LitNet Akademies Weerdink-onderhoud – skole: kompetisies of waardes?

  • 0

Foto van Jaco Deacon: verskaf; prent van medaljes: Canva

Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met vandag se aktuele kwessies. Die volgende artikels het ’n paar jaar gelede in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn: Die leierskapstyle van akademies presterende skole se skoolhoofde en die trefkrag daarvan op skoolklimaat asook Morele leierskap: Die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van skoolklimaat.

Jaco Deacon, hoof- uitvoerende beampte van Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), het hom onlangs uitgespreek oor die oorkoop van leerders. Hy praat met Naomi Meyer oor prestasiegedrewenheid in skole.

Hallo Jaco, ek het oor die naweek met belangstelling gelees wat jy oor mededinging tussen skole en veral oor die oorkoop van leerders geskryf het. Die tema is leerders wat beurse aangebied word om by sekere skole te studeer sodat die skool beter prestasies het wat hulle kan uitstal. Wil jy kortliks opsom wat jou en Fedsas se houding hieromtrent is?

Skole se bestaansdoel draai om onderrig van die kind, en alle aktiwiteite by ’n skool (akademies, sport, kultuur en sosiaal) moet ’n ondersteunende rol speel om daardie doelwit te laat realiseer. Daar moet dus ’n gesonde balans in ’n skoolprogram gehandhaaf word om te verseker dat ons leerders sal lewer wat ná skool hulle plekke toegerus in die samelewing kan volstaan en ’n verskil kan maak. Prestasie van leerders is deel van die skoolstelsel en moet gevier word, maar ons is toenemend bekommerd dat al hoe meer skole ’n kultuur van "wen ten alle koste" het. Baie skole voer aan dat ouers daarop aandring. Sonder om te oordeel wie die skuld dra, weet ons dat die kinders die prys betaal. Fedsas se standpunt was nog altyd dat goeie mededinging positief is, solank dit wettig en eties is. Die koop van kinders versteur hierdie opvoedkundige balans – daar is geen opvoedkundige begronding nie, leerders word verhandelbare items wat ’n randwaarde kry, en skole se reputasie word skielik gekoppel aan ’n telbord langs ’n sportveld in plaas van wat werklik opvoedkundig binne die instelling gebeur. Kleiner skole is meer kwesbaar omdat hulle spreekwoordelik stadig doodbloei in die proses.

Jy skryf dat sekere van die Afrikaanse skole se prestasiegedrewenheid dalk toe te skryf is aan die feit dat wit Afrikaanssprekende persone politieke mag moes prysgee en nou steeds die beste wil presteer en mag wil behou deur middel van hul kinders. Of sê asseblief in jou eie woorde wat ek aanhaal as dit nie genuanseerd genoeg is nie.

Mense wil van nature deel wees van ’n "wenkultuur". Ons raak almal opgewonde as die Springbokke wen, ons atlete medaljes by die Olimpiese Spele verwerf en Dricus du Plessis sy titel suksesvol verdedig. Daar is soveel uitdagings in ons land wat mense moedeloos en negatief laat, soos swak dienslewering, werkloosheid, verlies van mag, dat ek oortuig is dat skole en skole se prestasies dalk as ’n kruk gebruik word. Dit is ’n plek waar ek dink baie mense nog sterk in beheer voel. Skole, beheerliggame en ouers het groot inspraak in skole se programme, maar as dit nie met sterk opvoedkundige beginsels en morele grondslag plaasvind nie, word die prentjie vinnig skeefgetrek.

Ons sien ook nog te dikwels dat ouers hulle eie onvervulde drome en ideale deur hulle kinders wil leef en dat dit onbillike en onnodige druk op kinders plaas en dat hierdie druk dikwels net so na die skool verplaas word.

Hierdie is ’n baie volwasse gesprek wat openlik en baie doelbewus in skole moet plaasvind.

