tot stand kom.
Die humor rondom die taksering van Loeloeraai as steampunk gaan die kommentator heeltemal verby. Die vername kenmerke van steampunk is fantasie; en die spel met anachronistiese tydlyne – die nostalgie na ’n vergange toekoms. Ek stel voor die kommentator vergewis hom deeglik van wat steampunk as beweging in die kunste en die lettere behels en die feit dat daar selfs ’n speelse teenkultuur daarin skuil.
Die kommentator verwar antroposentrisme met nasionalisme en die gebruik van taal. Hy tree na vore en verdedig die onaantasbare sentrale rol van Afrikaans waaroor daar tog asseblief net nie enige vrae gevra mag word nie. Ek raai hom aan om Carl Sagan se bekouings rondom antroposentrisme te lees.
Die kommentator vergeet vervolgens dat die rieme waarna verwys word, in die ruimtetuig gevind word en niks met Oudtshoorn uit te waai het nie. Ook bied die feit dat die maan nader as Venus is en Loeloeraai besluit om maan toe te gaan, steeds geen motivering vir ’n maanreis nie. Daar is geen sprake van ’n wetenskaplike ekspedisie nie.
Nietemin, daar word juis in die essay aangedui dat lesers met patos moet omgaan met ’n teks wat ’n 100 jaar gelede verskyn het, iets wat (weer eens) die kommentator ontgaan. Deur Loeloeraai as steampunk te debunk, is ook ’n bewys daarvan dat die skrywer van die essay die lokaal-gemoedelike trant van Loeloeraai inderdaad nié te ernstig opneem nie.
Langenhoven mag in sy graf omdraai oor bogenoemde kommentator se stiksienige en eendimensionele lesing van Loeloeraai. Die lettere bly ’n oop gesprek tussen generasies en verskillende invalshoeke. In die geval van ’n Gedenklesing is dit júís bedoel om hierdie diskoers voort te sit, en dít is wel ’n ernstige saak.
Daarom noop dit my om repliek te lewer.
Eindnota:
Ek merk dat die kommentator ’n skakel verskaf na ’n meningstuk wat hy voorheen op LitNet geplaas het. Ek vind dit onvanpas dat ’n persoon sy eie meningstuk op ’n seepkis plaas saam met inhoud uit die Langenhoven-gedenklesing en laasgenoemde daarmee probeer diskrediteer. Maar ek gun hom sy mening en verwag ten minste dieselfde verdraagsaamheid terug.
"I rest my case". Is 'n gedenklesing verhewe bo kritiek? Ek het na my "meningstuk" verwys om my punt te staaf dat die artikel Langenhoven se bedoeling, humor en genialiteit totaal misgekyk het.
Steampunk is nie net 'n sub-genre van 'n sub-genre van fantasie nie, maar ook: "Steampunk tales can take place anywhere on Earth, in a parallel dimension or universe, in the distant future or on another planet – the one requirement being that the society portrayed has quite a lot in common with the Victorian-Edwardian/Gilded Age/Belle Époch eras." (Daniels, Beth. GEARED UP! WRITING STEAMPUNK (pp. 6-7).
Daar is geen manier dat Loeloeraai as Steampunk of fantasie geklassifiseer kan word nie. Jules Verne se roman "From the Earth to the Moon" gebruik 'n groot kanon om mense op die maan te kry. Wetenskaplik is dit onmoontlik maar nogtans word dit as wetenskapsfiksie beskou. Die feit dat Langenhoven die goue eier, of die reis nie wetenskaplik verduidelik nie, maak dit nie fantasie nie. Ek sou Loeloeraai eerder as sagte wetenskapsfiksie beskou: "Soft science fiction is more likely to place an emphasis on character or society – on the psychology of space travel as much as the mechanics of it. It may extrapolate story ideas from the ‘soft sciences’: anthropology, ecology, economics, evolution, futures studies, intelligence, linguistics, perception, psychology and sociology." (Roberts, Adam. Get Started in Writing Science Fiction and Fantasy: How to write compelling and imaginative sci-fi and fantasy fiction.)
Die leser van wetenskapsfiksie moet altyd onthou wanneer en waar die storie geskryf is en met watter wetenskaplike kennis die skrywer te werk gaan. Loeloeraai is in 1923 geskryf, Einstein se Relatiwiteitsteorie is nog nie algemene kennis nie en die aanvaarding van die Oerknalteorie is nog dekades in die toekoms. Langenhoven wou sy lesers aanmoedig om meer kennis te bekom.
Om ontvanklik vir uitgebreide kennis te wees, ontbreek dikwels by mense. Wetenskapsfiksie wil juis die toekomsmoontlikhede vir lesers oopmaak.
“Science fiction is the evolutionary mythology of the future.” (Lombardo, Thomas J. Science Fiction - The Evolutionary Mythology of the Future.)
Dankie, Naas. Jy laat my minder dom voel.
Groete
Koos