LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Eerste mentorsterugvoer: The promise geresenseer deur Olga Leonard

  • 0

Hierdie mentorsterugvoer vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste terugvoer op weergawe 1 van Olga Leonard se resensie.

Terugvoer: Wayne Muller

Jou resensie bied ’n oorsig van al die aspekte van ’n teaterstuk wat ’n mens in ’n resensie wil lees. Jy het ook ’n unieke manier van woorde gebruik, wat daarop dui dat jy ’n redelik gevestigde stem in jou skryfwerk gevind het.

Die aangehaalde deel wat volg, is uitstekend in die gebruik van woorde, die beeld wat geskep word en hoe dit in kort byna die hele produksie beskryf: “Die fondasie is verwronge, die verhoog is ’n glyplank wat karakters insluk saam met hulle leuens en morele verval. Die teks is vlot, dikwels humoristies en die karakterwisseling verloop so moeiteloos dat die gehoor beswaarlik agterkom dat dieselfde akteur verskeie rolle vertolk.” 

Waaraan jy kan werk, is om jou gedagtes fyner te organiseer, wat te make het met die struktuur van jou resensie. Jy spring soms rond tussen verskillende aspekte. Jy verwys byvoorbeeld in twee paragrawe na die uitdaging daarvan om ’n boek vir die verhoog te verwerk. Plaas daardie gedagtes saam in een paragraaf en beweeg dan aan na die volgende aspek. (Tensy jy daarna terugkom om ’n punt te bewys.)

Omdat jy in jou resensie aan soveel aspekte van die stuk aandag gee, verloor dit fokus. Dit is alles geldige punte, maar ek kry nie ’n goeie sentrale idee wat deur die teks loop nie. Dit gaan dus oor die goue draad in jou teks. Dus, in baie opsigte lyk dit na heelwat idees en opinies, maar daardie idees/inligting staan los van mekaar.

In ’n resensie probeer ons om die verhoogstuk in sy geheel te beoordeel, al praat ons oor die verskillende fasette daarvan, maar dit moet duidelik wees hoe hierdie verskillende aspekte met mekaar verband hou.

’n Goeie, prikkelende inleiding is die sleutel tot enige goeie joernalistieke skryfstuk. Jou eerste paragraaf is ongelukkig bloot inligting (oor dinge waarvan sommige lesers hoogs waarskynlik reeds weet). En dan verklap jy die hele verhaal in jou eerste paragraaf – ja, die leser weet dalk waaroor die boek gaan, maar moenie die spanning en oplossing van die verhaal ooit verklap nie, veral nie in jou inleiding nie.

In ’n inleiding behoort jy die leser te prikkel vir jou argument wat jy in jou resensie sal voer. Resensering gaan oor ’n beredenering oor wat op die verhoog aangebied is, en jy wil jou idees oor die stuk op ’n aangrypende manier kommunikeer. So, herskryf die inleiding sodat dit vasvang wat jy wil sê, maar op ’n manier wat die leser sal prikkel om verder te lees en hierdie argument (deur die goue draad) te volg.

Terugvoer: Mercy Kannemeyer

Die resensent probeer hier aan te veel dinge raak, en dit veroorsaak dat die resensent op sommige plekke nie uitbreiding kan verskaf vir hoekom hy of sy sekere opmerkings maak nie. Ek besef hier is ’n woordbeperking op elke resensie, maar dis dan die resensent se werk om te besluit waaraan om te raak en dít dan genoegsaam te kwalifiseer.

Die inleiding dat Galgut die Booker-prys gewen het, is onnodig. Ons weet dit. Ewe onnodig is hoe lank Galgut en Strike aan hierdie produksie gewerk het. Dat Van Vuuren en Strike aan End game gewerk het, neem ook woordspasie op wat elders beter benut sou kon gewees het. Sulke inligting is dalk eerder in ’n langer essay gepas, want hierdie is ’n teaterresensie en die skrywer moet in die resensie poog om die leser se aandag te behou. En ongelukkig het ek hier plek-plek verlore geraak in besonderhede wat soos weggooisinne lees.

Die volgende inligting kan dalk as ’n nota aan die einde of aan die begin van die resensie staan: “Die stuk is duidelik goed befonds, met nege akteurs, klankontwerp deur Charl Johann Lingenvelder, beligtingsontwerp deur Josh Lindberg, kostuums deur Penny Simpson, choreografie deur Natalie Fisher en ’n fabelagtige stelontwerp.”

Indien bostaande inligting as nota neergepen word, gee dit die resensent meer woorde om mee uit te brei op stellings wat soos weggooisinne lees.

Hiermee ’n paar weggooisinne waaroor die resensent kan besin:

“Die gehoor kry ’n goeie idee van die gemors waarin Anton, Astrid, Amor en die plaas hulleself bevind.” (Hóé kry die gehoor ’n goeie idee?)

“Die klankontwerp is treffend, afgerond en dra by tot die begrip van emosies en die verligting van swaarkry.” (Hoe dra dit by tot die emosies van verligting en swaarkry? As leser van hierdie resensie wil ek hóór wat die resensent gehoor het.)

“Die onvermoë om met dié wat dood is te redeneer veroorsaak frustrasie vir die familie.” (Wat maak hierdie sin hier?)

Hierdie sin is my gunstelingsin in die resensie: “Ek kan nie help om die demografie van die gehoor en die tegniese span op te let nie, en wonder dan of die belofte regtig al nagekom is en hoeveel begrafnisse dit nog gaan neem tot teater anders lyk.” Die resensent plaas die verantwoordelikheid voor die kyker en leser se deur. Dis uitdagend, sterk, en noop ’n mens om The promise te gaan kyk.

Lees ook:

LitNet | STAND: Teaterresensie van The promise (weergawe 1)

LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool | Theatre review workshop

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top