LitNet | STAND: Teaterresensie van The promise (weergawe 2)

  • 0
Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors ontvang en dan hul resensies finaal afrond.
Hier is die tweede weergawe van Olga Leonard se resensie.


The promise
beloof ’n briljante ongemak

Die Swart-gesin (’n tipiese wit Suid-Afrikaanse familie) woon op ’n plaas buite Pretoria en poog om hulself bymekaar te hou ten spyte van die veranderende politiese klimaat. Manie Swart belowe sy sterwende vrou om ’n stuk grond met ’n klein huisie daarop aan Salome, die Sotho-vrou wat haar hele lewe lank vir hulle werk, te gee. Hierdie belofte vorm die grondslag van die Swarte se voortbestaan.

Die fondasie is verwronge, die verhoog is ’n glyplank wat karakters insluk saam met hulle leuens en morele verval. Die teks is vlot, dikwels humoristies en die karakterwisseling verloop so moeiteloos dat die gehoor beswaarlik agterkom dat dieselfde akteur verskeie rolle vertolk. Daar is ’n ongemak om staande te bly. ’n Ongemak om dop te hou hoe Salome in die agtergrond die vuilwerk doen.

Rob van Vuuren is Anton en hy is die dryfveer van die verhaal. Sy energievlakke word duidelik vertolk: Hy is gepynig dog snaaks, sterk dog gekrenk. Van Vuuren handhaaf hierdie balans meesterlik. Ons sien ook die veelsydige Kate Normington, Frank Opperman, Chuma Sopotela, Cintaine Schutte, Jenny Stead, Sanda Shandu en Jane de Wet. Spesiale melding moet gemaak word van Albert Pretorius wat beïndruk met sy veelsydigheid, humor, ’n roerende treur-Kaddish en uiters gemaklike karakteroorgange.

Op papier is daar die vryheid om onmiddellik te verskuif van ruimte en tyd. Strike kry dit reg om die verloop van tyd en onmiddellike oorgange te transponeer na ’n sentrale punt, met die hulp van klassieke kostuums wat nie na spesifieke modes of tydperke verwys nie. Die nege akteurs dra letterlik verskeie hoede of baadjies/pruike om hierdie vinnige pas te ondersteun. Die akteurs self dra die verhaal voor en in hierdie tegniek is heelwat humor ter sprake, wanneer karakters byvoorbeeld vra of hulle die volgende (moeilike) hoofstuk kan oorslaan. Soms is die geskiedenis net te beklemmend om weer en weer te herleef. Vir hierdie skrywer is die eerste bedryf byna ’n terugverwysing na Suid-Afrika voor 1994: bo blink, glad en blind vir onderdrukking.

In die tweede bedryf is die karakterwisseling losser en meer humoristies. Die ensemblespel voel byna ekstra senuweeagtig namate die verhaal, asook hul lewens uitmekaar val. Die neteligheid van leë beloftes skuif soos ’n wolk oor die gehoor en dié bedryf herinner aan die doellose deurmekaarspul waarin die reënboognasie tans verkeer. Die gehoor kry ’n goeie idee van die gemors waarin Anton, Astrid, Amor en die plaas hulleself bevind, terwyl Salome se swye die hardste stem op die verhoog word. In haar alomteenwoordigheid lê die konstante herinnering van gebroke beloftes. Dit klink weer eens baie bekend.

Die stuk se eiesoortige styl word aangehelp deur ’n ontstellende en aardige klankontwerp onder leiding van Charl-Johan Lingenfelder. Die elektroniese saag is dikwels so pynigend soos die dood van karakters en die akteurs verras dikwels met goeie sang en mondperkussie. Daar is ongemaklike dog snaakse skuinsklappe na geloof, geloofsleiers en die belaglikheid rondom kerk, die uitkoop van skuld en belydenis. Die fisiese teater is waarskynlik net so belangrik soos die dialoog. Daar word vrees, plesier en puntenerigheid behendig uitgebeeld. Die knap choreografie, maniërismes en liggaamshoudings belig spesifieke karaktereienskappe.

Vir hierdie teaterganger is die klem op die deurmekaar, aardige spanning rondom leë beloftes en die karma wat daarmee gepaard gaan. Die speeltyd van drie uur is ook genoeg om menige teaterganger uit te mergel en met ongemak te laat, maar dis myns insiens tog die tyd werd. Ek kan nie help om die demografie van die gehoor en die tegniese span op te let nie, en wonder dan of die belofte regtig al nagekom is en hoeveel begrafnisse dit nog gaan neem tot teater anders lyk. 

Wanneer befondsing en visie, teks en dialoog en akteurs en regisseur op hierdie wyse trou, is die gevoel alles behalwe hopeloos. ’n Kniebuiging vir ’n uitstekende produksie wat hopelik verskeie pryse sal inpalm en vol teaters verdien.



Teaterresensie: Eerste weergawe

LitNet | STAND: Teaterresensie van The promise (weergawe 1)

Mentorsterugvoer: Eerste weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Eerste mentorsterugvoer: The promise geresenseer deur Olga Leonard

Mentorsterugvoer: Finale weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Finale mentorsterugvoer: The promise geresenseer deur Olga Leonard

Lees ook:

LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top