Hierdie mentorsterugvoer vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste terugvoer op weergawe 1 van Jeani Heyns se resensie.
Terugvoer: Wayne Muller
Met ’n resensie probeer ons vir die leser vertel van (in hierdie geval) ’n teaterstuk deur te skryf waaroor dit gaan en of ons as resensente dink dit is goed of sleg of middelmatig. Ons probeer daardeur ook iets sê oor die konteks waarin die stuk afspeel – dus, hoe is dit relevant vir ons huidige sosiokulturele konteks. Maar dit moet terselfdertyd ’n stuk skryfwerk wees wat aangrypende leesstof is.
Daar is dus baie aspekte waaraan resensente moet dink wanneer hulle iets soos ’n teaterstuk resenseer – van die storielyn tot die regie.
Jou eerste paragraaf begin ongelukkig op die “verkeerde” manier. Meestal hou ons (in joernalistieke skryfwerk) ek-vertellings vir uitsonderlik gevalle, aangesien ons fokus die lesers is – en die leser kan niks doen met die feit dat jy (anders as jou lesers) bevoorreg was om die stuk te kon sien nie. Jou eerste paragraaf moet die leser vang en by jou artikel intrek – die inleiding behoort die sterkste deel van jou resensie te wees. Jy gaan ongelukkig jou leser verloor as jy jou resensie afskop met melding van jou bevoorregte posisie.
Die meeste van paragraaf twee is bloot observasies, wat nie op sigself sleg is nie, maar hier te lank is. Gee ’n kort opsomming van die verhaalgebeure, al is dit hoe kompleks en veelvlakkig.
Dit is vir my onseker of die aanhaling in paragraaf drie op die verhoog gesê was en of jy Pretorius vanuit elders aanhaal. (Indien dit in die stuk gesê is, is dit ’n karakter wat dit sê en nie Pretorius nie.)
Eers in paragraaf vier begin jou resensie sinvol raak en klink dit meer na ’n genuanseerde evaluering van die teaterstuk. Die paragraaf daarna verwys na konteks van die storie wat die lesers nie het nie, en dit lees verwarrend – dit sou sinvol wees om dit vroeër te stel.
Laastens, vermy clichés soos “hartsnare” en oortreffende beskrywings soos “’meesterlik” (wat jy ’n paar keer gebruik). Laat jou eie stem en unieke manier van iets stel na vore kom, en probeer om glad nie ’n byvoeglike naamwoord in die teks te herhaal nie.
Terugvoer: Mercy Kannemeyer
Ek het net ’n paar vrae en opmerkings:
- Hoekom voel die resensent bevoorreg om die stuk te sien? Is dit omdat dit lanklaas opgevoer was, of omdat dit Wessel Pretorius is?
- “Die gehoor was opvallend min.” Hoekom? Dink nie dis nodig vir dié inligting nie.
- “Vir ’n uur en ’n half word ons weg gevoer.” Moet dit nie eerder “meegevoer” wees nie?
- Die inligting in die tweede paragraaf oor die milieu en karakters is goed.
- Die derde paragraaf sou beter werk as die slot van die resensie.
- In die vierde paragraaf skryf die resensent: “In 'n tyd waar die relevansie van teater soms vraagtekens trek, bied Die ontelbare 48 'n verfrissende alternatief. Dit is nie sterk sosio-politiek nie, maar dit is wel vermaaklik en bied 'n dieper blik op die menslike psige.” Weggooisinne. Niksse Wat is “vraagtekens trek?” Vrae ontlok? Vrae ontketen? ’n Mens laat vrae vra? “Die relevansie van teater wat vraagtekens trek” lees nie reg nie. Die resensent moet weer dink wat hulle hier wil skryf. Ek weet darem nie so mooi of die relevansie van teater in twyfel getrek word nie … Indien die resensent sterk daaroor voel, is my voorstel dat hulle die stelling kwalifiseer.
- En dan, steeds in die vierde paragraaf, waar die resensent meen die werk is nie “sterk sosio-politiek” nie, wil ek weet wat hulle daarmee bedoel. Wat is sosiopolities vir die resensent? Want as ek lees wat in die tweede paragraaf staan oor die plek waar die stuk afspeel en die mense wat ons in die stuk ontmoet, is dit tog wel sosiop Die Merriam Webster beskryf “sociopolitical” as “of, relating to, or involving a combination of social and political factors”. Die inligting wat ek oor die stuk lees, soos oor die sielsmoeë huisvrou en die teaterlegende wat sy glans verloor, sowel as die liefde binne elke karakter, bied tog sosiale kommentaar met ’n geïmpliseerde politiese faktor … behalwe as die leser van hierdie resensie die pot dalk heeltemal mis sit.
- Oor die algemeen moet die resensent asseblief dieper delf. Die struktuur is te lomp.
- Ek kan sien dat die resensent baie van die werk gehou het, maar dit moet asseblief duideliker verklaar word waarom die resensent so met hierdie werk resoneer.
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensie van Ontelbare 48 (weergawe 1)
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023


