Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste weergawe van Jeani Heyns se resensie.
Liefde – dis al wat in Pretorius se Ontelbare 48 tel
Ek voel bevoorreg om te sê dat ek Die ontelbare 48 op 16 September bygewoon het, nadat dit vyf jaar laas op die planke was. Die gehoor was opvallend klein. Dit is ’n jammerte, want Pretorius is beslis ’n briljante storieverteller. Die mense weet nie wat hulle misloop nie!
Vir ’n uur en ’n half word ons weggevoer na ’n fiktiewe dorpie met die naam Wakkerfontein. In Wakkerfontein is daar ’n laerskool, ’n Clicks-winkel en ’n NG Kerk wat elke Woensdag ’n fliekaand aanbied om ’n bietjie lewe na die dorpie te bring. Op hierdie spesifieke Woensdag is dit The sound of music se beurt. Die stel is minimalisties – ‘n vierkantige “skoon doek” waarop Pretorius kan toor. Die pienk tassie langs die stoel het voor die tyd my oog gevang en ek het gewonder watter karakters daar gaan uitspring. Ons volg ’n dag in die lewe van vier karakters: Elmarie du Toit, ’n hokkie-ma-huisvrou-tipe wat sielsmoeg is; Wouter Wasserman, ’n energieke jong man met ‘n lus vir die lewe; Johan Rademeyer, ’n teaterlegende wat sy glans verloor het en in Wakkerfontein gestrand is; en die jong meisie, Liebe Bekker, ’n balletdansertjie met ‘n hart van goud. Hierdie karakters word briljant vertolk deur Wessel self, wat doeltreffend deur middel van kostuums en grimering van karakter verander. Ons beleef Pretorius se teatrale gedaanteverwisseling soos hy sy gesig wit verf in een van Johan se monoloë.
“Dit is ’n mikrokosmiese inkyk in die alledaagse menslikheid wat ons almal, ongeag ons lewensomstandighede, uiteindelik verbind,” meen Pretorius. Hierdie satiriese drama vier die volharding van die menslike gees en laat jou as gehoorlid met ’n mengsel van lag en trane die teater verlaat. Dit is soos om in ’n magiese rivier te staan waarvan die karakters se woorde oor jou spoel. Jy móét luister.
In ’n tyd waarin die relevansie van teater soms vraagtekens trek, bied Die ontelbare 48 ’n verfrissende alternatief. Dit is nie sterk sosiopolities nie, maar dit is wel vermaaklik en bied ’n dieper blik op die menslike psige. In my verbeelding het elke karakter sy of haar eie voorkoms, haarkleur, lengte en maniërismes. Die sleutel lê in elke karakter se unieke taalgebruik en ontwikkeling. Wessel se skryfwerk is tegelyk sag en skerp.
Elmarie, Wouter, Johan en Liebe is almal karakters wat ons almal op een of ander manier in ons eie lewens herken. Die ontelbare 48 trek aan ‘n mens se hartsnare. Dit is egter ook tragies dat hierdie gemeenskapskerk, wat normaalweg ’n hawe van liefde sou wees, vir hulle almal ’n nagmerrie word, as gevolg van die grudade van ’n verregse psigopaat.
Iets wat Pretorius meesterlik bewerkstellig, is om te wys dat daar liefde in die kern van elke karakter se bestaan lê. Elmarie is lief vir haar familie, ten spyte van haar woede. Wouter het liefdekoors. Johan se hart bloei te laat vir enige iemand om dit te ervaar. En Liebe verteenwoordig suiwer, onskuldige liefde.
Hierdie produksie laat jou uit die teater stap met ’n nuwe waardering vir die menslike ervaring en die krag van taal en toneelspel. Dit is ’n indrukwekkende stuk teater deur ‘n meesterlike teatermaker.
Mentorsterugvoer (Weergawe 1)
LitNet | STAND: Teaterresensie van Ontelbare 48 (weergawe 1)
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool | Theatre review workshop
LitNet | STAND-teaterresensieslypskool: aankondiging | announcement