LitNet | STAND: Teaterresensie van The promise (weergawe 1)

  • 0

Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors ontvang en dan hul resensies finaal afrond.
Hier is die eerste weergawe van Olga Leonard se resensie.

The promise beloof om jou by te bly

The promise deur Damon Galgut het in 2021 opslae gemaak toe Galgut die derde Suid-Afrikaanse skrywer word om die gesogte Booker-prys te wen. Die verhaal handel oor die Swart-gesin (’n tipiese wit Suid-Afrikaanse familie) wat op ’n plaas buite Pretoria poog om hulself bymekaar hou ten spyte van die veranderende politiese klimaat. Manie Swart belowe sy sterwende vrou om ’n stukkie grond met ’n klein huisie daarop aan Salome, die Sotho-vrou wat haar hele lewe lank vir hulle werk, te gee. Manie ontken later hierdie belofte en dit sal uiteindelik nog bykans twee dekades neem voor dit nagekom word.

Vir die afgelope 16 maande droom Galgut en die bekroonde regisseur Sylvaine Strike saam aan hierdie produksie. Strike noem in ’n gesprek dat dit die langste voorproduksietyd is wat sy nog gegun is. Die stuk is duidelik goed befonds, met nege akteurs, klankontwerp deur Charl Johann Lingenvelder, beligtingsontwerp deur Josh Lindberg, kostuums deur Penny Simpson, choreografie deur Natalie Fisher en ’n fabelagtige stelontwerp. Die fondasie is verwronge, die verhoog is ’n glyplank wat karakters saam met hulle leuens en morele verval insluk. Die teks is vlot, dikwels humoristies, en die karakterwisseling verloop so moeiteloos dat die gehoor beswaarlik agterkom dat dieselfde akteur verskeie rolle vertolk. 

Rob van Vuuren is Anton en hy is die dryfveer van die verhaal. Sy energievlakke word duidelik vertolk; hy is gepynig dog snaaks. Van Vuuren handhaaf hierdie balans meesterlik. Strike en Van Vuuren het ook in End game (2019) saam sukses behaal. Ons sien ook die veelsydige Kate Normington as Rachel, Frank Opperman as Manie, Chuma Sopotela as Salome, Cintaine Schutte as tannie Marina / Desiree, Jenny Stead as Astrid, Albert Pretorius as oom Ockie en verskeie ander karakters, Sanda Shandu as Lukas en Jane de Wet as Amor. Spesiale melding moet gemaak word van Albert Pretorius, wat beïndruk met sy veelsydigheid, humor, ’n roerende treur-Kaddisj en uiters flinke karakteroorgange.

Op papier is daar die vryheid om onmiddellik te verwissel van ruimte en tyd. Dit is natuurlik veel moeiliker op die verhoog. Die verloop van tyd is ook ’n sentrale tema in die boek, en Strike kry dit reg om hierdie verloop en onmiddellike oorgange te transponeer na ’n sentrale punt, met die hulp van klassieke kostuums wat nie na spesifieke modes of tydperke verwys nie. Die nege akteurs dra letterlik verskeie hoede, of baadjies/pruike om hierdie vinnige oorgange te ondersteun. ’n Verteller sou seker hierdie oorbrugging kon vergemaklik, maar dit sou moontlik die ensemblespel en dissonansie tussen die karakters versteur het. Die akteurs self dra dan soms die verhaal voor – en ook in hierdie tegniek is heelwat humor ter sprake wanneer karakters byvoorbeeld vra of hulle die volgende (moeilike) hoofstuk kan oorslaan.

In die tweede bedryf is die karakterwisseling losser (dalk doelbewus?), en meer humoristies. Die ensemblespel voel byna ekstra deurmekaar namate die verhaal, asook hul lewens, uitmekaar uit val. Die gehoor kry ’n goeie idee van die gemors waarin Anton, Astrid, Amor en die plaas hulle bevind.

’n Vermoedelik groot aanpassing van boek na verhoog was om Salome se stilte vir die gehoor sigbaar te maak terwyl sy vir die Swart-familie onsigbaar is. Salome se swye word byna die hardste stem op die verhoog. In haar alomteenwoordigheid lê die konstante herinnering van gebroke beloftes.

Die klankontwerp is treffend en afgerond en dra by tot die begrip van emosies en die verligting van swaarkry. Die akteurs verras dikwels met goeie sang. Daar is ’n paar skuinsklappe na geloof, geloofsleiers en die belaglikheid rondom kerk, die uitkoop van skuld en belydenis. Die onvermoë om met dié wat dood is te redeneer veroorsaak frustrasie vir die familie.

Die fisiese teater is waarskynlik net so belangrik soos die dialoog. Daar word vrees, plesier en puntenerigheid uitgebeeld. Die choreografie, maniërismes en liggaamshoudings belig spesifieke karaktereienskappe. Elke aspek van hierdie produksie is fenomenaal en van hoogstaande gehalte. Onvermydelik lok dit ’n staande ovasie uit. Die gehoor word nie sonder hoop gelaat nie.

Ek kan nie anders as om die demografie van die gehoor en die tegniese span op te let nie, en wonder dan of die belofte regtig al nagekom is en hoeveel begrafnisse dit nog gaan verg tot teater anders lyk. Nietemin, ’n kniebuiging na ’n uitstekende produksie wat vol teaters verdien en hopelik verskeie toekennings sal inpalm.

Mentorsterugvoer:

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Eerste mentorsterugvoer: The promise geresenseer deur Olga Leonard

Lees ook:

LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool: aankondiging | announcement

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top