Hoewel bostaande stelling oor die behoud van mag absoluut meriete het, is dit ook so dat hierdie aanbied van beurse en die koop van leerders nie ’n nuwe ding is nie. Ek was in die apartheidsjare op skool en dit was reeds destyds aan die orde van die dag. Mens wonder nogal wat die oorsprong hiervan is – kan mens doodgewone demokrasie ook hierby insleep en dit ook as ’n bydraende faktor betrek? Dan ook doodgewoon ouerskap en die absolute subjektiwiteit wat ter sprake is as dit by mens se kinders kom: Mens wil hê hulle moet by die beste instansie inskakel, wat hierdie “beste” dan ook al mag beteken.

’n Skool het ’n baie spesifieke rol in ’n gemeenskap en die Skolewet bepaal dat die beheerliggaam in ’n vertrouensposisie teenoor die skool staan en kwaliteitonderrig aan elke kind moet bied. Die Grondwet bepaal dat die beste belang van die kind die deurslaggewende bepaling is in elke aspek wat die kind raak. Die onderwysleiers moet dus deur hierdie bril na skoolaktiwiteite en -programme kyk. Die feit dat "baie skole leerders koop" of dat dit "al lankal" gebeur, kan nooit die rigtingwyser vir etiese leiers wees nie. Die skool moet die beste skool vir die leerders van die skool (lees ook in die gemeenskap) wees.

Ek besef daar is geweldig druk op skoolhoofde dat die skool "moet presteer", maar dan sal ons as gemeenskappe moet besin oor wat presies dit beteken. Dit kan tog nie net ’n telbord wees nie ... Die aanhef van die Grondwet bepaal onder andere dat ons die potensiaal van elke mens moet ontsluit. 

Hoe dien jy die leerders in jou skool en gemeenskap as daar eenvoudig "beter kinders van elders" ingevoer kan word om prestasie te verhoog? Kan ons dit opvoedkundig, regtens en eties verdedig?

Die koste van buitekurrikulêre aktiwiteite is hoog, en indien daar nie ’n gesonde balans in ’n skoolbegroting is nie, word dit vir baie ouers eenvoudig te duur en staan ons spreekwoordelik op ons eie suurstofpyp. Ek glo nie dat die praktyk op lang termyn finansieel volhoubaar is nie.

Ons wil tog hê dat ons kinders ’n liefde vir sport en kultuur moet aanleer en die voordele en lesse van beide moet geniet.

Wat beskou jy as die belangrikste waardes wat skoolkinders moet nastreef of op skool moet leer? (In teenstelling met net die beste wees op die sportveld byvoorbeeld.)

...........
Behalwe akademiese vaardighede en ’n sterk akademiese basis moet ons kinders toerus om ’n bydraende rol in ons samelewing te speel.
..............

Behalwe akademiese vaardighede en ’n sterk akademiese basis moet ons kinders toerus om ’n bydraende rol in ons samelewing te speel. Fedsas het al baie jare ’n projek oor waardegedrewe (in teenstelling met reëlgedrewe) skole waar ons skole uitdaag om gemeenskaplike waardes binne die skoolgemeenskap te identifiseer en dit te vestig, byvoorbeeld respek, verantwoordelikheid, medemenslikheid ens. 

As die skool hulle waardes geïdentifiseer het, word dit die anker vir al die aksies in die gemeenskap en word dit deurentyd versterk deur alles wat die skool aanbied. Die waardes word geleef, in die klaskamer, op die sportveld en tydens kultuuraktiwiteite. Baie skole het pragtige waardes teen die mure en in beleide, maar sukkel om dit prakties uit te leef.

Ons moet ’n kultuur in die onderwysstelsel skep van dissipline, harde werk en verantwoordelikheid.

