
Foto van Fourie Botha: verskaf
Die Jakes Gerwel Stigting (JGS), in medewerking met LitNet en Huisgenoot, verwelkom opkomende skrywers vir die vierde jaarlikse Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. Hier is inligting in Afrikaans en Engels.
Die mentorskapskursus vind plaas van 16 Oktober tot 5 November 2023 in die vorm van ’n residensie in Paulet Huis, die Stigting se skrywershuis wat geleë is in die sjarmante Somerset-Oos in die Oos-Kaap.
Fourie Botha, gesoute uitgewer en deesdae literêre agent, en Thabiso Mahlape, baanbrekende uitgewer en eienaar van Blackbird Books, sal die suksesvolle kandidate touwys maak oor die fyn kuns van kortverhale skryf.
Daar is 64 inskrywings ontvang en aansoeke is nou gesluit terwyl oorweeg word wie die gelukkige deelnemers aan die slypskool sal wees.
Fourie Botha is een van die twee mentors en terwyl bepaal word wie gaan deelneem, praat hy met Naomi Meyer oor wat die deelnemers aan die slypskool kan verwag wanneer hulle in Paulet Huis verwelkom word.
Fourie, jy was jare lank ’n uitgewer en ek het gelees dat jy geskryf het dat deelnemers aan hierdie slypskool kan verwag om kosbare tyd by Paulet Huis te kry. Wil jy iets hieromtrent sê of daarop uitbrei? En ook: Toe jy ’n uitgewer was – hoe het jy ’n manuskrip bekyk en geweet daar is publikasiemoontlikhede daarvoor?
Ek dink steeds die tyd om absoluut en sonder enige afleidings vir drie weke aan jou skryfwerk te kan wy, is ’n luukse. Nou hoef jy nie elke keer weer die drade van jou storie op te tel wanneer jou gewone lewe jou werk versteur nie. Skryf is ’n werkwoord. Wanneer ’n mens op ’n fiets klim, word jy ’n fietsryer; stap jy by ’n prokureursfirma in, is jy ’n kliënt. Meld jy by die Paulet Huis aan, kyk die mense daar vir jou soos ’n mens na ’n skrywer kyk en moet jy na jouself as ’n skrywer kyk. Jy het opgedaag om jou job te doen, en soos by enige werker is daar ’n doel voor oë.
.............
Wat my aantrek, is styl en stem, eerder as storie. Wanneer jy aan ’n manuskrip begin lees, weet jy nog nie waarheen die skrywer jou gaan neem nie, dus is die taal die krummels wat my die woud inlei, op soek na die lekkergoedhuis. Al smullend aan die taal volg jy die spoor.
...............
Wat my aantrek, is styl en stem, eerder as storie. Wanneer jy aan ’n manuskrip begin lees, weet jy nog nie waarheen die skrywer jou gaan neem nie, dus is die taal die krummels wat my die woud inlei, op soek na die lekkergoedhuis. Al smullend aan die taal volg jy die spoor. In Johan Vlok Louw se roman Eric the brave was daar in die eerste paragrawe ’n beeld van ’n landskap soos ’n strook film wat aan die brand slaan. Tóé reeds het ek geweet ek gaan die boek wil uitgee. In Karin Brynard se Tuisland bekyk ’n skoonmaker ’n kolletjie geel oorwas op ’n handdoek in die badkamer van ’n gastehuis en onmiddellik weet jy jy werk nie sommer met enige boek nie. Alastair Bruce se Wall of days begin met "It’s been raining for ten years". Hoe kan jy só ’n eerste sin weerstaan? Of ’n hoofkarakter wat uit ’n goue eier klim, soos in Siphiwe Gloria Ndlovu se Theory of flight. Die bekommernis oor wie presies die gepubliseerde boek gaan koop, is ’n ander saak, en dit laat jy maar aan die slimmes in die bestuursposte oor.
Wat is vir jou kenmerke van ’n goeie kortverhaal en hoe is dit anders as die kenmerke van ’n roman? Of wat is dieselfde?
...........
Hulle sê mos ’n roman is ’n mislukte kortverhaal en ’n kortverhaal ’n mislukte gedig.
..............
Hulle sê mos ’n roman is ’n mislukte kortverhaal en ’n kortverhaal ’n mislukte gedig. Die idee dat ’n kortverhaal ’n soort distillaat is, dat dit miskien ryker teelaarde vir idees en vir stories is, is vir lesers aantreklik. Woorde werk harder in kortverhale – daar is nie plek vir hulle om lyf weg te steek nie.
Baie skrywers het idees, maar die idee is nog nie afgerond nie en die lewe val voor en hulle sukkel om hul skryfwerk af te handel. Kan ’n mentorsfiguur by Paulet Huis skrywers help met struktuur? Of is jy meer ten gunste van organiese ontwikkeling van ’n storie?
.............
Die mentors wat ek ken wat vir my die meeste beteken het, is diegene wie se blik op jou jou laat oorgaan tot aksie. Jy wil hulle beïndruk, hulle na-aap, hulle ’n punt bewys, of jy’s skytbang vir hulle. Die punt is, jy dóén iets met jou idees.
.................
Die mentors wat ek ken wat vir my die meeste beteken het, is diegene wie se blik op jou jou laat oorgaan tot aksie. Jy wil hulle beïndruk, hulle na-aap, hulle ’n punt bewys, of jy’s skytbang vir hulle. Die punt is, jy dóén iets met jou idees. ’n Idee in jou kop beteken vir niemand iets behalwe vir jou nie. Jy kan dit nie met kopiereg beskerm nie. Lauren Beukes vertel van ’n twiet oor ’n reeksmoordenaar wat kan time travel. Nadat sy dit geplaas het, het sy besef dit is die idee vir haar The shining girls. Sy het die twiet uitgevee en die werk gedoen en die woorde op papier gekry, want sy is ’n skrywer. Einde van die storie.
Lees ook:
LitNet’s Kommadagga workshop with the Jakes Gerwel Foundation and Huisgenoot
LitNet se Kommadagga-slypskool in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot
Kommentaar
Ek wil graag meer inligting hê in verband met jul slypskool, asseblief.
Hoe graag sou ek nie wou aansoek doen vir die vooruitsig van hierdie slypskool nie. Waar het ek die bekendstelling misgekyk? Wat was die kwalifiseringsnorme vir keuring/toelating? Toe 'n Piet nou van die ete verneem, was die nuus dat die ete volgende week is, die tafel gedek is en die stoele volgekies is. Geval van snooze and loose?