LitNet | STAND: Teaterresensie van Die ontelbare 48 (weergawe 2)

  • 0
Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors ontvang en dan hul resensies finaal afrond.
Hier is die tweede weergawe van Jeani Heyns se resensie.


Liefde – dis al wat tel in Pretorius se
Ontelbare 48

Die Ontelbare 48 speel weer by die Adam Small Teater op 16 September ná dit vyf jaar laas op die planke was. Die stuk, geskryf en opgevoer deur Wessel Pretorius, is een vir enige gesoute teaterganger se versameling, met die inwoners van Wakkerfontein wat ’n mens se oë van begin tot einde op die verhoog genael hou.

Vir ’n uur en ’n half word ons meegevoer na ’n fiktiewe dorpie met die naam Wakkerfontein. In dié dorp is daar ’n laerskool, ’n Clicks en ’n NG Kerk (die tuiste van gewilde fliekaande elke Woensdag). Nou is dit The Sound of Music se beurt. Die stel is minimalisties – ’n vierkantige “skoon doek” waarop Pretorius kan toor. Ons volg ’n dag in die lewe van vier karakters: Elmarie du Toit, ’n hokkie-ma-huisvrou-tipe wat sielsmoeg is; Wouter Wasserman, ’n energieke jongman met ’n lus vir die lewe; Johan Rademeyer, ’n teaterlegende wat sy glans verloor het en gestrand is in Wakkerfontein; en ’n vyfjarige meisie, Liebe Bekker. Hierdie karakters word briljant vertolk deur Wessel self wat doeltreffend van karakter verander deur middel van kostuums en grimering. Ons beleef Pretorius se teatrale gedaanteverwisseling soos hy sy gesig wit verf in een van Johan se monoloë.

Elmarie, Wouter, Johan en Liebe is almal karakters wat ons almal op een of ander manier in ons eie lewens herken. Die Ontelbare 48 is hartverskeurend mooi. Dit is tragies dat hierdie gemeenskapskerk, wat veronderstel is om ’n hawe van liefde te wees, vir hulle almal ’n nagmerrie word as gevolg van die grudade van ’n verregse psigopaat. In my verbeelding het elke karakter hulle eie voorkoms, haarkleur, lengte en maniërismes. Dit herinner ’n mens daaraan dat die krag van goeie, fisieke karakterisering en subtiele stemverwisseling oorgenoeg is om ’n storie te vertel.

Die skryfwerk is werklik uitsonderlik. Pretorius gaan slim te werk met ’n unieke taalgebruik vir elke karakter en ontwikkel elkeen se storie ten volle. Wessel se skryfwerk is terselfdertyd sag en skerp. Liefde is die kern van elke karakter se bestaan. Elmarie is lief vir haar familie, ten spyte van haar woede. Wouter is liefdesiek. Johan se hart bloei te laat vir enige iemand om dit te ervaar. En Liebe verteenwoordig pure, onskuldige liefde.

“Dit is ’n mikrokosmiese inkyk in die alledaagse menslikheid wat ons almal, ongeag ons lewensomstandighede, uiteindelik verbind,” meen Pretorius in ’n onderhoud met Petro Mostert van die US. Hierdie satiriese drama vier die volharding van die menslike gees en laat jou as gehoorlid met ’n mengsel van lag en trane die teater verlaat. Dit is soos om in ’n magiese rivier te staan waarvan die karakters se woorde oor jou spoel. Jy móét luister.



Teaterresensie: Eerste weergawe

LitNet | STAND: Teaterresensie van Ontelbare 48 (weergawe 1)

Mentorsterugvoer: Eerste weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Eerste mentorsterugvoer: Die ontelbare 48, geresenseer deur Jeani Heyns

Mentorsterugvoer: Finale weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Finale mentorsterugvoer: Die ontelbare 48, geresenseer deur Jeani Heyns

Lees ook:

LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top