Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna kry hulle kans om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors ontvang en dan hul resensies finaal afrond.
Hier is die finale weergawe van Jeani Heyns se resensie.
Perhaps I had a wicked childhood
Perhaps I had a miserable youth
But somewhere in my wicked, miserable past
There must have been a moment of truth ...
Klokke en klanke van die The sound of music-overture kan gehoor word soos die verhoog verlig word. Maar in plaas van die pieke van die Alpe, is ons in die hartjie van Wakkerfontein. Die fiktiewe milieu en die stories wat binne die dorpie afspeel, word opgevoer deur Wessel Pretorius – skrywer, regisseur en ‘n Suid-Afrikaanse teatergunsteling. Die ontelbare 48 speel by die Adam Small Teater op 16 September 2023 ná dit vyf jaar laas op die planke was.
Die verhoog is minimalisties versier, met ’n pienk skoolstoel in die middel van ’n wit, vierkantige "skoondoek" waarop Pretorius kan toor. En toor tóór hy. Pretorius se fisieke karakterisering en subtiele stemverwisseling is oorgenoeg om ’n storie te vertel; die stel laat die gehoor toe om hulle verbeelding te gebruik om hulle die laerskool, ’n Clicks en ’n NG Kerk voor te stel. Die NG Kerk is die tuiste van gewilde fliekaande elke Woensdag. Dit is nou waar The sound of music gewys gaan word, en al vier die karakters se storielyne eindig op een of ander manier by die fliekaand.
Die ontelbare 48 is ’n tragikomedie. Daar is Elmarie du Toit, ’n hokkiema-huisvrou-tipe wat sielsmoeg is; Wouter Wasserman, ’n energieke jongman met ’n lus vir die lewe; Johan Rademeyer, ’n teaterlegende wat sy glans verloor het en gestrand is in Wakkerfontein; en ’n vyfjarige meisie, Liebe Bekker. Hierdie karakters word briljant vertolk deur Wessel self wat doeltreffend van karakter verander deur middel van kostuums en grimering. Ons beleef Pretorius se teatrale gedaanteverwisseling soos wat hy sy gesig wit verf in een van Johan se monoloë. Elmarie, Wouter, Johan en Liebe is almal karakters wat ons almal op een of ander manier in ons eie lewens herken. Hulle verteenwoordig vir my verskillende fasette van Afrikaner-wees wat ’n mens mag teëkom op enige klein dorpie in Suid-Afrika. "Dit is ’n mikrokosmiese inkyk in die alledaagse menslikheid wat ons almal, ongeag ons lewensomstandighede, uiteindelik verbind," meen Pretorius in ’n onderhoud met Petro Mostert van die US.
Die skryfwerk is werklik uitsonderlik. Pretorius gaan slim te werk met ’n unieke taalgebruik vir elke karakter en ontwikkel elkeen se storie ten volle. Wessel se skryfwerk is tegelyk sag en skerp. Liefde is die kern van elke karakter se bestaan. Elmarie is lief vir haar familie, ten spyte van haar woede. Wouter se kop is vol muisneste. Johan se hart bloei te laat vir enige iemand om dit te ervaar. En Liebe verteenwoordig pure, onskuldige liefde. In elke karakter se ellende en foute is daar ’n mooi waarheid wat skuil: Liefde – dis al wat tel, en al wat elke karakter regtig wil hê. Wessel se emosionele omvang as akteur is indrukwekkend, en dit laat die gehoor toe met die karakters te identifiseer. Die gemeenskapskerk, wat veronderstel is om ’n hawe van liefde te wees, word vir hulle almal ’n nagmerrie as gevolg van die grudade van ’n verregse psigopaat.
Om Die ontelbare 48 te kyk is soos om in ’n magiese rivier te staan terwyl die karakters se woorde oor jou spoel. Jy móét luister.
Teaterresensie: Eerste weergawe
LitNet | STAND: Teaterresensie van Ontelbare 48 (weergawe 1)
Mentorsterugvoer: Eerste weergawe
Teaterresensie: Tweede weergawe
LitNet | STAND: Teaterresensie van Die ontelbare 48 (weergawe 2)
Mentorsterugvoer: Finale weergawe
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023