
Hierdie mentorsterugvoer vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die finale terugvoer op weergawe 2 van Olga Leonard se resensie.
Terugvoer: Wayne Muller
In jou tweede weergawe is jou gedagtes beter georganiseer en die leser is goed bewus van watter aspekte van die teaterstuk jy uitlig. Jy fokus ook beter op die enkele aspekte wat vir jou uitgestaan het, eerder as om alles te probeer dek.
Jou inleiding kort egter nog werk sodat dit lesers kan prikkel om verder te lees. In plaas daarvan om die verhaalgebeure as inleiding te gebruik, skryf eerder ’n inleiding tot jou argument wat in die daaropvolgende paragrawe uitgebou sal word. Dit is reeds in jou teks in die laaste twee paragrawe – daardie gedagtes kan ook as inleiding dien, mits jy die leser aan die einde daarna terugbring ter opsomming.
Terugvoer: Mercy Kannemeyer
’n Enorme verbetering op die vorige weergawe! Hierdie resensie is verweefd, duidelik en neem my as leser op ’n opwindende reis van “Wat gaan die resensent volgende sê?!” Dit is ’n aangename gevoel om as leser uit te sien na wat die resensent gaan sê.
Hierdie weergawe lees asof dit deur ’n ervare resensent geskryf is. Dit werk goed dat die resensent inleidend vertel waaroor die stuk handel, en dan oorbeweeg na meer tegniese elemente van die toneelstuk. Die erkenning van almal wat by die stuk betrokke is, dra die gewigtigheid van die toneelstuk goed oor.
Ek sukkel met die volgende sin: “Op papier is daar die vryheid om onmiddellik te verskuif van ruimte en tyd.” Kan die resensent dalk hierop uitbrei? Bedoel die resensent dat die vryheid teenwoordig op papier in die toneelteks, of in die oorspronklike boek is? Of is dit maar net ’n algemene stelling oor skryf en die vryheid wat daarmee gepaardgaan?
Die resensent toon verder ’n deeglike begrip van die toneelstuk, van die nuanses wat die stuk ontlont, die subteks; en ek hou veral daarvan dat die resensent hedendaagse lyne trek tussen dit wat in die toneelstuk afspeel en die werklikhede van Suid-Afrika.
Ek sou ’n sterker slot voorstel – “pryse inpalm” is effens afgesaag. Maar oor die algemeen is hierdie ’n kragtoer van ’n resensie vir ’n kragtoertoneelstuk!
Mentorsterugvoer (weergawe 1)
Teaterresensie (weergawe 1)
Teaterresensie (weergawe 2)
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023