Watter vakke of vaardighede sal skoolkinders die beste toerus vir die Suid-Afrikaanse samelewing en vir die wêreld, as jy kyk na wat kinders op skool leer? Vir my was daar sekere praktiese vakke wat vanjaar in my kinders se lewens uitgestaan het as deel van die kurrikulum wat baie positief vir hulle vir die toekoms iets kan beteken – soos ’n Ekonomiese en Bestuurwetenskappe-markdag-projek vir graad 7 en ook ’n werkskadu-werktaak vir graad 11. Daar is so baie ander praktiese sake waarvoor onderwysers ruimte in die kurrikulum behoort te kan hê, sowel as tyd wat daaraan toegewys behoort te word. Of dit nou behels die omruil van ’n motorwiel, die opstel van ’n begroting, die herstel van huishoudelike toerusting, algemene noodhulp, basiese kommunikasie in vyf hooflandstale ... Hier maak ek heeltemal te veel voorstelle en ek weet onderwysers sukkel net om die werk in die klas afgehandel te kry! Maar wat sou vir jou die soort vakke wees waarby die algemene Suid-Afrikaanse kind baat sal vind, ongeag hul sosio-ekonomiese omstandighede?

Dit is ’n baie goeie vraag. Die antwoord gaan aan die een kant baie afhang van die leerders se gawes en talente en aan die ander kant van die behoeftes van die samelewing en ekonomie. Ons huidige stelsel het so ‘n sterk akademiese fokus dat tegniese en ander vaardighede heeltemal agterweë gelaat is. Dit gaan hopelik nou aangespreek word met die sogenaamde Driestroommodel (akademies, tegnies en vaardighede). 

Soos jy tereg opmerk, is daar soms oomblikke waar dit in die klaskamer realiseer, maar dis nie genoeg dat dit volhoubare werk kan skep nie.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum gee jaarliks ’n lys van die "top 10 vaardighede" uit en in 2024 was die volgende op die lys:

  1. Analitiese denke
  2. Kreatiewe denke
  3. Weerbaarheid, buigsaamheid en aanpassingsvermoë
  4. Motivering en selfbewustheid (self-awareness)
  5. Nuuskierigheid en lewenslange leer
  6. Tegnologiese geletterdheid
  7. Betroubaarheid en aandag aan besonderhede
  8. Empatie en aktiewe luister
  9. Leierskap en sosiale invloed
  10. Gehaltebeheer.

Nie een van die bostaande is noodwendig ’n "vak" in ons skole nie, maar dit is vaardighede wat deurlopend in alle vakke geslyp behoort te word. Daarom het ons puik opvoeders in skole nodig om hierdie potensiaal te ontsluit. Die lys lyk ook elke jaar so ‘n bietjie anders om aan te pas by behoeftes in die mark.

..........
Dit is nou ’n baie goeie tyd vir die gesprek in elke skool. Nuwe beheerliggame is vyf maande gelede verkies en elkeen is hopelik deur die eerste fase van opleiding. Beheerliggame moes weer besin oor die skool se missie en langermynbeplanning doen. Daar moet nou egter begrotings vir 2025 opgestel en aan ouers voorgelê word vir goedkeuring. Ouers moet verstaan waarheen die skool op pad is en hoe daar beplan word om die doelwitte te bereik.
.................

Dit is nou ’n baie goeie tyd vir die gesprek in elke skool. Nuwe beheerliggame is vyf maande gelede verkies en elkeen is hopelik deur die eerste fase van opleiding. Beheerliggame moes weer besin oor die skool se missie en langermynbeplanning doen. Daar moet nou egter begrotings vir 2025 opgestel en aan ouers voorgelê word vir goedkeuring. Ouers moet verstaan waarheen die skool op pad is en hoe daar beplan word om die doelwitte te bereik.

’n Gesonde en gebalanseerde buitekurrikulêre program is van onskatbare waarde vir die ontwikkeling van elke kind as dit op die regte opvoedkundige waardes geskoei en bedryf word.

Lees ook:

Die leierskapstyle van akademies presterende skole se skoolhoofde en die trefkrag daarvan op skoolklimaat

Morele leierskap: Die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van skoolklimaat

LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top